Die stand van Afrikaans II

  • 11

Nou die dag, in Bloemfontein stap ek by ‘n bakkery in en ek vra die vrou agter die til of sy die eienares is. “Nee,” sê sy, “my man is.”  Op my vraag of hy Engels is sê sy dat hy Afrikaans is. “Nou hoekom is alles dan hier Engels?” vra ek haar.  Die vrou staar my verbysterd aan en, na ‘n paar oomblikke trek sy haar skouers op.  “Wel,” sê sy, “Engels is een van die amptelike tale van die land.”

Ook in Bloemfontein, by ‘n plek wat spesialiseer in souse, roep die verkoopsman ons in om te kom proe.  “Waar word die goed gemaak?” vra ek hom.  “In Stellenbosch” sê hy.  “Nou hoekom is al die etikette in Engels, en alles in julle winkel Engels?” vra ek.  Die ou is net so uit die veld geslaan as die bakkeryvrou maar sy antwoord maak meer sin:  “Nee dit sal ek nou nie weet nie.”  Die vrou by die til het ‘n ander verklaring: “Ons kan tog almal Engels praat.”

In Pretoria by ‘n vlooimark vra ek by ‘n stalletjie wat kos verkoop – na ek ‘n rukkie gesels het om seker te maak die ou is Afrikaanssprekend – hoekom hy sy ware in Engels adverteer.  Die ou het my net aangestaar.  Lyk my dis net bloot buite sy verwysingsraamwerk dat iets in Afrikaans geskryf kan word.  In elke winkeltjie in Pretoria, en Bloemfontein, is alles Engels; as jy Afrikaans iewers sien is dit by uitsondering. 

Van Kaapstad, PE, Oos-Londen en Johannesburg praat ek nie eers nie, daar was alles nog altyd Engels maar mens sou nou verwag dat waar oorwegend Afrikaanssprekendes woon, dinge Afrikaans sal wees, soos in die ou tyd maar nee, als is Engels.  Ek wonder hoe lyk dit in Stellenbosch en die Paarl, daar was Afrikaans kwansuis sy wortel het (of roots soos Koos Kombuis sou sê).

Nou die dag praat ‘n professor en/of doktor in die opvoedkunde of so iets en hy vertel hulle het programme wat hardloop op die Sowetokampus.  Dr Piet Croukamp het Vrydag of so weer een van sy ra-ra-ons-demokrasie-is-groots-praatjies (as gas op ‘n RSG-aktuliteitsprogram) en hy praat van skills, rough neighbourhood, fit in, abrasive, expertise en nog ‘n paar ander.  ‘n Dame, een van die aanbieders van een of ander geestegesondheidsprogram praat van iets wat verander het vir die beter

Op RSG (die ou Afrikaanse sender) is daar ook ‘n paar omroepers en –sters wat gedurig die sinsnede in terme van gebruik.  Een omroeper (Sondagoggend 05h00 tot 07h00 se stemmingsmusiek) praat gereeld van joekermin in plaas van Uckermann; dit is amper standaardpraktyk dat omroepers vreemde woorde (of woorde wat hulle vreemd voorkom) op die Engelse manier uitspreek.  Op ‘n ander program sê ‘n gas sy weet nie of sy die vraag reg antwoord nie en die omroeper sê vir haar “Toemaar, jy doen.”  Gereeld ook, op RSG en Mnet, praat aanbieders en omroepers van voertuie asof dié vroulik sou wees, soos in Engels die geval is.

Ek kry nou die dag ‘n uitnodiging na ‘n ramparty toe in Engels – die ou vir wie die partytjie gereël word is Afrikaans en almal op die adreslys is Afrikaans.  Op my vraag aan die sender oor hoekom hy aan ons in Engels skryf is sy antwoord dat hy gewoond is daaraan; by die werk is alles Engels.

