Oud-rugbyspeler Gawie Visagie

  • 0

Ek was vanmiddag by die na begrafnisdiens "wake" van Gawie Visagie. Die gemiddelde ouderdom van die ouens daar was seker 55 plus. Almal van ons het "myle" op. Ek gaan nie name noem nie. Daar was manne wat gehink en pink het, een ou was op krukke, maar die meeste het goed daarna uitgesien.

Ek het met een van die 1965 Springbokke gesels wat 'n afrigter was by die klub waar ons gespeel het. Ek is 'n voorstander van verandering mits dit 'n verbetering is. Die gesprek het oor die hedendaagse rugby/spel gegaan. Ons het nie eers oor die reëls gesels nie. Die gesprek het hoofsaaklik oor die intensiteit van die spel en die grootte van die spelers gehandel. Ek het ophou speel toe die skrumskakels net so groot soos die flanke en slotte geword het. Deesdae is die spelers se gemiddelde gewig hier by die 90 tot 95 kg indien nie swaarder nie. Die manne is in die ou taal seker 6 voet 4 plus.

Ons almal was dit eens dat ons nog vir die liefde van die spel gespeel het. Ek dink dit is dr Danie Craven wat gesê het dat geld die spel gaan doodmaak. Dit is deesdae 'n beroep. Ons het gepraat van na die tyd se gesellighede. Deesdae speel die manne die wedstryde, klim in hul karre en gaan huis toe. Man van die wedstryd kry deesdae tjeks. Ons het 'n bier gekry.

By die klub waar ek gespeel het was manne wat nie net goeie rugbyspelers was nie, maar ook "vermaaklikheidsterre". Van die manne kon musiekinstrumente speel. Ons het 'n klavier in die klub gehad waarop daar tot laat in die nag gespeel is en die manne gesing het, of jy kan of nie.

Gawie Visagie se "groot pel" was Gary Rodwell. Hulle was soos vinkel en koljander. Hulle het ons menige kere vermaak met hul vertonings. Gawie het op Gary se been gesit en die rol van die pop gespeel terwyl Gary die buikspreker was. Dit was skreeusnaaks waarmee hulle uitgekom het.

Gawie was tydens sy speeldae en daarna gewild onder almal. Hy het 'n skerp sin van humor gehad en het almal met respek behandel.

Almal gaan hom mis. Dit was 'n voorreg om hom te geken het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top