Bybelse (on)sekerhede en (on)vastighede?

  • 5

‘n Paar dae gelede loop ek toevallig ou, jarelange kennisse raak. Hulle is sout-van-die-aarde, diep Christengelowige, meelewende lidmate van die kerk. Opregte mense wat lewe volgens die opdragte van die bybel en die liefdesgebod teenoor God en naaste met oorgawe uitleef. Hierdie mense beleef reeds die afgelope jare ‘n intense en uitmergelende gesinskrisis.

Ten spyte van elke moontlike deskundige poging om hierdie krisis op te los en tot sy einde te bring, het die situasie in die onlangse verlede net verder versleg. Soveel so dat dié vriende, met ons ontmoeting, totaal platgeslaan en verslae is oor dit wat hulle lewe getref het. Toekoms- en gesinsideale is daarmee heen. Geen sprake van letterlik ‘n enkele dag sonder spanning en dikwels vrees nie.

Wat my byna oorbluf het tydens ons gesprek, was toe beide van hulle hul totale wanhoop uitgespreek het daaroor dat hulle jarelange gebede om ingryping van Bo tevergeefs is. Dis asof die wanhoop oor hul geloof nou vir hulle erger is as die krisis waardeur hulle tans reeds gaan. Hulle beleef nou ‘n dubbele terugslag: Nie net moet hulle elke dag ‘n nimmereindige probleem in die oë kyk nie, hul moet nou ook vrede maak dat ingryping van Bo nié gaan gebeur nie. Hul geloof en gebed, die laaste hoop, het die krisis ook nie afgeweer nie. En hoekom het hierdie krisis juis vir hulle getref, vra hulle nou.

My vraag is, sou hierdie gesin nie beter af gewees het sonder om te glo en te hoop dat die “Voorsienigheid” sou sorg vir ‘n oplossing nie? Want nou is hierdie mat, spreekwoordelik, onder hul voete uitgeruk. Hulle is vir ‘n tweede keer verpletter. En hierdie keer is al die bybelse sekerhede oor geloof en volharding in gebed net ‘n illusie. Die bybelse …”Gods woord staan vir ewig vas…” het vir hulle skielik onwaar geword.

‘n Dag later sien ek ‘n doodsberiggie in die koerant van ‘n jong tienerdogter. Haar ouers en ander familie spreek hul dank uit teenoor God wat “haar nou van haar pyn verlos het…” My vraag in hierdie geval is, hoekom sou God in die eerste plek die kanker oor haar lewe bring, net om haar later weer daarvan te “verlos” met die dood?

Maak net nie sin nie…

  • 5

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Godsdiens word altyd in sonde gepleeg – nes alle kwaad en pyn oral uit die dwaallere van die mens drup. Godsdiens is gewoon ‘n (desperate?) uitvloeisel vanaf die mens na God ... hierdie aard staan ook duidelik in die vroegste tye en in die verhaal van Kain en Abel opgeteken ... d(r)ogma – sogenaamde vas omlynde leerstukke - is die veranderlike hoeksteen wat fundamentaliste en onderdrukkers oral misbruik om hul politieke doelwitte van die dag te wil bereik
    Hier aan Mzansi is die berugte Apartheid ook eers as “godswil” vanaf preekstoele gedweep en agterna is daar toe weer  vanaf dieselfde preekstoele om vergifnis daarvoor by die mag van die dag gekruip  ... dis net kamstig sondelose ware gelowige Bybelaanbidders wat dwaal dat hul Godsdiens, God self is! ... andersyds merk ‘n mens ook gedurig hoe graag en verwaand ontnugterde Protestante hulself as ateïste wil roem – dit, wyl hulle nie eens naby ‘n benul omtrent Godsdiens en hul keuse daaromtrent in die algemeen het nie (dis gewis nie net Calvyn se regsinnige,  oftewel gereformeerdes met ‘n klein “g”se oordrewe “ware geloof” wat as Godsdienstig gereken kan word nie – siestog, die dwaal daarvan dat in die Calvinisme jy kamstig 'n “ware gelowige” is en in enige hoedanigheid buite daarvan, ‘n “ateïs”). Dieselfde ewige en standvastige Skepper, word oral op aarde in ons menslikheid gedien en eer - dieselfde ewige en standvastige Skepper, se “onstandvastige val” word ewe erg en oral deur ander haters geroem ... daarby, die Bybel is ook nie Jesus Christus - die Woord van God  soos allerweë deur Bybelaanbidders gedweep word nie ... die Bybel is 'n kosbare bundel heilige Skrifte waarin die mens se dwaal baie duidelik in opgeteken staan. Geloof en ongeloof staan beide in die liefde en genade van ons almal se Skepper - geen opregte hart verhef hulself in enige opsig daarvan nie. Mag Jesus Christus, onse almal se HERE, ons van alle “ware geloof” en "ware ongeloof" verlos en self die troos in ‘n ieder se hart word ... nederige groete, Cornelius Henn

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Dirk,

    Hoewel ek( gelukkig) self nie 'n gelowige is nie, is ek darem goed vertroud met al die redes en antwoorde wat sekere bekkige gelowiges kan opdis, en aanbied, in hierdie situasie betrekkende die eerste geval wat jy beskryf, nl dat die "weë van die Here onbekend, en wonderlik is",  dat daar 'n doel vir alles is, dat hierdie familie se geloof getoets word deur God, en dat God juis daardie gelowiges kasty wat hy die liefste het! Die bottom line hier is dat hierdie armsalige mense eenvoudig 'n gebrek het aan "ware geloof" soos daardie arme Gays wat bid dat die trane loop om hulle seksuele orientasie verander te kry want hulle word deur die Bybelbrigade gehaat.

