Die wonder van die werklikheid

  • 11

Die godsdienstiges soos FC Boot en George Bekker het die afgelope ruk nogal sinvolle debatte gevoer oor godsdienstige kwessies. Ek aanvaar albei hierdie persone is goeie mense wat waarskynlik niemand opsetlik enige leed sal aandoen nie en wat een of ander emosionele bevrediging put uit hulle godsdienstige belewenisse. Ek het volkome begrip daarvoor want die meeste van my vriende en familielede kan rofweg in daardie kategorie geplaas word. Ek het egter ’n ambivalente houding teenoor sulke mense. Aan die een kant vind ek dit bewonderenswaardig dat iemand, van oënskynlik normale verstandelike vermoëns, so kinderlik en volkome kan glo sonder om te bevraagteken. Aan die ander kant vind ek dit amper onaanvaarbaar dat iemand so aan die neus gelei kan word en nie verder as daardie selfde neus kan dink nie.

Ons is op die oomblik op Buffelsbaai waar ons ’n paar dae kamp terwyl moontlike kopers in ons huis in Knysna bly. Ek het dus so bietjie tyd op my hande. Terwyl ons vanmiddag geëet het, het die kwikkies en die seevoëls ons aandagtig dopgehou terwyl ek vuurgemaak en later gebraai het. Terwyl ons besig was om ons braaivleis te eet het die volgende toneeltjie hom voor ons oë afgespeel.

Die kwikkies en die seevoëls het hulle instinktiewe en geneties vasgelegde gedrag om bang te wees vir mense, oorkom deur die vlugafstand te verkort sodat hulle eerste happies kos, wat mense mors, te kan oppik. Die kwikkie in die foto het in ’n stadium op my voet kom sit en ietsie van my skoen afgepik. Voëls wat nie naby kampplekke bly nie sal natuurlik nie sulke gedrag openbaar nie. Dit is vir my ’n pragtige toneeltjie en die verklaring wat die wetenskap volgens die evolusionêre model verskaf, vanaf hulle ontwikkel het tot die laaste bietjie aanpassing sommer nou die dag, is volledig en verskaf aan my groot genoegdoening. Die realiteit is vir my wonderlik. In teenstelling met so ’n benadering droom FC en George van skeppergode (waarvoor geen toetsbare model bestaan nie) wat hierdie voëls met al hulle genetiese verskeidenheid geskep het. Hulle vind ook die toneeltjie mooi en aandoenlik maar skryf dit alles toe aan hierdie geheimsinnige god wat jou gaan laat verbrand as jy nie sy mite glo nie. Ek kan glad nie sien hoe hierdie toneeltjie, wat so mooi is en wat so volledig deur die evolusieteorie verklaar word, bederf moet word deur beelde van jaloerse gode en kruisigings en uitmergelende vuurwarm helpoele nie.

Die werklikheid is vir my wonderlik genoeg – ek het werklik niks meer nodig nie.

Groetnis
Thomas

  • 11

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Thomas

    Die wêreld en die natuur rondom ons is werklik wonderlik, en danksy die BBC se uitmuntende reeks oor voëls, sal ek in die toekoms nooit met dieselfde oë na hierdie wonderlike skepsels kan kyk nie. Die verskeidenheid van hierdie spesie is asemrowend, van die pragtige kleurryke papegaaie van Suid-Amerika, die flaminke van Afrika, tot die fantastiese sneeuwit en elegante Mongoolse kraanvoël. Om te dink dat sommige voëls 'n afstand van ses duisend kilometer kan vlieg tydens verhuising by die verandering van die seisoene, gaan ons verstand heeltemal te bowe.

    Om te dink dat daar volwasse  persone is wat hulle aandag en tyd verspil in die kontemplasie en verering van 'n Ou Testamentiese stamgod van die Israeliete, gaan my verstand ook te bowe. Wie in sy regte verstand het hom nodig?

    Groete,

    Pieter Redelinghuys

     

     

     

  • Beste Thomas

    Evolusie beide op makro- en mikrovlak is die resultaat van 'n proses wat in werking gestel is die oomblik toe die 'oerknal' in werking gestel is.Jy erken jy weet nie wat die oorsaak van die oerknal was nie.

    Ons as volgelinge van Christus weet wel wat die Oorsaak was, want Hy het Homself in die vorm van 'n mens Homself aan die mense geopenbaar  deur talle wonderwerke .

