Mymering

  • 5

Op sewentig jaar is jy nie dieselfde mens as toe jy dertig was nie. Dis nie net dat jou liggaam ouer en swakker geword het nie, daar is meer, iets wat moeilik beskryf kan word. Maar dit is ook nie dat jy nou anders van karakter en persoonlikheid is nie, jy is nog merendeels dieselfde: van jongs af wou jy 'n "goeie mens" wees en jy wil dit nog steeds. Maar langs die pad het jy soms gefaal in oomblikke van swakheid, en was jy dalk nie altyd so 'n goeie ou nie. Soms was jy aan die verkeerde kant, wat ook al die redes mog gewees het. Want die skeidslyne tussen reg en verkeerd is ook nie meer so duidelik as wat jy vroeër gedink het nie.

En deesdae is jy sinies. Jy glo nie meer in "goed" wees op 'n onskuldige manier nie, want dit werk nie eintlik so nie. Soms was jy "sleg" en het jy verkeerde dinge gedoen, hoewel, baie glo dat "reg” en "verkeerd" eintlik net persepsies is, menslike opvattings totaal relatief tot elke individu se lewensbeskouing. Soms is jy wreed ontnugter deur ander wat jou misbruik het - en het die goedheid sodoende uitgevlug, totdat jy self later nie meer suiwer "goed" was nie. Al wou jy dit graag nog steeds gewees het.

Herinneringe kom spontaan by my op. Ek sal onverwags dink aan iets wat jare gelede gebeur het, wat ek eintlik al vergeet het. Ek weet nie of dit vir ander mense ook so werk nie, maar dit verbaas my telkens dat 'n mens so 'n magdom herinneringe het. Mense, plekke, gebeure van jare gelede. Dit verwonder my dat jou brein nie begin "oorloop" nie, dat jou geheue so vol raak van dinge om te onthou, dat die ouer goed uitgestoot word om plek te maak vir die nuwe. Tog gebeur dit nie, al het jy so 'n ontsaglike klomp draaie geloop in jou lewe, soveel plekke leer ken, soveel mense ontmoet, soveel gebeurtenisse ervaar.

En nou sit jy op jou oudag en dink oor hierdie dinge. En jy wonder wat gaan van jou word, hoeveel jare het jy nog. Soms wonder jy of dit die moeite werd is om voort te sukkel met al die oumenspyne en bekommernisse wat jy het. Moet jy maar eenkant gaan sit en stadig doodgaan, of moet jy maar steeds probeer om die lewe te geniet, om dinge te doen wat jou kan vreugde gee, as daar nog sulke moontlikhede vir jou is?

En jy wonder of daar 'n hiernamaals is, of is daar niks na die dood nie, sodat jou hele lewe dan ook niks was nie. Dit was net 'n kortstondige, vlietende oomblik in die ewigheid.

  • 5

Kommentaar

  • Tiens, moenie alleen voel nie.  Ek dink hier van 50 af al sit mense met dieselfde mymeringe as wat jy het.  Hierdie soort van ding kom ook onder jonges voor.  My jongste, hy's nou 27, sê nou die dag vir my hy's so spyt oor iets wat in standerd 6 gebeur het.  Hy was maar taamlik klein in standerd 6 en op 'n stadium sê 'n  matriekmeisie vir hom, en hy beklemtoon op 'n vriendelike manier, nie gemeen nie, "Sjoe maar jy's klein."  Hy vervies hom toe en hy sê vir haar "En jy's vet."  Hy sê hy kon die seer in haar oë sien en sy was nie eers eintlik vet nie.  Dit pla hom vreeslik en al hoe meer, hy sê hy wens hy kon die tyd terugdraai en die hele storie ongedaan maak.

    Ek sit eendag by die rolbal, jare gelede, by 'n vreemde klub en wag vir my ooponent (mens speel altyd buitekompetisies by vreemde klubs).  Op 'n bankie so entjie van my af sit twee ouens, ek skat hulle so 45 tot 50, oor dieselfde ding en praat klink dit vir my, ek kon nie alles hoor nie en die een ou sluit toe die geselsie af met " ... one should never be a doos in life."

