Prys is alles, is dit nie?

  • 9

Moes vandag noodwendig met die berugte versekeraars te doene kry. Die assessor is 'n baie aangename man saam met wie ek binnekort 'n paar doppe sal klink.

Ek vra hom of die hele panelbeater-besigheid nie een groot racket is nie. Hy beduie my: Compared to what? Medicine? Life insurance? Funeral cover? Ens voor ek op tone trap ...

Hy vra my of ek weet wat 'n nuwe Mercedes se voorlig kos (waarop ek logies kop skud) : R28 000. Ek vra hom of die donnerse ding van goud gemaak is en hy lag en beduie my dat ek bly moet wees ek ry nie 'n Audi en ek stamp my voorlig nie want dan gaan iemand (ek of die versekeraar) R34 000 moet hoes. En dit is slegs die voorlig, direk van die fabriek af.

Die syfers waarvan hy praat is so sinneloos dat ek nie eens 'n kans wil waag om die rou kostes te probeer bereken nie. Want ek is wel nog nie baie oud nie maar ek onthou hoe jy 'n motor se voorlig kon vervang en met 'n bietjie moeite en kleingeld gekry het uit 'n R200.

Ek sit en dink dat iemand besig is om ons vir een moerse ride te vat. Want, as voorbeeld het koerant-uitgewers hul koerante se pryse verhoog met 50 sent (ag, wie de hel het nou nie 50 sent om te spaar nie?). Sasko se prysverhoging was begin Desember 10 % (die brandstofprys, sien) en nou ewe skielik weer 16% oor die geheel (terwyl kommoditeitspryse die laagste in jare is). Ola verhoog die prys van roomyse met gemiddeld R2 per roomys. Coca Cola het Desember 'n 10% verhoging gehad en einde hierdie maand kom nog 'n 10 % verhoging. Pioneer Foods het die prys van 'n standaard brood twee weke gelede met 45 sent per brood verhoog. Ens ens ens vir elkeen van die maatskappye wat jaarliks in steekproewe as die top maatskappye beskou word deur die deursnee-burgers.

Toe sit ek en wonder: Die prys van my betrokke produkte wat ek direk produseer is reeds vir vier plus jaar nog dieselfde. En ek maak steeds jaarliks meer wins. Waarom? Want, en dit verduidelik geen maatskappy ooit aan jou nie: Jou kostes (brandstof, arbeid, Eskom, voertuie, papier, verpakking [sedert die brandstofprys in sy moer geval het is dit die nuwe verskoning] etc etc etc) is 'n direkte belasting-aftrekbare uitgawe. MAW die belastingbetalers betaal daarvoor.

Die mees skreiende ironie was die kamma boete wat die brood produsente net nou die dag opgelê is. Miljoene rande boetes en die gewone burger lag lekker en nie een enkele burger vergelyk dat hy in twee maande met die verhoogde broodprys die boete uit sy eie sak betaal het nie (want kort na die boete is 'n 7 sent verhoging in die prys van gewone brood effektief ingebring ...). In wese: Die staat beboet jou omdat jy oor die stop ry en jy breek die stopstraat af en die staat gee jou die tender om die stopteken te vervang. Want jy is die dude wat stopstrate verskaf ...

Natuurlik het die slim ekonome en dergelikes lang stories om te beduie dat dit nie so is nie maar dan sien ek dat die ekonoom R25 000 per optrede (vooruitbetaalbaar, let wel) vra en ek weier om verder na hom te luister of die snert wat hy verkoop te glo.

Iemand is besig om vir jou te lieg. Blatant. As jy my nie glo nie, kyk na enigeen van hulle se gepubliseerde jaarstate. Kyk na die ouditstate om te sien wat afgetrek is (jy betaal daarvoor) en wat uiteindelik kamma na die gewone burger toe gaan as direkte belasting.

Hoe meer vry ons word hoe meer raak ons die gevangenes van mense wat uiteindelik 'n vaal fok vir jou voel. Al sê hulle duur advertensies wat ook al.

Ag nevermind, ek veg al vir baie jare die oorlog wat ek weet ek nooit sal wen nie.

oester

  • 9

Kommentaar

  • 'n Isuzu Frontier se ruitjies agter, skaars groter as 'n A4, kos R14000 elk.  'n Vriend van my kom agter daar is 'n klein duikie op sy Honda SUV se dak (jy sien hom net as jy daarvoor soek) en die kwotasie van die paneelklopper om die ou duikie uit te haal is R48000!

