Daar is geen manier ...

  • 7

... dat ek, dit waarin ek glo, sal versaak nie.

Gedurende die afgelope jaar het ek by meer as een geleentheid 'n 'preek' moes aanhoor waarin daar kommer uitgespreek word omdat die Kerk al hoe meer verdag gemaak en aangeval word.

Dit lyk my kritiek teen die Kerk het 'n mode geword.

'n Mens kry die gevoel dat die Kerk, en daar is seker honderde anderstalige christelike denominasies, maar die Afrikaanse kerke in besonder, geen geloofwaardigheid meer het nie, selfs vanuit eie geledere.

Daar is Sondae by ons honderde kerkgangers, maar hulle is hoofsaaklik van die gryskop-soort. Die tendens, egter, is dat kinders in ons kategese byvoorbeeld, jaar vir jaar minder raak. Oënskynlik dwaal hulle nie af nie, maar verkies hulle die anderstalige denominasies.

'n Rede soos ek al gehoor het, is omdat dit daar 'lekkerder' daaraantoe is en hulle nie na preke vir oumense hoef te luister nie. Dat ons Sondae twee dienste tegelyk in ons kerk, 'n formele een vir die gryskoppe (met volle liturgie) en die ander "informeel" met tienermusiekgroep vir die jonger klomp het, is skynbaar nie voldoende nie.

Dit blyk egter uit gesprekke en navraag dat die wegbrekers ook nie eintlik so vreeslik getrou met die bywoning van die ander denominasies is nie en wil dit dus voorkom asof dit 'n soort van slenter is om iemand, sê maar ouers, om die bos te lei.

Lyk my dis eerder 'n teken van die tyd. Ons lees immers in Luk 18: 8b, " Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind ?" Dit is 'n verskriklike gedagte dat daar geen gelowiges sou kon wees nie.

Hierdie wêreld lyk al van die vroegste tye af plek-plek soos hy nou daaruit sien. Woes en donker weens moord, doodslag, oorlog, verkragting, mishandeling, kinder molestering, bedrog, diefstal, hongersnood ens., ens.

Christus het juis gekom om vir ons in hierdie einste donkerte die weg te baan. Dis soos om in die nag, wanneer jou elektrisiteit "ge-trip het", met 'n kers in die donker jou weg te sien.

Om hierdie wêreld voor te stel waar daar geen Christus teenwoordig is nie, is ondenkbaar. Dis Hy wat in hierdie donker tye die Lig is, wat die hoop bring. Sonder Hom kan daar geen hoop wees nie, of lig nie. Die donkerste donker kan nie 'n enkele brandende kers uitdoof nie.

'n Mens verwonder jou aan groot denkers soos D'Espagnet, Martin Rees en vele ander, hulle wat nie eintlik gelowiges is nie, wie se vertwyfeling dit is dat daar geen misterie in die mens se bestaan kan wees nie, en dat hierdie bestaan maar net aan ysere evolusie toeskryf kan word.

Verder is ek daarvan oortuig dat baie van die wat die Kerk kritiseer nie meer glo nie, al sê hulle dit nie. En as jy dan nie glo, kan die kerk jou niks bied nie. Maar vir my gaan dit nie oor die kerk nie. Dit gaan oor God en sy boodskap deur Jesus Christus en ons redding deur Hom. God het alle mense lief en nie net sekeres nie. Hy wil dat almal op die aarde gered word. Hy het egter die besluit om deur Hom beskerm te word of nie, aan die mens self oorgelaat. 'n Vrye keuse.

Iemand het iewers gesê dat die kerk nie 'n geestelike supermark of vermaaklikheidsplek is om jou plesier te verskaf of aan jou behoeftes te voorsien nie. Dis nie daar vir jou kultuur, grille en giere nie.

Wat kan jy dan verwag van 'n kerk vol mense met foute? Volmaaktheid, seer seker nie, nou hoe kan 'n kerk vol foute jou dan ontnugter?

Daar gebeur baie goeie dinge in die kerk. Ek sien baie keer hoe mense die liefde van God waaroor daar gepreek word, uitleef teenoor mense wat dit nodig het. Hoe nood en armoede verlig word. Hoe daar aan verslaafdes en na mense wat hul werk verloor het, uitgereik word. Na vroue wat verniel word, na kinders wat koers in die lewe soek.

Ek sal bly in die gemeenskap van die gelowiges en aan die voete van Christus bly sit. Verder glo ek dit nie net nie, maar weet dat "wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie- dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet" (1 Kor 2:9 ), en nie net soos een smalend hier gesê het "om vir ewig lofliedere aan 'n god te sing nie".

Groetnis,

Raed-na-Gael

  • 7

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Raed-na-Gael,

     

    Dankie vir jou mooi brief. Daar sal altyd 'n plek wees vir godsdiens omdat die gebrek daaraan deur niks dergliks gevul kan word nie, en dit antwoord 'n diep atavistiese instink in homo sapiens met  oorsprong in die vroegste tyd van menslike evolusie.

     

    Die toekoms van die Kerk hang saam met die nut daarvan as 'n integrale deel van die gemeenskap, en sy vermoë om kritiek te verduur en te vernuwe. Daar sal altyd 'n plek vir die Kerk wees wat die gemeenskap dien, die weerloses versorg, en sy deure oopmaak vir alle mense sonder uitsondering.

