Breyten Breytenbach Boekefees 2013: Vier seisoene in die paradys

  • 0

Rit

Ongeveer vier weke voordat ek na Montagu vertrek, as gas vir die tweede Breyten Breytenbach Boekefees, skryf ek ’n gedig oor die Greyhound. Jare gelede het my broer ’n televisiereiskompetisie gewen – deel van die prys was ’n busrit na Durban en twee weke vakansie by verskeie bestemmings (ons het dit destyds aangelas by ons twee weke tyddeel en dit ’n onvergeetlike vier weke gemaak).

Greyhound

Ek wil in die nag reis
deur hierdie land
op ’n bus vol
jasse en musse,
beroertemonde,
ongebore babas,
in vrugwaters,
toegeasemde ruite,

rugsakke
hoopvol na
nuwe liefdes,
weg van liefdes agtergelaat,
en miskien werk
by nuwe adresse
in plekke
waar niemand jou ken nie.

Na die lang donker paaie
deur Karoobossie en
vlaktes miershoop
met koedoe wat verskrik vlug
vir jagter met koplig,
skielik die baken:

helder vulstasies
vol ligte, met motte,

dan bene rek,
koffie en pastei
in die hand.

Weer ’n keer na ’n hemel vol yswit
sterre staar,

aantekeninge maak
sonder pen of papier
die oog ’n lens van die kopkamera:

mense wat rook die
vinnige voltrek van die
longe, uitblaas,
dan die kriewelrige
dieplonghoes,

jonges wat koponderstebo
voorafbetaalde lugtyd laai
in vingerkontak met soveel
vreemdelinge
wat almal vriende noem
musiek in die ore,

die drywer sien tasse laai
in die ruim,

die oues op ’n drafstap met vol blaas
sien haas.

Ek wil in die nag reis
met my kop vol stukke skerwe van ons drome

Ek wil selektief in die donker kyk,
my verbeel hoe alles dán eenders en heel lyk.

Ek besluit toe om, al is dit met ’n goeie paar ure se ompad, wel weer met die Greyhound te reis, vanaf Port Elizabeth na Swellendam en dan verder na Montagu. Vanuit Port Elizabeth reën dit – nie hewig nie, ’n lastige motreëntjie. Dit is moeilik om in busse te slaap, selfs ten spyte van my medikasie vir reissiekte, wat waarsku: “Stugeron kan tot lomerigheid en verswakte konsentrasie lei, wat deur die gelyktydige inname van alkohol of ander sentrale senuweestelseldepressante vererger kan word. Pasiënte behoort nie gevaarlike masjinerie te hanteer, ’n motorkar te bestuur, of enige potensieel gevaarlike take, waar ’n verlies in konsentrasie tot moontlike ongelukke kan lei, te verrig nie.”

Ek het lanklaas sulke korrekte Afrikaans op ’n invou-biljet gelees.

Dit reën onverpoosd, sommige kere harder, ander kere weer net die siftende gietertjie uit die hemel. Iewers buite Knysna en teen die Kaaimanspas naby George kom die beelde van Opperman se “Stad in die mis” op. Lae dik wit mis waardeur jy met die grootste moeite ’n pad moet baan – ek is bly ek is nie die drywer wat met soveel lewens in sy hande ’n veilige rit moet verseker nie.

Diep in die nag stop ons op Mosselbaai, en al die beelde in die gedig by die aanhef is daar. Die reuk van die koffie en pasteie en slap tjips dwing my om nog ’n tablet te neem. Links van my en my reisgenoot lê ’n man in kortbroek en plakkies opgekrul op die bank en snork. Hy het vroeër in Port Elizabeth vir groot konsternasie gesorg toe hy, met ’n gevolg van so tien, van die ander bus af gestorm het. So ’n paar ras-pejoratiewe uitlatings van hom bly my by, en die gepaardgaande swanger stilte wat ongemaklik tussen sy gespreksgenote bly hang het. Met bekke vol tande het niemand hom durf teregwys nie.

Agter hom sit twee dames, die een ’n weduwee, soos ek uit die gesprek aflei. Hulle gesels oor probleme met kinders, kinders wat al aan die verkeerde kant van twintig is, maar sukkel om rigting te kry in hul lewens: dwelms, inrigtings, verhoudings wat nie wil werk nie, al dié vuil wasgoed teen die oggendure.

In die donker verwar ek Albertinia met Swellendam en haas my teen die trappe af om te wil uitklim. Ek draai verleë om na die boonste verdieping toe ek die naam sien. Dit is ’n lang nag en ek verlang na die luukse van ’n bed, met winterlakens en ’n sagte kussing.

