LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) | Academic

 
Beeldvorming in geleentheidsgedigte op gedenkkeramiek oor die Nederlandse koningshuis

Abstract

Representation in occasional verse on ceramics commemorating the Dutch royal house

In various countries across the globe, both events and individuals are commemorated by means of a variety of commemorative articles. In the Netherlands, various ceramic articles have been specially crafted since 1574 to commemorate the royal House of Orange. Some of these commemorative items also contain text. Twelve poems have thus far been uncovered on various items dating between 1674 and 1943. These were studied in order to determine what image of the House of Orange and the Netherlands they convey. Three assumptions were formulated: firstly, that the texts would reveal a positive attitude towards the House of Orange; secondly, that they would reflect key historical events accurately; and thirdly, that they would convey a Protestant Christian religious conviction. These assumptions all proved to be true.

 

Opsomming

Beeldvorming in geleentheidsgedigte op gedenkkeramiek oor die Nederlandse koningshuis

In verskeie lande regoor die wêreld word gebeurtenisse en individue by wyse van verskillende soorte memorabilia gedenk. In Nederland is daar al in 1574 begin om die koningshuis, die Huis van Oranje, met spesiaal vervaardigde keramiekvoorwerpe te gedenk. Sommige van hierdie gedenkvoorwerpe bevat ook teks. Twaalf gedigte is tot dusver gevind op verskillende items wat van 1674 tot 1943 dateer. Hulle is ontleed om vas te stel watter beeld van die Huis van Oranje en Nederland hulle oordra. Drie aannames is geformuleer: die eerste is dat die tekste ’n positiewe ingesteldheid jeens die Huis van Oranje sou openbaar; die tweede is dat hulle belangrike historiese gebeurtenisse  akkuraat sou oordra; en die derde is dat hulle ’n Protestants-Christelike geloofsoortuiging sou weerspieël. Al drie hierdie aannames het waar geblyk te wees.

 

Beeldvorming in geleentheidsgedigte op gedenkkeramiek oor die Nederlandse koningshuis

1. Motivering en probleemstelling

In verskeie lande en kulture bestaan daar ’n goedgevestigde tradisie om mense te eer en belangrike gebeurtenisse te gedenk1 by wyse van boeke, gedigte, liedere, skilderye, medaljes, borde, bekers, lepels, vingerhoede, ens. Hierdie voorwerpe, of memorabilia, word dikwels deur privaat versamelaars en museums bymekaargemaak, en volledige versamelings en skaars versamelstukke verkry mettertyd groot finansiële waarde. Hierdie versamelings, en die items wat daarin opgeneem is, is egter nie net finansieel waardevol nie; hulle is ook kultuurhistories van belang. As kunsvorm of kulturele uitdrukkingswyse wat as blywende “monument” van die geskiedenis moet dien, word gedenkkeramiek (soos ander versamelings) vanuit verskillende vakgebiede en invalshoeke bestudeer omdat hulle interessante en insiggewende inligting kan oplewer oor die mense, die bestaanswyse en die politieke en kulturele ideologieë van die samelewing waarbinne hulle geskep is.

Keramiekvoorwerpe wat die Nederlandse koningshuis gedenk, word reeds sedert 1574 gemaak, en is in talle versamelings in en buite Nederland opgeneem. Op heelparty van hierdie voorwerpe (borde, bekers, vase, ens.) kom teks in die vorm van ’n leuse, ’n spreuk of ’n gedig voor. Soms is die identiteit van die digter (of die bronteks) bekend, maar in verreweg die meeste gevalle is die identiteit van die outeur onbekend.

In hierdie ondersoek na gedigte wat op gedenkkeramiek oor die Nederlandse koningshuis voorkom, val die klem nie op die literêre of estetiese meriete van die teks nie – hierdie gedigte, waarin eindrym die mees opvallende verstegniese kenmerk is, sal nie noodwendig as “goeie poësie”2 bestempel word nie. Die tekste wat op die gedenkkeramiek verskyn, is hoofsaaklik interessant vanweë die sosiohistoriese inligting wat hulle oordra. Veral die anonieme gedigte bied interessante navorsingsmateriaal, onder meer omdat hulle, as geleentheidsgedigte, die opvattings van Jan Alleman vanuit ’n historiese perspektief verwoord: sentimente wat nie noodwendig in die amptelike geskiedskrywing neerslag sou vind nie.3 Dié artikel wil dus hoofsaaklik lig werp op hoe die kunstenaar en die gewone burger gevoel het oor die historiese gebeure van hulle tyd en oor die koninklikes wat hulle regeer het; die verstegniese eienskappe van die gedigte is bysaak.

