Vir Angus oor biljoene

  • 7

Beste Angus

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 8 deser.

'Biljoen' as sinoniem vir 'miljard' is gewoon verkeerd, grammatikaal ook. 'Bi' stel twee dinge/entiteite of wat ookal voor. In hierdie geval is dit twee stelle van 6 nulle met ander woorde 10 tot die 12. So ook dan stel die 'tri' in 'triljoen' drie stelle van 6 nulle voor naamlik 10 tot die 18.

Taal (taalkunde,grammatika) is seker die enigste vakgebied waar, as genoeg mense vir lank genoeg verkeerd praat, dan word dit reg. 'n Voorbeeld is 'sondebok' wat grootliks sy regte betekenis verloor het en nou as sinoniem vir 'belhamel' of 'skuldige' gebruik word. Een van die dae is ‘huidiglik’ ook reg. Dit lyk ook of die infinitief na modale hulpwerkwoorde ook aan’t verdwyn is; “jy moet dit het” en “ek sal daar is”, die soort van storie.

Dit volg dan, logieserwys, dat indien genoeg mense vir lank genoeg weer korrekte gebruik handhaaf die verkeerde woorde en grammatika in onbruik sal raak. Ons moet dus ophou met die absurde ‘biljoen’ vir ‘n miljard en ‘triljoen’ vir ‘n biljoen; ons hoef nie hierdie verwarrende terme te gebruik net omdat die Amerikaners dit doen nie. As ons aanhou met hierdie na-aap van verkeerde terme sal ons ook seker een van die dae vir gas vra as ons wil hê die brandstoftenk moet met vloeistof gevul word.

Groetnis

Jan Rap

  • 7

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Lees jou skrywe hierbo mooi. Paragraaf 1 en paragraaf 2 weerspreek mekaar.
     
     In par 2 kom jy op die regte spoor. Die taal wat ons praat is oorheersend. Grammatika (die oppervlaktestruktuur, vgl Chomsky se surface structure) is deskriptief nie preskriptief nie.
     
    Wat biljoen en miljard betref, sal jy dit maar met die wiskundiges moet uitmaak. Ek het twee wiskunde-onderwysers gevra en hulle leer die kinders dat albei 1 met nege nulle geskryf word.
     
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Angus

    Nee, paragraaf 1 en 2 weerspreek mekaar nie.  Paragraaf 1 sê 'biljoen' is verkeerd gebruik omdat mense (weens wangeletterdheid) dit verkeerd begin gebruik het.

    Paragraaf 2 sê vir dieselfde prys kan dit weer reggestel word; genoeg mense moet net weer reg begin praat.

    As grammatika beskrywend in plaas van voorskrywend was, sou geen onderwyser enigiets verkeerd kon merk in 'n leerling se grammatika-antwoordstel nie.  Grammatika is beslis preskriptief (tensy ek nou nie verstaan wat jy en Chomsky bedoel nie).

    Dit help nie jy raadpleeg wiskunde-onnies of -dosente nie; dit gaan hier meer oor nomenklatuur as enigiets anders.  Praat liewer met die grammatika-ouens, of grammatika-ouens met 'n wiskunde-aanleg of andersom. Jou Wikipedia-verwysing bevestig ook wat ek sê naamlik miljoen-miljoen was eens op 'n tyd (in Engels) 'n biljoen maar deesdae is duisend-miljoen 'n biljoen (in Engels).

    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan

    Kom, ek probeer weer.
     
    In Engels word 'n million 1 en ses nulle geskyf. In Afrikaans word 'n miljoen 1 en ses nulle geskryf. 
    In Engels word 'n billion 1 en nege nulle geskryf. Waarom sal Afrikaans nie nie wil aanpas en ook 'n biljoen met 1 en nege nulle skryf nie? Oral regdeur die wêreld is die aanpassing dan gemaak? Dit sal mos verwarrend wees as Afrikaans nog vasklou aan wat ander verwerp het? Biljoen en sy afleidinge is in elk geval meer produktief as miljard. 'n Ryk persoon is 'n biljoenêr; selde, indien ooit, hoor jy van 'n miljardêr. 
     
    Nou moet jy my verduidelik waarom Afrikaans, ten spyte van alles, tog maar vasklou aan biljoen, 'n 1 met twaalf nulle? 
     
    Wat die grammatika betref: geen taal ter wêreld het eers met grammatika begin nie. 'n Taal word eers gepraat, daarna geskryf, en eers heel tater kom taalgeleerdes, bestudeer die taalstruktuur en beskryf dit dan in grammatika. Dit is 'n deskriptiewe grammatika. Nou wil taalonderwysers hierdie taal leer aan mense wat nie die taal ken nie, en gebruik die grammatika preskriptief. Of hulle wil sprekers van die taal help om nie van die taalnorm af te wyk nie. 
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Angus

    Laat ek ook maar weer probeer.

    Ek sê nie Afrikaans alleen moet van 'n biljoen as 10^12 praat nie, ek sê ALMAL moet afstand doen van die absurde Amerikaanse gebruik.
     
    Buitendien, dis malligheid om afstand van die grammatikaal-korrekte gebruik, wat nog altyd deur ons gebruik was,af te wyk en verkeerd te praat soos die Amerikaners en al die skape wat hulle gevolg het.
    Ek het een Britse wiskundeboek (iets-iets number theory) waar die outeur voorin sê dat hierdie boek met 'n biljoen 10^12 bedoel soos die gebruik in die VK EN AL DIE VOORMALIGE kolonies is. 

