SêNet-briewe | Letters

 
Blade Nzimande en William Makgoba: "Two Frankenstein's monsters"

Ek het voorheen gunstig na RW Johnson se kommentaar (bv oor universiteite) en sy boek, South Africa's brave new world (London: Penguin, 2010, 710p), verwys, maar ook kritiek uitgespreek (SêNet, 27.06.2011, 12.01.2012, 24.07.2012). Hierdie skrywe handel oor universiteite en die rol van veral twee persone, Blade Nzimande en Malegapuru William Makgoba. Wat die Universiteit KwaZulu-Natal (UKZN) betref, word hierdie twee deur Johnson in 'n 2012-publikasie (besonderhede hieronder) "two Frankenstein's monsters" en "the twin architects of its destruction" genoem. Daar is hierdie wesenlike gevaar: "UKZN foretells the future of some of the other 'core' universities;" vergelyk die laaste paragraaf hieronder.

In sy 2010-boek noem Johnson dat Nzimande, Suid-Afrika se voorste kommunis en daarby die minister van hoër onderwys, die seun van 'n Mosambiekse toordokter is (p 95). Makgoba is die rektor van die UKZN: "He describes himself as 'a first-rate, world acclaimed African scientist ... my unquestioned brilliance as a scholar and [my] pioneering achievements, with few equals in my field and even fewer superiors.'" Makgoba vind dit egter nodig om toordokters te raadpleeg (p 376), wat 'n band met Nzimande bewerkstellig.

"Makgoba compared the white males who made up the largest proportion of his academics to superannuated apes without, apparently, considering how that reflected upon the university's slogan, 'The Premier University of African Research', which is to be seen on every campus lamp-post and palm tree" (p 587). Johnson: "Higher education was damaged by affirmative action" (p 385). "The educational system deteriorated markedly in ANC hands and, effectively, the government insisted that expertise and good qualifications did not really matter ... meritocratic criteria was regarded as intrinsically racist" (p 430). Johnson verwys ook na die "deliberate dumbing down of matriculation standards by Kader Asmal" (p 432), 'n vorige minister van onderwys.

Johnson het verdere kommentaar oor hierdie onderwerp gelewer in 'n werk wat net elektronies beskikbaar is: The African University? The critical case of South Africa and the tragedy at the UKZN (Cape Town: Tafelberg, 2012). [Ek kan ongelukkig nie bladsyverwysing verskaf nie.] Daar is nie 'n enkele Suid-Afrikaanse universiteit in die top 100 nie en daar is net drie (Kaapstad, Wits en Stellenbosch) in die top 400. Die gehalte van die kontinent se universiteite onderstreep "Africa's backwardness". Dít terwyl Alexandrië in Egipte reeds in die vierde eeu vC 'n sentrum van geleerdheid was. Met verwysing na Suid-Afrika, skryf Johnson: "The 1980s are now seen as a golden age in campus terms," want daar was toe "proper university life - which must always include a dissenting academy." [Vergelyk dit met die hedendaagse feitlik volslae ANC-gedienstigheid.]

In Marokko word goeie universiteite aangetref omdat hulle op die Franse model geskoei is. In die buurland Algerië, daarenteen, is die Europese model verwerp. Voorkeur word daar aan Noord-Afrikanisering, spesifiek Arabisering, gegee. "The results have been catastrophic, particularly since 45% of the population speaks Berber, not Arabic, while even most Arabs are not conversant with literary Arabic." Anders as in Marokko, verkies Algerië nasionalistiese fundamentalisme bo globalisering.

'n Ander les uit Afrika is dat die universiteit in Dakar, Senegal, deesdae die Universiteit Cheikh Anta Diop heet, dus "renaming one's chief university after an ideologue." [Vergelyk dit met die Universiteit Port Elizabeth wat die Nelson Mandela Metropolitan University geword het en die Universiteit Transkei wat deesdae die Walter Sisulu University heet. Mandela en Sisulu is nie-akademici by uitnemendheid.] Dit vloek teen die ideologiese neutraliteit wat kenmerkend van egte universiteite is.

