Is jou Testament geldig?

  • 0

Liewe Leser

Wat se nalatenskap het jy vir jou kinders. Is dit geld, is dit goed, of dinge wat ewigheidswaarde besit. Aardse skatte is soos duur parfuum – maak nie saak die koste, die reuk hang net ‘n wyle.

Opregte en waarheidsdinge weeg swaarder dan goud. Dis soos die fasette van die diamant: hoe meer geslyp hoe helder die kaleidoskoop van kleure wat vanuit die innerlike kern straal.

Tydens afsterwe, was my aardse pa in die vermoë gewees om aan elkeen van ons vyf kinders ‘n erfporsie na te laat. Nie miljoene, net genoeg vir ‘n goeie begin. Daarvoor is ek hom ewig dankbaar. Maar die dinge wat hy my geleer het en die waarheidsvoorbeeld wat hy as hoof, priester en profeet van sy huishouding uitgeleef het, is dié dinge wat vandag ‘n glimlag bring asook ‘n plukkie aan my hart.

Ons ossewa-jare-voorouers het nie veel tyd gehad om hulle kinders te vertroetel of rond te gedra het nie. Hulle was geharde boere wat moes veg en woeker in hierdie land om oorlewing. Maar, ek het geweet dat my pa lief was vir my. Onvoorwaardelik. Selfs in my rebellie en wegloopdae vanuit die huis, kon ek daaraan vasklou. Agterna – was hierdie besef dié sekering wat my toekoms ingekleur en ewig verander het. Vandag is ek net jammer dat hy nie die ommekeer of verandering in my lewe saam kon geniet nie.

Later jare ontdek ek ‘n groter heerlikheid in my lewe. Die Hemelse Vader en Skepper van alle dinge is dieselfde. Hy is vir jou net so lief dan vir my. Ongeag jou huidige geloof, waardes, kleur of politiek. As ek en die Moslem voor Hom moet staan vandag – het Hy ons ewe lief en sien ons waarde as dieselfde. Waarom sou Hy nie. Hy het ons albei dan geskape?

Ja – God haat sonde. Hoekom? Omrede dit die verhouding tussen jou en Hom vernietig, en die ergste - jouself. Sonde beïnvloed nie God se liefde vir jou nie, maar dit kan jou verwoes, jou huwelik, kinders asook toekoms. Sonde is soos kanker wat al die goeie fasette van my diamantslewe opvreet. Totdat daar geen siel of gees in die self oorbly nie.

Skryf en leef jou Testament – daagliks. Bewaar jou gedagtes. Bly gesond na gees, siel en liggaam. Die fasette daarin vasgevang is meer werd dan aardse goud.

Trienie Mahne

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top