Twaalf geleentheidsgedigte, afkomstig uit die regeringstyd van drie verskillende Nederlandse vorste, sal teen die agtergrond van die Nederlandse geskiedenis bespreek word.4 Hierdie navorsing val binne die kader van die interdissiplinêre vakgebied kultuurstudie (kyk byvoorbeeld Meijer 1996:85 e.v.), en kan as ’n beeldvormings- en (in mindere mate) representasie-ondersoek (kyk byvoorbeeld Jensen 2005) bestempel word. Laasgenoemde benaderings ondersoek die verhouding tussen teks en konteks, en geskied meestal aan die hand van ou tekste. Hierdie navorsing oor geleentheidsgedigte op Nederlandse gedenkkeramiek berus, soos Meijer Drees en ander se navorsing oor die beeld van Nederland in die sewentiende eeu (Meijer Drees 1997; Meijer Drees en Stronks 2002; en De Kruif, Meijer Drees en Salman 2006) hoofsaaklik op tekste wat nie tot die literêre kanon behoort nie. Daar moet ten slotte gewys word op die feit dat die geleentheidsgedigte wat hier ondersoek word, nie beeldgedigte is nie, want ofskoon hulle op kuns-artefakte verskyn, is hulle nie “geïnspireerd op een werk uit de plastische kunst” nie (Van Gorp 1986:45).

 

2. Terminologie

In kunsteoretiese sin dien die term keramiek as versamelnaam vir aardewerk, steenwerk en porselein.

Aardewerk is, volgens Van Dale Groot Woordenboek van de Nederlandse Taal (Den Boon en Geeraerts 2005), verskillende soorte voorwerpe, soos vate, skottels en bekers, wat gevorm is uit grond (hetsy leem, ’n kleiagtige grond met meer as 20 persent sand, of – meestal – klei, dit is grond wat hoofsaaklik uit afsettings van aluminiumsilikaat gemeng met plantaardige en dierlike stowwe bestaan) en dan by ’n lae temperatuur gebak (“laag gevuur” is); met of sonder glasuur (’n glasagtige, glinsterende laag wat bo-oor die klei aangebring is). ’n Kenmerk van aardewerk is dat dit (selfs indien geglasuur) altyd poreus is, dit wil sê vloeistowwe absorbeer.

Steenwerk is keramiekvoorwerpe wat by ’n hoër temperatuur as aardewerk gebak is. Steenwerk is nie poreus nie. Dié vorm van keramiek is van ’n beter kwaliteit as aardewerk, maar meer bekostigbaar as porselein.

Porselein is fyn, wit, halfdeurskynende aardewerk wat gemaak is van klei wat gemeng is met allerlei bymiddels, waarvan kaolien (ook bekend as “porseleinaarde”) die belangrikste toevoeging is. Porselein word by ’n baie hoë temperatuur (1 200–1 400 grade Celsius) gebak, en het meestal ’n ongekleurde, sterk glimmende glasuur.

Britse roomware is keramiek wat in die bakproses, en nie danksy glasuur nie, ’n kenmerkende wit kleur aanneem. Dit Britte kon hierdie keramiek reeds in die laaste deel van die agtiende eeu maak, toe die Nederlanders nog slegs gryskleurige keramiek met wit glasuur kon maak (kyk die afdeling oor stadhouer prins Willem V).

Gedenkkeramiek is keramiekvoorwerpe wat gemaak is om ’n persoon of gebeurtenis te gedenk. Nederlandse gedenkkeramiek is om twee redes uniek. In die eerste plek word dit reeds oor ’n baie lang tydperk gemaak: die oudste stuk Nederlandse gedenkkeramiek wat opgespoor kon word, is ’n Siegburger-snelle, of -beker, wat uit 1574 dateer en die wapen van prins Willem I dra (Lunsingh Scheurleer 1994:14). Die tweede unieke faktor is dat daar ’n groot verskeidenheid gedenkstukke bestaan wat in wisselende hoeveelhede vervaardig is. So is daar byvoorbeeld tussen 1898, toe koningin Wilhelmina die troon bestyg het, en 1948, toe sy ten gunste van haar dogter Juliana geabdikeer het, meer as 1 100 verskillende stukke gedenkkeramiek gemaak. De Porceleyne Fles, ’n maatskappy in Delft, het in die dekade 1923–33 nie minder nie as 22 800 stukke geproduseer (Van Erkel 2006:1–8). Die Nederlanders sit hierdie tradisie van gedenkaardewerk ter viering of herdenking van geboortes, troues, troonopvolging en oorloë tot vandag toe voort. Die Nederlandse gedenkkeramiek bied dus ’n oorsigtelike beeld van belangrike gebeurtenisse in die Nederlandse geskiedenis van die afgelope 434 jaar.