Volgens die Wêreldbank het Afrika se universiteite sedert politieke onafhanklikwording te vinnig uitgebrei, gevolglik is akademiese gehalte ingeboet: "Fewer but higher quality graduates would serve Africa better." Minder as 'n vyfde van die dosente het doktorsgrade. "African students are more likely than others to stay on in the countries whose universities they attended." [Dus, hoe meer studente uit swart Afrika deur Suid-Afrikaanse universiteite getrek kan word, des te beter kan plaaslike wittes uit poste gehou word.] "It's clear that the one thing the Bank doesn't want to compromise on is university quality. 'For an effective contribution to the development of the continent, higher education in Africa must meet international standards of quality' ... The corollary is that universities have to be elitist and quite unashamed of it: their job is to produce the best-educated graduates they possibly can." [Dus, laat die akademies beste studente toe en stel die akademies beste dosente aan, sonder inagname van ras/kleur, geslag, ens. Dit is die teenoorgestelde van wat rektore soos Russel Botman en Jonathan Jansen oor en oor verkondig.]

Teen hierdie agtergrond bespreek Johnson vervolgens Suid-Afrikaanse universiteite, met spesiale verwysing na die UKZN, die eens akademies-respektabele Universiteit Natal, waarby die Universiteit Durban-Westville ingelyf is. Maandelank is die kontrakpersoneel nie betaal nie, terwyl die rektor, Makgoba, meer as enige van die plaaslike rektore vergoed is; selfs meer as Thabo Mbeki, toe dié die staatshoof was. Johnson vestig die aandag daarop dat net rektore wat vir die ANC aanneemlik is, deesdae aangestel word: "Today's vice-chancellors [rektore] do not stand much comparison to those of 50 years ago ... there has been a proliferation of deputy vice-chancellors where the quality is also doubtful." Daar is tans minder sprake van universitêre outonomie en akademiese vryheid as tydens apartheid. Regstellende aksie vier hoogty by studentetoelating en by die aanstelling van dosente. Die gevolg is "semi-literate students" op die kampus en 'n verlaging van akademiese standaarde.

"School education in South Africa has utterly collapsed under ANC rule." Die rangorde in 127ste in die wêreld; selfs swakker as dié van Mali. Desnieteenstaande wil Nzimande die getal naskoolse studente teen 2030 vervyfvoudig. Tans is die situasie reeds dat universiteite "are admitting legions of uneducable youths ... the whole bottom half of university entrants should simply not be in tertiary education at all ... the universities routinely fail 80-90% of their intake ... if they pass even half ... they will have ceased to be universities in any meaningful sense."

Nzimande het hom as 'n inmenger in universitêre sake bewys. Soos die kommuniste en die ANC, is hy 'n aanhanger van ferme, gesentraliseerde staatsbeheer. Hy wil universiteitstoelating sentraal beheer, "which would be used to flood universities with applicants who would doubtless be selected on racial, political and class lines." Johnson wys daarop dat die Universiteit Kaapstad en die Universiteit Stellenbosch by bv geneeskunde reeds op eie inisiatief Nzimande se beleid toepas. Dit gaan om "equality, diversity and transformation, which means ... affirmative appointments and admissions ... it doesn't much matter if quality suffers." Nie-akademiese oorwegings geniet voorkeur.

Nog 'n ideaal van Nzimande, asook van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en die ANC Jeugliga, is dat alle opvoeding, dus op skool- en naskoolse vlak, gratis moet wees. [Vir veral wittes is dit selfs op skoolvlak nie naastenby gratis nie.] Sosialisties word hier net aan die werkersklas en die armes gedink. In die nuwe Suid-Afrika het die owerheidsbefondsing van universiteite in reële terme afgeneem. Universiteite is al hoe meer op skenkings aangewese, maar dit is in omvang baie kleiner as in bv Brittanje en die VSA. Groter onafhanklikheid van die staat kan 'n reddingsboei vir universitêre outonomie en akademiese vryheid wees. Maar Nzimande wil juis private opvoedkundige inrigtings op alle vlakke uitroei.

Aan die UKZN is besluit dat Zoeloe en Engels teen 2016 in gelyke mate (dus 50-50) in die administrasie en onderrig gebruik moet word. 'n Eentalige universiteit word dus in 'n tweetalige universiteit getransformeer, ten spyte van al die ooglopende probleme wat dit veroorsaak. "The real political point of all this is not actually to achieve anything worthwhile for the Zulu language but to browbeat and bully the non-African faculty." Dit word nou reeds gebruik om nie-Zoeloe-sprekers, veral wittes en Indiërs, uit poste te hou. Dit vind aansluiting by Nzimande se ideaal dat alle studente (op skool- en universiteitsvlak) verplig moet word om 'n Afrika-taal aan te leer. [Michael le Cordeur, die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, is liries-ondersteunend hieroor, maar Johnson wys tereg daarop dat Afrikaans "didn't count".] Sonder 'n krediet in 'n Afrika-taal sal studente nie kan gradueer nie.