    "Jy maak die opmerking 'Aan die ander kant vind ek dit amper onaanvaarbaar dat iemand so aan die neus gelei kan word en nie verder as daardie selfde neus kan dink nie."

    Dit is egter vir my onaanvaarbaar dat enigiemand kan dink dat die plasing van ons planeet in die heelal en dan tov van ons eie ster, enige afwyking daarvan en lewe het nie in die vorm waarin jy dit tans ondervind, bestaan nie,op 'n toevallige, lukrake wyse plaasgevind en dat die mens die resultaat van die lukrake toevallige plasing is.

    Ek dink dit is al oor en oor bewys dat dit nie 'toevallig' kan wees nie.

  • Pieter as jy só oortuig is van jou saak hoekom moet jy dit heeldag vir ons vertel? Volgens Carl Jung was almal bo 35 se probleem in die laaste plek om 'n religieuse uitkyk op die lewe te kry. Jung het nie met sy persoonlike godsdienstige oortuigings te koop geloop nie en daar is twyfel oor presies wat dit was.

  • Beste FC

     
    As jy weet wat die oorsaak van die oerknal is en die rede vir die plasing van die planete, wat volgens jou oor en oor bewys is, doen ek die volgende aan die hand:
     
    1   Boekstaaf jou teorie met die nodige bewyse
    2   Onderwerp dit aan portuurevaluering
    3   Ontvang jou Nobelprys
     
    So maklik soos dit.
     
    Thomas
  • Beste Thomas
    So maklik soos dit. Lees die Bybel  en aanvaar Jesus Christus oor wie daar getuig is dat hy gelewe,gesterf en opgestaan het en dat Hy ten nouste betrokke by die skepping was en jy het geen verdere bewyse nodig nie, want slegs 'n Entiteit wat daar was voordat alles tot stand gekom het kan getuig oor dit.

    As Jy Jesus wil 'doodmaak' is dit 'n ander saak en 'n gesprek vir 'n ander dag.Jou grootste probleem is dat jy 'n slaaf van die wetenskap is wat jou gevange hou en wat jou dwing om die God wat in die Bybel geopenbaar word te vermenslik en op dieselfde vlak as alle 'natuurlike' dinge plaas wat wetenskaplik ondersoek kan word.

    Die GOD wat in die Bybel bekend gestel word as die OORSAAK van die 'Oerknal' is veel groter as die 'Oerknal'  of  dink jy dat die gevolge groter as die oorsaak is?

  • Beste FC

     
    Jy beweer dat ek ’n slaaf van die wetenskap is maar is jy nie maar ’n slaaf van jou blindelingse geloof nie? Om watter rede moet ek sekere dinge net aanvaar en nie vra vir bewyse nie? Wat maak jou onwrikbare geloof in die Christelike godsdiens beter of superieur tot byvoorbeeld die Moslem se geloof in Allah en die koran as die heilige skrif? 
     
    Die probleem my liewe FC is dat jy glo sonder om te dink en sommer aanvaar dat jy reg is. Tot dusver kon jy nog geen oortuigende argument aanvoer oor hoekom jou weergawe die regte weergawe is nie. Vandat ek my geloof in die godsdienstige mites verloor het, het daar ’n nuwe wonderwêreld vir my oopgegaan. Ek geniet werklik die wonder van die werklikheid en ek is intens bly dat my kinders dieselfde vreugde kan ervaar. Die een is ’n narkotiseur en praktiseer uiters suksesvol met slegs die wetenskap as sy riglyn. Die ander twee het elkeen hulle Ph.D.’s in ingenieurswese behaal en die werklikheid is weereens vir hulle genoegsaam om uiters suksesvolle beroepe te beoefen. Nie een van ons mis hoegenaamd die illusie van godsdiens nie. Die absurde gedagte dat ons soggens en saans op ons knieë moet gaan pleit vir vergifnis van sondes wat ons geërf het, is sulke vergesogte onsin dat ons bloot kan lag vir diegene wat daarin inkoop. 
     
    My raad aan jou is om wyer te begin dink en vir jouself te vra hoekom jy glo wat jy glo. As jy egter gelukkig is om in hierdie waas van skuld en die verwagting van ’n hemel te leef is jy meer as welkom. Gaan voort en doen wat jou gelukkig maak – die lewe is vir my een groot plesier.   
     