 

3. Die geskiedenis van die Nederlandse koningshuis

Die Nederlandse koningshuis – die Huis van Oranje-Nassau – se geskiedenis strek 900 jaar terug na die Huis van Nassau, wat in 1100 n.C. tot stand gekom het. Die band tussen die Huis van Nassau en Nederland ontstaan 300 jaar later, toe Graaf Engelbrecht I van Nassau in 1403 met Johanna van Polane, dogter van die heer van Breda, in die huwelik tree (Het Koninklijk Huis: Oranje en Nassau 2008). Die Nassaus van Breda verkry hoë funksies in diens van die Boergondiese en Habsburgse hertoë, wat groot dele van die Nederlande as landhere bestuur. Graaf Hendrik III van Nassau (1483–1538)5 trou met die Boergondiese edelvrou Claudia van Chalon, en hulle seun René erf die soewereine prinsdom Oranje van sy oom Philibert van Chalon.

Toe René in 1544 op 26-jarige ouderdom kinderloos sterf, laat hy sy besittings aan sy elfjarige Duitse neef Willem van Nassau (1533–84) na. Keiser Karel V keur hierdie erflating goed, maar stel die voorwaarde dat Willem sy opvoeding aan die keiserlike hof in Brussel moet voltooi én dat hy Katoliek grootgemaak moet word. Willem se Lutherse ouers, graaf Willem van Nassau en Juliana van Stolberg, stem hiertoe in. Naas René se besittings erf Willem ook die titel Prins van Oranje6 en word, as prins Willem I, stamvader van die Huis van Oranje-Nassau. Sy bynaam was Willem de Zwijger; hy was optimisties en welsprekend, en is “de Zwijger, naar hedendaagse betekenis meer huichelaar, genoemd vanwege zijn onduidelijk verhulde standpunten, hij bleek over diplomatieke gaven te beschikken” (Japikse 1937:65; kyk ook Willem van Oranje: Jeugd (1533–1555), 2008).

Die Huis van Oranje-Nassau begin dus eers onder prins Willem I ’n polities belangrike rol speel. Willem I het ’n uitstekende verhouding met keiser Karel V gehad, maar ofskoon Karel V se opvolger, sy seun Filips II van Spanje, prins Willem I tot stadhouer7 van Holland, Zeeland en Utrecht benoem, versleg betrekkinge tussen hulle, onder andere omdat Willem I nie die vervolging van die Protestante steun nie. In 1568, twee jaar ná die “beeldenstorm”, waarin opstandige Protestante die afbeeldings en simbole in die Rooms-Katolieke kerke vernietig het, verklaar prins Willem I die provinsies Holland, Zeeland en Utrecht onafhanklik van Spanje, en gee só die eerste tree na die totstandkoming van ’n volwaardige Nederlandse koningshuis. Dié onafhanklikheidsverklaring lui ook die Tagtigjarige Oorlog teen Spanje (ook bekend as Die Opstand) in. In 1572 kom die Unie van Utrecht tot stand, in die lewe geroep deur Willem I se broer graaf Jan de Oude. Drie van Willem se vier broers sou in hierdie oorlog op die slagveld omkom, en Willem self sou in 1584 in Delft deur ’n sluipskutter in diens van Spanje vermoor word. Die Tagtigjarige Oorlog sou eers in 1648 tot ’n einde kom, toe die Nederlandse Republiek sy onafhanklikheid by die Vrede van Münster (Westfalen) verkry het.

