Nuwe president in 2019/2024

  • 0

Soos ek al in 'n vorige brief geskryf het, het ek nie ’n probleem om te kies vir wie om nie te stem nie. My probleem was vir wie om te stem. Ek hoop altans dat my kruisies iewers sal tel.
Tydens ons jaarlikse Moedersdag-saamtrek het die stemmery ter sprake gekom.

Voor die verkiesing is daar baie beloftes gemaak. Daar is ook baie geraas gemaak. Soos almal weet het sommige partye veld gewen en ander nie. Die verkiesing is agter die rug en ons wag en sien wat in die volgende vyf jaar gaan gebeur.

In elke land is daar verkiesingsgeweld of betogings of iets dergeliks. Hier by ons was daar ook vooraf verkiesings-insidente; mense is na bewering selfs doodgeskiet. Ek vertrou ook nie die stemtellery volkome nie. Ook nie ons demokrasie nie, alhoewel die slimmes sê dit is goed gevestig. Mag so wees maar ons kiesers is polities onvolwasse. Die meerderheid stem vir die regerende party uit lojaliteit, vrees of intimidasie. Hulle wil sien voor hulle stem. Die party se beleid is ’n bysaak. Die regerende party se vryheidsmanifes maak nie voorsiening vir eie gewin, korrupsie of wanadministrasie nie.

Ek lees in die Rapport op internet dat me Lindiwe Mazibuko in die VSA gaan studeer. Ek gaan nou nie so windgat raak en iemand ’n weddenskap aangaan dat sy iewers in ons lewens ons nuwe president gaan wees nie. Ek kyk na die geskiedenis waar die Amerikaners in ander lande betrokke was. Die enkeles wat ek wil uitsonder is, Nicaragua, Panama, Liberië en in die onlangse verlede Ghana.

In al die bogenoemde lande is die presidente in die VSA opgelei en na hul geboortelande terug gestuur. Al die lande het minerale of strategiese voordele vir die VSA ingehou. My beskeie mening is dat me Mazibuko in die VSA gaan studeer en geskool raak, dan terug gestuur word en op een of ander manier word dit bewimpel dat sy sal oorneem.

Thabo Mbeki is deur die Britte geskool en terug gestuur. Dit is nou die Amerikaners se beurt om te kyk of hulle kan hond haaraf maak.

Soos my een vriend sal seg: "Ons wag en sien."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top