    Groetnis 
    Thomas
  • Beste Thomas

    Jou hele argument val plat want my vraag aan jou was nie hoeveel grade jy het nie, maar wel of jy Christus wil 'doodmaak'.As Christene is ons tog volgelinge van Christus en niemand anders nie.

    Sonder Christus is daar geen Christelike geloof, geen Christelike kerk  nie en ook geen opstanding uit die dode nie.Dwarsdeur die menslike geskiedenis is daar tog mense wat getuig oor dinge wat hul ondervind het en gesien het.

    Toe die eerste ontdekkingsreisigers terugkeer van hul ontdekkingsreise het hulle vertel van vreemde lande en mense wat hul ontmoet het.Daar was min bewyse daarvoor dat hul wel daar was en moes die mense aan wie hul dit vertel het hulle verhale glo omdat hul solank weg was en goed teruggebring het wat hul beweer hul in die vreemde land gevind het, maar wat hul net sowel op hul terugreis op 'n plek nader aan die huis kon gekoop of gevat het.

    Natuurlik was daar mense wat hul nie geglo het nie, net soos daar vandag mense is wat glo dat die Amerikaners lieg dat hul op die maan geland het.

    So bevat die Bybel dan verhale van die mense wat saam met Jesus geleef en sy wonderwerke aanskou het.So glo ek dus dat hulle die waarheid praat dat Christus gebore is, geleef en gely het en opgestaan het uit die dode en sodoende die dood oorwin het.

    So glo ek ook dat dieselfde mense gesien het dat hy op onverklaarbare wyse opgevaar het na die plek waaruit hy vertrek het.Omdat Christus aan dieselfde mense dit geopenbaar het dat hy ten nouste betrokke was by die ontstaan van alles, glo ek dit sonder dat ek daar was.

    Dit het dus niks met die wetenskap te doen nie, omdat die wetenskap slegs die natuurlike, dws wat in die natuur is kan ontdek, bewys en toets en nie dit wat daar was, wat bestaan het ,wat voor die natuur daar was.
    Daaroor kan slegs diegene getuig wat  daar  was.

    Waar pas die wetenskap dan in vir ons as Christene? Die wetenskap is 'n hulpmiddel wat die mens in staat stel en behoort te stel om die planeet wat volgens die Genesis-verhaal aan die mens toevertrou is,namens die Skepper as sy verteenwoordiger, te onderhou en te bestuur tot  voordeel van alle lewende wesens wat die planeet bewoon.Die beoefening van die wetenskap kan dus nooit die einddoel wees nie en my lewe so oorheers dat ek my eintlike doel hier op aarde mis. As dit gebeur is 'n mens 'n slaaf van die wetenskap.

    As Christen is ek dus verantwoordelik vir dit  wat in my lewe en bestaan op aarde gebeur maar my aanspreeklikheid , dws verslagdoening strek verder as aan diegene wat in gesagsposisies aangestel is.Uiteindelik sal ek vir my doen en late in alle lewenssfere moet verslag doen aan my Skepper.

    Omdat alle mense van nature 'n neiging het om 'God en Sy gebod' te verwerp en die band tussen skepsel en Skepper te verbreek het Christus ingetree om die posisie te herstel en slegs deur Christus en niemand anders  kan ek die opdrag aan my toevertrou nakom en uitvoer.

    So bly geloof dus 'n vaste vertroue dat al God se beloftes vervat in die Bybel 'n werklikheid sal word.

    Nogtans veels geluk met jou graad en mag die behaling daarvan tot  voordeel van almal wat hul lewe met jou deel en die mensdom in sy geheel wees, slegs dan kan die lewe 'n plesier wees.

  • Beste FC 

     
    Dit sal jou dalk baat om my skrywes meer aandagtig te lees. Ek het na my kinders se kwalifikasies verwys deur die parallel te probeer trek tussen hoëvlakse wetenskaplike kennis en die gebrek aan blindelingse geloof. Daar is al verskeie wetenskaplike opnames gedoen waarin die oorgrote meerderheid van top wetenskaplikes hulleself as ateïste klassifiseer. Die nuutste data is dat minder as 10% (ek dinks dis 7%) Nobelpryswenners in fisika, hulself as gelowiges beskou. My kinders is in eie reg hoogsgekwalifiseerde wetenskaplikes en vind geen nodigheid om aan ’n god te glo nie – dis die punt wat ek probeer maak het. 
     
