Sonde - Quo vadis?

  • 11

Sommige gelowiges struikel oor die sonde.

Vantevore is daar uitgelig dat sonde alles is wat die mens doen wat teen God se Wil vir die mens is. Dus, om iets te doen wat teen God se Wil vir die mens is, is sonde teenoor God. Sonde teenoor God is strafbaar deur God en God alléén en die ewige dood is die uiteindelike straf (Lukas 13:1-5). Hierdie straf behels meestal die nawerking van die sondige optrede in die ordelike stelsel (oorsaak en gevolg) en sluit ook dikwels siekte in (Mattheus 12:22; Johannes 5:14).

Om te weet wat God se Wil vir die mens is, is daar God se welbekende twee Gebooie, kernagtig opgesom deur die HERE Self in Mattheus 22:37-40. Hoe dié twee Gebooie in besonderhede ontvou en die mag-maars en moets en moenies daaraan verbonde, kan mens te wete kom deur God se opgetekende Woord in die Bybel te bestudeer en ook deur SY openbaring en uitleg van die besondere en dinamiese betekenis daarvan deur middel van SY Heilige Gees (Lukas 24:49; Johannes 14:23-26; 15:26; 2 Timoteus 3:16; 1 Korintiërs 2:13; 1 Johannes 2:20-21). Dit was sekerlik nooit bedoel dat mense hulself moet vergewis van die geskiedkundige milieu en al die teologiese spoelwater waarin die Woord ingegee en later geboekstaaf is nie, want sovele mense het nie middele, vermoëns of die metodes tot hul beskikking om dit te dien nie. Die Woord word primêr deur die Gees ingegee en deur die Woord Self beskikbaar gestel en verklaar (Johannes 14:23-26; Lukas 10:22; 1 Korintiërs 2:13) vir álmal wie dit wil hê (1 Timoteus 2:1-4; Esegiël 18:23, 32; Titus 2:11; 2 Petrus 3:9) en op só ’n manier dat selfs kinders dit kan begryp en verstaan terwyl die ‘slim’ teoloë doelmatig al te dikwels op die dwaalspoor beland (Mattheus 11:25).

Geen mens het dus verskoning vir sy onkunde nie. Tragies genoeg is daar gelowiges wat hulself eerder oorgee aan die dwaalleringe van dié ‘slimmes’ en dan so saam-saam op die dwaalspoor beland (2 Petrus 2:1). Sommige gelowiges, soos FC Boot en sommige ander wat op hierdie forum skrywe oor die dinge, aanvaar sommige inligting in die geskrewe Woord en verwerp ander. Hoe doen hulle dit? Hoe kan hulle met een asem getuig dat die Woord deur God ingegee is en dan met die dieselfde asem hul eie sif aanwend om sommige daarvan te aanvaar en ander daarvan te verwerp? Dit is omdat hulle hul nie deur die Gees laat lei nie, maar deur die valse leraars waaroor die Woord waarsku (Mattheus 24:24-25). ’n Demonstrasie daarvan is Boot se kommentare by die artikel oor mens en sonde -  www.litnet.co.za/Article/brief-sonde-en-die-mens – so ’n mengelmoes van Bybelse waarheid en eie versinsel en dwaalleringe van daardie valse leraars.

Die wonderlike nuus van die Evangelie is juis dat ons van die sondigheid kán en móét ontslae raak met die hulp, Krag en leiding van die HERE Jesus Christus – en dit is ons plig (2 Timoteus 2:19). Daar is diegene, soos Boot, wat ander (nogal die Judaiste wat die Verlosser verloën) napraat en beweer dat dit nie moontlik is om op aarde van die sonde ontslae te raak nie en daarin probeer hulle die HERE Jesus selfs lynreg weerspreek. Na ons vergiffenis ontvang, verwag die HERE van ons om nie weer te sondig nie (Johannes 5:14; 8:11). In Mattheus 12:45 waarsku die HERE Jesus juis baie dringend wat kan (sal) gebeur met ’n mens wat, nadat hy van sy sondes gereinig is (dit wil sê, vergiffenis daarvoor ontvang het) wéér die deur van sy skoongemaakte siel en gees daarvoor ooplaat deur so ’n vas-aan-die-sonde houding en lewensuitkyk. Dit is logies dat die HERE nie van ons sal verwag om iets te doen waartoe HY ons nie sal kan of wil bring nie of wat nie moontlik is om te bereik nie.

