... se pyn kan ek goed verstaan.
Daar is ‘n bekende tuintydskrif wat elke maand so’n soort van ‘n daaglikse tuinaktiwiteit-kaart het; plant hierdie dag, dun uit daardie dag ens ens. Die dae van die week word afgekort Son, Maan, Dins ens. Hulle is nie die enigstes nie; mens kry dit op baie brosjures, advertensies en dies meer, selfs die weervoorspelling op KykNet het hierdie verkeerde afkortings gebruik. Hoe is dit moontlik dat Afrikaanssprekendes nie die afkortings van die weeksdae ken nie, selfs professionele taalpraktisyns soos omroepers en TV-regisseurs? Is dit omdat lyfstraf nie meer toegepas word nie? Ek kan aan geen ander rede dink nie.
‘n Ander ding wat ons Afrikaanssprekendes nie onder die knie kan kry nie is een-begrip-een-woord. Op KykNet is daar ‘n program die Nataniël Tafel, moet dit nie Nataniëltafel wees nie? Of ‘n ander program, Dagbreek Bestes, moet dit nie Dagbreekbestes wees nie? In laasgenoemde, wanneer die nering van ‘n gas onderaan die beeld geflits word is dié gewoonlik verkeerd gespel; twee of drie woorde in plaas van een woord.
Aan die einde van die program Fiësta word die datums van toekomstige feeste geflits en, byna voor die voet, is die goed verkeerd gespel; weer die een-begrip-storie. Is daar nie proeflesers of taalversorgers, of wat mens hierdie taalpolisie ook al noem, nie?
Nou die dag vra ‘n RSG-omroepster vir ‘n gas of sy die volgende dag verjaar. “Ek doen”, sê die gas. Dis nog niks, die gas is ‘n kok en is miskien half Engels maar die volgende dag raak die oggendprogram-aanbieder die volgende kwyt: Hy antwoord op ‘n SMS wat vra of die stasie Boeremusiek speel. “Ons doen” antwoord die omroeper. ‘n Gas gee ‘n resep en die omroeper sê hy “hou baie van dit.” Direk daarna sê hy hy gaan nie weer “deur die resep hardloop nie.” Later sê hy vir ‘n ander gas dat hy ‘n pakkie gestuur gaan word en hy sluit af dat die persoon daarvoor moet “uitkyk.” ‘n Persoon wat smiddae verkeersverslae aanbied sê ook gedurig vir die mense om “uit te kyk”, of om “op die uitkyk te wees” hiervoor of daarvoor. ‘Wat betref’ word ‘rondom dit’ of ‘in terme van’; dit mag reg wees maar dit klink nie vir my reg nie.
Advertensies op die radio en TV is eens so erg. ‘n Plek wat skokbrekers installeer nooi jou om daar skokbrekers te kom ‘pas’. Omroepers en aanbieders verwys ook dikwels na voertuie, vliegtuie en skepe as vroulik, dis gewoon verkeerde grammatika. Die stasies kan seker aanvoer dat die adverteerder betaal en hulle plaas maar soos hulle die goed by die adverteerder kry maar iemand moet tog die advertensies nagaan vir vloekwoorde, laster, rassisme en die meer, hoekom kyk hulle nie na taal ook nie?
Behalwe dat ons die spreektaal verwaarloos word Afrikaans ook op ander gebiede opsy geskuif. Loop in enige winkelsentrum, van Pretoria tot Kaapstad, en jy sien baie dinge. Wat jy NIE sien nie is Afrikaans, nie op uithangborde of winkelsvensters nie, nie op produkte nie, nêrens nie. Dieselfde ding begin by vlyt- en boeremarkte kop uitsteek; al is die verkoper Afrikaans, en die meeste van die klandisie Afrikaans, sal die verkoper se reklame in Engels wees.
Die magte die syn het ‘n heksejag op Afrikaans; verander ons straat-, dorp- en plekname, verengels ons inrigtings, praat Engels op Afrikaanse radio- en televisiestasies en mens sou nou dink dat dit ons mense verkeerd gaan opvryf maar nee, ons volg hulle voorbeeld en doen mee aan die taalmoord.
