Bieg @ LitNet op OFM

  • 0

Die woordeboek omskryf bieg as "om jou sonde te bely". Tradisioneel word bieg gekoppel aan ’n skuldige gewete. Jy bieg byvoorbeeld by ’n priester.

Maar is dit die enigste rede waarom mense bieg?

Johrné van Huyssteen, sanger en radio-omroeper by OFM in Bloemfontein, het, nadat hy 'n foto van 'n meisie met 'n karton om haar lyf gesien het waarop staan: “I am a thief, I stole from Walmart" gewonder: Hoekom? En hy bel LitNet, want sover hy weet, is LitNet die enigste webruimte waar mense anoniem in Afrikaans bieg.

Op 22 Januarie voer hy op OFM ’n onderhoud met LitNet se biegmeester, Naomi Meyer.

Hoe lank doen julle al die biegblad?

LitNet as ruimte bestaan van 1999 af. Die brieweruimte, SêNet, was een van die gewildste aspekte van LitNet op daardie stadium. Die biegruimte bestaan van 2006 af, toe die uitvoerende redakteur van LitNet, Etienne van Heerden, ’n Amerikaanse webruimte opgemerk het waar mense anonieme poskaarte kon plak. Hierdie gedagte is op LitNet verder gevoer na ’n anonieme, virtuele biegstoel. LitNet se biegruimte is ’n veilige plek om jou donkerste geheime te kom vertel. Die stuk word eers deur die redaksie gelees  voordat dit verskyn. Dit beteken dat mense as ’t ware teen hulself (en teen ander) beskerm kan word wanneer hulle bieg. Die redaksie kan keer voor dinge te ver gaan.

Hoekom dink jy is mense gefassineer oor bieg?

Mense wil graag weet wat ander mense doen. Dikwels wil mense weet dit gaan net so sleg met ander mense as met hulle. Of erger. Mense wonder ook of ander mense se lewens soos hulle lewens lyk. Almal hou bietjie daarvan om mekaar dop te hou – dink maar aan Facebook. Fantaseer ander mense oor buite-egtelike verhoudings? Hét hulle buite-egtelike verhoudings? Het hulle meer seks? Het hulle afgekyk in die laerskool? Is daar vroueklere in sommige mans se kaste? Sulke soort dinge. En die grootste trekpleister by LitNet is dat mense dit anoniem kan doen. En kan wéét hul belydenis lok baie lesers. So dit bevredig ook die behoefte aan voyeurisme.

Het julle al ’n bieg gehad wat almal in die kantoor moes lees, hetsy skokkend of snaaks of so.

Ons hanteer alle biegstukke wat hier opdaag, met respek. Maar soms is ’n belydenis so dat mens nie anders kán as om dit in die kantoor te deel nie. Om eerlik te wees, mens sien soms hier op kantoor nie kans om ’n stuk hardop voor te lees nie, dan noem iemand dalk net dat die ander op die biegruimte moet gaan loer. Ek kan wel verklap dat 'n biegstuk wat op die oomblik baie aandag trek, 'n stuk is wat nie skokkend of snaaks is nie, maar so eerlik is dat mens amper lus voel om mense se aandag daarop te vestig. Dit verdien 'n gesprek: dié biegstuk wat handel oor 'n man wat vra of hy alleen is in sy langtermynverhouding met so min seks. Lyk alle verhoudings so? 

Bygesê: die biegruimte is ’n volwasse plek. Die materiaal kan sensitief of eksplisiet van aard wees. Ons voeg ’n disclaimer op die fokusprentjies of meld boaan die stuk dat die stukke nie vir lesers onder 18 bedoel is nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top