Oor Max en Cobus

  • 1

Ek hoor nou die dag Cobus Bester van RSG praat met sy gas, Max du Preez. Hulle gesels oor hoe beroerd dinge in die land gaan en bespreek Max se stelling dat die Suid-Afrikaanse Lente (vgl die Arabiese Lente) dalk nog gouer gaan aanbreek as wat Mbeki se broer voorspel.

Op ‘n stadium sê-vra Cobus, bietjie benoud het dit vir my geklink, vir Max dat hulle by die radio baie SMS’e en ander boodskappe kry wat neerkom op “Kry vir julle, julle wou mos. Ons het vir julle gesê.” Voor Max antwoord lag hy toe eers, ietwat gedwonge moet ek sê, en Cobus lag simpaties saam, net so gekunsteld.

Max se antwoord wat hy uitgedink het terwyl hy lag was natuurlik die ou, en enigste, storie: Die verlede was sleg. Wat anders kon hy sê? Terloops, ek wonder wanneer gaan hy of enige van die ander liberaal-demokrate die Britte vra om verskoning te vra vir die feit dat hulle Swaziland en Basoetoeland onafhanklikheid gegee het.

Ek onthou jare terug, toe die SAUK Max gekry het om die Afrikaanse luisteraars die beloofde land in te lei, het ‘n inbeller, net na Max se aankondiging dat hy reken die Nuwe SA is ‘n dawerende sukses, vir hom gesê oor so 20 jaar, as hy so tussen die slaggate in die strate navigeer, en hy sien die hoë mure en lemmetjiesdraad weerskante van die straat, sal hy in sy geestesoor ‘n stemmetjie hoor fluister “the chickens are home and roosting.” Daar het dit toe so gebeur.

Niekie van den Bergh was ook eendag met sy ‘Sê Wie’-program erg omgekrap toe ‘n inbeller dieselfde soort van ding vir hom gesê het. “Julle moenie nou kom sê ‘ons het julle mos gesê nie!’” Hy’t nie gesê hoekom die mense nie nou daarmee moet kom nie. Ons weet egter hoekom; dis ‘n groot verleentheid vir hulle.

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top