Antwoord vir Angus en Jaco oor die toekoms van Afrikaans

  • 17

Beste Angus,

Ek verwys na jou en Jaco se kommentaar onderaan my brief van 2 Maart rakende Jason Lloyd se ‘Kleurkodes’.

Jy wil weet hoe ek die toekoms van Afrikaans in SA sien. Om die toekoms van enigiets akkuraat te sien moet mens ‘n siener wees en dit is ook nie eers ‘n waarborg nie. ‘n Mens kan egter, aan die hand van die status quo tesame met die geskiedenis ekstrapolasies maak wat in ‘n groot mate aanduidend van ‘n toekoms kan wees.

Partykeer is dit 100% akkuraat soos byvoorbeeld die ‘verkrampte regses’ se voorspelling van wat in die Nuwe Suid-Afrika te wagte was. Aan die ander kant nou weer, mens kan hulle nie te veel krediet gee nie want, gegewe wat in die res van Afrika aan die gang was, was die verskyning van die sirkus ‘n voldonge feit.

Wat die toekoms van Afrikaans betref is daar ‘n klompie aanwysers wat niks goeds voorspel nie:
1) Die mense praat al hoe slegter Afrikaans; luister maar na selfs radio-omroepers en TV-aanbieders wat veronderstel is om (soos die BBC) ‘n goeie voorbeeld te wees.
2) Afrikaanssprekers is al hoe gretiger om Engels te praat; sit selfs hulle kinders in Engelse skole.
3) Afrikaanse universiteite en kolleges het verdwyn en Afrikaanse skole is besig om te verdwyn.
4) Afrikaans het reeds in die openbare sektor verdwyn.
5) Engels is die amptelike taal, Afrikaanssprekers praat Engels by die werk en verwaarloos Afrikaans; luister maar na gaste op radio en TV.
6) Die regering is vyandig teenoor Afrikaans en pro-regeringsinstansies, soos RSG en KykNet, lyk of hulle opdrag gegee is om Engels onder Afrikaanssprekers te bevorder. Afrikaans word ‘n houthakker- en waterdraerstatus gegee deur hierdie instansies.
7) Afrikaanse feeste en tydskrifte verengels (vgl VISI en Oppiekoppie).
8) By vlooimarkte sien jy al hoe minder Afrikaans (selfs al is die verkopers en besoekers oorwegend Afrikaans). Dit is simptomaties van die omhelsing van Engels en versaking van Afrikaans deur Afrikaanssprekendes.
9) Afrikaners propageer al hoe meer die standpunt van éérs Suid-Afrikaner en dan Afrikaner. Waar in jou lewe het jy al ooit sulke snert gehoor? Daar is selfs diegene wat kapsie maak teen die naam ‘Afrikaner’, mense soos Piet Croukamp en Pierre de Vos.
10) Afrikaanse wyn-, bier- en kaasmakers se produkte het Engelse name, simptomaties van die versaking van hulle eie taal en die agterentlekkery wat betref Engels.
11) Afrikaners wat die stryd opneem vir Afrikaans word verguis deur hulle eie mense.

Daar is egter hoop:
1) Daar is goddank nog mense soos Dan Roodt en Steve Hofmeyr; mense wat hulle beywer vir die behoud van Afrikaans (en die Afrikaner).
2) Daar is die geskiedenis van die oorlewingstryd van Afrikaans; iewers onder ons ou volkie moet nog mense wees met fut.
3) Die moontlikheid dat die Afrikaanssprekende se oë kan oopgaan en hulle weer ‘n trots in hulle eie, onder andere taal, ontwikkel.
So, daar is wel hoop, dinge kan net nie aangaan soos dit nou aangaan nie; die mense moet net wakkerskrik en ontslae raak van hulle pateetstatus.

Groetnis
Jan Rap

  • 17

Kommentaar

  • Jan Rap,

    Nee, ek wil nie weet hoe jy die toekoms van Afrikaans sien nie, ek weet hoe jy die toekoms van Afrikaans sien: donker, duister en aan die verdwyn. Dit gebeur met beteuterde ou taaltjies wat tot geen nut vir iemand is nie. Ek sien Afrikaans as 'n lewende taal, sterk en gespierd, wat hom aanpas by lewensomstandighede en vir solank die mens bestaan, bruikbaar sal wees. Maar dit was nie my vraag nie. 
     