Die kwessie van sonde en die gevolge daarvan is geen geringe saak nie. Agnostici meen dat daar nie so iets soos sonde is nie – te verstane, want as hulle erkenning moes gee daaraan, dan sou hulle ook erkenning moes verleen aan die God teenoor Wie gesondig word en hulle wil opsluit géén erkenning aan God verleen nie en sal daarom ook alles wat met die HERE direk verbind word, wil ontken – terwyl sommige gelowiges weer verkeerdelik meen dat mens se sondes hom nie meer toegereken word nie weens die verlossingswerk van die HERE Jesus Christus. Laasgenoemde is slegs gedeeltelik reg, want dit is onderhewig aan baie belangrike voorwaardes.

Die voorwaardes waaronder mens se sondes hom vergewe word, is eerstens dat mens die HERE Jesus Christus moet aanneem as Verlosser daarvan (Johannes 3:14-16) en dat die mens homself telkens verootmoedig en sy sondes sal bely en om in opregtheid vergiffenis daarvoor te vra (Mattheus 6:12; 1 Johannes 1:9-10) en dan ook dat mens andere wat teenoor hom geskuldig het, sal vergewe, want ons sondes sal slegs vergewe word tot die mate waarin ons bereid is om ander wat teenoor geskuldig het, te vergewe (Mattheus 6:14-15; Markus 11:25; Kolossense 3:16 en veral Mattheus 18:21-35).

Sondevergiffenis kom dus nie outomaties nie. Dit word nie verdien nie, maar uit genade geskenk aan diegene wie bereid is om nederig daarvoor te vra EN bereid is om ander ook volkome te vergewe.

Daar is ook die kwessie van heiligmaking of sondeloos lewe. Om sondeloos te lewe, is om in God se Wil te lewe. Dit is slegs bereikbaar deur toewyding aan en die wil om, soos die HERE Jesus Christus te word (Mattheus 11:28-30; Johannes 6:35-37; 1 Johannes 5:3). Dit is die oproep en ook ons plig (Levitikus 19:2; 20:7; Hebreërs 12:14; Kolossense 3:5-17). Om heilig te wees, beteken om aan God gehoorsaam te wees en die versoekinge van die vleeslike wêreld te weerstaan – dit is die vrug van die wedergeboorte (Johannes 1:12-13; 3:5; 1 Petrus 1:23 en veral 1 Johannes 2:29; 3:9). Dit kan natuurlik slegs vermag word in die Krag en onder leiding van die HERE Jesus Christus (Mattheus 10:38; 16:24; Lukas).

’n Wedergebore mens sal nóóit sê dat dit nie vir hom moontlik is om die sonde te oorwin in die Krag en leiding van die HERE nie.

Kobus de Klerk

  • 11

Kommentaar

  • Ai, ds De Klerk het vandag mooi gepreek! 

    Net jammer ons kry nie tee en koeksisters na die diens nie.
  • De Klerk skryf hierbo heel eerste: "Sommige gelowiges struikel oor die sonde." Dus impliseer hy dat die ander (sommige) gelowiges nie oor die sonde struikel nie. Eenvoudig gestel: Daar is gelowiges wat sonde doen en daar is gelowiges wat sonder sonde is.

    Dan skryf hy 'n entjie verder..."dat die mens homself telkens verootmoedig en sy sondes sal bely en om in opregtheid vergiffenis daarvoor te vra (Mattheus 6:12; 1 Johannes 1:9-10)..." Nou wonder ek of of die gelowiges wat sonder sonde is, maar by dié voorskrif kan verbygaan. Hulle het dan nie gesondig nie, watter sonde moet hulle dan "... telkens bely ..."?

     

    Nog iets: Hy skryf 'n lang relaas oor hoe die heilige gees en die bybel vir die mens inligting gee oor sy eie sondige natuur, so eenvoudig dat selfs kinders dit verstaan. Dan volg hy dit op met "Geen mens het dus verskoning vir sy onkunde nie." Nou is my vraag, wat van die arme siele in Indië of Pakistan of Midde-Afrika of die reënwoude om die Amasone of Timbaktoe of waar ook al wat nog nooit 'n bybel gesien het nie, en nog nooit die christelike boodskap gehoor het nie, watter oordeel wag eendag vir hulle? Waar moes hulle die "...krag en die leiding..." kry om tot die regte insigte te kom? Hoe regverdig is dit nou?