    Ewenwel, terug by die argument. Jy sê: “Die wetenskap is 'n hulpmiddel wat die mens in staat stel en behoort te stel om die planeet wat volgens die Genesis-verhaal aan die mens toevertrou is, namens die Skepper as sy verteenwoordiger, te onderhou en te bestuur tot voordeel van alle lewende wesens wat die planeet bewoon.” 
     
    Jy is baie welkom om bostaande in die privaatheid van jou binnekamer te glo en selfs privaat te beoefen – dis jou goeie reg. As jy die bybelse skeppingsverhaal wil glo kan ek niks daaraan doen nie behalwe om vir jou te sê dat oorweldigende wetenskaplike bevindinge daarop dui dat dit nie waar is nie. Jy maak asof die bybel een of ander dokument is wat gesag het – op grond waarvan maak jy daardie aanname? Dit wil eerder vir my voorkom asof jy ’n slaaf is van jou jou eie troetelgelofies. Hoekom is jou geloof die regte een en die Moslems s’n is die verkeerde een? Jou geloof is totaal onrealisties en berus gewoon op kinderlike geloof – jy kon geen greintjie bewyse aanvoer vir jou argumente nie. 
     
    FC, jou kennis van die wetenskap is klaarblyklik baie beperk wat ’n sinvolle gesprek onmoontlik maak. Glo wat jy wil glo maar moet nie probeer om dit wetenskaplik te verantwoord nie. Ek deel nie jou geloof nie omdat my kennis van die wetenskap my tot ander insigte gelei het. Dit het my kinderlike geloof wat ek eens op ’n tyd gehad het, as absurd en onkundig geopenbaar.. As dit jou gelukkig maak om te glo dat ek in die hel gaan brand omdat ek jou liewe Jesus sprokie verwerp, wees verseker dat dit my min skeel. Wat my egter pla is dat jy hierdie delusie aan jou kinders gaan oordra en hulle die geleentheid gaan ontneem om die wonder van die werklikheid te ervaar omdat jy dit vir hulle gaan bederf met bangmaakstories en verdigsels.   
     
    Groetnis 
    Thomas 
  • Beste Thomas

    Dankie vir jou antwoord. Dit moet tog duidelik wees dat  'n verhaal wat geskryf is tydens die Joodse ballingskap niks meer as 'n verhaal kan wees en nêrens maar nêrens  word daar gesê, dat dit die werklikheid is van dit wat duisende jare voordat die verhaal geskryf is gebeur het.Selfs die Jode onderskryf nie 'n 6 dag 24 uur skepping nie.

    Daar word dan al in die verhaal van mak diere gepraat. Daar was al mak honde 12000 jaar gelede.'n Kakebeen van mak gemaakte hond is in 'n grot  in Irak gevind. Skape en bokke, beeste en varke
    is tussen 9000 vC en 7000 vC  jaar  reeds mak gemaak.Trekdiere soos osse 4000 vC en katte 3000 vC.

    Enige skrywer tussen  586vC en 539 vC ken dus die verskil tussen mak en wilde diere en dit is dus niks vreemd as  hulle name gegee word.

    Dit moet dan vir enige leser duidelik wees dat die verhaal niks anders as 'n weerlegging van die baie Babiloniese skeppingsverhale waarin talle gode 'n rol speel.

    Laat ek dit weereens beklemtoon dat dit vir die skrywer hoegenaamd nie gegaan het oor hoe daar geskep is, dit was van sekondêre belang. Al wat hul wou beklemtoon dat daar 'n OORSAAK was waardeur alles tot stand gekom het.

    Die OORSAAK  noem  ons as Christene  GOD.

    Die wetenskap kan net in die natuurlike beoefen word en kan dus geen uitspraak maak op dit wat daar was voor die  begin ,waarna algemeen verwys word as die oerknalteorie.Ons is dus nie hier besig met die wetenskap nie. As Christene glo ons Jesus as Hy sê dat Hy voor die Oerknal bestaan het en dus inderdaad 'n Wese is buite die natuur waarvan ek en jy deel is.

    Jy is dan ook totaal verkeerd om te beweer dat mense in die 'hel' gaan brand  en as ek miskien 'n bietjie meer aandag in die wetenskapklas moes gegee het, moes jy dieselfde tydens Bybelonderrig gedoen het.

