Die wyshede van Kobus de Klerk en Dolf

  • 8

Op 16 deser (God, goed en kwaad) trek Kobus de Klerk weer los met een van sy pogings om filosofies oor God se goedheid te profeteer en hoe “goed” dit nou eintlik vir die wêreld sal wees as almal in hierdie God glo. En toe skiet hy en een van sy volgelinge, Dolf, hul eie argument aan flarde met hul eie wyshede:

Eerstens skryf De Klerk die volgende: “Die kwaad en swaarkry en nadeel wat die mens ly is dus sy eie vrye keuse en toedoen.”

Ek daag hom uit tot die volgende: Sê vir ons hoekom God toegelaat het dat ISIS ‘n paar dae gelede een en twintig Christene in Libië onthoof het? Was hierdie lyding van dié Christene deur “hul eie keuse en toedoen”? Gee ons ‘n reguit antwoord asseblief.

Tweedens vergas Dolf ons met hierdie stukkie wysheid toe hy op Thomas se kommentaar reageer.”…Ai tog Thomas, iets is nie waar omdat jy graag wil glo dit is 'n feit nie …”

Dít nou komende van iemand wat sy godsdienstige “feite” slegs op geloof baseer! Dolf, jy het so pas die mat onder jou eie godsdiens uitgeruk. Met argumente soos hierdie sal julle twee nie eers die finaal van ‘n laerskool debatskompetisie haal nie.

  • 8

Kommentaar

  • Hallo Dirk,

    Watter wyshede sal dit wees? Ek kan nie juis enige wyse dinge uit daardie bron onthou nie.

     Duitswester

  • Kobus de Klerk

    Rigter,

    Nie dat jy dit sal kan verstaan nie, maar ek en Dolf is nie volgelinge van mekaar nie, maar beide van ons van die HERE Jesus Christus. Met die intrapslag sommer, jou vertoon van onbegrip en so gaan dit deurgaans in jou blerts hierbo.

    Wanneer ek weergee dat die kwaad en swaarkry en nadeel wat die mens ly dus sy eie vrye keuse en toedoen is, praat ek van die mensdom kollektief - mense wat jou insluit. Jy is baie beslis deel van die kwaad wat 'n milieu van swaarkry en onmin bewerkstellig. Dit veroorsaak dat daar 'n kultuur van negatiewe gedrag in ongehoorsaamheid teenoor God en SY Gebod oor die algemeen posvat en dat almal daaronder ly. Christene ook, want alhoewel die Christen nie van hierdie wêreld is nie, spiritueel gesproke, is hy in hierdie wêreld en dus nie onaangeraak deur wat in hierdie wêreld aangaan nie. Dus is daar baie dikwels ook gevalle wat in die spervuur beland.

    Maar die individuele Christen is in staat deur hulle vaste geloof, om beskerming te geniet teen die onheile van hierdie wêreld en veral, om dit in die korrekte perspektief te sien - dat dit deel is van 'n siek wêreld wat hoogstens tydelik op die gelowige se pad gekom het. Dit sal ook van Christen tot Christen afhang hoe hy dit sal hanteer met God.

    Een ding wat jy as ateïs nie kan begryp nie, is dat verlies aan lewe hier in hierdie siek wêreld, baie dikwels gewin is van beter Lewe hierna ...

    Indien Christene, soos die Kopte wat deur isis om die lewe gebring is, eerder verkies om as martelare vir hul geloof in die HERE om die lewe gebring te word en die tydelike met die ewige te te verwissel, dan is dit hulle tot eer en beslis nie die einde van die pad - soos dit vir jou voel wat 'n volslae ateïs is - nie, maar die begin van 'n nuwe, beter pad in die Nuwe Eeu, die hiernamaals. Baie van hulle, eerder as om hul geloof en HERE te verloën,  vind eer daarin om ter wille daarvan om die lewe gebring te word en sal dit hulle nie in hierdie lewe nie en ook nie in die daaropvolgende lewe, as oneer strek nie. As jy iets van die Kopte geweet het, sou jy ook geweet het dat martelaarskap deel van hulle kultuur is en hulle sulke martelaarskap, wanneer dit hulle oorval, met eer aanvaar selfs as geleentheid om die tydelike fisiese lewe met die ewige te verwissel.

    Maar ek is seker daarvan dat jy geen begrip vir hierdie kwessies sal kan toon nie. Jy is te bot en spiritueel afgestomp. Jou hele bestaan is daardie piepklein wêreldjie waarin jy as agnostikus lewe, in 'n gevangenskap van onsekerhede en tydelike en kortstondigheid - sonder dat jy kan besef waarom jy lewe en waarom jy sal sterwe, omdat die plafon van jou agnostiese insig so laag is dat dit nie bokant die horisontale kan uitstyg nie. Jy word platgedruk deur die lae plafon van jou eie spirituele onkunde en spartel elke dag van jou lewe om so aan die lewe te probeer bly, maar sonder die visie of begrip van die spektrum van Lewe wat die Christen gelowige ervaar ...