     

     

  • Kobus de Klerk

    Rigter se probleem is die kenmerkende insigloosheid.  Nie net verstaan hy glad nie die Woord nie, maar hy is ook nie baie bekwaam waar dit gewone Afrikaans betref nie.

     
    Die eerste sin van die artikel hierbo is die inleidende sin. Daarna volg die uitbreiding omtrent die probleem wat in die inleidende sin vermeld word. Daar is dus geen grondslag vir Rigter se insiglose, antagonistiese agnostiese interpretasie nie (soos gewoonlik en baie kenmerkend).
     
    Dit is hoogs onwaarskynlik dat enigeen in Afrika (Timboektoe is ook in Afrika) of Pakistan of Indië nog nie van die Evangelie gehoor het, om hul keuses te maak nie. Net so ook met die Amasone. Vir eeue al, word die Amasone ge-evangeliseer. Die Jesuïete was die eerstes wat werklik daar sendingwerk gedoen het. Daarna die Katolieke ens en so gaan dit aan en as daar dan wel stamme is wat daar woon wat nog nie deur die evangeliste bereik is nie, dan het daardie stamme met ander inheemse stamme te doen wat wel al ge-evangeliseer is of in die proses daarvan is sodat ook daardie ouens wel tot kennis kom.
     
    Een ding is verseker - die Evangelie van die HERE Jesus Christus het baie lankal tot al die uithoeke van die aarde versprei. Die HERE Jesus se Naam is die bekendste van alle Name.
     
    So, net soos alle ander mense, word die Rigters van hierdie ou wêreld aan die geleentheid blootgestel om die kundigheid omtrent en belewenis van die Krag en leiding van God deelagtig te wees - maar wat hulle met daardie geleentheid doen, is van belang en daaromtrent is die agnostiese Rigter vir ons die duidelike voorbeeld. Versmaaide geleenthede wat aanleiding gee tot 'n insiglose, sinnelose gekletter agterna, terwyl hulle dink hulle is so slim...
     
    Kobus de Klerk
  • Gelukkig is ek nie 'n Christen nie. Ek wil nie in sonde ontvang en gebore gewees het nie. Ons ouderling sê my dis sonde vir 'n Christen om op Sondag tennis te speel, en om 'n paar danspassies met jou voete uit te voer, kan jou in die ewige hel laat beland. Dis glo nie die danspassies as sodanig wat die sonde is nie, dis  wat jy dink as as jy jou boude so wikkel, wat jou vir ewig sal laat brand. 

  • Sondelose Kobus

     
    Ek dog nederigheid is een van die kenmerkende eienskappe van jou dwaalleer.

     
    Dis baie duidelik uit jou skrywe dat jy vas oortuig is dat jy sondeloos lewe omdat jy: "Dit  bereik deur toewyding aan en die wil om, soos die HERE Jesus Christus te word (Mattheus 11:28-30; Johannes 6:35-37; 1 Johannes 5:3). Dit is die oproep en ook ons plig (Levitikus 19:2; 20:7; Hebreërs 12:14; Kolossense 3:5-17). Om heilig te wees, beteken om aan God gehoorsaam te wees en die versoekinge van die vleeslike wêreld te weerstaan – dit is die vrug van die wedergeboorte (Johannes 1:12-13; 3:5; 1 Petrus 1:23 en veral 1 Johannes 2:29; 3:9). Dit kan natuurlik slegs vermag word in die Krag en onder leiding van die HERE Jesus Christus (Mattheus 10:38; 16:24; Lukas)."
     
    Dis darem wonderlik om jouself op so 'n verhogie te plaas bokant bv FC Boot en die posisie vir jouself toe te eien volgens jou eie interpretasie van 'n ou midde-oosterse boek. In jou eie seflregverdiging openbaar jy jouself as 'n regte ou Fariseer wat skynheilig bid hoe dankbaar hy is dat hy nie soos die ander mense is nie. 
     
    Jou eie handleiding waarsku teen opperste dwase soos jy. Jy behoort jou te skaam!
     
    Thomas
  • Beste Dirk
    Wat word van mense wat nooit van die Evangelie gehoor het:

    In Romeine 2: 14-16 lees 'n mens.
    "14 Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie.

     15 Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in 'n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word.

    16 Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig."

  • CorneliusHenn

    Beste FC Boot,

    Jou aanhaling uit Romeine 2: 14-16 is troos aan almal in die liefde en genade van Jesus Christus onse HERE.