Ofskoon prins Willem I die eerste tree tot die totstandkoming van die Nederlandse koningshuis gegee het en die koningslyn van hom afstam, was hy (soos sy titel aandui) nie ’n koning nie, maar ’n stadhouer, dit wil sê iemand wat in die plek van ’n vors ’n deel van daardie vors se ryk bestuur. In Nederland sou die koningskap eers in 1813, met die bewind van koning Willem I, begin. Voor 1568 het die reg op die grondgebied aan die Katolieke koning Filips II van Spanje behoort. Van 1568 tot 1806 was Nederland ’n republiek en het die verskillende Nederlandse provinsies onder die bestuur en beheer van verskillende stadhouers (afstammelinge van die Huis van Oranje-Nassau, wat prinse genoem is) gestaan. Van 1806 tot 1813 het Nederland as die Koninkryk Holland bekend gestaan, met koning Lodewyk Napoleon, die broer van die Franse keiser, as heerser. In 1813 het Nederland ’n konstitusionele monargie geword, en van toe af is die titel koning of koningin gebruik om na die regerende vors te verwys.

Die chronologie van stadhouers en konings in die Huis van Oranje-Nassau kan skematies soos volg voorgestel word:

 

4. Beeldvorming op grond van die gedigte

Soos reeds aangedui is, word die enigste twaalf gedigte wat tot dusver (na die navorsers se beste wete) op gedenkkeramiek oor die Nederlandse koningshuis en/of koninklikes gevind is, vervolgens bespreek om vas te stel watter feite en opvattings daaruit afgelei kan word. Drie gedigte het betrekking op prins Willem III en die periode toe hy stadhouer was, vyf gedigte handel oor prins Willem V en sy stadhouerskap, en twee gedigte handel oor koningin Wilhelmina en haar regeringstyd. Die laaste twee gedigte het onderskeidelik betrekking op twee van koningin Wilhelmina se kleindogters, Irene en Margriet, susters van die huidige Nederlandse vors, koningin Beatrix.

Daar is reeds genoem dat die gedigte wat op gedenkkeramiek voorkom, geleentheidsgedigte is. Sover bekend, is geeneen van die stukke wat vervolgens bespreek gaan word, in opdrag van die stadhouer óf die koningshuis gemaak nie. Die identiteit van tien van die twaalf tekste se outeurs is onbekend, sodat aangeneem kan word dat die siening wat uit die teks spreek, dié van die digter “als persoon of als lid van een gemeenschap” is (Van Gorp 1986:158). Op grond hiervan kan die volgende veronderstel word:10

  1. Aangesien die tekste op gedenkkeramiek voorkom, sal hulle die Huis van Oranje en die stadhouer/koninklike wat gehuldig word, in ’n positiewe lig stel.
  2. Daar sal ’n sterk verband gelê word tussen historiese gebeurtenisse en die stadhouer/koninklike wat aan bewind was toe daardie gebeurtenisse plaasgevind het. Die gedigte sal hoofsaaklik na roemryke historiese gebeurtenisse verwys. Die verwysings na historiese feite wat in die tekste voorkom, sal akkuraat blyk te wees wanneer dit teen historiese bronne geverifieer word.
  3. Die gedigte sal ’n godsdienstige, pro-Protestantse inslag vertoon.

4.1  Gedigte oor stadhouer prins Willem III (1650–1702) en sy regeringstyd

Die oudste keramiekvoorwerp wat die Nederlandse koningshuis gedenk, is in 1574 gemaak. Honderd jaar later, in 1674, het ’n gedig vir die eerste keer voorgekom op ’n keramiekvoorwerp wat die koningshuis gedenk: ’n kannetjie met prins Willem III van Oranje-Nassau se wapen en portret op die voorkant en 'n gedig op die agterkant. Die gedig, wat ook op twee ander stukke aangebring is (Lunsingh Scheurleer 1994: 46), lui soos volg:

 
 
 
 

 

 
 
 
 

Sonder kennis van die Nederlandse geskiedenis sal hierdie op die oog af eenvoudige twaalfreëlige gedig grotendeels onverklaarbaar bly. Sodra die leser egter besef dat dit betrekking het op die gebeure van 1672, wat in Nederland as “die rampjaar” bekendstaan, word dit moontlik om die vier persone na wie die gedig verwys, te herken:

Kennis van die geskiedenis maak dit moontlik om “witte” en “groote”, wat in die gedig met kleinletters geskryf is, as vanne (en nie as soortname of adjektiewe nie) te herken. Laat ons dus vervolgens in meer besonderhede op die geskiedenis van hierdie tyd ingaan.