    Hier is my vraag (want die gesprek het gegaan oor denke en taal): "Ek wonder net hoe abstrak Jan Rap se denke is as ek hom sou vra wat dink hy van, sê nou maar, die toekoms van Afrikaans in Suid-Afrika."
     
    Jy het nie die vraag verstaan nie, maar darem tog aan my die antwoord verskaf: jy kan nie abstrak dink oor die toekoms van Afrikaans nie, dis onmoontlik. Jou denke moet deur taal gevorm word.
     
    Groete,
    Angus
  • Jan

    Ek is bly dat jy kans gesien het om die uitdaging oor die toekoms van Afrikaans op te neem, net jammer dat Angus nie daarvoor kans gesien het nie, aangesien dit hy is wat die oorspronklike blykbare twyfel oor die voortbestaan van Afrikaans geopper het.

    Jy het vele waarhede hierbo geuiter.  Ek stem net nie saam dat Rooi Daantjie jou held, eerder afgod, enigiets positiefs tot die onderwerp ooit bygedra het nie.  Maar dit bly maar 'n soort van gedienstige geloofsaak by jou waaroor ek hier nie oor hare gaan kloof nie.  Ek persoonlik het nooit 'n mens verafgod nie, en kan dus net nie verstaan wanneer ander soos jy dit doen nie.

    Ek ondersteun Gilomee se stelling dat met die oorhoofse druk op Afrikaans vandag, Afrikaans gaan uitsluitlik voortbestaan afhangende van die grote van lojale ondersteuning vir die taal.

    Ek is persoonlik van mening dat dit onvermydelik is dat die taal uiteindelik gaan uitsterf, maar gelukkig nie in my tyd nie.  Dit is 'n treurige feit wat ek teensinnig aanvaar.

    Net soos die Grieke, Italianers, ens in die VSA nie meer hulle voorvaders se taal kan praat nie, maar steeds met trots as "Italian Americans"; "Greek Americans" ens bekend staan, is ek van mening dat Afrikaners wat uiteindelik nie meer Afrikaans magtig gaan wees nie, steeds as Afrikaners bekend sal staan.  Dit gebeur reeds in Australië en Nieu-Zeeland.

  • Beste Angus

    Ek is jammer ek het jou vraag verkeerd verstaan.  Ek sal bly wees as jy my twee model-antwoorde kan gee wat aandui 1) hoe ek abstrak sou dink en 2) hoe ek nie abstrak sou dink nie.

    Beste Jaco

    Sê jy Dan Roodt is my afgod omdat ek hom gedurig aanhaal as voorbeeld van 'n Afrikaner wat wys daar is darem nog die van ons wat nie stroomaf dryf nie (soos Max, Pierre, Piet, Wannie en Adriaan voorbeelde van die teengestelde is)?  Ek ondersteun mense soos Dan, soos jy byvoorbeeld Gilomee ondersteun.  Dit beteken nie ek dink jy maak 'n afgod van Gilomee nie. 

    Sê bietjie vir my, hoekom dink jy Afrikaans gaan uiteindelik uitsterf, gegee sy geskiedenis van oorlewing en ontwikkeling onder enorme vyandige omstandighede?

    Liewe Helmine

    Dankie.  Hoekom is jy so stil?

    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jaco,

    Lyk my jy het maar jou mes in vir my,  want jy lees nie mooi wat ek skryf nie.(Ek dink dis sommer aspris.)
     
    Ek weet wat Jan se siening van Afrikaans is: dis maar 'n duistere toekoms wat hy skilder. My siening oor Afrikaans lê al die hele SêNet oor: ek sien dit as 'n lewende, bruisende taal wat nie sal uitsterf nie. 
     
    My vraag aan Jan was hoe kan hy abstrak, sonder taal, dink oor die toekoms van Afrikaans; 'n heel ander debat wat jy sekerlik nie gevolg het nie. Selfs Jan het my vraag aspris verkeered verstaan.
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Jan,

    Jy is die enigste een wat kan sê hoe jy dink. Ek kan dit nie vir jou doen nie. Jy het beweer dat jou denke sonder taal is, toe het ek maar net gewonder hoe dink jy oor bv die toekoms van Afrikaans sonder taal wat daar in jou gedagtes rondmaal.
     