    Dit antwoord ook die toegewydheid van Moselm, Hindoe, Joodse, Boedhistiese ... en vele ander Godsdienstiges wat nederig ons almal se Skepper dien en eer.

    Dit is ook die troos aan elke eerlike en opregte ongelowige op aarde (heiden) wat nie die skyn van heiligheid onder 'n vaandel van "sondelose ware gelowige" op hul medemens probeer afdwing nie.

    Mag Jesus Christus onse HERE, self Sy liefde en genade in 'n ieder se hart bring.

    Namaste!

    Cornelius Henn

  • Beste FC,

     Ek waardeer dit wanneer jy, soos in hierdie geval, 'n direkte antwoord gee op wat ek dink my geregverdige vraag is. Ek sal jou antwoord oordink. Baie dankie.

     De Klerk,

     Jy's nes die politici, wat as hulle uitgevang word, agterna sê: "Maar dis nie wat ek eintlik gesê het nie, wat ek eintlik bedoel het, was..." en dan gee hulle 'n ander weergawe. Miskien moet jy maar jou les oor "Afrikaanse bekwaamheid" vir jouself hou. Jy skryf hoeka sulke laaang sinne.

     Verder: Jy het kennelik geen idee van menslike nederseting in die Amasone nie. Beantwoord liewer my direkte vraag oor die sielewelstand van mense wat sterf sonder dat hulle van die evanglie gehoor het. Glo my, daar's honderde duisende van hulle op die aardbol. Versigtig vir die "sinnelose gekletter." Jou kommentaar op my vrae staan wankelend op losse skroewe...

  • Kobus de Klerk

    Rigter,

     
    Ek het geen ander weergawe gegee nie - waar is dit? Ek het jou bloot verwys na die inhoud van die artikel wat in besonderhede uitbrei op die inleidende sin. Lang sinne? Dan is daar boonop fout met jou konsentrasievermoë ook, of hoe?
     
    Wat is jou kennis van die goed waarvan jy praat? Het jy kennis van die Amasone-nedersettings? Hoe sal jy weet dat daar honderde duisende mense op aarde is wat nog nie van die Evangelie gehoor het nie? Neem jou as voorbeeld - jy hoor, maar smeer jou daaraan af. Daar is wel 'n klompie van julle... En as daar sulke mense sou wees, watter sielestryd sou hulle beleef? Wat weet jy daarvan?
     
    Die waarheid is dat die feite anders aandui - in die eeu van kommunikasie en inligting en gemaklike vervoer, word mense oral bereik en ge-evangeliseer. Dit is immers die opdrag aan gelowiges - om die Evangelie te versprei. Kyk na Reinhardt Bonnke in Afrika, byvoorbeeld en andere soos Jim Elliot, Ed McCully, Roger Youderian en dies meer wie juis in daardie diep amasone-woude sendingwerk gedoen het vanaf die Quechua basis, ens. en wie so toegewyd was dat hulle selfs hul lewens opgeoffer het.
     
    Ek dink die les wat jy uit Boot se aanhalings kan leer, is dat die mense, alle mense, die basiese beginsels in hulle gees reeds weet - hierdie is uiteraard 'n spirituele saak - en word die detail deur evangelisasie ingeklee.
     
    God het nie 'n mens nodig om ander mense van SY teenwoordigheid bewus te maak nie. Jy sal jou verbaas hoe spiritueel sulke inboorlinge is te oordeel aan die van hulle wat al bereik en bekend is - hulle is alreeds maar al te deeglik bewus van die Godheid en anders as jy, wat dink jy is slim terwyl jy eintlik spiritueel brandarm en uiters versukkeld is (by keuse), sal hulle graag na detail luister omtrent God.
     
    Maar jou swak, sinnelose en basislose bespiegelings pas uitstekend by jou agnostisisme.
     
    Kobus de Klerk
  • FC Boot/Cornelius/et al.

     Ek het baie lank laas enige reaksie op hierdie web geplaas en ek is ook nie van plan om weer baie betrokke te raak nie bloot omdat baie van die argumente/besprekings (veral rondom geloof) eenvoudig op niks uitloop en bykans geen voordeel vir die lesers/hoorders daarvan inhou nie.

     Maar hoe dit ookal sy, wil ek graag jul aandag plaas op Romeine 2:1 (siende dat FC Boot uit Romeine 2 aanhaal): "Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat 'n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor 'n ander 'n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge."