Prins Willem II se onverwagse dood in 1650 lui die eerste stadhouerlose era in, wat tot 1672 sou duur. Agt dae na Willem II se dood skenk sy vrou, die Engelse Princess Royal12 Mary Henrietta Stuart, die lewe aan hulle seun, Willem III. In Januarie 1651 besluit die State-Generaal tydens ’n spesiale vergadering (die sg. Groot Vergadering) om nie ’n opvolger vir prins Willem II aan te wys nie; in plaas daarvan word Johan de Witt in 1653 as raadpensionaris13 aangestel. In 1654, aan die einde van die Eerste Anglo–Nederlandse Oorlog, word daar ingevolge die Akte van Seklusie van 4 Mei 1654 (wat herroep is in 1660, die jaar toe Willem III se moeder oorlede is), besluit dat Willem III nooit stadhouer sou word nie; en in 1667 bepaal die Ewige Edik dat die stadhouer en die kaptein-generaal (opperbevelvoerder van die leër) van die Republiek nooit een en dieselfde persoon mag wees nie.

Al is die Tagtigjarige Oorlog teen Spanje in 1648, twee jaar voor Willem III se geboorte, uiteindelik beëindig, was daar nie van durende vrede sprake nie, aangesien ’n magstryd tussen die Katolieke Frankryk en die Katoliekgesinde Engelse koning Charles I enersyds, en die Protestantsgesinde Nederland andersyds ontstaan het. Die Eerste Anglo–Nederlandse oorlog is in 1654 beëindig. In 1660 het Lodewyk XIV van Frankryk roeringe begin veroorsaak met sy imperialistiese beleid. Raadpensionaris De Witt kon nie daarin slaag om op goeie voet met die Franse koning te bly nie. Drie jaar ná die Tweede Anglo–Nederlandse Oorlog (1665–7) sluit Frankryk in 1670 in die geheim ’n verdrag met Engeland om die Republiek van die Verenigde Nederlande aan te val. Dit gee aanleiding tot die rampjaar van 1672: Engeland, Frankryk, Münster en Keulen (almal Katoliekgesind) beleër Nederland op land én val hom op see aan. Willem III word in Februarie 1672 tot kaptein-generaal benoem; en ná ’n volksoproer waarin die Oranjegesindes die mag oorgeneem het, word die amp van stadhouer in Julie opnuut ingestel en word Willem III in dié amp aangestel.

Die Oranjegesindes beskuldig Johan de Witt daarvan dat hy kop in een mus met die Franse sou wees, en sy broer Cornelis dat hy ’n sluipmoordaanval op Willem III sou beplan. Op 20 Augustus 1672 word dié broers deur ’n groep oproeriges gegryp en letterlik geslag. Pieter de Groot, van 1669 tot 1672 die Nederlandse gesant aan die hof van Lodewyk XIV in Frankryk, word as gevolg van sy gesantskap daarvan verdink dat hy met die Franse sou saamgesweer het om Nederland binne te val, maar hierdie vermoede blyk onwaar te wees, en in 1676 word De Groot van enige misdade vrygespreek.

Uit bostaande historiese gegewens is dit duidelik dat die gedig wat hier bo aangehaal is, die verloop en uitslag van die rampjaar beskryf. Die spelling en skryfwyse, en die arbitrêre gebruik van hoof- en kleinletters en leestekens, maak dit egter moeilik om die gedig eenduidig te interpreteer, ofskoon die digter waarskynlik nie bedoel het dat die gedig meerduidig moes wees nie. Dit is duidelik dat die spreker in die gedig hom met die Huis van Oranje (met prins Willem III as verteenwoordiger) vereenselwig, en dat strofe 1 vanuit die Franse perspektief, en strofe 2 vanuit die perspektief van die Huis van Oranje (en die Oranjegesinde spreker), geskryf is.

