Die Israeliete se God

  • 1

In die Bybel (Ou Testament) is daar baie mites, maar seker ook waarhede. Waar die Israeliete oor hul eie aktiwiteite skryf, moet mens seker aanvaar dit is meesal naby die waarheid, want hulle het dit immers self geskryf. Soos byvoorbeeld die talle nasies (of stamme) wat hulle verslaan het en almal vermoor het, soos in die geval van die Medianiete, waar hulle slegs die jong vroulike maagde laat leef het. (Numeri 31).

Volgens hulle self was hulle die sogenaamde "Uitverkore Volk" en het hulle al hierdie misdade teen die mensdom met die hulp van hul god gepleeg. Daar is ook ander wandade wat, volgens hulle, deur hulle god georkestreer of self uitgevoer is, soos die vernietiging van Sodom en Gomorra.

Toe die Israeliete kla oor hul verblyf in die woestyn, sonder water en kos wat hulle walg, stuur die god giftige slange tussen hulle in wat baie mense gedood het. Na Moses se gebed oor die saak het hy, in opdrag van die god, 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit, en almal wat daarna gebyt is en na die koperslang gekyk het, is genees.(Numeri 21).

By meer as een geleentheid het die Israelitiese Volk hoerery en afgodery bedryf. (Sien bv Numeri 25).

Dus, volgens hul eie vertellings, is dit duidelik dat hulle maar 'n taamlik barbaarse en wrede nasie was. Net so was hulle siening van hulle god, wat glo aan al hierdie dinge meegedoen of dit geïnisieer het, maar dieselfde as die van die volke wat sogenaamde afgode aanbid het. Wat ek bedoel is dat hulle 'n primitiewe, barbaarse siening van 'n god gehad het. So ver verskillend van wat mens in ander dele van die Bybel lees, soos die uitsprake van Jesus in die Nuwe Testament. Gee my dan liewer so 'n liewe, vriendelike God, soos Jesus.

Varkspek

  • 1

Kommentaar

  • Varkspek,

     Die Here God kon vir Hom 'n volk uitgekies het tussen die tientalle wat reeds bestaan het. Omdat hulle so sleg en sondig was, het Hy besluit om liewers vir Hom een te skep. Dit het begin met openbaring aan Abram, "Ek sal jou die vader maak van 'n groot nasie, Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees en vir 'n ander tot seën sal wees.Ek sal dié seën wat jou seën en dié wat jou vervloek, sal ek vervloek (Gen.13). Abram het na sy aankoms in die land Kanaän, Abraham geword. Die Here sou Sy volk wat uit Abraham ontstaan het seën en sodoende sal die volke rondom Sy volk sien hoe goed dit gaan en dan ook God aanneem as hul God, Hom aanbid, Hom prys en verheerlik. 

     Dit was die plan, maar in plaas dat die ander volke by Sy volk leer, vind die teenoorgestelde plaas. Hulle begin om die volke rondom hulle se negatiewe gewoontes en afgod-aanbiddery aan te leer. Dit lei tot Sarai en Hagar se uitval en die geboorte van Ismael. Die engel van die Here sê toe vir Hagar  "Ek sal vir jou 'n groot nageslag gee wat nie getel kan word nie".  En Ismael... ?  "hierdie seun van jou sal 'n wilde mens wees, soos 'n wilde donkie. Hy sal in konflik lewe met sy broers."  (Gen 16)

     Die "slagtings" van en in die volke rondom die Here se volk was om die sonde en afgodery te vernietig, sodat Sy volk nie daaraan blootgestel kan word nie. Maar natuurlik, Sy volk wou nie luister nie.

     Na Noag was die meesterplan soos jy self sê " Gee my dan liewer so 'n vriendelike God soos Jesus."

    Sy opoffering staan vas, en omdat die mens 'n vrye wil het, kan hy met die opoffering maak wat hy wil.

     Groetnis,

     Raed-na-Gael.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top