    In die laat 60's vroeë 70's kon jy van paneelklopper na paneelklopper ry en 'n kwotasie vir die herstel van motorskade kry.  Ek het daardie tyd 'n duik uit my modderskerm laat haal vir so iets soos R8. Nie veel later nie wou die ouens nie eers na jou kar kyk as jy nie versekering gehad het nie.

    Dit is juis die probleem met alle versekering:  Die diensverskaffer weet jy gee nie veel om nie want die versekering betaal en op die manier melk hulle die versekering.  Dit bring mee dat versekeraars die premies verhoog en op die ou end betaal die verbruiker/versekerde/klant tog die gelag.  Hierdie storie geld ook vir medies (of sal ek sê veral ten opsigte van mediese versekering).

    Terloops, hoe eienaardig is dit nie tog dat, wanneer kleinhandelaars pryse uitwerk, dis nou hulle aankoopprys, oorhoofse kostes ens plus wins, hulle verkoopprys altyd op 'n '9' eindig.  Dis 'n wiskundige wonder!

    Die mens, weens sy gierigheid, is gewoon nie ryp vir kapitalisme nie.  Die enigste alternatief is maar seker ruilhandel.

  • Ek het ook al voorheen in 'n skrywe 'n soortgelyke aanname gemaak. Oor die ekonome wat gorrel kan mens ook lang aande om praat. Daar is drie ouens wat erg lieg. Dit is transportryers (ek het al self trok gery), ekonome en 'hydraulics mechanics'. Dan praat ek nie eers van assuransie-smouse (ek ook al probeer) selfoondiensverskaffers, bankklerke, mediese fondse inbelsentrumwerkers en ook politici. Politici lieg sommer uit beginsel uit. Ek dink die euwel van hoë kospryse is soos almal weet nie die produsent nie maar die sg middelman. Die supermarkte is ook witboordjie-kriminele. Ek praat onder korreksie, ek dink hulle laat hul verskaffers tot 90 dae wag vir hul geld. Intussen swaai die winkel die voorraad omtrent drie of vier keer voordat die verskaffer betaling kry. Alles het 'n prys en die wet van Transvaal geld nog.

  • George Bekker

    Beste Oester, voel met jou maar dink tog ons moet aanhou baklei anders raak die prysverhogings nog erger. Wat die broodprys betref: ek dink die owerhede was erg dom. Hulle moes die leweransiers gestraf het met 'n verpligte verlaagde prys totdat die broodvervaardiger R10 miljoen opgedok het, of hoeveel die boete ook al was.

    Hierdie duur motors waarvan jy praat wat aan 'n rekenaar gekoppel word, wat met die hoofrekenaar in Duitsland verbind is en dan betaal jy duisende vir een diens. As hierdie blink motor oor 'n paar jaar aan 'n arm ou verkoop word en hy kom agter dat hy vir dienste net na die agent kan gaan, maar dit nie kan bekostig nie, behoort die bodem uit hierdie motors se tweedehandse waarde te val, of is ek te optimisties? Al is 'n man ydel (probeer die bure beïndruk) is waarde vir geld tog belangrik en sal dit nuwe-motorverkope uiteindelik beïnvloed of is ek nou laf? Sal maar moet aanhou om met my 19-voertsek motor te ry.

  • Kapitalisme is nie die probleem nie. Die nuwerwetse sosialistiese kapitalisme is wel. Want die groot maatskappye weet dat die gewone burgers besig is om in opstand te kom maar uiteindelik niks kan doen daaraan nie. Die mensdom het gewoond geraak aan prysstygings en dit as 'n noodwendigheid aanvaar en dit word uitgebuit tot die maksimum. Met die verskonings soos ek bo beduie het. Verskonings wat 'n direkte tax uitgawe is en wat die maatskappy in wese nie een enkele sent kos nie.
    Voeg hierby dat daar bitter min mense is wat nie in elk geval aandele (op een of ander sekondere manier) in die groot konglomerate het nie. Hoe? Via jou versekering, effektetrusts, aftreefondse etc. En hulle moet jaarliks uitmuntend presteer anders sal die gewone burgers dalkies in opstand kom?