    Jy sien, ek is dus hier besig om vir jou goed te vertel waarvan jy niks weet nie, of ook niks kan verstaan nie. Jy het gewoon nie die spirituele intelligensie om dit te kan verstaan nie. Jou tipiese reaksie sal waarskynlik wees om nog snedige, spiritueel irrelevante en onkundige aanmerkings te maak (al waartoe jy in jou spirituele onkunde en insigloosheid instaat is) of om stil te bly (maar die wysheid is jou waarskynlik nie beskore nie ...).

    Dus is jy reg as jy sê dat die dinge waaroor ek en Dolf praat, nie geskik is vir laerskool redenaarskompetisies nie - veral nie met ouens soos jy aan die stuur daarvan nie. Nee, dit waaroor ons praat, is baie duidelik werklik  ver bokant jou  begripsvermoë as volslae agnostikus, terwyl ander gelowiges geen probleem het te begryp waarvan ons praat nie.

    Dit is die probleem met julle ouens wat so agnosties is en verkies om so te wees. Hierdie gesprekke is net eenvoudig nie vir julle geskik nie. Julle begryp daar niks van nie en tog sal ons vind dat julle keer op keer stuitige kommentaar sal lewer, so uit plek en uit liga uit.

    As julle maar net wil probeer om tot beter in staat te wees, dan sal julle goeie vordering maak - onlangse gesprekke met Jaco het dit duidelik aangedui. As hy kan, waarom nie jy, Thomas, Angus en ander soos julle ook nie? Dit is omdat hy opreg probeer oopkop wees en akkomoderend te kyk na die geloofskwessies (hoewel hy tragies genoeg verkies om dit nie na te volg nie), maar dit sal hom uiteindelik tot voordeel deur redding kan strek.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk,

     
    Ek het 'n reguit antwoord gevra op 'n eenvoudige vraag. Ons wag nog...
     
    Nog 'n ding. Wees maar versigtig vir die oordeel wat jy oor my uitspreek. Hoe sê die Bybel? "Moenie oordeel nie, want met die maat waarmee jy meet, sal daar vir jou gemeet word." Of is jy straks so spesiaal dat jy geoormerk is vir spesiale behandeling?
  • Beste Dirk,

    Jy moet besef, Kobus is ver bokant ons. Hy sweef daar spiritueel bedwelmd rond tussen die engele en sien op ons arme aardse bewoners neer. Ek en jy weet niks. Slegs hy, Kobus, is alwetend.
     
    As jy met Kobus, so in sy kraal, wil saamgesels, moet jy dit doen binne die perke van die Heidelbergse Kategismus, waar vraag en antwoord klaar vir jou uitgespel word. Dan kom jy in sy goeie boekies. Durf jy net so effens afwyk, is dit, volgens Kobus, 'n dom vraag, en is jy dan ongered. Boonop wys dit dat jy nie spirituele intelligensie het nie. 
     
    Groete
    Angus
  • Volgens Kobus was nie een van die duisende plaasboere 'n Christen nie, want die "individuele Christen' is glo in staat om deur sy vaste geloof beskerming te geniet teen die onheile van hierdie wêreld.

     
    Aan die ander kant weer, ly almal, gelowig en ongelowig, as gevolg van die ongelowiges se ongehoorsaamheid aan god. 
     
    Die geheim lê in die volgende stukkie snert: "Dit sal ook van Christen tot Christen afhang hoe hy dit sal hanteer met God."
     
    Dit is nou, wat 'n mens noem, uitwurm uit 'n moeilike situasie. 
  • Kobus de Klerk

    Rigter,

    Jy het jou reguit antwoord gekry tesame met motivering (het geweet jy gaan sukkel om te begryp) - die feit dat jy dit ten spyte van motivering weereens nie verstaan nie, is nie vreemd of ongewoon nie en soos ons verwag het dit sal wees. Nietemin, die antwoord is eenvoudig en verstaanbaar.

    Wat veroordeling aanbetref, het ek jou nie veroordeel as ek vir jou presies uitwys waarmee jy besig is nie en wat die probleem met jou is nie - interessant dat jy die spieëlbeeld van jouself wat ek vir jou voorhou as veroordelend beskou ... dan moet jy mos darem jouself regruk, of hoe?

    Maar, vir jou inligting, tot die mate dat jy wel geoordeel is, is dit nie ek wat jou so oordeel nie, maar die Woord.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Uiteraard sal ons so 'n onsinnige reaksie van jou verwag - na alles, jy is 'n ateïs en as jy kon verstaan, sou jy nie 'n ateïs wees nie.

    Kobus de Klerk

  • Beste Kobus,

    Jy het heeltemal reg! Ons ateïste verstaan nie, en ons nie skaam om dit te erken nie. Julle Christene verstaan ook nie, maar maak maar of julle weet. 
     
    Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top