Die brief aan die familie

  • 2

As Johnny sy geld kry by die oom wat hy versorg, gaan hy op pad terug gewoonlik by 'n liefdadigheidswinkel aan om te sien wat hy daar kan koop. Dikwels is dit boeke en soms 'n goeie kledingstuk. Nuwe klere kan hy nie bekostig nie. Maar hierdie tyd van die maand is die oom se geld al op en kry hy niks, die werk doen hy dan self vir liefdadigheid, of hy kry darem so R20 betaling vir busgeld, soos vandag (Woensdag), wat hy toe gebruik om 'n video van Cliff en die Shadows te koop vir R10. (Die oom het juis gister sukkel-sukkel oor die straat geloop na die restourant oorkant en daar iets geëet op 'n IOU. Hulle ken hom al lank en laat dit toe.)

Maar Woensdag is ook Johnny se drinkdag, soos ook Maandag en Saterdag. Deesdae probeer hy dit beperk tot 'n kwartbottel Wodka of Jenewer en die nood was al hoog, want Maandag het hy ook nie geld gehad vir drank nie. En hy is altyd bitter suinig met sy drank, as ek hom vra of ek ook 'n sopie kan kry, is dit so goed of jy 'n slang is wat hom wil pik.

Maar nou ja, die nood is hoog en ons kon tussen ons darem R60 bymekaarskraap om 'n halfbottel Wodka te koop. Toe gaan ons 'n ooreenkoms aan: ek kan drie doppe uit die bottel kry, die res is syne. Ek koop toe vir my 'n liter Coke, van die soort sonder suiker, om darem respekte te toon vir my Tipe 2 diabetes. Johnny drink syne sommer met water, ek gooi my drankies dood met die Coke.

Ons skakel die TV en videomasjien aan, sit die DVD met die subtitel "The Final Reunion" in en plak ons neer op die gemakstoele, drankies in die hand. Die ooms is al gevorderd in jare en grys, natuurlik behalwe vir diegene wat hul hare kleur. Soos Eugene Marais sê in Skoppensboer: "...alreeds begin die rimpel sny". Eintlik is hulle al verby die beginstadium. Maar hulle slaan die dromme en pluk die ghitare soos wafferse jongklomp! Hulle sing en speel 'n klomp goed, heelwat van die gunstelinge van ons jongdae. Die Shadows het ook hul treffers van daardie jare gespeel. Ek was skoon bewoë van genot.

Ek het dit baie geniet. Johnny het natuurlik later begin onkapabel raak en ek was bang ek sou moes sukkel om hom in bedwang te hou, maar gelukkig was hy redelik stil en ek is nie juis gesteur deur hom nie.

Dit was sowaar 'n winskopie.

Lettie, jy sal dit seker ook geniet, laat weet of jy die video wil leen, dan kan ons dit by julle aflaai as ons weer daar verby ry.

Groete,

Varkspek

  • 2

Kommentaar

  • Webvoet,

    Ek het geskryf van Johnny wat begin "onpesabel" raak en jy het dit verander na "onkapabel."

    Ek moes eintlik getik het "onpassabel", bedoelende die derde betekenis van die woord in my HAT. Ek weet nie of dit nog in die nuwer uitgawes van HAT verskyn nie.

    Die betekenis wat daar aangegee word is "onhanteerbaar; buite weste": met verwysing na mense wat bv
    "...hunningbier gesuip het..." (Boerneef).

    Ek verbeel my ek het iewers gelees dat dit ook deur die Britse leer gebruik is in vorige eeue as 'n soldaat bv te dronk was om op parade te verskyn. Dan het die sersant aan die offisier rapporteer dat hy nie inspeksie sal "pass" nie.

    Groete,

    Varkspek

    ----

    Hallo Varkspek

    Ek vra om verskoning, maar met jou oorspronklike spelling kon ek dit nie opspoor nie. Onpassabel het ek nou wel gekry. Dankie hiervoor; ek het 'n nuwe woord bygekry. So leert man.

    Groetnis

    Webvoet

  • Eish hoe verlang ek nou na een van my "broeders". Hy is so twee jaar gelede ontydig oorlede. Hy was al reeds sewentig somers sterk maar so hard soos 'n klip en lewenslustig soos 'n bronstige bokrammetjie. Ek sal nooit vergeet ons was een aand by hulle en het van die Russiese renostersop gevat. Op 'n stadium beur hy huis se kant toe, want ons sit toe buite in sy kuierplek. Ek seg toe vir my vrou, hou dop want hier kom 'n ding. Hy mik huis se kant toe om die trappe te bestyg. Langs die trappe is daar struike en jongerige boompies geplant. Met die lastige systappie wat hy het, mis hy die trappe en neuk toe in een van die struike in. Die struik skud en toe verdwyn hy, net om daarna op te spring en homself ongeerg af te skud. Dit was maar een van vele misstappe. Ons het hom naderhand gespot dat hy vallendes raak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top