Plaaswerkers: Van plakkershut na Rotterdam

  • 1

Op 5 November het Jason Lloyd in ‘n skrywe hier losgetrek teen Boere (landbouers) in die algemeen en spesifiek teen die De Doorns / Hexvallei boere. Hy het in sy betoog onder andere verwys na die “De Doorns plaasopstande” van 2012. Op 6 November het ek repliek op sy skrywe gelewer en hom daarop gewys dat hierdie “plaasopstande” niks anders was nie as aangestigte onrus en plundery onder leiding van Nosey Pieterse en sy trawante van Bawusa.

Verder het ek uitgewys dat die oorgrote meerderheid boere hul werksmense so goed betaal as wat gesonde sakebeginsels hulle toelaat om te doen, net soos in enige ander sektor van die ekonomie. Daarbenewens het ek ook gewys op bykomende versorging soos crèche en nasorg-fasiliteite, gratis vervoer na klinieke, die verskaffing van rantsoene waar die boerdery dit toelaat, gratis behuising, krag, water ens.

Tot op hede het Jason Lloyd nog nie op hierdie skrywe van my gereageer nie.

Wel ek het nóg nuus vir hom (en sommer vir Tony Ehrenreich en Nosey Pieterse ook). My familie wat in De Doorns boer het gister vier plaaswerkers oorsee gestuur om in ‘n Europese hawe vir twee maande te gaan werk as deel van hul opleiding. Hulle gaan spesifiek betrokke wees by die ontvangs van Suid-Afrikaanse vrugte vir die Europese markte, sodat hulle eerstehands kan sien hoe die verspreidings- en logistieke prosesse werk wanneer die vrug van hulle arbeid oorsee aanland. Met hul terugkoms word hul opleidingsbeamptes wat dan self hul mede-plaaswerkers inlig oor die redes waarom die oes en verpakking van uitvoervrugte aan sekere spesifikasies moet voldoen.

Interessantheidshalwe: Een van dié vier het ‘n paar jaar gelede nog in ‘n plakkershut teen die bult werkloos gesit. Hy’t kom aanklop vir werk, hard gewerk, gewys wat in hom steek en vanoggend het hy in Rotterdam wakker geword! Dít, vir die wat nie weet nie, is hoe die meeste boere met plaaswerkers omgaan, mits finansies dit toelaat.

Natuurlik nodeloos om te sê, maar tog. Die koste van hierdie oorsese opleiding word volledig deur die boerdery gedek. Reis, verblyf en sakgeld alles ingesluit.

Hoekom skryf ek hieroor? Hoe sê die plaasmense? Oorlat ek gatvol is vir die gedurige afbrekery en vals kritiek teenoor mede-landsburgers wat hul uiterste bes doen om historiese agterstande te help uitwis. Mense wat opreg is in hul strewe om hul werkers se lewensomstandighede te verbeter en armoede uit te wis. Mense wat ophef en hul werksmense ideale gee om ná te streef. En oorlat ek weet dat ons land ‘n beter storie het om te vertel, te midde van al die slegte goed.

Anders as met die opstokery en plundery, was daar gister nie ‘n koerantverslaggewer of TV kamera in sig toe hierdie vier, effens onseker maar vol afwagting op hul eerste oorsese vlug aan boord gegaan het nie. Nou vertel ek maar vir almal wat wil luister.

  • 1

Kommentaar

  • George Bekker

    Die tragedie is dat daar baie is wat nie wil luister nie. Hy/sy wil net negatiewe stories oor die boere hoor.

    Ek was vir jare die eienaar van 'n klein besigheid – gelukkig was dit nie 'n boerdery nie. Van Vrydagmiddag sluitingstyd tot Maandagoggend het ek geen personeelprobleme gehad nie. Dit was ook nie vir my nodig om personeel van behuising te voorsien nie. Gelukkig was ek ook nie verantwoordelik vir “ … bykomende versorging soos crèche en nasorg-fasiliteite, gratis vervoer na klinieke, die verskaffing van rantsoene waar die boerdery dit toelaat, gratis behuising, krag, water ens” nie. As 'n mens reg daaroor nadink is dit onregverdig om al die laste op boere te lê. Mens kan maar net 'n opregte dankie sê aan die mense wat steeds aan ons genoeg kos teen 'n redelike prys voorsien en hoop dat die regering genoeg verstand het om die toestand te laat voortduur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top