    Dit is waar, die dat die Psalmdigter ook aanbeveel dat jy 'n wag voor jou mond moet plaas.  Ek dink ook baie maal aan die kere wat ek 'n doos was, selfs al was dit net in reaksie op iemand anders wat eerste aspres was maar dit sou beter gewees het as ek dit maar net laat gaan het.  Dis moeilik, want hoe beheer 'n mens spontane reaksie? 

    Mens moet seker, elke oggend, vir jouself sê "vandag gaan ek op my hoede wees om nie soos 'n doos op te tree nie."

    Groetnis
    Jan Rap

  • Tiens. Ek het dit geniet om jou brief te lees. Ek weet nie hoe oud jy is nie, maar ek neem aan jy is "net-net" uit jou puberteitsjare. :-). Ek glo nie mans kom ooit uit daardie jare nie. Met die grysheid behoort die wysheid te kom. Toe ek jonk was en jy raad gesoek het, het jy na iemand toe gestap en gevra, of jy het biblioteek toe gegaan en iets gaan navors. Deesdae spring die kinders op die internet en gee die oueres raad. Ek is soos die samelewing my sal brandmerk, middeljarig. Ek vervies my sommer indien iemand dit durf vir my sê "jy word nou oud". Niemand weet hoeveel informasie ek in my brein stoor nie. Niemand weet watse ervarings ek al gehad het nie. My brein is nou nie propvol nie maar darem. As iemand my iets vra of as ek vergeet het waar ek iets neergesit het, moet my brein eers deur al die informasie wat gestoor is gaan om by die regte plek uit te kom. Wees net geduldig met ons. 

    Die meeste mense ken seker die storie van die ou en jong bul. Die jongetjie het mos vir die oue gesê kom ons draf daar na die koeie toe, spring oor die draad en dek so paar van hulle. Die ou bul antwoord toe en sê, "kom ons stap na die koei toe, loop deur die hek en dek almal."
  • Tiens dis diep sake wat jy aanroer en dan is daar altyd die versoeking om 'n mens slim te hou, veral as jy, soos ek, by 70 plus 7 trek. Ek weerstaan grootliks die versoeking en noem net dat 'n mens ander kan help. Daar is ouens wat ook alleen voel en as 'n mens na so iemand luister kan dit vir hom baie beteken. Liggaamlike aktiwiteit, veral stap kan depressie voorkom.

  • Jan, dit is die waarste woorde wat enige iemand kan uitspreek. Ek sê gewoonlik vir pelle van my, "almal is dose, behalwe ek en jy". Ek kom met ouens oor die weg wat dose gebore is want jy weet hy kan dit nie help nie, maar dan kry jy die lot wat dose geword het. Met daardie het ek probleme. Ek het dit in my vorige lewe by die goewermentsdepartement waar ek gewerk het gesien. Dit is darem 'n beskrywende woord. Ek het al selfs die Ingelse hier in die omgewing gehoor die beskrywing gebruik.

  • Oudword is nie vir "sissies" nie. 

    Al is ek ook pas 50 verby, knaag die wonder oor alle reg en verkeerd soms nou al aan my siel. 
    Ek sien kennisse van oor die 60 hul lewens vul met kleinkinders en stadig probeer statig bly. 
    Bo 70 is dit inderdaad soos George B sê "slim hou" tyd, daarom verwys menige na die ouetehuisbewoners as "die ou mensies". 
    Ouma het bo 80 ons elke drie minute probeer uitvang met haar grappies: "Ha! Ek het jou uitgevang. Ek weet ek het dit net-nou vertel." Ek wonder steeds of sy nie 'n slim verdedigingsmeganisme teen die onthousiekte ontwikkel het nie. 
    Negentig? Nooit, nie negentig nie, asseblief nie! Maar nou ja, my pa is op 35 oorlede, my ma was maar 58. En ek? Ek is nou in die middel!  Vyftig!  En soms wens ek die tyd ook ondankbaar verby ...    
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top