Daar is op die oomblik ‘n hofsaak aan die gang waar (elektroniese) korrespondensie tussen ‘n ene meneer Pistorius en ene juffrou Steenkamp ter sprake is.  Die korrespondensie is in Engels.  As Kobus Wiese met Afrikaanssprekende kapteins na ‘n rugbywedstryd praat is dit Engels (bravo Frans Steyn van die Sharks, jy’t Afrikaans gepraat!).  Al hoe meer Afrikaanssprekendes maak hulle kinders Engels groot, veral in die bruin gemeenskap en die rede is dat Afrikaans se status ondermyn word (en, lyk dit my, hoofsaaklik deur Afrikaanssprekendes self).

Dit is duidelik dat Afrikaans al hoe swakker gepraat word op alle vlakke, Afrikaans het geen status meer nie.  Die sogenaamde kunstefeeste, kamtig ‘n aanduiding dat alles wat betref Afrikaans klopdisselboom gaan, word ook al hoe meer Engels, selfs Oppikoppi se T-hempies het Engelse slagspreuke op.   Die houthakkerstatus van Afrikaans word beklemtoon deur RSG deur Engelssprekende gaste te nooi op die enbelprogramme en lang stukke Engels word dan gepraat; soms praat die aanbieder/-ster ook Engels met die gas.  Die indruk word geskep dat Afrikaans tweederangs is.  RSG het heel waarskynlik opdrag om die Afrikaanssprekende te verengels want so naïef kan bestuur nie wees nie.

So, in die lig van die heksejag op Afrikaans, en die groot hoeveelheid Afrikaanssprekendes wat meedoen hieraan, en die oorweldigende getuienis dat Afrikaans selfs deur hooggeleerde Afrikaanssprekendes swak gepraat word, is dit duidelik dat Afrikaans aan die agteruitgaan is.  Die storie dat Afrikaans nooit sal verdwyn solank hy gepraat word nie is gewoon onsin want hy word, vir alle praktiese doeleindes, nie meer gepraat nie.

Jan Rap

  • 11

Kommentaar

  • Beste Jan Rap,

    Sê my asseblief wat is 'n "til" in Engels?
    Laat my dink aan my buurman se seuntjie. Die outjie moes 'n Engelse opstel skryf, en omdat Pa en Ma nog nie tuis was nie, kom vra hy toe maar vir my: "Oom Angus, wat is 'n kaartbordboks in Engels?"
     
    Groete,
    Angus
  • Jan

    Ek persoonlik voel jy's deels reg, maar ook deels verkeerd.

    Waar dit kom by advertesies en ekonomiese interaksies onderling in hierdie veeltalige land van ons, maak dit sin om 'n taal te gebruik wat almal verstaan, en wat ekonomies neutraal voorkom, veral mbt advertensies waar die doel daar is om aan 'n mark groter as net die Afrikaanssprekende te bemark. Onder sodanige omstandighede, om in beide Afrikaans en Engels, en selfs meer tale  te bemark, verg 'n non-winsgewende koste wat min bereid is om te wil betaal.

    Daar was 'n tyd toe Latyns die politieke en wetlike taal van die Romeinse ryk was, waar in teenstelling, Grieks die handelstaal was, veral in die hele middeooste en noord Afrika.

    Waar dit kom by Afrikaanse kultuursake, dws binne die raamwerk van Afrikaanssprekendes onderling, stem ek saam met jou, dan hoort Afrikaans uitsluitlik die aangewese taal te wees.  Helaas.  Dit gebeur wel nie, maar is ook nie te se, as gevolg daarvan, dat dit 'n aanduiding van agteruitgang is nie.  Statisties is dit bewys dat Afrikaanssprekende getalle sedert die laaste sensus gegroei het. 

    Afrikaans, soos enige lewende taal, is onderhewig aan aanpassings ten doel om aan die vereistes van die hede te voldoen.  Dat al hoe meer Engels deel van Afrikaans word, is g'n sonde nie.  Uitgediende woorde word vervang met ander, meerendeels Engelse woorde, wat vir die nuwe geslag meer aanvaarbaar is.  Bv. "Lied" word vervang met "Song".  In die konteks wat dit gebruik word, tensy die Engelsman Afrikaans verstaan, sal hy “song” nie as ‘n Engelse woord uitken nie.  