    Met ander woorde, toe al het hierdie verkeerde gebruik al begin kop uitsteek (daar is al Engelse wat die Amerikaanse  'gotten' gebruik kan jy glo).

    Wat grammatika betref:  Hoe kan taalgeleerdes LATER kom en dan taal " ... in grammatika" beskryf?  Wat het hulle bestudeer as dit dan nie grammatika was nie?  Het hulle sommer gaan sit en grammatika uitgedink?  Die Latyners het op ses naamvalle besluit en die Finne op so iets soos 17.  Die Zoeloes het besluit om dinge in klasse op te deel en toe beskryf hulle dit LATER  in grammatika.  Maak nie sin nie.

    Taal het, anders as organismes, nie geëvoleer nie.  Dit lyk of ons taal klaargemaak gekry het en, eerder as om gaandeweg te evoleer (soos die teorie ten opsigte van organismes is) is taal gaandeweg besig om verwaarloos te raak, vandaar die eenvoudiger grammatika van die moderner tale soos Engels en Afrikaans. Let wel, ek sê die grammatika verweer, nie noodwendig die uitdrukkingsvermoë nie.

    As jy my vra waar ons taal vandaan gekry het:  Ek weet  nie, heelwaarskynlik van die yljins uit Zeta Reticuli of miskien dalk van die uit die Plejades.  Grappie natuurlik, maar dis waarskynliker as wat taal uit 'n geblaf en gegrom ontwikkel het tot iets met grammatika.

    Groetnis

    Jan Rap

  • Jan Rap

     
    Ek is self 'n voorstaander van die goeie gebruik van Afrikaans maar in hierdie geval moet ek vir Angus ondersteun. Die gebruik van die term miljard, om die Engelse billion te vertaal is gewoon onprakties en verwarrend. Al die argumente wat jy aanhaal is waarskynlik taalkundig korrek maar in die praktyk beteken dit dat wanneer ek van miljard praat moet ek altyd byvoeg "dis nou wat die Ingelse 'n billion noem". As wetenskaplike verkies ek natuurlik om die wetenskaplike notasie ( 10 tot die mag 9) te gebruik.
     
    Taal is 'n middel tot kommunikasie maar mens moet dit so aanwend om maksimaal verstaanbaar te wees. Ek het destyds my M-verhandeling in die suiwerste Afrikaans gedoen en kon dit sekerlik weer vir my PhD ook in Afrikans gedoen het. Uit praktiese oorwegings, veral die bydrae wat ek tot die wetenskap wou maak, het ek besluit om my verhandeling in Engels te doen - met uiters goeie resultate. Die praktyk moet uiteindelik die finale sê hê. 
     
    Groetnis vir 2015
    Thomas
  • Christiaan de Wet

    Inderdaad. Meeste Afrikaners het nou omgang met die Engelse taal, en presies daarom WEERSPREEK die skrywer Jan Rap inderdaad, soos Angus sê, homself in paragrawe 1 en 2, deur die stelling meer "korrekte" gebruik van die woord, meer Afrikaners dit "reg" sal laat gebruik.

    Bro, het jy kinders? Hulle lewe NOG MEER in 'n Engelse wereld as wat hulle ouers reeds doen. Meeste Afrikaners het noue en gereelde omgang met Engels in boeke, op TV, radio en flieks. 'n Geleerde volk, wat maklik tussen hulle moedertaal en Engels oorskakel, gaan net jou meedeel dat om oor een woord en 'n paar nulle te baklei, is "misplaced precision." Veral in die wetenskappe. (Sien bv die popurariteit van Latyn onder wetenskaplikes 500 jaar gelede. Hulle het wetenskaplike Latyn op hul eie landstale afgedruk.)

    Mnr Rap, jy geen nie hierdie battle wen nie. Nie eers die totale Britse Ryk kon dit wen nie. Al 50 jaar gelede het die Britte hierdie een stryd gewonne gegee, en oorgeskakel na Amerikaanse gebruik van "billion."

    As jy dink jy gaan kan wen, wel: "Good luck to you!" Meer waarskynlik geen jy net verwarring veroorsaak.

    Ek hou van jou liefde vir lost causes. Maar bestudeer gerus die syfers en die wêreld-aansien van die lande wat biljoen gebruik, anders as wat jy wil. En kyk hoeveel Amerikaans die juiste Nederlanders in hulle taal insleep.

    Ek hou ook van die feit dat jy Afrikaans se band met Nederlands probeer behou, maar daardie geveg is opgegee deur ons ouers se ouers en hulle leiers wat besluit het om Afrikaans 'n aparte taal te maak (eerder as 'n dialek), met sy eie spelreëls.

    Groete

  • Beste Christiaan de Wet, dankie vir die ondersteuning, selfs na agt jaar. Dit laat my terugdink aan my ou vriende hier op SêNet: dr. Thomas, en Jan Rap. Ek en Jan het lekker gestry en baklei, en dan het Thomas ons weer teruggebring op die regte spoor. Jan kon maar nooit verstaan dat grammatika maar net 'n beskrywing deur taalkundiges is van hoe ('n) taal werk nie.

    Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top