Die SABC en Suid-Afrika 2015

  • 0

Die SABC het Vrydag om 8.00 gedurende sy nuusuitsending gemeld: “Studente aan die Universiteit van Kaapstad sal vandag 'n optog hou om die verwydering van die standbeeld van die Britse avonturier, Cecil John Rhodes, van die kampus af te eis. Die Studenteraad voer aan dat dit 'n simbool van kolonialisme is.”

Afgesien van die onvermoë om die gedagtes in die eerste sin duidelik in gewone Afrikaans oor te dra het ek ernstige beswaar teen die beskrywing van Rhodes as 'n “avonturier”. Hy mag dit ook gewees het, maar in terme van sy geskiedenis kan hy oa as die destydse eerste minister van die Kaapkolonie beskryf word.

Wat hier gebeur is dat 'n populistiese etiket by iemand se naam geplak word. Is die opstellers van die nuus nie veronderstel om meer objektief met dinge om te gaan nie? As dit eers met een persoon gebeur kan die gevolge onuitstaanbaar word. Ek probeer nie om vir Rhodes te skerm nie – eerder die gehalte van ons nuusuitsendings. Hy was een van die grootste vyande wat die Afrikaner ooit gehad het en is medeverantwoordelik vir die dood van duisende Afrikaners.

'n Gevaarlike populisme is besig om kop uit te steek as 'n mens kyk na die bohaai op die Universiteit van Kaapstad se kampus en die rektor is skynbaar geneig om sommer toe te gee. Die NP-regering wat deur almal verdoem word het vir jare saamgeleef met groot skilderye van Britse adel in die parlement en ook koningin Victoria met 'n spanspekkie in haar hand, buite die parlement. Oral is name van Rhodes, Milner en ander Afrikanervyande geduld as voorbeelde van verdraagsaamheid. Om nou alles wat aan die koloniale verlede herinner (amper gewelddadig) te wil verwyder is dwaasheid. Dis goed om die spore van die geskiedenis om jou te sien, al sou dit selfs vyande insluit.

Dis ironies as die nageslag van mense wat die grootste anti-koloniale oorlog in die geskiedenis gevoer het die onverantwoordelike jeug 'n les in verdraagsaamheid moet probeer leer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top