     Verder, voordat julle juig of huig wil ek ook jul aandag vestig op Romeine 2:13 (wat FC Boot nie aangehaal het nie) "Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word." Julle sien, wanneer die verse wat FC Boot aangehaal het saam met vers 13 gelees word is dit duidelik dat vryspraak (Volgens die Jode in hierdie geval - onthou die Jode het aan die onderhouding van die wet vir vryspraak vasgehou en die bespreking tussen Paulus en die Jode gaan dan juis daaroor) dus kom deur die doen (volhouding) van die wet, dan nie? Nou ja, watter mens heiden of nie-heiden kon al of het al die wet volmaak volhou en nie daarin gefaal nie?

     Is dit dan nie juis daarom dat God se genadeversoening deur Jesus Christus verlossing gebring het nie? - omdat geen mens in staat is om die wet volkome te onderhou nie! Daarom ook dan Romeine 2:16, wat FC Boot aanhaal maar nie insien nie: "Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig." Let op na veral die laaste gedeelte van die vers: "ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig". En wat is hierdie evangelie wat verkondig word? Die evangelie van Jesus Christus! Daar is geen ander evangelie nie! 'n Mens kan nie daarby verby kom nie!

     Laastens sluit ek af met Romeine 2:23: "Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie?" Nou ja, as 'n mens dan God oneer aandoen deur die wet te oortree (wat geen mens volkome kan onderhou nie), hoeveel te meer doen diegene wat nie God se genadeversoening in en deur Jesus Christus aanvaar nie, God oneer aan?

     Die Bybel moet nie selektief gelees en/of gesif word nie (soos Kobus dan ook aandui), maar gelees word vir Wat dit is: Die Woord van God, Die Evangelie van Jesus Christus, Die Waarheid!

     Groete

     Dolf

  • Beste Dolf

    Die gedeeltes wat jy aanhaal het nie betrekking op die vraag nie en is dus nie van toepassing nie.
    Vir wie skryf Paulus hierdie brief? Vir die kerk van die Here In Rome, tussen die jare 55-56 nC.

    Hierdie jong kerk het ook soos Dirk Rigter baie vrae gehad.Die verskil is egter dat die kerkmense
    ten volle bewus is van die verlossingswerk van Jesus Christus.Die hele stuk is dus op hulle van toepassing.
    Hulle het geen verskoning nie.

    Die vraag is egter wat van mense wat nog nooit van Christus gehoor het nie? En dit is die vraag wat ek beantwoord het.

    Maar dit is duidelik dat die mense waarna Paulus verwys in die gedeelte wat ek aangehaal het anders behandel gaan word as die mense aan wie die Evangelie verkondig is maar hul rug daarop gedraai het.

    As jy die vraag Google veral in Engels gaan jy 'n reeks uiteenlopende antwoorde kry.Wat wel seker is dat God as Regter reverdig oordeel en dat  daar wel 'n verskil in die graad van straf gaan wees.

    In Matteus 11 reik Jesus 'n waarskuwing uit aan die inwoners van Gorasin,Betsaida wat net hul skouers opgetrek het oor Jesus se verkondiging en gepaardgaande wonderwerke. en sê dan:

    21......Weet julle as die ongodsdienstige mense van Tirus en Sidon die wonders kon sien wat julle gesien het,was hul binne sekondes op hul knieë voor my. Maar toemaar, die finale oordeel van God is op pad.

    22.Daardie dorpe sal lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref.

    Dan praat Jesus met die mense van Kapernaum.Die godsdienstige mense.Luister wat Jesus vir hulle sê:

    23.Mense van Kapernaum,wat dink julle van julself? Dink julle God gaan vir julle spesiale plekke in die hemel gee?Dan wag daar vir julle 'n baie groot ontnugtering.Julle plekke is eerder in die warm plek bespreek.Julle onthou mos nog hoe daardie stad Sodom deur God vernietig is?

    24.Wel,sê nou Ek kon in Sodom gepreek en die wonders gedoen het, wat Ek by julle gedoen het.Weet julle,hulle sou hul lewe so vinning verander het dat dit glad nie meer vir God nodig sou gewees het om een van hulle te straf nie.Wees gewaarsku! God se oordeel was nie naastenby so erg oor hulle as wat dit oor julle gaan wees nie."

    'n Swaarder straf wag dus op diegene aan wie die Evangelie verkondig is maar dit verwerp het en ook die kwasigodsdienstiges.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top