    Selfs Engels is ‘n mengelmoes van Kelties, Anglo Saksies, Norweegs, Grieks, Latyns, en veral Frans.  In die konteks wat hulle hierdie woorde gebruik, tensy Engels verstaan word, sal nie enige van genoemde tale herken dat sodanige woorde van die betrokke taal afkomstig is nie.  Ten spyte van hierdie mengelmoes, staan Engels apart as erkend taal, wat met vele respek bejeen word.

     Dieselfde geld vir Afrikaans.   Afrikaners en Afrikaanses  is polities nie meer ‘n entiteit nie, maar kultureel staan ons die sterkste onder al die volke wat deels van hierdie nasie uitmaak.

  • Ou Janneman,

     

    Solank 'n Afrikaanse taalbul soos jy 'n kasregister 'n "til" noem, en van 'n aktualiteitsprogram as "aktuliteitsprogram" praat, is die ou taaltjie definitief op die wenpad! En jy praat van die taal wat "agteruitgaan"! Jy's gewoon slordig met jou moedertaal en dan preek jy vir die res van ons? Sies man.

     

    En jy, die groot segsman, wat tot vervelens toe konstateer dat die Afrikaner nog NOOIT swart of bruin Suid-Afrikaners te nagekom het nie, jy van alle mense, bekla jou lot oor bruinmense hulle kinders in Engels grootmaak? Raai 'n bietjie hoekom hulle niks met Afrikaans te doen wil hê nie. Het jy ENIGE idee??

     

    So terloops, ene mnr Pistorius en me Steenkamp het met mekaar Engels gepraat, want hulle is Engelssprekend. Lees jy nie koerant nie? Kyk jy nie televisie nie?

     

    Nog 'n ding: Aanvaar vir eens en altyd dat jy en ander eendersdenkendes se monopolie op julle "weergawe" van sg "suiwer Afrikaans" of standaardafrikaans vir altyd verby is. Hou op teem oor die verlede.  "...Afrikaans het geen status meer nie..." Watter nonsens!

     

    Ek het voorheen al vir jou gesê jy moet ophou draaie loop. Jou probleem met RSG en sy omroepers het NIKS met hul Afrikaans te doen nie. Jou eintlike probleem is dat RSG nie meer uitsluitlik op 'n "wit" gehoor gemik is nie. Sê so man, moenie jakkalsdraaie gooi nie!

     

    Terloops Jan, om te sê Oppikoppi is 'n kunstefees, is soos om te beweer die Beatles het boeremusiek gespeel. Daai jong Afrikaners by Oppikoppi sal hulle doodlag vir jou manewales.

  • CorneliusHenn

    Die "liberale" Dirk Rigter basuin sy arrogante minagting vir ander se waardes nogmaals hierbo ... opmerklik hoe vandag se se nuwe/neo gebreinspoelde "useful idiot" soort "liberales" hulself as oorlogshonde geld ... Dirk Rigter is juis so iemand ... ter wille van sin aan die woord "liberaal", haal ek die volgende aan uit my woordeboek: breedgesind, =e. Liberaal, (b), ..rale; ..raler, =ste. 1. Vrygewend, milddadig. 2. Met 'n ruim opvatting, onbekrompe. 3. Onbevooroordeeld. 4. Nie streng van opvatting insake godsdiens nie. 5. Vrysinnig, verlig, ruimhartig ... ek is gewis nie 'n taalpuris nie ... inteendeel, nes Godsdiens, ag ek elke mens op aarde se taal nes dit is ... my stryd is teen misantrope soos die Dirk Rigters', Kobus de Klerks'en hul hele anderhaat aanhang waar hulle ander se harte onder die een of ander dekmantel minag ... Hindoe-, Moslem-, Joodse, Boeddhistiese, katolieke Boeregroete en Afrikaliefde ... Cornelius Henn (en o ja, Google gerus die Ingelse woord "useful idiot" om Dirk Rigter beter te verstaan - daar bestaan wel suiwer Afrikaanse woorde daarvoor, maar die suiwerheid daaraan is veels te kras vir die Dirk Rigters' op die werf)

  • Hello, 

     
    In teenstelling met Cornelius dink ek Dirk het hom goed van sy taak gekwyt. 
     