    Groete,
    Angus
  • Helmine le Roux

    Naand Jan,

     
    Het jy gelees wat ek oor Eskom en kragbesparing geskryf het?  Nie abstrak nie.
     
    Smaak my niemand dink dis 'n goeie plan nie.
     
    Groete
     
    Helmine
  • Jan

    Omrede ek gesê het ek 'n sekere enkele stelling wat ek hierbo genoem het van Gilomee ondersteun, maak dit  nou kwansuis van my 'n volslae Gilomee-ondersteuner.

    Jou taalkunde mag puik wees,  maar jou kommunikasiekunde ontbreek.

    Noem vir my wat het Rooi Daantjie, die PRAATSIEKE, beter vir die Afrikaner gedoen as enige een van die sleutelfigure van Solidariteit en Afriforum, die DADERS van die woord, waaroor jy 'n grafdoodse stilte deurgans huldig.  En moenie daardeur vir my sê ek ondersteun hulle soos wat jy Rooi Daantjie ondersteun nie, want daar is vele waaroor ek met hulle sal verskil.

    'n Vorige soortgelyke versoek het jy verontagsaam. Ek moet dit net weer opsoek en hier plaas.

  • Helmine le Roux

    Môre Jan,

     
    Jy vra waarom is ek so stil.  Vreemd, maar hoe ouer ek word, hoe minder het ek vir mense te sê.
     
    Sommige mense kan baie halsstarrig wees.  Terloops, die WAT gee sewe sinonieme daarvoor.  Almal sulke lekker woorde.  Dis goed as 'n man by sy beginsels staan.  Maar party mense tel 'n stryery op net ter wille van die stry.  Hulle luister nie eens na jou argumente nie, hoe goed bedoel dit ookal is.  Miskien besef hulle dat jy reg is, maar hulle ego laat dit nie toe om dit te erken nie.  As laaste uitvlug sal hulle dan sommer oor 'n spesifieke woord wat jy gebruik het wat na hulle mening onvanpas is, 'n argument begin.
     
    Vir sulke goete het ek nie meer lus nie.  Mense wat nie wil hoor nie, moet maar voel.
     
    En hoe ouer ek word, hoe dankbaarder is ek oor die klein goeie goetertjies in my lewe.  Soos die plumbago voor my kamervenster wat oordadiglik blom.  Ten spyte van die min reën wat ons ontvang het.  Miskien hou hy van minder water.  In die Oos-Kaap groei dit mos sommer wild en gedy.  Jare gelede het 'n vriendin van my se pa doer uit Patensie se wêreld kom kuier.  Juis toe haar plumbago blou in die blom staan.  Hy't net sy kop geskud. "By ons is dit onkruid, en hier plant julle dit in die tuin!"
     
    Hierdie onkruid van my is 'n plesier vir die oog en 'n vreugde vir die hart.
     
    Wou al vra:  Skilder jy nog?  Jy moet aanhou.  Ek onthou die gevoel van kalmte wat dié werke uitgestraal het wat jy hier geplaas het.
     
    Groete
     
    Helmine
  • Jaco
    Jy lees totaal sonder begrip.  Jy't beweer Dan Roodt is my afgod en ek het geantwoord dat, die feit dat ek hom ondersteun nie beteken dat ek hom verafgod nie.  Net soos ek nie sal sê dat jy Gilomee verafgod omdat jy hom ondersteun nie.  Nou kom jy met die stelling dat ek beweer het jy's 'n volslae Gilomee-ondersteuner.
    Ek dink, voor jy pos plaas, moet jy laat jou broer of jou lewensmaat dit eers deurgaan om seker te maak jy het nie weer die kat aan die gat beet nie.
    Ek sal bly wees as jy die 'vorige soortgelyke versoek' wat jy sou geplaas het kan opspoor; ek kan kwalik dink dat ek 'n versoek sou ignoreer (soos Dirk Rigter en George Claassen).
    As hierdie 'versoek' van jou die ewige gesanik was, naamlik hoe jy wil weet wat Dan Roodt DOEN, het ek al vele male geantwoord.  Maar wat jou versoek ookal was, stuur hom weer.
    Jan Rap

