Vir Dirk Rigter - 29 September 2014

  • 3

Dagsê Dirk

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief aan jou van 23 deser en ek beantwoord jou vrae in dieselfde volgorde.

Eerstens: Ek maak min van die kommentaarkolom gebruik omdat die kommentaar daar onopspoorbaar is; die ‘soek’-fasiliteit werk nie daar nie. Daar is byvoorbeeld repliek van (onder andere) jou daar waarop ek nog kommentaar wou lewer maar ek kan nie onthou onder wie se naam die oorspronklike brief verskyn het nie en om AL die briewe deur te gaan is ‘n moerse storie.
Tweedens: Jy sê “Suid-Afrika sou vandag ekonomies, polities, militêr, kultureel, finansieel, noem maar op, ten gronde gewees het as daar nie tot 'n politieke vergelyk gekom is in die 1990's nie.” Die feit is Suid-Afrika ís vandag ekonomies, polities, militêr, kultureel, finansieel, noem maar op, ten gronde júis as gevolg van die ‘politieke skikking’. Ek sê ek (of jy) weet nie presies hoe dinge daar sou uitsien sonder hierdie skikking (lees oorgawe) nie maar, aan die hand van die Afrikanerregering se prestasie onder die moeilikste omstandighede dui ‘n ekstrapolasie daarop dat dit nie naastenby die huidige sirkus sou wees nie. Dit het ek ook gesê in my brief, gaan lees maar weer. Ek het dus jou vraag reeds geantwoord.

Ek het wel jou vraag oor die diensplig nie geantwoord nie want dit is ‘n non-vraag; die antwoord op ‘hoeveel’ is ‘n getal en die implikasie is dan dat ek saamstem dat daardie aantal bereid sal wees om ’n ” ... mensonterende, moreel-veragtelike en Christelik-onverdedigbare apartheidsbestel” te verdedig. Selfde soort vraag as ‘slaan jy nog jou vrou?’ want of nou ja of nee daarop geantwoord word stem die ou saam met die implikasie, naamlik dat hy ‘n vroueslaner is.

Buitendien, daar was nooit ‘n “mensonterende, moreel-veragtelike en Christelik-onverdedigbare apartheidsbestel” nie; dit is ‘n konstruk wat moet dien as regverdiging vir die aandeel wat die naïewes, ontkenners en breingespoeldes (NOBs) het in die daarstel van die teenswoordige mensonterende, moreel-veragtelike en Christelik-onverdedigbare en voeg by korrupte, wraaksugtige, onbevoegde en diskriminerende bestel.

Nog ‘n buitendien, wat is mensonterend daaraan dat die Duitsers nie in Portugal of Swaziland mag stem nie, of dat die burgers van Lesotho nie in Suid-Afrika of Frankryk mag stem nie? En nóg ‘n buitendien, wil jy nou werklik vir my sê die jong mense van die vorige bedeling, die wat diensplig gedoen het, het almal jou insig makeer? En, wonderbaarlik, skielik met die nuwe bedeling, het al die jong mense toe slimmer geword? Dink weer.

Terloops, so van bereidwilligheid gepraat, hoeveel van die mense wat vandag sonder water sit, sonder elektrisiteit, sonder werk of pensioen om nou maar net ‘n paar van die aaklige manifestasies van die huidige bedeling te noem, sou ‘ja’ gesê destyds? Natuurlik nie een nie maar hulle is destyds bang gemaak met die gewaande alternatief van jou politieke skikking.
Nog ‘n ding, sou daar wel hierdie ” ... mensonterende, moreel-veragtelike en Christelik-onverdedigbare apartheidsbestel” gewees het, sou die land leeggeloop het; al die ‘onderdruktes’ sou uitgewyk het na die sogenaamd reeds bevryde lande soos Zimbabwe, Swaziland, Lesotho, Malawi, Tanzanië, Mosambiek ens. Die teenoorgestelde het gebeur; mense het van die ‘bevryde’ lande hierheen gestroom.

Jy praat van die SAW wat in duie sou gestort het. Wel, in die nuwe bedeling ís die SANDF in duie en so ook hospitaaldienste, volksgesondheid, Openbare Werke, die Poskantoor, Waterwese, vervoer, Eskom, noem maar op.

Derdens: ‘n Ander vertolking van gebeure as wat die hoofstroommedia voorsit is nie noodwendig ‘n samesweringsteorie nie. ‘n Onwelkome en ongewenste mal immigrant wat op een of ander manier werk kry as bode in die parlementsgebou om uiteindelik ten aanskoue van almal ‘n staatshoof met ‘n mes te vermoor is moeilik om te sluk. Volgens Occam se lem is die gebeurlikheid dat hy daar geplaas is deur swaarder gewigte as hyself by verre meer geloofbaar. Ook, die feit dat sogenaamde bevryding so algemeen is waar nuttige grondstowwe voorkom is te wyte aan gewone gierigheid en het met deernis en mensliewendheid niks te make nie, anders as wat die NOBs glo, of voorgee dat hulle glo.

Wat wel belaglik is, oneindig meer belaglik as wat jy as ‘belaglike samesweringsteorieë’ afmaak, en verbysterend naïef, is die idee dat mag oorgedra is aan nege swart volkere om menseregte-redes; nou het ons Die Regte Ding gedoen en ons almal gaan hemel toe. Wat ‘n laggertjie.

