Op Nuwejaarsdag in Mosselbaai, nadat ek my vriende en familie alles van die beste toegewens het vir 2012, het ek skielik onthou wat Deon Meyer eenkeer gesê het: dat hy altyd ’n nuwe roman op Nuwejaarsdag begin. Al is dit net een woord, dan het hy ’n begin gemaak.
Ek is nou nie Deon Meyer nie, maar ek is ’n man vir literêre feeste. Jare lank het ek probeer (maar sonder sukses!) om ’n literêre fees te begin in die naam van die man vir wie ek ’n heldeverering het – Breyten Breytenbach. Daarom het ek op 1 Januarie 2012 besluit om Deon Meyer se raad te volg en weer te probeer.
Terwyl my vrou vir ons ontbyt voorberei het, haal ek die Tuinroete- en Klein Karoo-gids uit en vind 10 gelyste gastehuise in Montagu. A, die wonder van e-pos! Terwyl die meeste gastehuis-eienaars nog besig was om die babelaas van 2011 af te skud, het ek op Nuwejaarsdag e-posse aan hulle gestuur aangaande my brandende begeerte – net om seker te maak dat hulle van die regte stoffasie is!
Teen die tyd dat ek van my Nuwejaar-“dip” uit Danabaai teruggekeer het, het ek een entoesiastiese antwoord gekry. Miskien van die enigste nugter persoon in Montagu, het ek geskimp! Die antwoord was van Airlies Gastehuis, waar ek ongeveer sewe jaar tevore tuisgegaan het. Dit was ’n goeie teken, het ek by myself gedink. Drie dae later het ek vier gastehuise gehad. ’n Week later het ek ’n Jack Russell van Helen Gooderson, ’n organiseerder in Montagu, gehad. Die Breyten Breytenbach Fees het die eerste trimester oorleef!
Waarom Montagu? sal die meeste mense vra.
Wel, Breyten Breytenbach was in Bonnievale gebore, wat net 20 minute se ry van Montagu af is. Tweedens het Breytenbach ’n vakansiehuis (Paradys) in Montagu gehad, waarvan hy in sy reisbeskrywing/lewensbeskrywing Dog Heart skryf. Vir iemand soos ek wat in literêre toerisme belangstel, was dit manna uit die hemel.
Die Breyten Breytenbach Fees sal my laaste baanbrekerswerk-fees wees. Dit sal my visie van die Karoo as die literêre hartland van Suid-Afrika voltooi. Vandag kan die Karoo spog met die Schreiner Fees in Cradock, die JM Coetzee Fees in Richmond (John Kannemeyer het ontdek dat Coetzee oorspronklik van Victoria-Wes kom en dat sy ma net vir Coetzee se geboorte na ‘n Kaapstadse hospitaal gereis het!), die “Booktown” in Richmond met ons literêre fees BoekBedonnerd!, die Fugard Fees in Nieu-Bethesda, en die KKNK. Nou het ons ook die Breyten Breytenbach Fees in Montagu, wat die kersie op die koek sal wees. Glo dit of nie, dit sal die eerste fees wees wat na ’n Afrikaanse skrywer vernoem word. Ek kan aan geen ander voorbeeld dink nie.
Die program was werklik maklik om te organiseer. Dit is te danke aan die bewondering wat skrywers het vir die man wat deur Time beskryf is as die grootste lewende Afrikaanse digter. Die entoesiasme wat deur ander skrywers en akademici getoon is, was aansteeklik. Ek is daarom trots om die volgende lys sprekers aan te kondig wat van 13 tot 15 Julie aan die Breyten Breytenbach Fees in Montagu gaan deelneem (asteriske dui sprekers aan wat lesings oor Breytenbach se werk gaan aanbied):
1 Helize van Vuuren*
2 Petra Muller
3 Dana Snyman
4 Ampie Coetzee*
5 Braam de Vries
6 Charl-Pierre Naudé
7 Wium van Zyl
8 Fanie Olivier*
9 Antoinette Pienaar
10 Christine Barkhuizen-Le Roux
11 Francis Galloway*
12 Justin Fox
13 Rita Gilfillan
14 Darryl Earl David en Philippe Menache
15 Jeanne Viall.