Volla

  • 2

Wat kan mens se van wat eintlik die motor van die vorige eeu moes wees wat nog nie gese is nie? Elkeen wat 'n Volla had kan 'n boek skrywe en die wat nie een gehad het nie weet genoeg om self volumes te kan volmaak.

Ek het myne gekoop by Sonja, my hoof by die departement waar ons werksaam was. Sy het my gewaarsku dat, omdat sy nog nie liksens het nie sy met die ding geleer ry het, en toe ek die Volla die eerste keer sien kon ek sien dat sy nie gelieg het nie. Daar was nie 'n paneel wat nie duike gehad het nie. Niks maar niks wat elektries was het gewerk nie. Die motor, wel, ek wil nog sien watter vrou 'n Volla se motor kan klaarry.

Kort om die draai by die vulstasie en werkswinkel in Esselen straat het 'n goeie vriend van my vir 'n hongerloon gewerk en ons het dikwels saans die pad in sy Chev Commodore gevat Marrabastad toe of iewers waar wit en nie-wit kon kuier sonder om aanmerkings te hoor. Sotho man met 'n groot kroos en les bes 'n skelmpie iewers agter 'n ryk man se jaart waar hy soms oornag het. Hy het die Volla een kyk gegee en sy kop geskud met 'n swaar sug. Lang ure onder die boom gesit en lang Zamaleks gedrink en getob hoe om van die wrak 'n ryding te maak.

"Scrapyard toe". Beduie hy.

Dit was nie lank nie of ek en M het die strate van Pretoria platgery. Sonder liksens.

Tot die dag met Jool. Jool is vir liefdadigheid en kindertjies en wese en oues en alles wat liefdadigheid veronderstel is om te wees. Jy skud jou blik en dit gaan uiteindelik tog maar oor die joolplaas, en wat daar kan gebeur. Ek weet nie goeveel ons was nie want ek was nie helemal by my bewussyn nie maar die Volla was vol. Almal op pad Joolplaas toe. Tot my spyt het ek tot hierdie dag toe geen idee wat haar naam was nie maar ek weet sy was nie te onaardig nie en ons het maar skuilplek in die Volla gesoek. Nie oor die weer of die gevare nie. Agtersitplek.

Ongeag wie wat se oor 'n Volla en sy deugde; een ding het haar ingenieurs nie goed ontwerp nie, buiten die feit dat die verstand in die gat sit: Die battery. Waarom plaas enige goeie ontwerper die battery onder die agtersitplek?

Sy was warm en en die gloede het later die kleine volla se vensters toegewasem. Die nodige onderhoud is gedoen en ek en naamloos is van die Volla af verder om te doen wat mens buiten normaal doen as dit Jool is. Die drank vloei mos altoos soos waters en hoe later hoe slimmer raak 'n student. Tot die vroee oggendure se slinger terug na die voertuig of vaartuig toe.

Ek onthou die Volla het effens anders gelyk. Ruite toegestoom asof daar 'n spul studente na ek en naamloos daar was, en steeds besig was. Die manne het beduie dat hulle rook ruik en een van my ingenieurs pelle het beduie dat hy rook ruik en Jan het beduie dat dit nie 'n kak idee is nie en dat hier nie boere naby is nie so ons kan maar die nodige semels bymekaar skraap want die goed was nie so goedkoop destyds soos dit vandag is nie.

"Wie gaan rol?" onthou ek tot vandag toe was sy slingerwoorde toe ek die Volla se deur uiteindelik oopkry.

En dit was die laaste sinvolle woorde vir die res van die dag, want met die oopmaak van die deur het die Volla letterlik in vlamme opgegaan.

Ons het later, nadat Bacchus en sy vele vriende huis toe is die situasie ontleed: Met die ondersoeke wat op die Volla se agtersitplek gedoen is het die geritsery 'n kortsluiting veroorsaak, want die Volla se battery is mos, danksy een of ander slim ingenieur, reg onder die agtersitplek. die besigheid het blykbaar gele en broei en toe die deur oopgemaak is, wel, toe was die Volla basies 'n brandende passion wagon.

Ons het haar wel mettertyd weer rybaar gekry en sy het ons na vele ander heuningpotte toe geneem, maar niemand het ooit weer op haar agtersitplek mediese ondersoeke gedoen nie.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Soos jy daar noem, jy of iemand in jou naby kringe het 'n Volla gehad. As jy nog nie 'n Volla in jou lewe besit het nie moet daar 'n gemis wees. Dit was een van ons mees betroubare vervoermiddels. Ek het vir my vrou een gekoop. Die dag toe ons van hom/haar ontslae raak was dit selfs vir my vrou 'n droewe dag. Die motor het mos net olie en petrol gesoek. In my vorige lewe toe ek nog los op die hoewe was het 'n pel van my 'n Volla gehad waarmee ons oneindig  baie pret en plesier gehad het.

  • Langste reis met 'n Volla het my kleinboet en ek in die jare 6O onderneem.Van die Oos-Rand na die Etosha,Namutoni is ons basiskamp .Besoek op pad terug Visrivierafgronde en  ander besienswaardighede .

    Oor Stampriet, deur die Kalahari oor Van Zylrus, huistoe. Op Stampriet gooi ons pertrol in, wat uit 'n  44 galon drom met 'n handpomp, gepomp word. As ek reg onthou het die hele reis ons R38 aan petrol gekos.

    Op die heenreis het ons die Volla in Windhoek laat voorsien, voordat ons na Etosha vertrek het.Waar ander waterverkoelde motors langs die pad oorverhit het, het die Volla aangekruie, bult op en bult af op 'n pad wat somtyds so reguit  soos 'n liniaal was.

    Net jammer dat die vakansie effens bederf is omdat die 'army' dit goed gedink het om my weereens op te roep vir nog 'n kamp - net toe ek gehoop het dat ek nou vir goed in Civistraat is.

    Min geweet dat my hardegat houding my amper 'n trippie krygshof toe sou kos en kies toe om eerder van rang gestrip te word op 'n volle parade.Party ouens kon net nie hul bekke hou nie. Was darem nie alleen nie.My maat wat  saam met my oortree het, is deur dieselfde lot getref.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top