Groot geskrik

  • 2

Sowat drie weke gelede was ek saam met vyf van my landbouboere-vriende, diep in die ysige Maluti-berge, wit gedek met sneeu. Ons was by ons gebruiklike Basoetoehut waar ons sowat elke vier maande oor ‘n naweek die beskawing ontvlug en in ‘n primitiewe omgewing uitspan.

Die betrokke oggend gaan ek om te was en skeer. Ek kyk in die spieël, en skrik my gat af. Die hele linkerkant van my gesig is verlam. My winkbrou hang laag oor my oog, my oog is bloedrooi, my wang en helfte van my mond is gevoelloos. Ek lag, en net een helfte van my mond reageer positief, die linkerhelfte het geen reaksie nie.

Onmiddellik kom die gedagte by my op, ek het ‘n beroerte opgedoen. Ek jaag na my vriende toe. Ons is almal bekommerd. Ons pak op en jaag so vinnig as wat ons voertuie ons oor die rowwe terrein toelaat, terug oor die grens na ‘n dokter in Ficksburg.

Met sy ondersoek, verwittig hy my dis darem nie ‘n beroerte nie. Whew! Groot verligting. Ek het Bells Palsy. Nooit vantevore gehoor nie. Hy se dis ‘n tydlike aansteking van die gesigsenuwees, deur ‘n virus veroorsaak (soortgelyk aan 'n verkouevirus) wat tussen twee weke en twee maande kan duur voor dit opklaar, afhangende van my gestel. Hy verduidelik verder aan my wat gebeur het. Die vyf senuwees wat aangetas is, loop almal deur een gaatjie van die kopbeen vanaf die brein. Met die virus-aansteking swel die senuwees, wat veroorsaak dat hulle gesamentlik deur die gatjie wat nie groter word nie, verwurg tot so ‘n mate dat senuwee-impulse tot die gesig nie kan deurkom nie. Al wat hy aan my voorskryf is 5g kortisoonpille wat ek vir die volgende twee weke driemaal per dag moet neem, asook oogdruppels.

Twee van my vriende moes my huis toe vat, want my oë was tot so ‘n mate aangetas, ek kon nie bestuur nie, plus die ondraaglike pyn waar my linkeroog gevoel het daar is sand onder die ooglid. Boonop kon ek my oog nie toeknip nie, wat gedurig net wou oopbly. Ek het dit met hegpleister oor die ooglid en wang toegehou, anders sou my oog uitdroog. Elke drie ure moes ek oogdruppels in my oog plaas. Ek moes deur ‘n strooitjie drink, anders loop die vloeistof vanuit die verlamde deel van die mond.

Net so skielik as wat dit aangekom het, net so skielik is dit weg. Sowat drie dae gelede staan ek op om my gesig te gaan was. In die spieël sien ek my gesigsvorm kom normaal voor. Ek glimlag, en sien my hele gesig helder op en reageer dieselfde weerskante van die gesig. Ek gee een skreeu soos ek jubel van blydskap. Die angs is uiteindelik verby.

Jaco Fourie

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top