Vir Maya oor haar apartheid

  • 1

Maya, jy sê (jou brief van 6 deser) Maria mog nie uit julle borde geëet het nie. Hoekom nie? Wat het julle besiel om so 'n praktyk te handhaaf? Maria het nie knoffelslakke en paddaboudjies en al die ander verfynde stront wat julle geëet het, geëet nie so haar tande was na alle waarskynlikheid baie higiënieser as julle s'n.

Dit was nooit beleid dat huis- en tuinhulpe nie uit dieselfde borde as die werkgewer mag eet nie; dit is uit-en-uit julle eie praktyk. Dat dit wel gebeur het ontken ek nie; dit is trouens vandag nog aan die gang soos ek vertel het van die bruin kollega wie se ma hulle swart huishulp uitgetrap het oor dié haar wasgoed saam met hulle s'n gewas het.

Jy sê julle was as kinders gedwing om apartheid te ondersteun. Hoe? Julle kon dan nie eers stem nie, so hoe het julle dit ondersteun? Of praat jy van jou ouers se kwetsende eetgerei- en wasgoedpraktyke? Indien dit die geval is kan jy nie die destydse bedeling daarvoor blameer nie want dan was dit julle eie petty-apartheidbeleid.

Jy wil weet waaroor meneer Te Wit nou kla? Wel, presies waaroor meneer Te Swart en meneer Te Bruin nou kla: Korrupsie, wegholmisdaad, verval van die infrastruktuur soos gebrekkige – in sommige gevalle geen – munisipale dienste soos watervoorsiening, riolering, die straat- en parkonderhoud, die soort van ding. Ook die agteruitgang op hoër vlak soos by Waterwese, Openbare Werke, Gemeenskapsbou, Spoorweë asook semi-staatsinstansies soos die Buro vir Standaarde, WNNR, Eskom (alhoewel dié nou kamtig 'n privaatmaatskappy is – van watter privaatmaatskappy het jy al ooit gehoor wat jou smeek om nie sy produk te gebruik nie) ens.

Afrikaanssprekende menere Te Wit, Te Bruin en Te Swart het nog meer om oor te kla want daar is 'n openlike heksejag op hulle taal. Engels is nou die amptelike taal en Afrikaanssprekendes kan bykans nêrens meer in hulle eie taal geholpe raak nie. Alhoewel, ek moet sê, in die twee laasgenoemde menere se geval lyk dit nie, in meeste gevalle, of dit hulle veel pla nie, veral as mens kyk na die agteruitgang van Afrikaans waar die Te Bruins die septer swaai soos byvoorbeeld US, UWK en Kovsies.

Jy reken alles het gebackfire. Wat het gebackfire? Julle petty-apartheid? Indien dit is wat jy bedoel kan jy nie mense verkwalik wat hulle misnoeë oor die huidige gemors uitspreek nie want wie sê hulle almal het hierdie klein apartheid toegepas? En selfs al het hulle, doen hulle dit nie meer nie en is dit dan sinneloos om maar te sit en verdra oor hulle eens op 'n tyd kwetsend teenoor ander volke of rasse was. Buitendien, as jy nou mooi dink, dis nie net wittes, of net Afrikaners, wat skuldig aan hierdie storie was nie.

Die skrif was aan die muur sedert die 60's; die 'onnosel regses' wat PRESIES hierdie toestand voorspel het is verguis; hulle sou met ossewaens wou ry, nie bereid wees om met die tyd te beweeg nie. Nou, twintig jaar later as gevolg van (onder andere) die ywer van dié wat 'met die tyd beweeg het' is daar chaos en die einste yweriges van destyds sit nou met die spreekwoordelike eier op die gesig en gebakte pere.

Daar is 'n paar maniere wat die ontkenners gebruik om eier op die gesig te probeer verdoesel: a) maak die vorige bedeling sleg, b) pleit bewusteloos; jy't nie geweet nie of jy was gedwing, c) maak die vorige geslag af as dom en/of ongevoelig, d) lieg, vertel dat wat nou gebeur beter is as wat dit ooit in SA gegaan het, dat dit nog nooit so goed met die Afrikaner gegaan het nie e) verklaar dat hierdie 'n demokrasie is; dit regverdig blykbaar ENIGIETS, van plaasmoorde tot stukkende rioolpompe en f) enige kombinasie van voorafgaande plus nog 'n paar wat my op die oomblik ontgaan.

Daar word ook aangevoer dat ons nie anders kon nie; 'die wêreld' sou tog uiteindelik swart regering op ons afdwing. Dit mag so wees, of nie; dis 'n ander debat want dan kom vrae in soos hoe goed is 'die wêreld' ingelig, wat is hierdie 'wêreld' se eintlike motief, moet jy jouself beywer om 'die wêreld' se doelstelling te verwesenlik ens ens.

Maar, voor ek nou afdwaal Maya: Die idee dat die Afrikaner moet boet, en maar verduur wat nou met hom gebeur oor sy 'sondes' van die verlede is 'n mite waaraan sommige Afrikaners ongelukkig net so hard werk as die Boerebashers. Soos ek vir Perdebytjie gesê het; bekeer jou en klim uit die kas van ontkenning en selfkastyding; die bevryding is verfrissend.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Die nimmer eindigend Apartheid skuldgevoelens en kruipery van wit Afrikaners deur Mnr Manuel beantwoord: "Through laxity like this, we fail our people, repeatedly. Nineteen years into democracy, our government has run out of excuses. We cannot continue to blame apartheid for our failings as a state. We cannot plead ignorance or inexperience. For almost two decades, the public has been patient in the face of mediocre services. The time for change, for a ruthless focus on implementation has come.” www.thepresidency.gov.za/pebble.asp?relid=15170

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top