Net voor sewe in die oggend is Swellendam nog donker en koud. Winterkoud. Die yswind sny dwarsdeur my jeans. Die berg is toe onder mis. En vervoer vanaf Swellendam na Montagu is ’n skaarste. Ek kry ’n nommer by ’n kafee, maar teen R650 besluit ek dit is hopeloos te duur en wag. Later bel ek iemand verbonde aan die fees en kry vervoer vir goed ’n derde van die bedrag.

Die rit tussen Swellendam en Montagu gee ’n glimps van hoe mooi dit hier is. Die wolkerigheid en mis steek egter, soos ’n Glenda Kemp van ouds, die beste weg.

Dan deur daardie skeure en voue van die berg. Montagu ...

Stort, warm komberse (somerlakens) en sagte kussings. Vier ure se ononderbroke slaap volg. Later die middag, effe son, bobotie by ’n straatkafee ook, ’n paartjie met ougeld en ’n Engelse aksent.


Duiwe, Stanley Bekker en waterblommetjies

Vrydag skop die fees af. Nog ’n breinkind van die KwaZulu-Natalse Darryl David – hy met die Karoo op die motor se registrasieplaat.

Ironies. Breyten in die NG Kerksaal. Wat het hy nou weer geskrywe oor ’n graf en ’n NG predikant?

As ’n vreemde soort poetic justice het die “R” in die naam bo die ingang weggeraak en staan daar in die mooi Kaapse idioom van hier nou “KE...K”.

Thys Human lei sy praatjie in met Breyten se “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif”. Hy word gevolg deur ’n hoogs vermaaklike Elza Miles, wat ons (ondanks “sabotasiepogings” deur die Microsoft-tegnologie van PowerPoint) aan die hand van die tekeninge in John Miles se Stanley Bekker en die boikot terugneem na ’n vergete tydperk waaroor daar deesdae gans te min gepraat word.


Thys Human


Ek gesels oor my nuwe digbundel, Rangeer, vriendskappe met skrywers, Peter Snyders en wyle Wessel Pretorius en noem die drie dinge wat vir ’n digter toon dat hy gearriveer het:

  1. ’n Gunstige resensie deur Joan Hambidge
  2. Daniel Hugo lees jou verse voor op Margot Luyt se Vers en Klank op RSG
  3. Fanie Olivier neem ’n gedig van jou op in Die mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte.

Ek is so een derde daar ...

Daarna volg ’n reis per motor saam met (ja, eat your heart out) Ingrid Winterbach en Anton na Bonnievale, ’n besoek aan die museum, ’n plaas met outydse gasvryheid, die lekkerste waterblommetjie- of patatsop, tuisgebakte brood, plaasbotter, berge en ’n verdwaalde goederetrein wat in die verte verbyry.


Aalwyne op pad na Bonnievale

Na ete: Fanie Olivier se insiggewende kykie na klein publikasies van Breyten, ’n tour de force deur Louis Esterhuizen getiteld “Wat die water onthou – die problematiek van tyd in die gedig”. Hy las verskeie gedigte aanmekaar, rangeer hulle in posisie en lewer ’n meesleurende voorlesing.

Die laatmiddag, vroegaand ’n gemoedelike loslit kuier om ’n lang tafel, met Castle, koffie, rooibostee en rooiwyn. Alles wat hier gesê en vertel is, bly off the record.


Bibi en die hoofletterblaps

Saterdag, heerlike son, en ek wurm my uit die trekkerrit.

Ek ontmoet amptelik vir Bibi Slippers. Skud hand. Vriend Fanie Olivier word taalkundig op ’n ompad verlei omdat die gedrukte program Bibi se gleuf aankondig as “Breyten Breytenbach in Beeld”. Hy dink dat dit iets te doen het met Breyten se verhouding met die Afrikaanse koerant, maar op Bibi se PowerPoint sien hy, tereg, dat dit “in beeld” is.

Teen die einde van haar voordrag, by ’n foto van Breyten as kleuter wat voor sy sittende pa staan, speel sy ’n insetsel voor waar hy lees (ek het dit op ’n Facebook-pos as een van die aandoenlikste oomblikke van die fees beskryf): “Ek sal sterf en na my vader gaan/ Wellington toe met lang bene/ mý vader het 'n groot bôrdienghuis.”

Daar sit, vir ’n wyle, ’n knop in elke keel, ’n nattigheid in elke oog.