Reël 1 stel die feit dat Lodewyk XIV met sy leërmag teen Nederland te velde trek. Dit doen hy, volgens die spreker, met die vermeende hulp van die twee De Witt-broers en De Groot (r. 2–3). Ofskoon die eerste drie versreëls van strofe 1 ’n betekeniseenheid vorm, moet reël 3 sintakties as die eerste deel van die volgende betekeniseenheid (r. 3–5) gelees word: Lodewyk wens, saam met die De Witts en De Groot, dat Oranje tot ’n val moet kom. Die spreker se suggestie dat die De Witt-broers en De Groot dislojaal teenoor die Huis van Oranje (prins Willem III) is, is vir albei lesings geldig. Die verwysing na “haer heer” in reël 5 lewer egter interpretasieprobleme op. As “heer” as ’n foutiewe spelling van “heir” (leër)  gelees word, kan gesê word dat Lodewyk wens dat sy leër Nederland (“Oranie”) moet oorwin (“terneerslagen”, d.w.s. onderwerp). In hierdie lesing lewer die woord “haer” (r. 4) egter probleme op. Die “haer” word waarskynlik as voornaamwoord in die derdepersoon-meervoudsvorm (hun/hulle) gebruik, dit wil sê “haer” verwys terug na die De Witt-broers, De Groot en koning Lodewyk XIV. Dit lei tot die interpretasie dat genoemde persone tot God (“haer [H]eer”) bid (“wenst”) dat Hy hulle in staat sal stel om die oorwinning oor Nederland te behaal. Dié interpretasie word ondersteun deur die feit dat die bondgenote wat teen Nederland opgetrek het (Engeland, Frankryk, Münster en Keulen) almal Katoliek was, en die Huis van Oranje Protestants.

Die betekenis van reël 6 is eweneens nie duidelik nie: Waarna verwys “most gaen koote”? Selfs die Woordenboek der Nederlandse Taal (WNT) gee nie uitsluitsel nie, maar dit lyk sterk op ’n verwensing. Ten spyte van die onvolledigheid (of meerduidigheid) van die interpretasie van hierdie strofe is dit egter duidelik dat die strofe in die geheel die historiese feit belig dat Frankryk Nederland aan hom wou onderwerp.

Strofe 2 is ’n lofprysing wat met ’n danksegging aan die “opperheer” begin. Die waarskynlike interpretasie is dat “opperheer” na God verwys. Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word: eerstens is die gebrek aan hoofletters in die woorde “opperheer” (r. 7) en “heer” (r. 12) nie betekenisonderskeidend nie, aangesien die eiename in reëls 3, 4 en 10 ook met kleinletters geskryf is – ’n argument wat reeds ’n rol gespeel het in die interpretasie van “heer” in reël 4 as ’n verwysing na God; tweedens kom die bewoording van die slotreël, “Lof sij den heer der heere” inhoudelik en metries ooreen met die slotreël van Lied 184 in die huidige Afrikaanse Liedboek van die Kerk (2001), waarvan die oorspronklike teks, uit 1680, aan Joachim Neander toegeskryf word;14 en derdens is dit baie duidelik dat die frase “Heer der here” (ook) in daardie tyd met verwysing na God gebruik is. Strofe 2 toon ook (soos reeds genoem is) dat die spreker in die gedig pro-Oranje is en die (wan)opvatting deel dat die De Witt-broers en Pieter de Groot met Frankryk teen Nederland saamgesweer het. Die spreker verwoord dus sy dank vir die herstel van die stadhouerskap van Willem III (“Oranie”, r. 8), die feit dat Lodewyk XIV se wens om Nederland te verower nie vervul is nie, en dat die De Witt-broers en De Groot se vermeende planne nie geslaag het nie. In die slotreël word God geloof omdat Nederland deur sý genade sy onafhanklikheid kon behou.

Die konteks waarbinne die gedig gebruik is, maak egter ook ’n tweede lesing moontlik. Die gedig verskyn saam met prins Willem III van Oranje-Nassau se wapen en portret op ’n keramiekstuk wat die Huis van Oranje gedenk. Die kannetjie se doel is dus om prins Willem III te eer omdat hy, met God se hulp, die Franse aanslag teen Nederland die hoof kon bied. Hierdie interpretasie behels dat die woord “opperheer” (r. 7) as ’n verwysing na prins Willem III gelees word. Die historiese feite ondersteun hierdie lesing, aangesien Willem III in 1672, die “rampjaar” waarna die gebeure in die gedig verwys, tot kaptein-generaal (opperbevelvoerder van die leër) benoem én in die heringestelde amp van stadhouer aangestel is. Taalkundig is hierdie lesing ook moontlik. Die WNT (De Vreese en Boekenoogen, 1910: 1088–9) gee drie betekenisonderskeidings vir die lemma opperheer aan: 1. “opperste heer en meester”, in die betekenis van “mijn man en opperheer”; 2. “vors”, met as voorbeeld “de Koning van Frankrijk is mijn wettig Opperheer”; en 3. “God”, wat in die voorafgaande lesing van die gedig gebruik is. Prins Willem III was dus inderdaad opperheer ooreenkomstig die tweede betekenis van die woord: as opperbevelvoerder van die leër wat Frankryk verslaan het én as Nederlandse “vors” en verteenwoordiger van die Huis van Oranje. In hierdie hoedanigheid word hy by wyse van die kannetjie vereer. Hierdie interpretasie neem nie weg dat lof en dank (in r. 12) uitgespreek word omdat God Nederland gehelp het om die oorwinning te behaal nie; trouens, dit bevestig die simbiotiese verhouding tussen die Huis van Oranje-Nassau en die Protestants-Christelike geloof: die Huis van Oranje dien God en God beskerm die Huis van Oranje.