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • CorneliusHenn

    Beste Raed-na-Gael,  

     

    Jou inleiding lees as volg: "Gedurende die afgelope jaar het ek by meer as een geleentheid 'n 'preek' moes aanhoor waarin daar kommer uitgespreek word omdat die Kerk al hoe meer verdag gemaak en aangeval word."  

     

    Ek veronderstel ook uit jou bydrae dat jy deel van 'n genootskap is wat uit die Nederlandse Geloofsbelydenis bely.  

     

    Aangesien jy die woord Kerk met 'n hoofletter spel (sonder verwysing na 'n besondere denominaise daarin), ek meen dat jy na artikel 27 in die Geloofsbelydenis verwys.  

     

    Indien ek reg in my aanname hierbo is, sal ek dit nederig respekteer indien jy ook jou belydenis - en ter wille van die Evangelie - aangaande die algemene of katolieke (met 'n klein k) Kerk met ons deel.  

    Dis reeds jare wat ek as kamstig die enigste deel aan die heilige algemene of katolieke Kerk verdag gemaak en aangeval word - selfs deur ware gelowiges soos Kobus de Klerk, Dolf van Loggerenberg en Trienie Mahne.  

    Ek het wel ook my kritiek teen die Calviniste (nes ook teen die Roomses en Anglikane), en het myself reeds menigmaal in die openbaar gewend daaromtrent. Ek doen dit aangesien veral die organisasies van die Sustersgemeenskap (as wêreldse organisies), openlik die mag van die dag se politiek steun  - en dit ten koste van soveel lidmate daarin en selfs na jare - steeds geen saak met die protes binne die raamwerk daarvan het nie.  

     

    Al distansieer ek myself ook van hierdie organisasies in terme van hul ideologiese rol op aarde, ek steeds nederig teenoor elke hart daarin en as deel  van die katolieke Kerk buig.  

     

    Ek laat ook my dogtertjie daarin katkiseer. Ek en my vrou gebruik ook gereeld Nagmaal in 'n wedersydse verdraagsaamheid saam met ons Protestante broers en susters - (ek wonder?) al sou dit ook ten koste die deel van hul wêreldse organisasie wees ...

     

    Katolieke (met 'n klein k) groete,  

     

    Cornelius Henn

  • Raed

    Jy bekommer jou verniet.  Die mens is wispelturig van geaardheid.  Afgesien van ateiste wat weet daar is geen god nie, sal diegene wat lou godsdienstig is, en tog in 'n god glo, sal baie vinnig hulle god vanuit die kas uithaal en afstof wanneer dit nie meer so goed met hulle gaan nie, en terselfder tyd 'n sondebok soek.  Kyk hoe gaan dit in Rusland!  'n Skielike oplewing in godsdiens, en die homo's hulle sondebok.

    Dit gaan tans te goed met die Afrikaner in die breër, nieteenstaande Jan Rap klaagliedere tot die teendeel nie.   Die dat die Afrikaner tans nie 'n behoefte aan 'n god het nie.  Wat sê jy?

    Jaco Fourie

  • Iemand het die volgende vir my gestuur. Dit is ongelukkig nou in Ingels. " if you don't know or don't want to accept Jesus Christ as your saviour, then make sure you don't die". Die lewe is keuses. Dit was een van my slimste keuses wat ek gemaak het en waarby ek hou.

    Mens moet hom nie te slim hou nie.
  • Ek het die volgende storie gehoor van mense wat nie die binnekant van 'n kerk te dikwels gesien het nie. Op 'n dag besluit hulle dis tyd om kerk toe te gaan en sleep toe hul seuntjie van so drie/vier jaar saam. Dit was toevallig nagmaal. Toe die wyn met kelkies rondgaan sien die lat dit toe. Ewe skielik skree hy, " jis pa, hulle het selfs "shooters" hier."

    So 'n ruk terug seg een van die vrouens van ons gemeente vir my nadat ek aan haar noem die kerk is die betrokke dag bietjie "voller". Ja jong soos in alle gemeentes kry jy die lot wat net kerk toe kom as hulle met iets gegooi word. Dis nou water, konfetti en klonte. 
  • Reusedwerg

    Stem nogals saam met jou water, konfetti en klonte. Waarom sal nie-kerk mense soek na 'n kerk as hul trou, of sterf? Ek verstaan nie. Gewoonlik bel die hoof Leeraar my om die orrel te kom speel as iemand vanaf buite wil doop (water), trou (konfetti) of begrawe (klonte). Onthou nog hoe lank ek ge-oefen het aan die "Wedding-song" op die pyporrel en opgewonde gewag het vir die bruidspaar. 'n Uur voor die tyd reggewees om te kyk of alles glad sal verloop. Hul het so vinnig ingestorm gekom dat ek van die intro die ending moes maak. Vervelig rondgestaan onder die preek, ek kon ek sien die gaste (wat alreeds voggies in het) was soos muise op warm plate wat nie kan wag vir die nektaar om te begin vloei na die troue. Ons bluf onsself, jy doen hul nie 'n guns, eintlik net 'n onreg. Help ons hul om net hul gewete te sus? Tydmors - want God laat Homself nie bluf nie. 

  • Geloof sonder vertroue dat God se beloftes vervat in die Bybel vervul sal word is nutteloos en is soos sout wat laf geword het en verdien om weggegooi te word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top