Ope brief aan Karen Meiring en Magdaleen Krüger

  • 7

Geagte dames

Die Afrikaans op julle stasies is swak. Jan Braai braai nou die dag in Keulen en verwys heeltyd na ‘Keulen’ as ‘killoun’ en noem ‘houtskool’ ‘tsjakoul’. Omroepers en TV-aanbieders se taal is vrot van anglisismes; ‘in terme van’ en ‘kyk uit vir’, die soort van ding. Hulle verwys ook gedurig na vliegtuie, skepe en motorkarre in die vroulike. Die ou wat Sediment aanbied praat van ‘sparkling wine’; kan jy glo. Die spelling op KykNet is beroerd; nie eers laerskoolstandaard nie.

Julle beheptheid met Engels is, om die minste te sê, afstootlik. Julle ondermyn Afrikaans; omroepers en –sters laat Engelse inbellers toe sonder om wat die inbeller gesê het in Afrikaans te vertaal. Sommige omroepsters slaan sommer oor na Engels saam met die inbeller. Wat ‘n skande en verleentheid. Indien hierdie praktyk ‘n opdrag van ‘bo’ is (soos ek wel glo dit is) is dit skandalig dat julle julself op die manier laat intimideer; iemand soos Jelleke Wierenga of Helmien of Sarel Myburgh sou dit nooit toegelaat het nie.

Kykers- en luisteraarsyfers is wel hoog (‘n goeie ding) maar populariteit is nie noodwendig aanduidend van prestasie nie. Mens hoef nie jou siel te verkoop en jou taal te verloën om goeie werk te doen nie.

Groetnis
Jan Rap

  • 7

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Looi hulle, Jan, looi hulle!
     
    Net so, terloops, mens as onpersoonlike vnw kry 'n 'n vooraan. Daarna kan jy maar jou en jy soos jy wil.
    'n Mens moet weet wat jy doen. 
    'n Mens hoef nie jou siel te verkoop nie. 
    Daardie mens sonder 'n is as gevolg van  die slegte invloed wat Engels op Afrikaans het.
    Groete,
    Angus
  • Dankie Angus, vir die les.

    Iemand hier het my al voorheen met iets soortgelyks reggehelp, miskien was dit nog jy.

    Maar is jy seker van jou storie?

    In die Nederlandse 'men', soos in "al gaande leert men" is daar geen onbepaalde lidwoord nie, ook nie in die Duitse "man soll niemals lügen " nie. Is " 'n mens" nie dalk die menslike wese nie en "mens" (sonder die onbepaalde lidwoord) nie maar bloot 'n onbepaalde persoon nie (soos die Nedelandse 'men' en die Duitse 'man')?

    Ek weet nie. Ek sal bly wees as jy uitsluitsel kan gee.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,

     
     Jan, ek weet jy is 'n taalvegter vir Afrikaans  by uitnemendheid, en daarom huiwer ek effens om vir jou te sê wat my hinder.
     
     So af en toe,  duik daar in jou skrywes ook anglisismes en ander taalfoute op. Die goed is soms so onopsigtelik dat 'n mens sprekers kan verskoon, maar wanneer dit by die skryftaal kom, is dit haas onverskoonbaar.
     
     Kyk maar oa na: "die soort van ding", "om die minste te sê", "Mens" (hoef nie)...., "Wat 'n skande", "op die manier", "Indien hierdie praktyk..."dat julle julself op so 'n manier ......."
     
    Die volgende lyk ook heel verdag: " sonder om wat die inbeller gesê het in Afrikaans te vertaal." (Onafrikaanse woordorde? dalk onder die invloed van Engels? Of miskien kom dit 'n voorlopige onderwerp kort voor die 'wat'?)
     
    Groete,
    Angus
  • Johannes Comestor

    "Mens en 'n mens (met of sonder lidwoord) is albei in die haak - wees liefs konsekwent. Wanneer 'n mens gebruik word en daar word later weer verwys na hierdie persoon, gebruik die voornaamwoord jy. In die geval van die mens is dit hy, maar gebruik hier liewer die meervoud mense en hulle" (Dalene Muller, Skryf Afrikaans van A tot Z, Kaapstad: Pharos, 2003, p 145).  

