Liewe oom Jan Rap

  • 12

Oom, ek was nog altyd lief vir oom, oom is my gunstelingoom, dis hoekom ek daai keer gevra het of ons by oom kan kom bly. Ek is jammer ek het so gevloek toe oom kom met die plan om my en my meisie na 'n soort werkkolonie te stuur, maar ek was baie upset.

By the way oom, sy verwag nou, ek verstaan sowaar nie hoe dit gebeur het nie. Ons het nog nie vir my pa-hulle gesê nie, ek is bang my pa kry 'n hartaanval. Nou dink ek ek moet maar 'n werk soek, dat ek vir alles kan betaal. Ek is darem oor 'n paar dae sewentien en amper klaar met graad 11, so ek sal seker maklik 'n goeie werk kry.

Oom, dis eintlik oor iets anders waaroor ek aan oom wil skryf. Oom skryf baie oor politiek en sê die swartes kon almal hulle eie land gekry het, in daai plekke waar hulle oorspronklik vandaan kom en daar baie van hulle is, soos die Transkei en die Ciskei en Zoeloeland en Bophutatswana (of soiets). Maar oom, ons het op skool geleer die swartes wou dit gladnie gehad het nie en apartheid was baie wreed vir hulle, hulle is sommer opgesluit as hulle nie hulle pasboeke by hulle gehad het nie. En daar was sommer baie raids op hulle gewees by hul blyplekke in die stede, dan is hulle gevang as hulle dompaste nie reg was nie en hulle dromme bier is uitgegooi en hulle dagga weggevat. En oom, die kinders het swak onderwys gekry, al sê party mense daar was nie genoeg geld om vir almal goeie dinge te gee nie, want hulle het min belasting betaal.

Oom, ek skaam my as oom so skryf oor die dinge soos oom doen, ek voel oom maak 'n fool van oomself voor almal. Hou tog op daarmee oom, asseblief, ek wil nie hê oom moet soos 'n fool lyk nie.

Groete, ook vir die tannie.

Oom se verlangende neef,

Jannie

  • 12

Kommentaar

  • Dit lyk of Jannie die Engelse "nephew" vertaal na "neef". Die Afrikaanse benaming is "broerskind" of "susterskind".

    Ek wonder of iemand ons kan inlig oor die werklike verhouding tussen Jan Rap en Jannie. Dis nie die eerste keer wat hierdie tipe brief geplaas word nie. Dalk is ek verkeerd maar ek dink nie Jannie is 'n poging van Jan Rap om snaaks te wees nie (dalk onderskat ek sy humorsin).

  • Oom George,

    As ek iemand se broerskind of susterskind is, is ek mos sy "kleinneef'. Vir 'n dogter sê mens "kleinniggie".

    Dit lyk my oom verstaan Afrikaans nie so goed nie, want ek sien oom het 'n Engelse naam ook.  Oom Jan Rap kan oom taallesse gee, hy is goed daarmee.

    Groete,

    Jannie

  • Oom George,

    Ek is jammer dat ek so ongeskik was, dis omdat ek so baie probleme het op die oomblik met my meisie wat pregnant is en alles.

    Ek het in my pa se woordeboek gekyk, hulle noem dit "HAT" en nou is ek nog meer deurmekaar, ek weet nie of oom dalk reg is nie.

    Maar ek sien onder 'broerskind" dit kan ook jou neef of niggie genoem word, as ek dit reg verstaan.

    Oom Jan Rap is rerig goed met Afrikaans, hy gee baie keer mense hier lesse en hy ken ook Engels en Duits goed. Ek dink ons moet hom vra

    Groete,

    Jannie

  • Jannie, dit was aangenaam en amper nutteloos om met jou te gesels. Jy het 'n sin vir humor, veel meer as jou sogenaamde oom. Wat ek nou wel weet is dat jy en Jan Rap verskillende mense is. Moet nou net nie vir my sê jy is die oom se tannie is nie! Dan vreet ek my nie-bestaande hoed op! Jan Rap se briewe ruik stofferig en jy is 'n vars bries.

    Oor my naam. Dit is van Duitse oorsprong. Ek is só dankbaar dat ek nie na 'n engelse adelikke vernoem is nie. Georg (sonder die e aan die end) word gewoonlik met soveel keelskraap geluide uitgespreek dat die naam mettertyd na die engelse vorm verander is. Dis in elk geval 'n mooi naam - net jammer van die engelse assosiasie. Jannie is darem 'n erg ordinêre naam. Ek is bereid om my bietjie aardse besittings te verwet op die feit dat jou naam nie regtig Jannie is nie. Beste wense.

  • Ekself vat 'n vet kans, maar meen dat Jannie natuurlik Angus is. Gewoonlik raak hulle twee gewoonlik humoristies teenoor mekaar, en is altwee erg ingestel op Afrikaans. Angus het ook 'n sterk humorsin, en lag ek gewoonlik my pap vir sy stellinge.  

    Of wat sê jy neef Jannie. Hoe sien jy die situasie?

  • Beste tannie Trienie,

    Ek is amper doodseker ek is nie Jannie nie. As my meisie sou verwag, sou ek darem weet waarom  sy verwag, en waarvoor sy wag; dus ek kan onmoontlik  nie Jannie wees nie.  Buitendien, Jan Rap is glad in der ewigheid g'n gunstelingoom van my nie. Hy belowe my al jarelank 'n boek, en hier het  in al die jare nog niks opgedaag nie.
    Groete,
    Angus
  • Nee antie Trienie, ek is nie Angus nie, ek is dan nog op skool en nie so slim soos daai oom Angus nie.

    Groete,

    Jannie

  • hahaha!

    Angus - ek hou van jou "amper" seker ek is nie ... ?

    Jannie - jy is reg, ek is meer van 'n antie dan 'n tannie - sit jou slim kind.

  • Beste Jannie,

    Jy kan onmoontlik dan nie meer op skool wees nie. Iemand wat nog op skool is, is baie slimmer as al die ander mense saam.
    Groete,
    Angus 
  • Beste Jannie

    Hierdie kan sommer sien dat jy een van die nuwe geskiedenisboeke,seker van 'n ander Oom as voorgeskrewe werk ontvang het, want dompaste was eintlik bewysboeke  en die aandklokreëling was van toepassing in alle gebiede.

    Die bewysboeke het nogal baie soos vandag se identiteitsdokument gelyk. Vra my ek het jare lank met dit gewerk en kan jou verseker dat baie nie-blanke woongebiede veiliger was as wat baie blanke woongebiede van vandag is.

    Daai dromme bier wat uitgegooi is was eintlik skokiaan en party van hulle was so vol skop dat  hul as jy  'geburp' het kon jy maklik in 'orbit' kon beland het en saam met die pienk olifantjies kon gespeel wat jy gesien het.

    Nouja geskiedenis is ook nie meer wat dit was nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top