Brief vir Dirk Rigter

  • 2

Dagsê Dirk
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief aan jou van 19 deser.

Die syfers wat jy aanhaal bevestig nou mos wat ek vir jou gesê het; dat die meeste wit kiesers, soos zombies, vir die party stem wat hierdie moreel en finansieel vrot bedeling bewerkstellig het. Jou syfers is dus geensins kastyding vir my nie, vir jou wel.

Ek gee toe, ek (en jy) weet nie hoe die land sou gelyk het as daar nie in '94 die oorgawe was nie. Ek weet nie hoe ver Amerikaanse en Europese regerings sou ingemeng, en druk toegepas het, om 'bevryding' te bewerkstellig nie (terloops, snaaks hoe daar links en regs 'bevry' word waar daar olie, goud, chroom, platina ens voorkom). Met dié dat daar stories rondhang dat, onder andere, daar spesiaal ‘n landingstrook in Botswana gebou is vir ‘n VN-invalsmag om te kom ‘bevry’ was die druk geweldig groot om oor te gee. Juis hieroor het ek nog nooit gesê De Klerk het ons uitverkoop nie want iemand het beslis die man aan die kortes beetgehad. Dink daaraan, hy het in 1979 nog aangekondig dat, as SA ooit PFP-beleid sou aanvaar, dit chaos en ekonomiese verval tot gevolg sou hê en ‘n paar jaar later is einste verantwoordelik vir die implementering van PFP-beleid.

Ek mag verkeerd wees, maar ek vermoed FW de Klerk het heimlik geweet ons gaan nou die afgrond af, soos die meeste ‘bevryde’ lande in die res van Afrika maar hy was onder geweldige druk. Waar hy wel gefaal het was dat hy en Roelf die skaakspel teen Ramaphosa-hulle soos amateurs gespeel het en dus hopeloos verloor het. Teen die tyd egter wat hierdie spel plaasgevind het, was dit al te laat, hierdie Kodesa-storie was maar een van die finale stadiums in ‘n groot aanslag waarin die sluipmoord op Verwoerd een van die stappe was. Hierdie storie kom ‘n lang pad; dit is nie net De Klerk nie, dis al die sogenaamde verligtes wat vir jare aan die neus gelei is wat dan uiteindelik tot die skaakmatposisie gelei het.

So, ons weet nie wat KON gebeur het nie maar weet, min of meer, wat wel gebeur het, en nog besig is om te gebeur, na die oorgawe: ‘n Gemors, ‘n sirkus, niks anders as die chaos en verval wat FW de Klerk in 1979 voorspel het nie. Ek sê ‘min of meer’ want die volle omvang van die agteruitgang word van ons weerhou; die media was immers instrumenteel in die daarstel van hierdie bedeling en sal natuurlik hul bes doen om die agteruitgang te verdoesel. Ek moet sê, wat vir die inwoners van die land ‘n mislukking is, is natuurlik ‘n reusesukses vir die nyweraars en handelaars; hulle plan is volbring en hulle kan nou erts, kole en ander grondstowwe goedkoop kry EN nog, as ‘n bonus, renosterhoring, perlemoen en leeu-bene.

Daar is die naïewes, ontkenners en breingespoeldes (NOBs) wat glo die huidige bedeling is die gevolg van die ‘wêreld’ (‘n mitiese entiteit wat politiek betref in elk geval) se irritasie met die Afrikaner se ‘onderdrukking’ van swartes en hulle glo, of gaan voort met die charade, dat wat nou aan die gang is beter is as wat dit sou wees sou die oorgawe nie plaasgevind het nie. Dit is natuurlik nie so nie, selfs met sanksies het die Afrikanerregering beter presteer as die teenswoordige. Gedurende daardie tyd is selfs wapens en wapensisteme ontwikkel wat ander weermagkenners verbaas het (en nou deur hulle gebruik word).

Nog ‘n bonus, iets waarop die beplanners nie eintlik gereken het nie, is dat die NOBs, om hulle bydrae aan die huidige bedeling te regverdig en/of hulle gewetens te sus, gedurigdeur die aandag vestig op die gewaande booshede van sogenaamde apartheid. Dit het natuurlik glad nie ‘n versoenende effek nie, inteendeel. Die swartes word nóg kwater en wraaksugtiger; wie wil nou vertel word dat hy al die jare uitgebuit is? Hierdie woede manifesteer in geweld en die land word nog verder gedestabiliseer.

Net Saterdag sê die polisiehoof “ ... mense breek in, vat die lepels en koppies wat hulle wil steel maar dan rand hulle nog die huismense ook aan.” Hy sê hy kan dit nie verstaan nie. Dis maklik om te verstaan; die mense word gedurigdeur daaraan herinner dat die eertydse ‘heersers’ verantwoordelik is vir hulle teenswoordige ellende en dus diep in die skuld is by hulle EN gestraf moet word.

Ek sê weer, wat julle dink is ‘n versoenende gebaar het net mooi die teenoorgestelde effek; dit werk vervreemding, haat en wraak aan die hand.

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Jan,

     Eerstens: Wat is die doel van die kommentaar-kolom onderaan 'n SêNet brief? Tog seker net wat dit sê, maw om kommentaar te lewer op die standpunte gestel in die brief en ander ter saaklike kommentare. Waarom die ellelange nuwe (eintlik niksseggende) briewe, in plaas daarvan om binne die konteks van die brief-onderwerp kommentaar te lewer?

     Tweedens: Jy beantwoord nié die vrae wat ek in my kommentaar op jou "Dan Roodt-het-'n-fout-gemaak" brief aan jou gestel het nie. So laat ek dit dan vir jou doen. Suid-Afrika sou vandag ekonomies, polities, militêr, kultureel, finansiëel, noem maar op, ten gronde gewees het as daar nie tot 'n politieke vergelyk gekom is in die 1990's nie. As die internasionale wêreld ons (Wit Suid-Afrika) reeds in die 1970's verdoem het tot uitskot, dink bietjie onder watter druk die "ou Suid-Afrika" in 2004 sou wees. Ek praat nie eens van 2014 nie.

     Ek het jou direk gevra hoeveel wit mans (en vroue) vandag bereid sou wees om die mensonterende, moreel-veragtelike en Christelik-onverdedigbare apartheidsbestel met hulle lewens te verdedig as dienspligtiges. Jy antwoord ook nie hierop nie. So, kom ék sê vir jou die ou SAW sou lankal in duie gestort het, want dit sou geen morele begronding oorgehad het nie. Van die tekort aan geld om 'n langdurige oorlog te bedryf, praat ek nie eers nie.

     Derdens: Samesweringsteoriëe soos die "...aanloopbaan in Botswana... en... VN ingryping..." is so vergesog en belaglik, dit verdien geen kommentaar nie. Insgelyks jou stelling dat "...Swartes vertel word dat hulle uitgebuit was..." Hulle weet dit, dit word hulle nie vertel nie.  En jou absoluut belaglike aanname oor die sluipmoord op Verwoerd bevestig net een ding: Jy het eenvoudig GEEN idee van die politieke dinamika wat hom afgespeel het in die jare 1960 tot 1994 nie.

     Vierdens: Om die 1 700 mense wat vir Front Nasionaal gestem het in Gaureng as regdenkend te tipeer, en die 1.3 miljoen wat vir die DA gestem het as zombies te tipeer, illustreer hier vir almal dat jy  jou greep op die werklikheid van 2014 heeltemal verloor het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top