Boekresensie: Prooi deur Fanie Viljoen

  • 1

Titel:   Prooi
Outeur: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA, 2015
ISBN: 9780799375169

Fanie Viljoen woeker met woorde. Hy ryg hulle vindingryk uit en sy repertoire groei teen ’n verbysterende spoed. Literêre toekennings vir sy werk dateer sedert 1999 en daardie lys is reeds armlank.

Die donker sielkundige riller Prooi word as jeugboekskrywer Fanie Viljoen se eerste volwassene-roman beskou en bemark. Hierdie werk het volgens die skrywer as ’n jeugverhaal begin, maar is uiteindelik deur die uitgewer as volwassene-leesstof uitgegee. Prooi fokus inderdaad op ’n heel nuwe ervaringswêreld wat verby die tienerjare strek. Dit kan waarskynlik ook as ’n volwaardige voorbeeld van ontluikende New Adult Fiction (NAF) in Afrikaans gesien word. Vir hierdie term bestaan daar nog nie ’n erkende Afrikaanse ekwivalent nie. Dit is daardie literatuur waarvan die karakters in die ouderdomsgroep 18 tot ongeveer 25 val.

Nuwe-volwassene-fiksie (NVF) is ’n betreklik jong genre. Die benaming dateer uit 2009 met die skryfkompetisie wat deur St Martin’s Press van stapel gestuur is, maar het uiteindelik in 2012 stoom opgetel met die publikasie van verskeie NV-romans deur tradisionele uitgewershuise in die VSA. Dié tans gewilde genre behou die emosiebelaaide storielyn en doodsveragtende verhaaltempo van die jeugverhaal, maar dit bou ook verder uit aan verhaalgebeure wat op ’n lewensfase ná adolessensie fokus. Temas wat gedek word, sluit aan by dié van die jeugverhaal, met kwessies soos seksuele misbruik, woedebeheer en gekwelde familielewens, asook dwelm- en alkoholmisbruik en selfdoding. NAF neem egter die leser ’n stap verder, dieper die menslike psige in – na nuwe ervarings in die wêreld van werk, studie en verhoudings in ’n soort op weg wees na volwassenheid. Na ’n wêreld waar gelééf word, swaar belaai met emosie, maar met karakters sonder die ervaring en die lewenswysheid van hoe om dit te hanteer. Die suksesvolle skrywer van NAF moet dus vreesloos kan skryf – en aan hierdie talent, weet ons reeds (ná werke soos Uit, 2014 en Pleisters vir die dooies, 2014), ontbreek Fanie Viljoen geensins.

Die oeroue driehoeksverhouding kry in Prooi ’n vars kinkel wanneer drie jongmense se paaie kruis. Daar is Cody Young, die arrogante seksjagter wat meisies misbruik in sy soeke na die sin van sy lewe; daar is Owen Jooste met die vinnige humeur wat sy pad na ’n nuwe, beter lewe met sy vuiste wil oopvoeter; en dan is daar die meisie met die houding, die soel skoonheid, Lauren Cooper, ’n meisie wat met haar eie spoke worstel en uiteindelik ’n destruktiewe koers inslaan, wat die driehoek voltooi.

Cody is so koel soos ’n voordagbries. Hy kom selfversekerd voor en pamperlang homself met duur klere en gesigsbehandelings om meisies te kan vang. Ydel en bykans gewetensloos stoom hy op hierdie pad voort. Hy weet wat hy wil hê, hetsy dit klere of meisies is. Hy “weet presies waarna hy soek: die perfekte hemp. Modern en netjies gesny sodat dit sy lyf goed sal afwys.” Hy dollie hom op vir die dollas – met sukses, want die meisies kry hy, maar dis nooit genoeg nie. “Die doodsheid bly in hom”, want wat om met sy eie lewe aan te vang, hoe om dit te verstaan, bly hom immer ontwyk.

Owen het ’n probleem met woede: “Hy probeer hard om nie nog kwater te word nie. Dis gevaarlik, weet hy.” Hy waak jaloers oor sy verhoudinge met Lauren en hy probeer wegkom van ’n verstikkende verbintenis met Diana, ’n ouer vrou, en haar “duiwels wat jou inwag”. Dan is daar die vlug van ’n ouerhuis waarvoor hy hom skaam, die herkoms waarvan hy wil ontsnap. In die gevegshok kry hy kans om die woede uit homself en die lewende hel uit sy opponente te moker. “Hy breek die ding wat in sy pad kom”, maar dis hierdie einste woede en die kwessie van beheer daaroor wat sy verhouding met Lauren bedreig, wat die sukses van sy loopbaan kan fnuik. Daar is ook die “fabulous” Ava Ray Mystique wat agter sy lyf aan “perv”, maar vir haar het hy nie oë nie. Lauren is die meisie wat hy wil hê, die een wat deel is van sy plan om uit die riool uit op te staan en iets van sy lewe te maak.

