Onthou jy ook?

  • 0
Hier ver aan die suiderland,
aan die sonryke Tafelbaaistrand,
pryk die DF Malan in sy grootsheid klaar ...

 

Hoeveel keer het ek nie al my skoollied die afgelope amper dertig jaar gesing nie; en dit was net in die jare nadat ek reeds die skool verlaat het!

Ek ken steeds elke woord van die lied en as die geleentheid en my geselskap dit toelaat, dan skroom ek nie om dit uit die diepte van my hangkas te sing nie. Soms effens vals, veral op die hoë note, maar met geesdrif en trots.
 

...aan ons leuse getrou:
om ons DF Malan in ere te hou ...
 
... om tog in ere te hou en te onthou, te midde van gemengde herinneringe. Moontlik is ek een van daai oordrewe sentimentaliste wat met te veel wysies, lirieke en sêgoed in my kop se skatkamer rondloop. Maar moontlik is dit net hoe sommige mense is.

“Mnr. Fritz, het u al vanoggend u kollege-reëls gelees”, vra die viserektor, Meneer Steyn, my destyds met so ’n ietwat hoogere en dramatiese stemtoon.

Op daardie oomblik het ek egter swetend my beurt afgewag om my studenteraadnominasie se aanvaardingstoespraak te maak. Sy woorde en uiteraard onbeantwoorde vraag, het bloot eers oor my kop gevlieg, net om later wel vasklouplek te kry; ná ek onthou het dat my slenterdrag van die dag loodreg teen die wese van die instelling en die gene van die bestuur staan. Moontlik was dit juis dít en nie die vergete inhoud van die toespraak nie, wat die jonges hul kruisies laat trek het.
Eienaardig, maar by nadenking nie vreemd nie, klink ek ook soms soos ’n Meneer Steyn.

It was only a winter's tale
Just another winter's tale
And why should the world take notice
Of one more love that's failed...
 
’n Lied wat my stil en hartseer maak, sonder rede en sonder moeite, elke keer wat dit spontaan so sommer-net en onverwags, by die platespeler in my kop opdaag.

1983, Mini-Cini, Boston Hotel, Voortrekkerweg, Bellville. Dis kwart-voor-een op ’n Saterdagmiddag en ek sit in die fliek, reg vir David Essex se nuwe fliek wat uiteindelik ook Bellville toe gekom het: Silver Dream Racer. Net voor die Tom en Jerry voorprent sou begin, het hierdie David Essex treffer van daardie jaar deur die fliek se gordyne gevleg. Ek was 16 en ek wou verlang, na iemand wat ek nog moes ontmoet... Mens kan darem laf wees.

Gee haar 'n roos
'n Roos vir haar
Gee haar 'n roos
Dis al wat sy vra...
 
Sing oorle Bles Bridges terwyl hy vir ‘n skittertannie met blink ogies ’n rêrige roos gee... Ek en die beter helfte was pas getroud en genooi om saam met my ouers Bles se verjaarsdagkonsert in Goodwood se stadsaal by te woon. Ons was bietjie laat en sou die volgende oggend Johannesburg toe ry. Dus was die plan van optrede: “... ons is genooi en die werk is een van die borge; kom ons gaan gou, kyk ’n deel van die die konsert en glip weg in pousetyd...” ’n Briljante plan wat sekerlik by ’n Cora Marie konsert sou werk...

Toe ons buite die saal stilhou, is daar ’n rooi tapyt wat van die sypaadjie tot binne-in die saal lê. Die houtstoeltjies en bokkietafels met wit doeke, kleurvolle tafellopers, blomme met kerse en blink eetgerei, was in gelid gepak, soos vir ’n statige Afrikanertroue. Doer ver, daar voor in die saal, staan die hooftafel met 6 sitplekke vir die eregaste. Tussen hulle en die betalende gaste, is die dansbaan én Bles se singplek.

Die tantes van die dorp en hul gepoleerde metgeselle word twee-twee aan die hand na hul tafels geneem. Dit lyk soos ’n matriekafskeid by ‘n pronkskool êrens uit die vorige dekades. Die rokke blink en die koste vir sylappe was nie vir hierdie geleentheid gespaar nie. By die pakverhuringsplekke is daar nie ’n enkele nr. 44 aandpak in voorraad nie. En ons vier vreemdelinge in Goodwood, ons het jannas en los hemde sonder fieterjasies aan – fliekklere!
Meer nog, ons sou by die deur hoor dat ons aan die hooftafel saam met Bles en sy ewe beblinkte vroutjie sit! Dit was ’n lang aand. Moeder het darem ’n roos gekry.

So is daar hope en hope herinneringe en nostalgiese ontdekkings uit die verlede wat, sonder uitsondering, die een of ander emosie uit sy stowwerige slaapkas oproep. Liedjies soos “Catch a falling star en Bachelor boy...” wat my weer soos ’n tienerseun op Jonkershoek se Landsdienskampe laat voel of die woorde “dit was nie ék nie meneer...” as enigste verweer, om my teen ’n onregverdige aanklag van ‘n onderwyser met ’n foeterlus te verdedig, en om toe tóg pak te kry! Maar ook, “ek sal jou nooit vergewe nie”, wat as aanklag en herinnering aan my eie swakheid sal bly voortbestaan.

Ek het agtergekom dat die Onthou my help vorm, my leer, my bewaar en wanneer my gemoed wil bokspring of wegspring, dan is dit juis die Onthou wat bevestig wie ek is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top