     

    Bybel fetisjiste ( die skrifgeleerdes) weer sal met ywer beweer dat hierdie ongelukkige mense nie hulle Bybel behoorlik gelees het nie, en veral die verhaal van Job nie deeglik studeer het nie. Dalk op 'n dag wanneer hulle met selfmoordgedagtes staar op die rand van die afgrond sal hulle weer geseën word met meer kinders, 'n huis in Constantia, beeste, slawe, en 'n nuwe BMW.

     

    Die ergste kritiek wat hulle op die hals kan kry is dat dat hulle geen reg het om die wyse en wysheid van God te bevraagteken nie. Dit is loutere godslastering! En dat hulle hulself aan sy wil moet onderwerp, en letterlik hulle bek moet hou, en die voorbeeld van stiff- upper- lip Britte moet volg en suffer in silence.

     

    Alle grappies opsy. Ek het die grootste simpatie vir persone wat hulle geloof "verloor" of opgesê het. In my geval was dit 'n dekadelange proses van bevryding, en volwassewording. Vir my was die resultaat  letterlik wonderlik. Vir ander seker n heel traumatiese gebeurtenis. Sou dit nie werklik wonderlik wees nie as daar 'n liefderyke vaderfiguur êrens in die wolke woon wat ons liefhet, en na ons omkyk, maar ongelukkig is daar alleen sterk bewyse van sy afwesigheid. Veral wanneer mens hom mees nodig het.

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys 

  • Dirk

     
    Daar is twee moontlikhede:
     
    1. Die god waarna jou vriende verwys bestaan nie.
    2. Die god is 'n masochis.
     
    Groetnis
    Thomas
  • Ek lees jul twee menere se briewe hierbo en dit maak vir my sin. Ek is bly julle het vrede en geluk gevind. Mag dit vir julle voortduur. Ek sal julle nie wil verveel met my Geloofsoortuigings en siening nie. Sterkte vir julle. (En die ander ongelowiges, ateïste en antichriste. Ek weet nou hoekom ateïste so moerig is, hulle het nie vakansiedae nie, behalwe 1 April.

  • Dit pynig my regtig om sulke antwoorde te lees.

    Dit staan nêrens in die Bybel dat 'n mens die gewone aardse beproewinge vryspring nie.

    Trouens dit word al in Genesis duidelik gemaak, want daar staan dat die mens met sweet en harde arbeid 'n lewe sal moet maak.Die mens word ook nie gevrywaar teen natuurrampe of gesinsrampe nie nie.

    Dit gaan dus nie oor my voor- en of teëspoed hier op aarde nie, maar wel oor my eindbestemming in die lewe na hierdie aardse lewe.God was nog nooit 'n paniekknoppie soos by 'n sekuriteitsmaatskappy nie, wat jy druk en daar stop Hy voor jou deur met 'n duisend engele om jou te beveilig nie.

    Tog is God naby; daarvan getuig 'n lied wat aan Dawid opgedra is:

    Psalm 23 vers 4.

    "Selfs wanneer die lewe vir my so donker word,
    dat ek nie meer weet watter kant toe nie,
    sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie,
    want U is altyd by my,
    Dit troos my dat U my lei en beskerm
    .U laat my veilig voel,"

    Beteken dit nou dat ek alles verstaan? Nee ek kan maar slegs saam met Totius soos volg gertuig:

    Die Godsbesluit | Totius  (uit de bundel: Passieblomme, 1934)
    Voor die onheilswoning en
     tussen die skaars-beblaarde
    soetdorings staan, in droë aarde
     maar lowergroen en blink van blad,
     die wag-’n-bietjie langs die pad. 

    Wanneer ek naderkom dan sien
     ek dorings krom en reg;
    ‘k sien takke inmekaar gedraai
    en deurmekaar gevleg.
    En wil ek in die blare gryp
     of aan die takke breek,
    dan tas ek in ’n doringnes
    wat vreeslik haak en steek.                       

      * Bo al u donker bome, o Heer,
    groei my ’n enk’le reusboom uit
    dit is die wag-’n-bietjie-bos
    van u besluit.
    Van ver so skoon, so groen, so blink…
     maar hoe verward
    wanneer ek dieper kyk en dink
    as wat ’n sondaar pas.
     En steek ek dan my hande uit
    na u besluit,
    dan gryp ek in die dorings vas. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top