    Wat ruilhandel betref verskil ek drasties: die mens is nog lank nie ryp vir ruilhandel nie. Die gewone burger het doodgewoon nie genoeg savvy daarvoor nie en is in elk geval heeltemal te lui.

    Ek kan vir jou rillerstories vertel oor wat in werklikheid in die handel gebeur en ek kan jou verseker dat dit beslis nooit deur enige Afrikaanse media (wat daagliks roem en kla oor spraakvryheid) aan die lig gebring sal word nie. Dit is veel makliker om oor Nkandla te berig as om negatiewe goed te skrywe oor jou grootste adverteerders, is dit nie? Dit terwyl die deursnee kamma onafhanklike media voor hul heilige siele weet dat die ANC hul jare lank nie meer steur aan enigiets wat die Afrikaanse pers berig nie. Om logiese redes.

    Die oplossing? Baie maklik: Pas bloot die grondwet toe. Tot die letter. Soos wat dit in enige ander land op aarde werk. Die grondwet is baie spesifiek wat betref diskriminasie. Waarom die klem slegs op rasse en geslagsdiskriminasie is ontgaan my heeltemal.

    Ek stel dit as 'n feit dat die gewone burger in hierdie land tot die maksimum uitgebuit, belieg, besteel en beroof word deur die deursnee top maatskappye, ekonome, en die sg waghonde en is bereid om my woorde in enige hof te beaam (wat ek wel gedoen het en toe smeek Coca Cola om eerder buite die hof te skik). Politici word nie hierby ingesluit nie want hulle is gewoon nie deel van homo sapiens nie en verdien nie vermelding nie.

    Wat my tiete egter die lamste van alles maak is die gewone pleit om spraakvryheid. Die vorige regime word gekruisig omdat arme digters die swye opgele is. Die deursnee media roggel en sny polse daaroor. Maar die grootste bedrog wat voor ons oë gepleeg word word selfs deur dieselfde media wat die vorige regime wil kruisig stilswyend toegelaat.

    En dit spreek nie net boekdele nie, dit is die mees skreiende ironie.

    Groete uit Oesterland

  • Ek bly 'n groot voorstaander van 'n revolusietjie elke nou en dan, niks soos 'n paar koppe wat rol om elk en ander op die "straight and narrow" te hou nie

     Viva lekker naweek

  • Oester,

    Was, is en bly die grootste liegbek, bullshitters, diewe nie immer prokureurs nie? Veral die wat veronderstel is om dinge soos trustfondse op te pas nie? 

     Viva nogmaals.

  • Soos die Ingelse spreekwoord lui " watch this space". Hier is 'n groot geknoeiery wat eersdaags in die openbaar gebring gaan word. Ek roem nie daarop dat ek dit gaan openbaar maak nie maar dit kom van die vorige bedeling af en loop oor in die huidige. Dit is om die minste te sê, krimineel. As iemand nie iets daaraan gaan doen nie gaan ons onherstelbare skade die toekoms in lei. So ons wag maar en sien wat gaan gebeur.

  • Supermarkte is logies skuldig want as Pioneer foods weetbix op spesiale aanbieding wil sit by, bv daai supermark waar jy kies en betaal moet Pioneer foods betaal vir die advertensie, rakspasie, biljette ens ens ens. Alles goed en wel en ons dink dis heel cool en alles. MAAR: Daardie uitgawes is direkte belasting aftrekbare uitgawes. In wese beteken dit:

    Hulle eis dit terug teen hul jaarlikse aanslag en JY betaal dus daarvoor. En presies dieselfde geld vir enige ander maatskappy. My uitgawes, die papier, verpakking, vervoer, brandstof etc etc etc is nie vir my rekening nie. Ek ken letterlik honderde besighede wat privaat individue se brandstofstrokies gebruik om belasting af te trek. Sure, ek moet die petrol by die vulstasie dalk kontant betaal maar ek trek dit einde Februarie af as 'n direkte uitgawe. My petrol kos my dus 0 Rand. Selle storie met die taxis en waarom hulle nie in opstand kom teen die drakoniese brandstofpryse (enigeen wat werklik glo dat ons brandstof bo R6.50 per liter behoort te wees en dan in dieselfde asem iemand soos Breyten quote het dringend sielkundige hulp nodig). Want die Taxis kry rabatte op brandstof, tolgelde etc (tolgeld is ook 'n tax deductable uitgawe)

    Dit is waarom maatskappye in Suid Afrika sulke duiseligwekkende resultate kan lewer en waarom die deursnee burger al swaarder moes dra aan die las, want jy sorg nie net vir Mnr Ackerman se normale wins nie maar jy betaal, in rand en sent, direk, vir daardie duur huur by die designer Mall.

