My vriend Ali

  • 1

Lank en skraal. Dik brille soos 'n wyse man. Grys kop. En pikgietswart soos die nag.

Het vir Ali leer ken via Hennie Loopdop. Want Hennie Loopdop het altyd hier ingeslinger dikdronk op pad van Ali af. Hennie Loopdop het dan beduie dat hy weereens die flenter trekker of Isuzu (die goed kan mossie vanself lopie) moes aan die loop prakseer en bid en dan het Hennie Loopdop sy wonders gedoen en die arme trekker wat baie jare gelede reeds afgeleef was kon weer loop. En Hennie Loopdop het maar na die tyd hier 'n loopdop kom sluk en gekla oor die flenters wat hy moet probeer red vannie skrootwerf. En elke dop was 'n loopdop tot die son begin glim en dan is dit slinger werk toe, vuil overall en hanne die lot.

'n Jaar of vier terug kom hierdie pikgietswart Somaliër hier in. Hy vra of hy vir Oester kan spreek en ek beduie ek is Oester al lyk ekkie so nie. En Ali beduie dat Hennie Loopdop hom beduie het om hier te kom verneem want hy het hout tot annerjaar toe en sy bakkie is wel flenters maar hy ry en ek sê ja ek weet want ek weet Hennie Loopdop sorg daarvoor. Ons filosofeer oor Hennie Loopdop en ek sien hierdie man kom nie van hier af nie. Wel, hy is van Somalië af, maar ek bedoel hy issie sommer jou deursnee Somaliër nie. Het grond hier gekoop jare terug kort onnerkant die Berg. Sy leliewit Duitse vrou (die mense by die koöperasie fluister daagliks hieroor as hy op rekening kom voer koop) is die huis gewys en sy het dalk, so vermoed ek, gedans want daar's mos baie heide en bosse en dit lyk baie soos die Duitse woude (nie regtig nie, dis maar wat ek vermoed).

Melk deesdae so 12 of wat maer koeie. Ploeg nie regtig om nie want dis boswêreld daarso. Probeer hier en daar 'n skaap of wat aanhou en kan roem dat hy in vandag se wêreld meer as 20 kleintjies in lewe kon aanskou. Elke enkele een sy eie. Want Ali is nog 'n ou-skool soort van Afrikaan. Sy Duitse vrou het ek nog nooit ontmoet nie maar die wat het sê sy is te oud voor haar tyd want sy werk haar hanne stomp. Sy doen die melkwerk en sorg virrie bees en skaap en sorg dat die klogoete se take elkeen uitgedeel word.

Piet (ons weerhou sy naam om logiese redes) beduie nou die dag vir my dat hy jare terug moes annerpad kyk al was dit teen die wet. Want Ali se Duitser moes weer in en die nuwe aankomeling is dood gebore. Die ondersoeke is gedoen en Ali het bloot beduie dat sy klong op sy eie gronde begrawe gaan word en Ali en sy Duitser en die nuwe kind is weg in die ou Isuzu en die mense sê Ali het hom daar oppie plaas begrawe en die mense beduie dat daar eintlik nog baie meer klogoete gebêre is wat glad nie deur ons mediese stelsel se papierwerk geklassifiseer issie.

Net verlede week sien ek die gelapte Izuzu aangekruie kom en die kop issie Ali s'n nie. Dis 'n regte egte Afro kop (jip, soos in die 70's afro) en die jong man met die groot Afro (ek het daardie aand my ou Richard John Smith plate uitgegrou) beduie in die mooiste, suiwer Afrikaans dat sy pa hom gestuur het om die vrag hout te kom aflaai. Die klogoete klouter uit die Isuzu (soos net klogoete kan doen) en ek tel vier in totaal en Afro beduie in, wat ek vermoed, suiwer Duits, dat hulle nie hier is om ledig te staan nie, die hout moet af want die volk is ledig oppie plaas die volgende vrag moet gelaai word.

Ek vra vandag vir my vriend Ali oor die klong van hom met die Afro en Ali sit-staan teen my venstermuur en hy beduie my dat hy so trots is op die klong van hom want hy het 'n groot beurs by daardie groot Universiteit in Ingeland losgeslaan. Daardie Universiteit ja. Hy vat-vat so aan sy pikswart hand wat hy noudie dag so verrinneweer het met die kettingsaag en ons mymer oor die opofferings wat gedoen moet word. Hy beduie dat die klein donner lui is soms maar nooit lui vir leer issie. Dit het hom bloedsweet gekos om die klong daar te kry "Because you know i only milk a few cows and these people in Oysterland are not so open to us" en ek beduie vir hom dat ek hom net as 'n geldkoei beskou en hy beduie my dat ek lieg vir hom en toe gee ek hom sy 20 bloues en hy beduie vir my dat hy darem nou vir Hennie Loopdop kan betaal vir die oordoen vannie Izuzu se enjin.

Want die nuwe bakkie wat hy by die handelaar hier in Oesterland gekoop het is poegaai en die handelaar het 'n slim kontrak voor hom gehou en nou is hy R90 000 armer want die ding is 'n wrak. En die bank is deel van die bleddie transaksie en die bank se bestuurder is groot vrinne met die handelaar, maar dit kan nooit in enige hof bewys word nie al weet ons dit almal.

Ek beduie vir my vriend Ali dat hy vir die volgende twee maande elke dag twee vragte kan bring want ek weet die klong by Rhodes se koshuisgelde is al maande agter en Ali is te trots om te vra. Dit help veel ek probeer aan iemand wat verskeie grade in die fyn kunste behaal het te leer van boerdery. Hy het dit klaar agtergekom.

oester

  • 1

Kommentaar

  • Oester, daar's een of meer Ali's in elke mens wat 'n mensch is se bestaan. Jy het my herinner aan dinge uit my wye verlede wat al vervaag het. Dankie

    Duitswester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top