Die tydskrif VISIE is ‘n goeie voorbeeld. Eers was dit ‘n Afrikaanse tydskrif, toe verskyn daar Engelse opsommings van die artikels agterin, toe verskyn daar ‘n Engelse weergawe en nou is die tydskrif net in Engels beskikbaar (altans ek dink so; ek het baie lanklaas ‘n Afrikaanse VISIE hier op die rakke in my omgewing gesien). Hierdie oorgang na Engels is nie noodwendig die redaksie van die tydskrif se skuld nie; as die Afrikaanse lesers en masse ‘n bohaai opgeskop het, en geweier het om die Engelse weergawe te koop sou die tydskrif heelwaarskynlik Afrikaans gebly het (hoekom het hy dan hoegenaamd ontstaan?). Maar nee, die grootste gros lesers het hulle heelwaarskynlik bereid verklaar om die tydskrif in Engels te koop.
Dieselfde geld by die vlooi- en boeremarkte; dit is die Afrikaanse klandisie wat nie omgee dat Afrikaans verdwyn nie. Die argument, soos Dirk-hulle dit stel, dat ‘al word Afrikaans verkeerd gepraat word hy darem nog gepraat’ is ‘n drogredenasie; die trappe van agteruitgang is ‘goed praat, swak praat, darem nog praat en glad nie meer praat nie’.
Dirk Rigter, iemand wat gereeld bydraes hier plaas, verbaas my; die soort Afrikaans wat hy skryf is waarna ek streef; ek wens ek kan so skryf en tog gee hy te kenne dat verkragte Afrikaans hom koud laat. Hy gaan selfs so ver as om te sê dat ons (ek spesifiek) moet aanvaar dat die dae van suiwer Afrikaans vir ewig verby is. Is dit dalk die probleem van die groot gros van ons Afrikaanssprekendes dat ons só polities korrek wil wees dat ons ons goed versaak? Dit lyk my die ou spreekwoord is waar, slegte dinge gebeur met ‘n taal wanneer bedrewenes (ten opsigte van taal nou) met gevoude handjies sit.
As enigiemand my op taalfoute in hierdie brief kan wys sal ek dit verwelkom; ek is nie ‘n sogenaamde taalbul soos ek al beskuldig was nie, ek is bloot bekommerd oor die agteruitgang van Afrikaans. Ek is ook erg bekommerd oor aardverwarming, plastiekbesoedeling van die see en renosters wat uitgeroei word ten spyte van die feit dat ek nie ‘n omgewingsdeskundige is nie. Op dieselfde manier hoef ek nie ‘n taalpraktisyn, taalbul of grammar nazi te wees om bekommerd oor Afrikaans te wees nie.
Soos ek gesê het, ek verstaan George B en Tiens se pyn, dis hartseer om iets wat sterf gade te slaan.
Jan Rap
Kommentaar
Jan Rap, het jou brief geniet. Jy het op 'n ander plek gesê ek is 'n pessimis en jy sluit sowaar af met: 'dis hartseer om iets wat sterf gade te slaan.' Dit mag jy nooit weer sê nie! Goed, daar is agteruitgang, maar in die lewe wissel vooruitgang en agteruitgang mekaar dikwels af. Ons moet maar net voortgaan en dit geniet om ons taal te gebruik. Moet ook nie die toenemende verset teen die ANC onderskat nie. Dit veroorsaak reaksie.
Ek bly in 'n klein banggatter-dorpie (is dit nie 'n mooi uitdrukking vir 'n sekuriteitskompleks nie!) en het onlangs twee dinge hier beleef. 'n Engelse Van der Walt (sy Afrikaans is nie so sleg nie), met 'n Afrikaanse vrou en 'n blonde seuntjie het, sonder aanmoediging, daarop neergekom dat hy meer Afrikaans wil praat en 'n buurman, van Ierse herkoms, wat in die Boland op skool was, maak sy seun in Afrikaans groot, in 2014! Ons moet net aanhou om die hoë branders te ry en onthou van ons voorgeslagte. My pa het in 1923 in Kaapstad kom werk. Die koerant, Die Burger, het toe 'n pennie gekos en hy het elke dag twee gekoop “om die saak te steun”.
Hoe lyk dit met 'realistiese optimisme' vir die pad wat voorlê?