Lauren is “mooi soos ’n walkway model” met ’n “ding vir bad boys”. Ouens soos Cody en Owen. Sy leef in die skaduwee van haar perfekte suster, onder die ewige gepreek en verwyte van haar ma en met die gevoel van mislukking wat daarmee gepaard gaan. Drank en dwelms bring vir haar die vlietende, vernietigende ontvlugting wat sy soek.

Drie jong protagoniste, elk met hulle kwellings en kwessies, word in Prooi aan die leser bekendgestel. Daar is onverwerkte familiesake, slegte gesinsverhoudings, die smet van verfoeilike ouers, die druk om te gaan studeer, probleme by die werk, die vrees vir verwerping, die verlies van ’n geliefde, jaloesie, verkeerde keuses en lyflike swakhede.

Van die lyflike gepraat: die seksfaktor in Prooi is prominent. Afgesien van die boeiende storielyn en die snelle pas van die verhaal is daar eksplisiete seksuele inhoud. Benewens die sekskapades van Cody is daar die intense fisieke sy van die verhouding tussen Owen en Lauren. Daar is rou begeerte ook by newekarakters soos Aga en midde in hierdie spel met die lyflike staan Black Valentine en sy madame Diana. Die nagklub word vir die leser ’n karakter op sy eie, een wat dreigend die spanning aanvuur tot die klimaks teen die einde van die verhaal.

In die woorde van Chanette Paul, ’n keurder vir LAPA, is “die seksuele jagter nog nie voorheen só in Afrikaans omskryf nie. Die teks sal die leser van die begin af versmoor in die komende verdoemenis wat eenvoudig móét opdaag …” Hierdie spanningslyn hou Viljoen immer stygend en deurgaans tasbaar. Sy karakters is geloofwaardig, soms bejammerenswaardig en goed ontwikkel, soos in al sy werk.

Wat die ril-element in die boek soveel stukrag gee, is die feit dat nie een van die karakters besef dat hulle in werklikheid prooi is nie. Cody die selfversekerde jagter is eintlik Cody die prooi van sy eie gejaag na selfvernietiging. Dieselfde geld vir Lauren. Sy flankeer met gevaar, tart dit uit en besef nie dat sy uiteindelik die slagoffer gaan wees nie. Die donker woede in Owen maak van hom ’n gevaarlike jagter. Sy strewe na ’n beter lewe maak van hom ’n dier in die heksagoon, want daar “is hy niemand se pel” nie. Hy “baklei tot hy breek”, maar ook hy is die prooi van sy eie jaloerse woede.

Die taalgebruik in Prooi is gepas binne die NAF-genre. Dis loslit en jeugdig, soos dit hoort, maar tog ook met ’n aangrypende diepte waar nodig: “Hy kyk hoe die laaste sonlig oor sy ma se fyn hare en hartseer mond val. Dis moeilik om te dink dat sy eens so gelukkig was.”

Fanie Viljoen is ’n uiters produktiewe skrywer. Boeke rol eenvoudig uit sy pen voort. Prooi het pas verskyn en daar is blykbaar reeds weer etlike boeke in wording. Alhoewel hierdie sy eerste boek vir die volwassenemark is (daar het reeds radiodramas, gedigte en kortverhale vir die ouer leser verskyn), sal Prooi hopelik dan ook nie die laaste wees nie.

Vir die connoisseur van die psigologiese riller mag Viljoen met Prooi dalk nog nie die formaat van ’n Chris Karsten ewenaar nie, maar as ’n debuut in hierdie genre stel Prooi sy skrywer se aanhangers allermins teleur.

Prooi sal waarskynlik uiteenlopende reaksie ontlok. Dit ontsien immers geen sensitiewe siel nie. Daar sal lesers wees wat hier vergeefs na Viljoen se jeugverhale gaan soek. Daar sal dié wees vir wie die blatante erotiese aard van Prooi en die ontbloting van die donker siel van die mens onaanvaarbaar sal wees, veral gesien in die lig van die ouderdom van die hoofkarakters. Maar dan sal daar diegene wees vir wie die felheid, die intensiteit van die emosies vreeslik (maar tog so mooi) sal wees – diesulkes wat daardie dramatiese, angst-gevulde en stomende tydperk tussen adolessensie en volwassenheid sal herken en so ’n ontstellende, onvergeetlike leeservaring sal geniet. Prooi het ’n treffende voorblad wat deur lesers self uitgekies is.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top