Biebouw-resensie: Seisoen van lig en donker deur Alta Cloete

  • 0

Titel: Seisoen van lig en donker
Samesteller: Alta Cloete
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799369755

Koop Seisoen van lig en donker by Kalahari.com

In Alta Cloete se sewende roman in die Geur- en Seisoen-reekse, Seisoen van lig en donker, leer die driemanskap Liesel, Herman en Jennifer die donkerte van depressie en selfmoord ken. Hulle is van kleins af boesemvriende en in dié boek is hulle klaar geswot en elkeen besig om sy pad in die onderwys te begin vestig.

Soos hul gewoonte is, gaan kuier hulle vir die skoolvakansie in die Karoo op Liesl se ouers se plaas en die bekende samehorigheid is weer daar. Herman het van sy tienerdae af ’n ogie op Jennifer, maar hy weerhou hom daarvan om dit aan haar te openbaar; en Liesl, die stil een van dié driemanskap, is ’n integrale deel van die vriendskap, maar voel tog soms soos die derde wiel aan die wa. Hulle gesels tot laatnag, kommerloos en vry, al drie aan die begin van hul volwasse lewens.

Op die tweede oggend van hul vakansie kry Liesl Jennifer se lewelose liggaam in die badkamer. Dit laat almal met vele vrae, aangesien Jennifer altyd die toonbeeld van selfvertroue en geluk was, ten spyte van die MIV-status waarmee sy gebore is. En terwyl almal die skok van haar dood probeer verwerk, volg nog skokke: sy was swanger, ten spyte van haar besluit om selibaat te lewe omdat sy nie die kans wou waag om ’n baba aan MIV bloot te stel nie.

By die begrafnis is daar twee vreemde mans wat baie hartseer is oor haar dood en dalk romanties aan haar gekoppel kan wees. Die raaisels verdiep. Liesl en Herman voel verraai, want hul boesemvriendin se geheime het hulle onwetend eintlik vreemdelinge vir mekaar gemaak.

Liesl is van kleins heimlik verlief op Herman, maar kan nie waag om haar gevoelens vir hom bekend te maak nie, uit vrees dat dit dislojaal teenoor haar dooie vriendin sal wees. Boonop is Herman in rou oor Jennifer, sy verlore liefde. Liesl se woede vir haar vriendin se geheime, die keuse om haar eie lewe te neem en niks aan haar beste vriendin te verklap nie, maak dinge ook vir dié depressielyer moeiliker, omdat Jen Liesl se hoop om eendag as alles te veel word, haar eie lewe te neem, in die wiele gery het.
Hoewel dit moeisaam gebeur, vind die karakters deur selfkennis die genade van liefde. Hulle leer ook hulself ken en ontdek kragte en karaktereienskappe wat voorheen verskuild was.

Karakters in die boek is sal aan sommige lesers bekend wees, omdat hulle reeds in die vorige boeke, Seisoen van genade, Seisoen van vergifnis en Seisoen van vervulling as jong kinders newekarakters was. Tog hoef jy nie vertroud te wees met die vorige boeke om hierdie verhaal maklik te volg nie.

Cloete se skryfstyl is gemaklik, boeiend en interessant en daar is heelwat kinkels in die verhaal wat verras. Die reekse laat jou deel word van ’n groep karakters wat later amper soos ou bekendes voel. Cloete se karakters is menslik, met foute en duister verledes en vrae oor die lewe, wat dit maklik maak om aanklank by hulle te vind.

Die boek probeer egter hier en daar effe te hard om dinge weer en weer te verduidelik, asof die skrywer bang is die leser hou nie tred met haar storielyn nie. ’n Strenger redigeringshand kon dit dalk uitgesny en die boek nog beter gemaak het. Maar soos die boek vorder, val dit geleidelik weg en kan jy agteroorsit en jou verdiep.

Alta Cloete is ’n Sutherlander wat al meer as dertig jaar in die Paarl woon. Ná jare van voltyds ma-wees en werk as bibliotekaresse en voorskoolse juffrou het sy voltyds begin skryf toe haar kinders uit die huis is. Haar pad het deur tydskrifverhale en romanses geloop tot by die liefdesroman.

Seisoen van lig en donker is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top