Leë dop van erkenning

  • 0

Ministers doen dit. Goewermentslede doen dit en almal hoop niemand sal uitvind nie. Toe dink ek by myself, “myself, hierdie is jou geleentheid, wie sal weet – doen jy dit!”

Net daar gryp ‘n Calvinistiese bieg-, bely- of gly-emosie my aan die kraag en lei my na die klawers van wit-en-swart, om hier vandag my storie van die Meestersgraad in Eiendomsbestuur te vertel. Die een wat ek liefs doer ver aan die oorkant van die waters of dan eerder op die golwe van die net, agtergelaat het!

My verhaal begin met die oopmaak van die Barkley Universiteit se baie imposante internetblad. Op die voorblad nooi die vriendelike opskrifte en glimlaggesiggies die leser of eerder kuiergas, om ‘n vraelys in te vul en dadelik vas te stel of jy as student of gegradueerde sal kwalifiseer. Ek bekyk die opsies en besluit dat die natuurlike vooruitgang in my akademiese loopbaan, uiteraard die Meestersgraad moet wees. ’n Doktoraal klink net te ambisieus vir my, ieder geval my mense sal beslis ‘n rot in ’n grot ruik wanneer ek met die “dr.-papier” by die huis aankom. Meesters sal dus moet doen.

Ek storm voort en voltooi die vrae ... selfs een wat vra hoeveel ek maandeliks verdien, nogals in VSA Dollars. Volgende moet die Curriculum Vitae aangeheg word en dan heel onder op die blad ... “stuur”. So maklik soos om tee in ‘n piering te mors en ek dink weer by myself, “môre lyk jy slimmer as Alan Greenspan en Albert Schweitzer saam!”

Dit was seker so twee ure later, toe my selfoon lui en die buiteruimtelike nommer op die skerm verskyn. Eers dink ek dis dalk my Joodse baas wat daar van anderkant die beloofde land skakel, maar tog nie, dit is ’n jongman se stem wat die Amerikaanse Brits met oorgawe hier in my regteroor in afforseer. Hy trek weg met ‘n geskarrel van woord en klank wat my onmiddellik na oorle JR. Ewing van Dallas laat verlang. Hy vertel my hoe tevrede hul keuringspaneel met my aansoek is. Hoe hy slegs na ‘n baie kort twintig-minute gesprek en my mondelinge bevestiging van die inhoud van my CV, my aansoek sal afhandel sodat my professionele en internasionaal aanvaarde Meestersgraad binne 12 tot 15 werksdae per koerier by my afgelewer kan word. Terwyl hy al die vrae vra en ek instemmend antwoord, begin die sprokie van Jakkals en Wolf en skielik Rooikappie en die Wolf in my gedagtes speel. Ten spyte van my liefde vir stap in die bos en die houtkapper se heldedaad, sien ek egter nog nie in hierdie verhaal van ongekende spoedige bevordering die prys wat vir die laaste hek van die reis as toegang betaal sal moet word nie.

Die kêrel aan die ander kant van die koordlose lyn is so beïndruk met die CV en my afkoms as Afrikaan dat ek as slegs een van nog negentien ander aansoekers, dadelik vir ’n afslagtarief op my Meestersgraad kwalifiseer. Hy sal alles na die tyd per e-pos bevestig, ek moet net gou my kaart met die baie Dollars uithaal en dan voltooi hy sommer net hier en nou hierdie wonderlike geleentheid. Sodra my betaling gedoen is sal Barkley Universiteit my verpersoonlike graad, verwelkomingsbrief as ’n gegradueerde lid van die universiteit en my kwitansie, per hand aan my stuur. Daar sal geen verdere vereistes vir hierdie meesterskandidaat wees nie; geen klasbywoning of verdere opleiding en my lewensryke kennis sal nie aan eksaminering onderhewig wees nie.
Deur tot deur kwalifikasie, in ’n ommesientjie.

Vinniger as ’n Sloth sy oog kan krap, plons die universiteit se aanvaardingsbriefie op my rekenaar neer en ek deel graag hierdie uittreksel....
This email is with reference to the conversation that we had today. I have your application pending with me. As discussed, you would avail a scholarship for the Masters Degree that will have the fee reduced from $4,549.00 USD to $850.00 USD. You can have the fee submitted with a credit or debit card, once you have the fee submitted you will get your graduation ID and emails as confirmation of final registration as well.
( Jammer, vir die Brits, maar dit sou bietjie snaaks vertaal het. )

Ter afsluiting van my baie kortstondige pad na die romerige smaak van ’n nagraadse erkenning, het ek die vriendelike mense van die universiteit per kerende skrywe verwittig dat die aanbod ter graduering nie aanvaar is nie.
Ek het liefs nie oor die redes vir die hartseer besluit uitgebrei nie.
(Eintlik het ek net nie geld vir die fooie nie!)

Dit bly tog wonderlik hoe maklik dit was; hoe eenvoudig dit is om iets te koop wat nie joune is nie, wat nooit joune sal wees nie en ironies genoeg, waarteen jy moet vaskyk daar waar dit teen die kantoormuur hang, wetende dat dit snert is. Sommige van ons sal dit as loopbaanplaveisteen gebruik en ander om iemand wat maklik beïndruk kan word, die soetheid daarvan te laat smaak ...

Napoleon het blykbaar gesê: ‘n trop diere soek na die grootste een as hul leier, nie vir hulle eie ontwil nie, maar vir sy invloed en die groot dier, hy aanvaar dit, weens hul nietigheid en sy behoefte.
Ek dink dit is 'n baie goeie grafskrif vir ons almal - wat bly tog oor wanneer ons van al ons aardse besittings en al ons roem, eer, erkenning, familie en vriende gestroop is?
Sal dit dan werklik iets beteken om so slim soos Alan Greenspan en Albert Schweitzer te wees, of erger nog, om so voor te gee?

Of, sal ek uit gestroopte beskeidenheid soos die ou gryse Griekse wyse, Sokrates, moet erken: "Wat my betref, al wat ek weet, is dat ek niks weet nie.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top