Buite vra ’n jong paartjie (wat binnekort ouers gaan word) dat ek hulle afneem. Die man is boer, ook aspirantdigter. Ek wys hom my publikasie en raai hom aan om te begin publiseer op webwerwe, ens. Hulle is verlief, eet sop en melktert, daar is drome en gedigte en boeke in hul oë.

My vriendin kom terug van die trekkerrit en ons skep asem met middagete in die ouetehuis se eetkamer met die blik op die berg. Pampoenkoekies en later koeksisters.

Afgetrede regter Chris Nicholson het dit oor sy debuutroman, The one hand washes the other: links- en regshandigheid, die mens se neiging tot “evil”; hy beken ook dat hy jare gelede ’n kortverhaal (onder ’n skuilnaam) in Penthouse gepubliseer het.

Ingrid Winterbach in gesprek met Darryl David en Thys Human oor bekronings, die invloed van omgewings op haar skryfwerk, boekomslae, titels en skuilname; en Maritza Breitenbach plaas die kersie op die koek met haar vermaaklike The Cookie Book: Celebrating the art, power and mystery of women’s sweetest spot. Gretige kopers koek om haar saam om die rooi boekie te koop.


Maritza Breitenbach


Huiswaarts, die kroeg, die twee mugu’s

Die Sondag drentel ons in die strate. Eet ontbyt, blaai deur die koerant terwyl ek met ’n halwe oor luister na ’n selfvoldane omie by die tafel langsaan. Hy vertel aan die kinders en kleinkinders van sy reise in Amerika, besoek aan Universal Studios, Disney World. Die tannie vertel ook met oorgawe hoe sy gekots het van slegte kos by ’n kafee op ’n kusdorp. Mense praat oor die mees onvanpaste onderwerpe op die mees onvanpaste plekke.

Ons het die hele dag se tyd gaan sit by die voëlkykskuiling op die Leidam. Daar sien ek swartkeelgeelvinke. Ek haal my sakboekie uit en skryf die volgende neer vanaf die inligtingsbord: “Polygamous and colonial, it breeds mostly in trees over hanging water.”

Later groet ons vir Darryl in die straat. Hy laai sy honde. Ons stem saam dat Montagu ’n fantastiese plek is, ’n plek waar jy ’n huis kan kom koop.

Teen die middag is ons vervoer reg na Swellendam. Klein plekkies, plasies snel by ons verby: Remhoogte, Voorhuis, Spanspek se plek. Die landskap groen, witgekalkte huisies, die berge, die berge.

Op Swellendam klim ons by die vulstasie af. Ongeduldig begin die ses uur lange wag op die bus wat soos ’n grys hond uit die nag moet kom. Die petroljoggie beveel aan dat ons in die kroeg gaan wag. Daar is ’n vuur, ’n paar dobbelmasjiene.

Die kroeg is ’n oseaan vol dobberende oë wat noodseine in die donker instuur. Dit is skemer binne; dit lyk soos wat ’n toneel uit ’n roman van Etienne Leroux kon wees, karakters uit ’n drama. Daar is ’n paar mense, seker tussen tien en vyftien, ’n man wat met ’n glasie probeer geselskap maak, terwyl ek onwillig terugmompel en my oog op die skerm met Wimbledon se gemengde dubbels hou. Hy vertel sy lewensverhaal en soos die glas hervul word, verloor hy die draad en loop dubbelspoor terug op sy storie.

Sy vrou beproef haar geluk op die dobbelmasjiene. Daar is nog twee ander pare, twee enkelvroue (die ene lyk asof sy trokke doen), ’n paar jonges by die pool-tafels, twee enkelmans … wit. Die een met kortmoue, die ander slierte takhare. Stories, later nog meisies wat inloop – hulle soek teen die kroegtoonbank af; nog stories uit die ander hoek. Ek tel los woorde op ... “light my fire baby ... joint ... spliff ... high ... bungee jumping”. Die diep keellag van vroue wat weet dit word laat … Almal probeer hul geluk met die kroegmeisie.

Skuins voor tien het die man met sy glas my so gatvol met sy onsamehangende gesels dat ons, ten spyte van die koue, ons tasse neem en buite op die stoep van ’n kafee gaan wag.

In die straat jaag ’n verkeerskonstabel met flikkerende blou ligte ’n bakkie van agter af in en trek dit van die pad af.


Tuis

Maandagmiddag laat kom ons in Cradock aan. Ek het vanoggend op my boekrak gaan soek, en die klein bruin boekie uitgehaal.

Ek het Elza belowe ek sal dit weer lees en met nuwe oë na die tekeninge daarin kyk.

  


Alle foto's deur Darryl David. 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top