    Jan Rap het homself aangestel as heer en meester van Afrikaans hier en spandeer die hele dag om na RSG te luister om die sogenaamde oortredeninge van RSG te boek te stel en dan wyd en syd te gaan bekla, gewoonlik hier op LITNET, as een van drie standaard klagtes. Apartheid is gedoen en het John dit uitgelig, nou is dit Afrikaans, hou dop volgende week vir 'n brief oor die verval van Suid-Afrika. Herhaal dan na willekeur.  
     
    Wanneer 'n persoon hom uithou as 'n "meester" dan kan daardie persoon bevraagteken word oor sy meesterskap, simpel soos die fout met "til" was, wat maar bevestig hoe moeilik dit is om 'n puris te wees en om jou self aan te stel as bewaker van Afrikaans. 
     
    In teenstelling met hom het ek geen probleem as RSG 'n gas het wat kommentaar lewer in Engels nie, hoe belaglik sou 'n beleid nie gewees het nie wat gaste verbied weens taal. Sekerlik 'n gegewe van iemand wat mildelik uit Engels aanhaal, maar om te praat van 'n heksejag is gewoon histeries. 
     
    Suid-Afrika gaan gewoon die roete van waar Engels die voertaal van handel en nywerheid word (Soos bespreek deur Jaco ook) en die brug tussen mense van verskillende tale. 
     
    Niks om oor melodramaties te wees nie.
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Kernnels de Haan,

     

    Het jy alweer van jou stellasie afgeklim? "Useful Idiot" sal hulsewers eersdaags uit die woordeboek verwyder, want jy't die arme twee woorde al tot vervelens gebruik. Hulle is al skaam vir hul assosiasie met de Haan.

     

    Oorlogshonde?? Eendag gaan ek nog vir jou iets skryf oor die plaaslike dorpsidioot. Herinner my tog binnekort.

  • CorneliusHenn

    Daar is gewis min woorde so gepas soos "useful idiot" op Hermann Giliomee se gebreinspoelde student - die werf se Kruiperkaner Dirk Rigter!

  • Jannie

     
    Paragraaf 7 van jou brief.  Afsender [en nie sender nie]  is die woord wat jy soek.
     
    Enjee
  • Dirk en Jaco

    Ek het julle al geantwoord in 'n aparte brief (16 April) maar net nog 'n opmerking oor Dirk se Kommentaar. Dirk, jy sê "Aanvaar vir eens en altyd dat jy en ander eendersdenkendes se monopolie op julle "weergawe" van sg "suiwer Afrikaans" of standaardafrikaans vir altyd verby is."
    Hoekom is dit verby?  Is dit verby soos veilige buurte, parke en strate, verby soos dorpsrade wat skoon oudits kry, verby soos polisie wat vertrou kan word, verby soos paaie sonder slaggate, verby soos die tyd wat klippe na karre gegooi word en paaie met brandende bande versper word?
    En jy reken dit moet "aanvaar" word?  Dit is van al die "aanvaar" dat dinge, insluitende Afrikaans onder sekere mense, so agteruitgaan.  Ouens soos jy, selfopgelegde tonnelkykers, is seker maar verplig om te "aanvaar" want julle het ywerig meegehelp om hierdie mislukte staat te bewerkstellig.
    "Aanvaar" is maar net 'n eufemisme vir "kop-in-die-sand".

    Wouter

    Omdat jy, soos jy sê, net die eerste reel (rekenaar wil nie die kolletjies maak nie) of so van my briewe lees het jy alweer die kat aan die gat beet.  Ek het al verskeie male gesê ek is nie 'n "taalbul" nie.  Jy hoef nie 'n plantkundige te wees om bekommerd te wees oor Mosambiek van bome gestroop word nie, jy hoef nie 'n omgewingskundige te wees om bekommerd te wees oor lugbesoedeling nie en jy hoef nie 'n dokter te wees om agter te kom jou kind het griep nie.  Genoeg? Laat ek dit maar in jou meesters se taal sê: You catch my drift?
    Laat ek dit maar weer vir jou sê:  Ek kla oor die verdringing van Afrikaans deur Engels.