Maar Nzimande wil verder gaan: "Universiteite se staatsfinansiering [sal] dalk afhang van hul bydrae om Afrikatale te ontwikkel" (Die Burger, 23.11.2012, p 6). Anders as wat Le Cordeur dink, gaan dit vir Nzimande om swart tale en nie Afrikaans nie. Die owerheidsubsidie is die hefboom wat Nzimande by voorkeur gebruik om universiteite na sy pype te laat dans. Nzimande se standpunt is egter strydig met wat die swartes self tydens apartheid gekies het: al die universiteite vir swartes het Engels as voertaal gekies. In die nuwe Suid-Afrika is Limpopo die enigste provinsie onder ANC-beheer wat onderrig in 'n swart moedertaal ondersteun. Waar moet al die onderwysers in swart tale so skielik vandaan kom? Johnson wys ook daarop dat as die afgestudeerde studente in Afrika nuttig wil wees, hulle pleks van Zoeloe eerder Engels, Frans, Arabies, Swahili of Portugees magtig moet wees.

'n Dekaan aan die UKZN, Nobuhle Hlongwa, meen dat studente nie internasionaal aanvaarbare kwalifikasies moet begeer of daarna moet streef om Europeërs te wees nie. Die leerplanne moet getransformeer word met spesiale klem op "African knowledge production". Dit moet om "African indigenous knowledge", "the African philosophy of ubuntu" en "skilling students ... for employment" gaan. Dit vind aansluiting by Jacob Zuma se onlangse uitlating oor dinge wat "hoort in 'n wit kultuur en ... nie die Afrika-manier van doen [is] nie." Swartes moet nie witheid nastreef nie (Die Burger, 28.12.2012, p 1). Makgoba het wit, manlike akademici in dieselfde trant aangeval. Hulle "were badly in need of 'treatment and a proper African rehabilitation'. Indeed, he declared, only when they ate, talked, sang and danced like Africans did they have any hope of being readmitted to the human race. This was nothing less than a declaration of a sort of racial war against non-Africans."

Die resultaat is dat sonder die kundigheid van wit en Indiër akademici, die UKZN gevaar loop dat die opleiding wat vir professies soos medies, ingenieurswese, argitektuur, rekenmeesterskap en sielkunde aanbied word, nie meer deur hierdie professionele liggame erken sal word nie. Maar aan die UKZN gaan dit om selfs meer as "social closure against non-Africans." Dit neig om diskriminasie teen alle nie-Zoeloes te word. Die UKZN wil uitdrukking aan Zoeloe-nasionalisme gee. "Nzimande, it should be realised, has simply hitched a ride on Zuma's Zulu caravan." Die doel is klaarblyklik "to exclude and marginalise whites, Indians and coloureds ... Is there a belief that blacks are innately inferior and cannot stand against competition from talented minorities? ... It goes without saying that this will destroy any proper university, and that sort of ridiculous parochialism has no future at all in a globalised world."

Dat Nzimande en Makgoba die UKZN as maatstaf kan gebruik waaraan alle plaaslike universiteite gemeet word, het onlangs geblyk toe Nzimande 'n oorsigkomitee vir universiteite, met Makgoba as voorsitter, aangestel het. Soos voorspel kon word, gaan dit vir hierdie komitee eerder om politieke as akademiese sake: rassisme, seksisme, diskriminasie en transformasie. Dat die UKZN die toonbeeld is van wat universiteite volgens Nzimande moet doen, blyk uit sy opmerking dat die UKZN "die meeste gedoen het om met 'diskriminasie-kwessies te worstel'" (Die Burger, 24.01.2013, p 12). Let op hierdie kontras: Onder Makgoba se leiding mag die UKZN maar ver-Zoeloe en Zoeloe-nasionalisme koester. Die Universiteit Stellenbosch mag egter nie sy tradisionele rol met Afrikaans as voertaal en die bevordering van Afrikaner-nasionalisme voortsit nie. Albei hierdie kenmerke is geoormerk vir algehele vernietiging deur Russel Botman se beoogde "totale transformasie" (Die Burger, 5.09.2012, p 11).   

Johannes Comestor


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address