Jy sê swartes hoef nie vertel te word dat hulle uitgebuit is nie; dat hulle dit weet. Selfs al is dit waar wat jy sê bly die feit bestaan dat hulle, logieserwys, nog kwater en wraaksugtiger word deur gedurig deur die NOBs daaraan herinner te word. As julle enigsins versoening aan die hand probeer werk is aanhitsing die presiese verkeerde ding om te doen. Buitendien, dit is nie waar nie, anders as die Britse regering, het die Afrikanerregering nog nooit enigiemand onderdruk nie.

Vierdens: Ek beskou nie noodwendig die 1700 waarvan jy praat as die enigste regdenkendes nie; daar is darem nog ander ook wat NIE vir die DA, die ANC en ander swart partye gestem het nie. Ek beskou wel die wat vir die DA gestem het as nie so heeltemal regdenkend nie. Hoe anders; hoe kan mens nou stem vir die mense wat instrumenteel was in die daarstel van die huidige gemors? Hierdie getalle-argument van jou is in elk geval niksseggend want ek twyfel of die feit dat die ANC meer stemme as die DA gekry het vir jou daarop dui dat jy eintlik ANC moes gestem het, of dat jy dink die destydse NP was reg omdat hulle die meeste stemme gekry het.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  •   Jan Rap,

     

    Jou aanhoudende geteem oor jou verlange terug na apartheid laat my dink aan 'n gesegde van George Bernard Shaw: "The worst sin towards our fellow creatures, is not to hate them, but to be indifferent to them: that's the essence of inhumanity."

     

    Verstaan jy...? Die "indifference" vanaf 1948 tot die 1980's. Maar jy't mos niks aan jou lyf gevoel nie, jy was mos Baas Jan daai tyd.

     

    Vir oulaas: GB Shaw het ook die volgende kwy tgeraak: "I learned long ago never to wrestle with a pig. You get dirty, and besides, the pig likes it. "Ek is klaar gestoei met jou, ek voel die vuil modder van die 1970's aan my lyf. Dis vir my onproduktief en negatief om verder met HNP en KP dogma van destyds te worstel. Koebaai.

     

  • Jan, ek verstaan jou frustrasie. Die probleem is dat daar niemand so doof is soos iemand wat nie wil hoor nie. Ek het vrede gemaak met die "andersdenkendes". Hulle sal ook soos die armes van gees altyd saam met ons wees. Gelukkig is die Net 'n gesigslose forum waar mense hul menings kan lug. Daar is die onnoseles, slimmes, denkers, intellektueles, geniales, nugteres, regses, liberales en normales. Elke mens het die demokratiese reg om sy naam gat te maak. Ek is "ongelukkig" oorwegend regterbrein, volwasse ADD, en nog Bipolêr ook. Met ander woorde ek vee my stert aan beuselagtighede af en aan iemand wat nie weet waarvan hy praat nie.

    Ek het nou die dag raas by my vrou gekry. Ons kuier by die kinders en ons moet kleinseuns oppas. Ek trek die Weber nader en steek die Blitse aan. Ek waarsku die jongste (hy is nou 18 maande oud) om weg te bly van die vuur af en beduie vir hom dis sjoe. Hy loop 'n draai en kom vroetel weer aan die Weber. Ek praat toe weer met hom. Hy loop weer 'n draai en gaan raak aan die Weber. Teen die tyd is die Weber toe al erg warm. Hy sit toe vinger op die Weber en hy brand. Gelukkig sit hy toe nie 'n geskree op nie. Hy het ook nie weer aan die Weber gevat nie. Ek glo daaraan as jy nie wil hoor nie moet jy voel. Ek het al so bietjie wyd op die kontinent gery. Ek is al opgesluit, toegesluit en uit lande vergesel. Ek het Afrika-demokrasie in sy totaliteit beleef. Westerse demokrasie werk nie. Afrika-demokrasie is, breek af tot op die grond en kak dan die blanke, in ons geval apartheid uit wanneer iets nie meer werk nie.

  • Beste Dirk Rigter

    My 'geteem', soos jy dit noem, was in antwoord op jou gesanik oor ek nou die bose verlede, naamlik 'apartheid', sou aanhang.  Ek het jou vertel ek stel nie in 'apartheid' belang nie; ek dink demokrasie is die beste oplossing (sien my brief van 14 Februarie aan jou).  Die apartheid wat jy in jou kop het, naamlik onderdrukking en uitbuiting, is in elk geval nooit deur die Afrikanerregering toegepas nie (deur die Britse Empaaierbouers wel).

    Jy het egter onwrikbaar by jou gameplan gehou naamlik dat Jan Rap verlang na die bose verlede.  Bewerings dat die huidige sirkus baie boser is as wat die verlede ooit was is, a la die Dirk Rigter-gameplan, beantwoord met 'die verlede was vreeslik boos'.  Jy het nou werklik nooit met enigiets gewigtigs vorendag gekom nie; net gesanik oor die bose verlede.  O ja, 'skuus, jy hét darem iets nuuts in jou laaste brief bygevoeg; jy noem my 'n vark.

    Jy herinner my aan die Spaanse Inkwisisie; die ou wat nie saam met jou stem nie het nie 'n idee wat aangaan nie en is 'n vark.  Die prinsiep van GBS se stelling deur jou aangehaal is perfek op jou van toepassing:  Jou onverskilligheid teenoor die manifestasies van die huidige korrupte, mislukkende, diskriminerende bedeling is in wese onmenslik.  Verder, gruwel der gruwels, dit is alles net 'n charade om jou aandeel in die daarstel van die sirkus te regverdig.

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top