    Enjee
    Dankie vir die uitwys van daardie fout; ek wou sê hoekom draai daai liedjie van Elvis so in my kop.

    Jan Rap

  • Wouter, nog 'n ding: Jy reken " ... hoe belaglik sou 'n beleid nie gewees het nie wat gaste verbied weens taal."
    Bel bietjie in op een van die Engelse stasies en begin Afrikaans praat dan kyk jy wat gebeur.  Om die waarheid te sê, daar is van daardie stasies waarvan dit geskrewe beleid is dat Afrikaanse musiek NIE gespeel MAG word nie.  Jeremy Mansfield het eenkeer bewerkstellig dat die baas uit die gebou gelok word sodat hy 'n Afrikaanse liedjie kon speel.  En was 'n sekere klomp Afrikaners toe nie tog te bly daaroor nie!  Dink net, 'n Engelse stasie het 'n Afrikaanse liedjie gespeel!  Natuurlik is diesulkes van julle 'aanvaar'-spul gewees, te bly oor die krummels wat van die tafel afval.
    In teenstelling daarmee speel RSG 'n groot persentasie Engelse musiek, daar is selfs 'n program met die naam 'Chill' wat SLEGS Engelse musiek speel.  Is ons Afrikaners tog nie 'n tegemoetkomende lot nie?  En dan word ons beskuldig dat ons 'n skamele 20 jaar gelede die wreedste onderdrukkers was.
    Jan Rap

  • Hello, 

     
    Ongelukkig het ek hierdie nou eers gesien. 
     
    Ek luister nie na plaaslike stasies nie, behalwe vir 'n paar "podcasts"  van RSG waarop ek ingeskryf is en het al jare terug opgegee met SAFM na 'n klagte van my kant af dat ek beter programme soek en hulle reageer dat hulle voorsiening moet maak vir almal. 
     
    Daarom het ek heeltemal die BBC Radio 4 en Radio 3 roete gegaan asook 'n paar ander internasionale stasies en die podcasts wat hulle vrystel. Ek kan dus glad nie saam praat oor wat aangaan op die stasies hier nie en het ek minimale belang oor waarmee die stasies hulle besig hou. Hoekom jou beperk tot die stasies hier as daar internasionale kwaliteit is waarna geluister kan word en vir musiek stel ek my eie lyste op. 
     
    Wat die verdringing betref, bly ek aanvoer dat hierdie is nie vreemd nie, veral na ek jou na die skakel van die Financial Times verwys het, wat bevestig dat op globale skaal is Engels die voertaal in handel en nywerheid en die taal wat as brug dien tussen mense van verskillende tale. 
     
    Hoe kan jy verwag dat dit hier anders gaan wees?
     
    Hoe sou die samelewing dan volgens jou daarna uitsien? 
     
    Elke persoon word in elke geval in die taal van sy keuse gehelp, een klerk wat elf tale praat of 11 klerke wat elk een taal praat en die vullis verwyderaar wat in 11 tale aandui dat hulle vullis verwyder? 
     
    Engels is die beste middelweg en verwag ek glad nie dat Afrikaans koning moet kraai nie, tien ander tale is in presies dieselfde boot, waarin alle klein tale is.
     
    So lank ek met my vriende en familie kan Afrikaans praat soos die oorgrote meerderheid van die bevolking in hulle eie tale doen, dan is ek tevrede, dan ontmoet ons mekaar in Engels. 
     
    Wat tog vir my opmerklik is, en dit is net 'n staaltjie, male sonder tal word ek in Engels bedien sonder dat dit my omkrap soos dit jou doen, maar dan eindig baie van die persone met 'n dankie... 'n stukkie Afrikaans wat ek as 'n aangename gebaar sien. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top