Beste Jan,
Jan,
Ek is seker skuldig aan baie van die misdade teen Afrikaans wat jy hierbo noem. Soos ek al gesê het, ons weet nie altyd meer as ons verkeerd praat nie, want die voorbeelde wat daar vir ons is, is maar swak.
Maar ek wil ook sê, ek is een van die ouens wat glo dat om 'n bietjie van Engels in Afrikaans op te neem, is dalk nie so erg nie, dit gebeur oral oor die wêreld. Gelukkig is daar mense wat steeds strewe na "suiwer" Afrikaans en so briek aandraai dat dit darem nie te erg gaan nie.
Ons almal is self verantwoordelik daarvoor om die taal te handhaaf en te sorg dat ons Afrkaanse tydskrifte en koerante staande bly. Bekommer nie te veel oor die swakeres nie, hulle was nog altyd daar en hulle is darem nie die ouens wat die woordeboeke en taalreëls opstel nie.
Ek het dit al gesê en ek sê dit nou weer: ons, wat omgee, moet organisasies stig om vir ons saak te veg en desnoods moet ons ons eie skole en universiteite op die been bring.
Groete,
Tiens
Beste Angus
Ek wil nou nie weer aan jou verduidelik wat die verskil tussen groei en besoedeling is nie, en dat talle tale gedurigdeur uitsterf vanweë verswelging nie juis weens die onverskilligheid van sprekers wat besoedeling en groei verwar nie, dat verandering nie noodwendig groei of ontwikkeling verteenwoordig nie, ook nie dat dit JUIS ek en jy en die res van die Afrikaanssprekers is waarvan die bestaan van die taal uiteindelik gaan afhang nie.
Jou voorbeelde van wat vas of los geskryf kan word lyk vir my na uitsonderings, sal uitstekende kandidate wees vir 'n spelkompetisie. Ek kan egter kwalik glo dat die Taalkommissie (Taal Kommissie soos jy dit waarskynlik sal wil hê) besluit het ons kan maar self besluit wat ons vas of los wil skryf. Indien dit die geval is, laat my weet. As dit wel die geval is, sal dit seker nie lank neem voor die spelling ook oorgelaat word aan Jan Rap en sy maats nie sodat, uiteindelik, daar geen doel meer is vir die bestaan van 'n taal Koemiesie is nie en jy maar kan skreiv soos jy foel.
Wat jy ookal dink oor hoe Engels ontstaan het, het hulle, soos al die ander tale, ook hulle ekwivalent van onsTaalkommissie. Dink maar net hoe sal die volgende sin 'n Engelsman irriteer: "Find some body, any body, to check that no body enters without a ticket."
Lees dit vir jou makliker? Natuurlik nie, net soos Dagbreek Bestes nie makliker lees as Dagbreekbestes nie. Inteendeel, dit lees moeiliker want dit is irriterend.
Groetnis
Jan Rap
NS Bly om weer van jou te hoor
Beste Jan,
'n Mens kan 'n handige taalgids aflaai by http://www.uj.ac.za/EN/CorporateServices/LanguageUnit/styleguides/Documents/Afrikaanse Taalgids.pdf
Dat die korrekte aanwending van werkwoorde ( ek noem hul sommer aksiewoorde) belangrik is, is duidelik uit die volgende voorbeeld uit die gids.
"Die “reël” bly steeds dat ons die werkwoord so na as moontlik aan die einde van sinne plaas. Dit moet egter nie te ver gevoer word nie, anders kry ’n mens dikwels ’n opeenhoping van werkwoorde aan die einde van die sin:
’n Koerantbyskrif het gelui:
"Op die foto kan die gat waarin twee Swartes toe die wand ingestort het, dood is, gesien word."
Om hierdie sin (en derhalwe hierdie probleem) te oorkom, moet ons eerder die werkwoorde na dié sinsdele skuif waarop hulle betrekking het:
"Op die foto kan die gat gesien word waarin twee Swartes dood is toe die wand ingestort het."
Tweedens kan ons, indien moontlik, van ’n byvoeglike bysin ’n byvoeglike naamwoord maak:
Die vorm wat nodig is, moet ingelewer word.
Die nodige vorm moet ingelewer word."