    Jesus maak dit deur gelykenis duidelik dat toe die ryk man besef dat hy vir ewig en altyd by verkeerde bestemming beland het, hy in wanhoop verval het en gehoop het dat hy in sy wanhoop 'n versoek rig aan die aartsvader Abraham en dan vra in Lukas 16 vers 30."Ag, vader Abraham, dit sal soveel beter wees as iemand wat reeds hier aan die ander kant van die dood leef, na hulle (sy broers) gaan en hulle waarsku.Dan sal hulle hul boeglam skrik en begin luister,sê die man toe.

    31.''' Nee, jy is verkeerd,' het Abraham vinnig geantwoord.'As hulle hulle nie aan God se Woord steur nie,sal niks hulle oortuig nie, nie eens iemand wat uit die hemel daar by hulle opdaag nie''''

    In die lig van die voorafgaande  is dit duidelik dat jy en die ryk man eintlik een en dieselfde is, een verblind deur aardse rykdom en jy deur die wetenskap. Omdat jy nou eintlik openlik sê dat Jesus 'n sprokie is en daarom indirek sê dat almal wat oor Hom getuig het  is liegbekke al het hulle ook die aakligste dood terwille van hul geloof gesterf  is 'n verdere gesprek dus nie  moontlik nie omdat  in enige debat daar tog 'n platvorm moet wees waar mense saamstem oor die basiese dinge waaroor die debat gaan.

    NS
    'n Honeursgraad  het my dogter nie gehelp toe 'n baie bekende IT-maatskappy besluit het om met die behulp van instansies wat daarin spesialiseer om op die goedkoopste manier ontslae te raak van personeel , van haar  (7 jaar diens) en haar kollega ontslae geraak het en  blykbaar met goedkoper arbeid vervang het.

    Dit nadat daar aan alle PIP (Performance improvement Plan) die een maand voldoen is en toe deur buitelandse verteenwoordigers van die maatskappy  in Duitsland,meegedeel is dat  hul  nou faal in die maand daarna.Glo my nie eers die Vakunie wat al in verskeie hofsake oor arbeidskwessies in die nuus was, kon iets uitrig.

    Die ergste vernedring was dat hul plaasvervangers reeds in diens geneem is  terwyl hul nog in diens was.

    Maar ondanks alles is haar geloof nog net so sterk.Nogtans dankie vir die geleentheid om 'n paar gedagtes met jou te kon wissel.

  • Beste FC 

     
    Ek moet jou dit ter ere nagee – jy is sekerlik die mees ordentlike Christen met wie ek nog hier op die Sê gesels het. Jou antwoorde is bedaard en jy glo wat jy glo. Ek stem nie met jou saam nie maar ek het die wêreld se respek vir jou aanslag en styl. Dis so anders as die vuurspuwende Kobus de Klerk wat almal wat nie met sy weergawe van die verhaal saamstem nie, tot in die verdoemenis heen uitdelg en  vervloek. 
     
    Ek dink ons stem oor baie dinge saam maar ons paaie skei wanneer jy verklaar: ”Die wetenskap kan net in die natuurlike beoefen word en kan dus geen uitspraak maak op dit wat daar was voor die  begin, waarna algemeen verwys word as die oerknalteorie. Ons is dus nie hier besig met die wetenskap nie. As Christene glo ons Jesus as Hy sê dat Hy voor die Oerknal bestaan het en dus inderdaad 'n Wese is buite die natuur waarvan ek en jy deel is.” 
     
    Jy glo aan een of ander god wat die oorsaak van die oerknal is terwyl ek sê dat ek nie weet wat voor die oerknal was nie. Soos ek reeds gesê het, is dit jou goeie reg om dit te glo maar ek deel ongelukkig nie jou geloof nie. Die wetenskap se soeke na, en die eventuele wetenskaplike beantwoording van daardie vrae gee my ongelooflike bevrediging en stel my tevrede terwyl jy daardie selfde bevrediging ervaar deur blindelings te glo. Dis vir my aanvaarbaar om op hierdie voet ons gesprek af te sluit. Soos Voltaire gesê het: Ek stem nie saam met wat jy sê nie maar ek sal jou reg om dit te sê met my lewe verdedig. 
     
    Ons kan gerus toekomstig oor dinge soos Afrikanersake of politiek gesels – dis nogal ’n ander belangstelling van my.   
     
    Groetnis
    Thomas
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top