… of so iets. Nou dat Engels die amptelike taal is, praat Afrikaanssprekendes Afrikaans net by die huis. Afrikaanse universiteite en kolleges bestaan nie meer nie en daar is druk op skoolbeheerliggame om skole te homogeniseer deur Engels al hoe meer aggressief aldaar deur te voer as onderrigtaal soos dit reeds die geval is by alle tersiêre inrigtings.
Die staatsbeheerde uitsaaikorporasie het blykbaar opdrag gegee dat die Afrikaanse sender Engels in die luisteraars se kele moet afdruk. Ek sê blykbaar want dit is al gevolgtrekking waartoe mens kan kom as jy sien hoe RSG geleentheid skep, heeldag deur, om Engelse insetsels te gebruik. Party van die omroepers praat selfs Engels terug as ‘n Engelssprekende inbel.
Die gevolg is Afrikaners praat al hoe swakker Afrikaans. Daar is omtrent nie ‘n gas wat praat sonder om sy taal met Engelse woorde te deurspek nie. Hoe anders; hy of sy praat dan heeldag by die werk, by die poskantoor, munisipaliteit, oral, Engels. In die Kaap is dit standaard; een Engels-deurspekte sin in Afrikaans en dan die volgende drie, vier sinne in suiwer Engels en dan begin die storie weer van voor af.
Anders as wat sekere bydraers hier beweer is dit nie taalevolusie of -vooruitgang of -ontwikkeling nie, dit is bloot swak Afrikaans weens onbruik van laasgenoemde. Die skamele en geykte troos dat hulle nog in Afrikaans droom is onsin; mens dink of droom nie in ‘n taal nie.
Soos Jaco al hier in een van sy briewe gesê het: “If you don’t use it you lose it” (hy het net na iets anders verwys maar, dit geld vir alles). Luister hoe mense om jou praat en jy sal agterkom ons is besig om Afrikaans te verloor.
Jan Rap
Kommentaar
Beste Jan
Jan Rap, stem met jou saam dat 'n mens nie in 'n taal droom nie, maar in jou gedagtes, sonder dat taal ter sprake is. Wat my net hinder is jou absolute pessimisme. Veral in die ekonomie het ons die situasie dat mense mekaar slegte moed inpraat en dan mik alles suid. Dink met Afrikaans is dit ook die geval. Met jou soort pessimisme is ons op die afdraad en het ons nie vyande nodig nie. Optimisme en die geniet van ons taal sal help (dit hoef nie realisme uit te skakel nie). Het juis iets lekkers gelees van 'n ma wat die kinders se klere was, oa die broeke. Al die vuil word beskryf en daar word van “briekstrepe” melding gemaak – het nogal daarvan gehou.
Ek is gebore en getoë in die Kaap en het min ondervinding van die soort taalgebruik waarvan jy melding maak. Jy steek selfs vir Angus aan. Goed, Engels is nou die nommer-1 taal in ons land, maar dit is steeds nie nodig om van jou moedertaal af te sien nie. Voorheen was daar engelsprekendes (die Hobson-broers) wat gevoel het dat hulle die Suid-Afrikaanse veld se atmosfeer net in Afrikaans kan beskryf. Is sommer lus om weer van hulle diereverhale te lees. Verwyder die lamferlap voor jou oë en ons sal almal beter voel.
Beste Angus
Jy's reg, die mens is nie daar vir taal nie. Ook nie vir klere, geboue of motors maar mense heg geweldig waarde aan laasgenoemde drie, dis deel van hulle identiteit. Vergelyk maar Nataniël en Einstein se kleredrag, of Liberace teenoor Thomas. 'n Mercedes-ou sal nie dood in 'n BMW gesien wil wees nie en 'n wynplaaseienaar gaan nie maklik afstand van gewels en 'n grasdak doen nie. So ook is taal deel van jou identiteit en om jou taal te versaak of te verkrag ter wille van kommunikasie is absurd. Dis soos om jou wit gewelhuis pienk te verf omdat jy dink die bure gaan daarvan hou.
Ek sien jy sukkel nog steeds om tussen verrotting en groei te onderskei, miskien omdat albei verandering verteenwoordig. Afrikaans, soos enige ander taal, wat swak gepraat word is agteruitgang. Mense, luister maar na dié om jou (en veral na die radio), praat al hoe swakker Afrikaans omdat hulle dit al hoe minder praat, so eenvoudig soos dit.
Jy sê miskien is dit goed as Engels die enigste amptelike taal in Suid-Afrika word. Ek het nuus vir jou, dit is reeds die enigste amptelike taal. Jy glo tog werklik nie aan die tandmuis, en dat daar 11 amptelike tale in Suid-Afrika is nie, of hoe? Dis juis hoekom ek sê, die feit dat Engels die amptelike taal is, en heeltyd en oral in ons kele afgedruk word, maak dat Afrikaanssprekendes hulle eie taal al hoe swakker praat.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan,