Op Vrydag 21 November 2014 skryf Nellie Brand-Jonker 'n berig: KWV groei sy markaandeel in brandewyn. 'n Voetnota deur die uwe dui aan dat nog meer vreugde uit hierdie gebeurtenis kan voortspruit:
Nog goeie nuus. Die opskrif van hierdie berig kan van vertaalde Engels na goeie Afrikaans omgeskakel word sonder om die getal karakters te vermeerder deur die woordorde net effens te verander. Klink dit nie beter nie! KWV se markaandeel in brandewyn groei.
Kommentaar
Ek is nie 'n taalpuris nie maar 'n taalsnob. Ek probeer om wanneer ek Afrikaans praat dit so suiwer as moontlik te besig. Wat ek egter nie kan verstaan nie, is wanneer daar op 'n "Afrikaanse radio- en televisiestasie en kanaal" uiters swak Afrikaans gepraat word. Ek glo die taal moet groei en aanpas, maar ek laat my nie vertel daar is nie Afrikaanse woorde vir die baie anglisismes nie. Ek luister vanoggend in die motor na die draadloos. Die persoon/aanbiedster vra die gas of hy patriotisties is. Is dit nie dalk patrioties nie? Daar is vele gevalle wat ek kan opnoem, maar laat dit maar daar. Niemand sal in elk geval na my gekerm oor swak Afrikaans luister nie.
Beste Reusedwerg,
Hello George
Die verdere goeie nuus is dat die skrywer van die artikel vinnig op my nota gereageer het en die opskrif reg gemaak het. Soos dit gewoonlik in die koerantwêreld gebeur was sy nie vir die opskrif verantwoordelik nie en het dit haar keurig versorgde artikel benadeel.
Mag net hierby voeg: vir my is die belangrikste dat mense Afrikaans praat en skryf. Eerder skeef en krom as geen Afrikaans nie. Nogtans is dit soms nodig om aandag op korrekte taalgebruik te vestig.
George
Dit gebeur al hoe meer, hierdie verkragting van die taal veral deur omroepers. Byvoorbeeld:
Inbeller: "Hoekom speel julle nie Boeremusiek nie?"
Omroeper: "Maar ons doen!"
of
Omroeper: "Ons hardloop gou weer deur die lysie."
of
Omroeper: " ... waar hulle hul eie groente groei."
of
Omroeper: " Groei 'n snor in November."
of
Omroeper:"Ek hoop nie jy sit in die verkeer vas nie maar as jy doen ..."
Reusedwerg
Jy MOET kla; daar sal altyd iemand wees wat kennis neem. Ek is al baie reggehelp hier en ek doen my bes om nie meer daardie foute (waarop ek gewys is) te maak nie. Hier is die Engelse 'n baie goeie voorbeeld vir ons, hulle is gou om te kla. Vra my ek weet; ek het in Swaziland tussen hulle grootgeword.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan Rap,
Beste Jan Rap,
Beste Jan Rap
Beste Angus
Jou boodskap van 24-11 13:49 verwys
Baie dankie vir daardie teregwysing, ek neem kennis.
Terloops, my taalonderwyser wou weer stuipe vir 'parabeles' kry; hy reken mens moet praat van 'gelykenisse' (jou brief onlangs aan FC Boot)
Jou boodskap van 24-11 21:31 verwys
Sê dan liewer 'ons loop uit tyd uit'. Steeds 'n anglisisme maar korter; jy hou mos van korter want dit 'kommunikeer' kwansuis beter. Hoekom in elk geval 'hardloop'? Buitendien, dit is nie makliker verstaanbaar nie en glad nie lekkerder om te sê nie en dit kommunikeer ook geensins beter nie, inteendeel.
Jou boodskap van 25-11 08:18 verwys
Sê bloot 'my tyd raak op'. Terwyl jy sit, en die tyd is vinnig besig om verstreke te raak, is dit verwarrend om van 'ek hardloop ...' te praat. Dit sê moeiliker, is nie lekkerder nie en kommunikeer swakker.
Groete
Jan Rap
Wat van : "Ons nader spertyd " - hou aub u bydrae kort.
Beste Jan,
Dit was nou lekker 'gesels'. Veral Angus en Jan Rap se bydraes word waardeer.
Net 'n kort storietjie om aan te dui dat die 'language' by taalgebruik eintlik dieselfde vereistes as Afrikaans stel (in die goeie of minder goeie tyd het Engelsprekendes mos na Afrikaans as 'the taal' verwys!). Dis seker al twee dekades gelede wat 'n offisier ten tyde van sy aftrede dié verhaal vertel het.
Hy was 'n jong soldaat en was saam met twee engelssprekende offisiere in 'n klein vertrekkie. Dis winter en die verwarmer is aan. Hy het gesweet van die hitte maar die offisiere was so verdiep in hulle gesprek dat hulle nie besef het hoe warm dit is nie. Hy wou die verwarmer afskakel maar het nie geweet hoe om vir hulle te vra of hy dit kan doen nie. Hy raadpleeg eers die woordeboek en vra: “May I extinquish the heater?”
“Yes, put it out” was die reaksie. Meer in vandag se terminologie is die antwoord seker: “Keep it simple stupid”.