  • Beste Angus

    Dankie weer eens vir die les (en teregwysing).  Dit is noodsaaklik dat jy my op hierdie goed wys; dit gee die ouens wat kla oor ek kla minder skietgoed.  Hulle kry tog te lekker as Jan Rap foute maak.
    Jy moet dan egter ook die korrekte gebruik aandui; wat help dit jy wys my op iets wat verkeerd is en sê nie hoe dit eintlik MOET lees nie.  Hoe weet ek jy maak nie dalk 'n fout nie soos met die 'mens/'n mens'-storie.

    Ek is nie soveel van 'n kampvegter VIR Afrikaans as wat ek TEEN die verdringing van Afrikaans deur Engels is nie.

    En, soos afgelei kan word uit jou teregwysings oor my gebruik van Afrikaans, is ek reg oor die feit dat Afrikaans uitgedruk word deur Engels.  As 'n bekommerde soos ek so negatief beïnvloed word, hoeveel te meer nie diegene wat NIE bekommerd is nie?

    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan, 

     Ek het maar ? grappie gemaak deur jou taal so heftig aan te val. Die doel daarvan was net om jou te wys hoe geweldig die invloed van Engels op Afrikaans is, sonder dat  ? mens dit agterkom. Jy weet al wat my standpunt is: Afrikaans is ? lewende taal en daarom is dit gedurig besig om te verander om aan te pas. (Ek is ? evolusionis.) Moet dus nie warrie nie, die onderbou van taal sal sorg dat alles netjies, grammatikaal bly. (Vgl  Chomsky se “deep structure”.)
     
     Ons begaan maar almal foute, maar onder Engelse invloed maak ons foute. Dit net so terloops. 

     Die voornaamwoord (?) mens, met die anafore jy en jou, gebruik ? mens in generiese konstruksies soos: ? Mens moet weet wat jou te doen staan. 

     Wanneer van die menslike spesie (Homo sapiens) gepraat word, lyk dit so: Die mens moet weet wat vir hom voorlê. (Mense moet weet wat vir hulle voorlê, kan gaan, maar dis iets effentjies anders.)

     Nou kom ek by die Engelse invloed. Wanneer daar van die menslike spesie in Engels gepraat word, word dit sonder lidwoord gedoen. Vgl. Man should be sufficient unto himself. Man is by nature a political animal. Selfs wanneer ? mansmens bedoel word: man should be the provider.

     ? Mens is tipies Afrikaans soos Afrikaans kan kom. Jy hoor dit as mense praat, jy sien dit as daar geskryf word. Nou, ewe skielik, is dit besig om te verdwyn en ek gee die verdomde Engels die skuld, 🙁 maar as jy jou aan die kant van die vyand wil skaar, het ek vrede daarmee. Doet so voort! 🙂  

      Ek stel die volgende voor, maar onthou, ek het niks teen Anglisismes nie: 

     Die soort van ding – iets soortgelyks, iets dergeliks
    Om die minste te sê -- allermins, nie in die minste nie, op sy allerminste, (so gebruik dat dit darem by jou sin inpas)
     Wat ? skande -- watter skande! (nogal moeilik, maar ek is oortuig daarvan dat “wat ? skande” anglisisties is) Op die manier – op dié wyse
     Indien hierdie praktyk – indien hierdie gewoonte, (gebruik)
    Dat julle julself op so ? manier – dat julle op so ? wyse 
     sonder om wat die inbeller gesê het in Afrikaans te vertaal – sonder om dit wat die inbeller gesê het in Afrikaans te vertaal, of sonder om in Afrikaans te vertaal wat die inbeller gesê het.

     Miskien is dit so dat Engels Afrikaans uitdruk in Suid-Afrika. Dit sal beteken dat ons GLAD NIE Afrikaans sal hoor nie maar slegs Engels. (Dalk nog Queens English!) 

     My standpunt is dat jy nooit Afrikaans sal kan vervang met Engels nie. Jy sal nog oral altyd Afrikaans hoor, weliswaar ? veranderde Afrikaans as gevolg van oa Engelse invloed. Dis ? normale verskynsel by enige taal: hy verander agv die invloed van ander tale om aan te pas. As ? taal nie kan aanpas nie, dan verdwyn dit. Dit is per slot van sake hoe Afrikaans tot stand gekom het.

     Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top