Die rampjaar 1672 word ook by wyse van ander aardewerk-stukke gedenk. Een so ’n stuk is ’n fles wat deel uitmaak van die versameling in die Koninklijke Musea voor Kunst en Geschiedenis in Brussel. Hierdie bolvormige fles bevat ’n portret van Willem III in ’n medaljon, en nie minder nie as twee gedigte.

Die eerste gedig, waarvan die versreëls gesentreer en met ’n ovaalvormige medaljon omraam is, verskyn reg onder Willem II se portret (dieselfde portret as wat op die kannetjie wat hierbo bespreek is, verskyn). Die gedig, met die titel “Nasou getrou” en die datum 1675, lui soos volg:

 
 
 
 
 
 

Die gedig kan soos volg verklaar word: die Huis van Oranje word weer eens in die persoon van die stadhouer vergestalt, dus plant Willem III se portret (wat op die fles verskyn) as ’t ware sy vaandel (“standaert”, r. 1) in die aangesig van die vyand. Hierdie vaandel is heel moontlik die koninklike standaard of wapenskild. Die plant van die standaard dui hier op die feit dat Oranje geseëvier het: die oorwinning blyk duidelik uit die tweede versreël, wat beskryf hoe Lodewyk XIV onder ’n wolk van skande – omdat hy die onderspit gedelf het – uit Nederland terugval. Die eerste twee reëls verduidelik dus die historiese milieu van die gedig.

Daarna volg ’n eerbetoon aan die Nederlandse provinsies en aan Willem III. Die eerbetoon aan die mense van Nederland (“hollant”, r. 3) is vervat in die beeld waarmee die digter hulle beskryf: hulle is soos ’n perd wat nie toelaat dat ander hom ’n toom aansit en hom daarmee beheer en onderwerp nie. Van reël vier af word eer aan Willem III betoon. Oranje se eer “rijst” (styg of neem toe): die digter druk dit uit by wyse van die metafoor van die opkomende son wat aan die hemel rys. Die opkomende son is ’n simbool wat tot vandag toe dikwels met betrekking tot die Huis van Oranje gebruik word. Teenoor die opkomende son van Willem III (Nederland) daal Lodewyk XIV se eer: dit “verduister”, soos die son wat ondergegaan het. Van reël 5 af het die gedig ook ’n aansporingsfunksie: Willem III word aangespoor met die woorde “Gaan voort, o dapper vors, versamel nog meer lourierblare, en volg in die spore van u voorvaders van lank gelede. Verlos u vaderland van die Franse tirannie, dwing haar vors tot vrede en maak ons lande18 vry.” Oorwinnaars word sedert die Antieke Tyd met lourierblare gekroon, dus gee die gedig te kenne dat Willem III moet voortgaan om oorwinnings (soos dié oor Frankryk) namens Nederland te behaal. Die verwysing (in r. 6) na die voorvaders het moontlik regstreeks betrekking op Willem de Zwijger (prins Willem I, stigter van die Huis van Oranje-Nassau) en prins Maurits (en sy broer Frederik Hendrik), wat Nederland van Spanje bevry het.

Die tweede gedig wat op bogenoemde fles verskyn, is (met die versreëls weer eens gesentreer) aan weerskante van Willem III se portret aangebring:

Hierdie gedig verwys eweneens na die rampjaar 1672, maar verskuif die klem na die seegevegte teen Brittanje en die verraad wat, volgens die digter, teen Cornelis Tromp gepleeg is weens die politiekery tussen die twee kampe in die Nederlandse vloot, wat destyds ’n prominente rol in Nederland gespeel en hoë aansien geniet het. Kennis van die aanloop tot die rampjaar en die politieke situasie van die tyd is nodig om die gedig te kan interpreteer. Die openingsreëls sluit by ’n historiese gegewe aan: Cornelis Tromp se lof word op uitvoerige wyse in die eerste elf reëls van die gedig besing. Die eerste vier reëls noem die historiese feite wat van Tromp ’n held gemaak het: hy het die Britse vloot tydens die Tweede Anglo–Nederlandse Oorlog (1665–7) verjaag, verslaan en aan die brand gesteek (r. 2) en die Britse admiraal, sir George Ayscue, se skip, die Royal Prince, in die Slag van St. James-dag buitgemaak (r. 3). Dat Ayscue die skip moes oorgee, verklaar waarom die vierde reël sê dat sy vlag hom geen plesier meer gegee het nie.

