Afrikaner-herbesinning

  • 0

Afrikaners het die tweede Engelse oorlog verloor. Die Transvaal en Vrystaat Republieke is verewig tot niet. Die Afrikaner was polities, moreel en finansieel verpletter. Sy getalle aansienlik verminder. Afrikaners het onmiddellik daarna ‘n nuwe bedeling betree. Die ou bedeling is verewig verby. Die Republieke se daadwerklike ondergang was ‘n onbillikheid om Uitlanders nie burgerskap te vergun nie, asook ‘n onwilligheid om by veranderende omstandighede binne en buite die Republieke aan te pas.

Maar, het hy daarna net in as en sak gesit en weeklaag? NEE! Hy het daadwerklik die skouer aan die wiel gesit en soos ‘n feniks verrys en homself begin bemagtig tot so ‘n mate, dat wat hy in die jare daarna verrig het, groter en beter as die ou Republieke geword het. Hy het ‘n grondgebied regeer wat die hele Suid-Afrika en Suidwes-Afrika behels het. Hy het sy taal en kultuur verstewig en uitgebrei. Hy het die grootste militêre mag in die geskiedenis van die Afrika vasteland geword. Die land het ekonomies hoogty gevier tot en met sanksies. Ten tye van sanksies, sekere maatreëls beplan om selfonderhoudend te wees, maatreëls soos SASOL, Pelindaba, WNNR, en eie wapenrusting vervaardiging, oa die R1-geweer, ratel, ens.

Afrikaners was aan die verloorkant ten tye van die Kodesa-onderhandelings. Die Afrikaner-Republiek is vir ewig tot niet. Die Afrikaner was polities, moreel en finansieel verpletter. Sy getalle aansienlik verminder. Afrikaners het onmiddellik daarna ‘n nuwe bedeling betree. Die ou bedeling is verewig verby. Die Afrikaner-Republiek se daadwerklike ondergang was ‘n onbillikheid om anderkleuriges en swart burgers ekonomies en polities te bemagtig MET HULLE SAMEWERKING, maar eerder teenoor hulle paternalisties en voorskriftelik opgetree. Was ook onwillig om by veranderende omstandighede binne en buite die Republiek aan te pas.

Paragraaf een en drie kom baie ooreen. Wat sê dit vir ons? Ons leer nie deur ons foute nie. Inteendeel herhaal ons hulle! SELFSUG was ons ondergang ten tye van al twee geleenthede.

WAT NOU!? Hoe sien ons vandag daaruit?

Polities? Bywoners in die DA. Geen Afrikaner beklee enige benoemenswaardige pos daarin nie. Leierskap behels beide die ou Engelse-Progg geselskap, in alliansie met ‘n nuwe kwasie ANC swart bemagtiging daarin. Die Afrikaner, ten spyte van hoon en nyd teenoor die Afrikaner in die party sal steeds vir die party stem uit vrees vir die ANC. Die VF+, te lank opgeskeep met die Mulders wat die party in ‘n familiesaak omskep het. Hopelik na die verkiesing, sal die VF+ meer setels bekom as gevolg van ontevredenheid met die DA, sodat die nuwelinge ‘n meerderheid kan vorm om die Mulders te kan ontsetel, en die party op ‘n vaste koers te kan stuur ten goede vir die Afrikaner en alle minderhede in die land.

Ekonomies? Middelklas en onder, verarm agv. swart bemagtiging met die vooruitsig van verdere ekonomies verwurgende-wetgewing soos Afrikaners hulself in die proses ekonomies bemagtig.

Kultureel? Afrikaanssprekende Universiteite en skole word daadwerklik ondermyn. Daar is ‘n openlike aanslag op die Afrikaanse taal. Op ander gebiede, vier die Afrikaner-kultuur hoogty, nie aan enige staatsinstansie te danke nie.

Ten tye van die Transvaal en Vrystaat Republieke, was Afrikaners hoofsaaklik plaasboere gewees. Ten tye van die Afrikaanse-Republiek, hoofsaaklik staatsamptenare, bank-klerke, mynwerkers, ens gewees, met heelwat minder wat as plaasboer bedryf. Nou met die nuwe bedeling, en as gevolg van swart bemagtiging, neig die Afrikaner tot entrepreneurskap, met die minste plaasboere ooit. Die Afrikaner het by verre in die meerderheid van plaasboer tot stedeling geword. Vanaf hoofsaaklik afhanklikheid op die staat vir werk onder die ou bedeling, tot selfonderhoudende entrepreneur onder die nuwe bedeling.

EN DIT HOORT DIE AFRIKANER SE NUWE UITGANGSPUNT TE WEES!

Ekonomies onafhanklik. Kulturele onafhanklik, dws. Bykomstig tot ander suksesvolle kulturele inisiatiewe, privaat skole, kolleges en universiteit vir die Afrikaner te stig, met behoud dat hy nie weer dieselfde selfsugtige foute van die verlede begaan nie, en dit aanpak tesame met ander belangstellende Afrikaanssprekendes van ‘n ander kleur.

Afrikaner se huidige sterkpunt is nie in enige parlementêre party nie, maar wel in burgerregte organisasies soos bv AfriForum en Solidariteit, wat daadwerklik vir veral Afrikanerregte optree, en nie bang is om die regering na die grondwetlike hof toe te vat nie. Hulle rekord is oop vir almal om te besigtig. Hierdie “neucleus” kan die begin wees vir toekomstige politieke bemagtiging vir die Afrikaner.

Jaco Fourie

NS. Ek gaan my nie bemoei met enige “nitpicking” oor die verlede en die geskiedenis nie, maar wel oor enige besprekings rakende die hede en die toekoms van Afrikaners en die Afrikaanse taal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top