  • Dagsê Helmine

    Ek het gelees wat jy oor kragbesparing geskryf het en dit was goed.  Ek ondersteun dit heelhartig en sal sover as moontlik van daardie praktyke volg om geld te spaar.  Ek doen dit dus vir my eie heil en nie om Eskom te help nie; Eskom, met RA-, transformasie-, SEB- en Afrikaansverdrukpraktyke, het hulle eie bed opgemaak.  Hulle het 'n masjien wat geloop het soos 'n Switserse horlosie omskep (getransformeer) in 'n uitdaging.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Jan  

    Soos deur jou hierbo aangevra.  Die versoeke in die volgende respons van my het jy sedert  20 Feb 15  nie beantwoord nie.  
    https://www.litnet.co.za/Article/brief-vir-jaco-oor-sy-kommentaar-van-19-deser  

    "Dan is so pro-aktief dit pyn!  Dis juis om sy pro-aktiewe voorstelle dat hy so verguis word." 

    Nou gee ons 'n lang lys voorbeelde veral van sy pro-aktiewe optredes, maar ook van sy pro-aktiewe voorstelle. Ek let op dat jy wel lid van AfriForum is (of so sê jy), maar lewer nooit kommetaar op hulle bewese pro-aktiewe optredes nie. Kan jy miskien verklaar hoekom jy so danige oor Praag is en neutraal teenoor AfriForum staan?  Kan jy miskien uitbrei hoekom hierdie twee organisasies nie om dieselfde kampvuur kan sit nie?

  • Naand Helmien

    Dankie vir jou bemoedigende woorde oor die skilder.  Mens is maar altyd bietjie bedug en 'n klop op die skouer laat mens weer moed skep (al is dit net weens goeie maniere).

    Ek het nie geweet hoe Plumbago lyk nie, soek toe die Afrikaans en dit is Blousyselbos wat ek nog nooit van gehoor het nie.  Ek sien hy blom deur die jaar, gaan hom onmiddellik aanskaf.  Plumbago doen vir jou wat vygies en gousblom vir my doen, lyk of hulle skyn en verdring die somberste bui.  Daar's nog 'n ander ding wat ek nou die naam van vergeet het, blom in die koelte.  Ek het een in 'n pot gehad vir jare, sal seker nou-nou aan die naam dink.
    Kon nog nie die naam kry nie so dan groet ek maar.  Lekker dag vir jou.

    Jan Rap

  • Beste Jan,

    Dis daar in jou denke, maar eers as jy as die denke met taal omklee, kan ek jou help.
     
    Jy dink aan Suid-Afrika se lelie, die Clivia. Plant hom in 'n bedding of maak van hom 'n potplant, maar moenie dat hy sonlig kry nie. (So 'n bietjie oggendson sal nie saak maak nie) So in die skaduwee van 'n boom, in effens surerige grond, en oppas vir baie water. Sy wortels hou nie daarvan om in 'n plas te staan nie.
     
    Groete,
    Angus
  • Helmine le Roux

    Hallo Jan,

     
    My kommentaar oor jou skilder is nie van ordentlikgeid nie.  Ek hou rêrig daarvan.
     
    Blousyselbos.  Watter pragtige naam.  Mens loop mos jare saam met 'n plant se naam sonder om verdere ondersoek in te stel.  Dankie.
     
    Ek het die begin van die seisoen klomp vygies geplant op 'n stukkie grondjie wat my grys hare gee.  Gedink dit sal daar aard.  Maar ek is teleurgesteld, want dit was nie juis 'n bloeiende plesier nie.  En die gousblomme se geel is mos nes die son.
     
    Jy dink nie aan 'n clivia nie?  Maak net so 'n pragtige vertoning.
     
    Vrede
     
    Helmine 
  • Dankie Helmien en Angus vir die inligting oor die boslelie of Clivia.  Maar dis nie aan hom wat ek dink nie, die ding wat ek aan dink is 'n struik, kan ook lyk soos 'n groot bonsai as hy reg gesnoei word.  Die algemeenste kleur van die blomme is so pienkpers maar daar is ook wittes.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top