Dagga

  • 0

Ek lees Jan se skrywe en ek moet stilweg sit en glimlag. Want nie ver hier van my af nie is 'n baie bekende dude wat salig besig is om sy ding te doen dikwels ten koste van die regime (en die belastingbetalers, logies) se kostes.

Want ou Piet is vir jare reeds bekend dat hy 'n blommekind is. Liederlike kapsel wat heel waarskynlik net deur sy liewe vroutjie met haar ewe liederlike kapsel waardeer word. Nie dat daar snywerk aan Piet se kapsel nodig is nie, want Piet is kaalkop en sy hare is net van sy ore af en van sy ore af kweek hy hare dat die biesies bewe. Jy sit dus met 'n man, kort bokant vier voet met 'n kapsel wat krul en wat sorgvuldig versorg word. Maar dis Piet se kapsel.

Wat ek weet van Piet (en die enigste rede waarom ek hom Piet noem is omdat ek nie wil hê die Boere moet hom ooit vastrek nie) is dat hy die heel beste Swazi in die hele wye wêreld kweek, sorgvuldig versorg en lewer teen 'n fraksie van die prys waarteen enige Nigeriese of Zim onwettige kan lewer. Want Piet kweek nie die goed vir geldelike gewin nie al is die paar sente welkom. Logies.

Piet, moes, om voor die hand redes, met die lang arm van die gereg te doene kry eendag. Almal wat kontakte had het probeer keer en ek kan jou verseker dat daar 'n hele spul advokate en prokureurs en selfs aanklaers was wat die dag probeer keer het dat Piet se plaas geraid word. Selfs oproepe is gemaak na groot manne in die polisie maar die woord het omgegaan dat Piet se plaas geraid gaan word. Die dametjie met die mooi aksent innie polisie het beduie dat Piet liewers moet weg wees want haar manne is op pad en hulle kom met groot gewere en Piet is 'n klein mannetjie en sy vroutjie is 'n blommekind, reg vanuit Woodstock se era want sy dra nog die klere van daai konsert. En sy is cool en Piet is cool.

En toe daag die Boere op in volle mag met groot Choppers en gewere en baie sterkte en Piet beduie hulle na sy landerye en hulle ondersoek en later, toe die ondersoek afgehandel is en die manne gesien het hulle is nie besig met 'n groot sindikaat van Nigeriese omvang nie toe steek hulle die lappie dagga kort annerkant die huis aan die brand en die hele spul is vir 'n paar ure lekker hoog. Want Piet kweek nie jou deursnee dagga nie. Nie hy nie want hy kom van ver af en sy vroutjie met die snaakse blommekind haarstyl het Woodstock self beleef en Piet beduie hoe hoog hy self was toe Jimmy Hendrix daai snare gevat het, maar dis 'n storie vir 'n anner dag, is dit nie?

Ek vra vir Piet die Saterdag doer by die mark oor die hofsaak want ons het mos almal met die Brigadier wat self een van Piet se klante was gepraat en Piet beduie, nee, hulle het die dagga by die huis gebrand volgens Amptelik/Official-voorskrifte. Die hele land met die paar verlepte mielies moer toe. Die hele plek het na pot geruik vir die hele week.

Maar sien, Piet issie vandag se kind nie. Piet het daardie lappie dagga en mielies geplant juis sodat die Boere die goed moes kry en afbrand en as jy dagga brand gaan jy huis toe dit weet ek self. Die beste van die aanplantings het hy onner in die vallei geplant, so hy kan nog voorsien want na die Boere die goed afgebrand het is hulle daar weg en hy het 'n paar van hulle selfs later innie kroeg raak gedrink. Alte trots op hul fonds.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top