    Punt is: Ongeag wie wat sê en hoe hulle ook al roggel en hyg: Dit is uiteindelik vir JOU rekening. JY gaan betaal. Wat my verstom is hoe ryk die deursnee burger in hierdie land inderdaad is, want gesien wat ek elke jaar wettig verhaal teen jou rekening behoort daar in wese slegs armes oor te wees, en wat ek verhaal is nie eens 'n fraksie van 'n persentasie van wat die groot konglomerate teen jou tax eis nie.

    Ek onthou 'n spesifieke kommissie van ondersoek nie baie jare terug nie, en hulle het bevind dat die top vier maatskappye op die JSE jaarliks biljoene RANDE meer belasting ontduik het as wat al die gewillige burgers gesamentlik betaal het.

    Wat my met letterlik duisende vrae laat oor hoe ver hierdie land nie dalk kon vorder as dit nie was vir die wettige bedrog wat danksy die owerhede voor jou oë gepleeg word nie. En geen politieke party sal dit ooit opper nie want enigeen met meer as drie breinselle weet wie die manne is wat nie net die ANC nie, maar al die politieke partye aktief finansier.

  • Ek deel ongelukkig nie die hoop dat dinge binnekort drasties sal verander veral vir die deursnee burger, en nog minder vir die armes, nie. Destyds toe ek nog sekretaris van die Drankraad was, is ons vooraf gewaarsku dat mnr Mandela drasties drankhandel gaan inkort, ure gaan inperk en die vrye verkoop van drank veral in die sg nie-blanke areas (want vir elke wettige uitlaat was daar soms letterlik honderde onwettige uitlate) drasties gaan inperk. Uiteindelik het die teenoorgestelde gebeur. Bloot omdat geld harder praat as enige ander beginsel wat selfs die hardste en mees obsessiewe vryheidsvegter ooit kan hê. Ons sien reeds hoe selfs onse Malema algaande begin versag en selfs sy retoriek klink vir my al meer na iemand wat nooit in sy lewe 'n sg vryheidsvegter was of sal wees nie.

    Die beginsel is so oud soos die mensdom: Jy byt nie die hand wat jou kos gee nie.

    Daarom kan ons vergeet dat die media ooit die bedrog sal openbaar. Nie net weens die verlies van advertensie nie maar ook omdat dit selfs die beste CA's letterlik jare sal neem om die aandeelhouding en wie 'n vinger in watter pie het te probeer ontsyfer. Want ons leef in 'n konglomeraatwêreld waar dit nie help jy probeer die een uithaal en ontmasker nie want die maatskappy wat kwansuis sy mededinger is se aandeelhouding is uiteindelik nie veel anders nie.

    Al wat gebeur is dat die geld verskuif word teen jou rekening. Let bv op hoe vinnig ons top maatskappye, en selfs klein non entities aandele uitgedeel het aan die nuwe regeerders.

    Bitter min mense vind dit glad nie vreemd dat dit die Oppenheimers bv geslagte gevat het om hul rykdomme te vergaar nie en dat dit iemand soos Mnr Sexgwale in minder as tien jaar nadat hy uit die tronk ontslaan is kon vorder tot een van die rykste mense in hierdie land. Dit word selfs aangedui as iets besonders?

    Hulle saak is egter hulle saak. En hulle rykdom is hulle rykdom en dit is nie die issue nie. Wat my issue is is die feit dat die gewone burgers uiteindelik, en heel gewillig, hiervoor opdok. En altyd maar altyd is dit ten koste van die armste van die armes. Daarom dat ek geen politikus, filosoof, hygskrywer of wie ookal se kwasi-bekommernis meer sluk nie. Want hulle lieg en bedrieg ten koste van my en jou en die arm drenkeling in 'n shack.

    Daarvoor sal eendag, as ek my sin kon hê, hopelik behoorlik voor rekenskap gegee moet word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top