Die digter sit sy lofuitinge aan Cornelis Tromp voort deur te noem dat hy die seun is van ’n beroemde vader (r. 5), admiraal Maarten Harpertszoon Tromp, wat vóór Michiel Adriaenszoon de Ruyter admiraal van die Nederlandse vloot was. Die daaropvolgende lof aan Cornelis Tromp is oorvloedig: hy het die Engelse swaard stomp gemaak (r. 6); hy was heerser oor die see (“Nepthuinis21 plas”, r. 7) en ’n held soos die Bybelse koning Dawid, wat tienduisende verslaan het.22

In reël 12 neem die gedig ’n wending wanneer die lofdigter sy pen wil neerlê en niks meer wil skryf nie. Die rede hiervoor word ook uit die historiese feite duidelik. Na die Tweede Anglo–Nederlandse Oorlog, wat van Tromp ’n held gemaak het, het hy en admiraal Michiel Adriaenszoon de Ruyter (r. 13) stry gekry, waarskynlik deels omdat De Ruyter jaloers was op die heldeverering (soos in r. 1–11 van die gedig) wat Tromp te beurt geval het. Die onmin was só erg dat Tromp die vloot tydens die rampjaar (1672) verlaat het. Die digter skryf, beskuldigend en misnoegd, dat De Ruyter in bevel is van die vloot (r. 13), terwyl die meeste ná admiraal Maarten Tromp se dood (in 1653) geglo het dat sy seun Cornelis die pos sou kry. Hy suggereer dat De Ruyter waarskynlik graag vir Tromp dood sou wou sien (r. 14), en dat Tromp se afwesigheid van die Nederlandse vloot (r. 15) die vyand in staat stel om wild en wakker tekere te gaan (r. 16).

Kennis van die Nederlandse politieke situasie vóór die dood van die De Witt-broers, dit wil sê voor Willem III in Julie 1672 die mag as stadhouer teruggekry het, werp verdere lig op belangriker faktore as persoonlike jaloesie wat gemaak het dat De Ruyter van Tromp ontslae geraak het. Nederland was destyds in twee kampe verdeel: een kamp (dié van raadpensionaris De Witt) wou met die stadhouerstelsel (en dus met die Huis van Oranje-Nassau) wegdoen, en die ander was Oranjegesind. De Ruyter was ’n aanhanger van raadpensionaris De Witt; maar Tromp was, soos sy pa, ’n getroue Oranje-ondersteuner. Die feit dat De Ruyter en Tromp tot twee polities verskillende kampe behoort het, verklaar die gegewens in die res van die gedig. Die digter is ooglopend Oranjegesind. Hy beskryf De Ruyter en die anti-Oranjegesindes as “de vijant” wat “vier en vlam/ Op hem [d.w.s. Tromp] met groot gewelt uitspoogh” (r. 16–7). Tromp word opsy geskuif asof hy ’n Duitser23 of ’n Deen24 sou wees. Sonder reg óf rede (r. 21), onverdiend in die lig van sy heldedade, word Tromp “oorboord gegooi” (r. 27); alles, volgens die digter, deur die toedoen van raadpensionaris De Witt (“Had daer geen witten tongh geweest/ Soo was ons tromp niet eens bevreest”, r. 23–4).

Die digter betrek ook die gewone volk met die verwysing na “Jan hangels” (r. 28). Dit is ’n vervorming van "Jan Hagel", wat ’n sinoniem is vir "Jan Rap" en wat “gespuis”, “gepeupel” of “skorriemorrie” beteken (Nederlands Woordenboek 2008). Hy beskryf die volk as “berooit”, dit wil sê “ontbloot van geld en goed, arm; radeloos en verbysterd” (Tanap 2008). Hierdie paar versreëls van die gedig is moeilik eenduidig interpreteerbaar weens die gebruik van sewentiende-eeuse Nederlands en die afwesigheid van leestekens en hoofletters wat as merkers van sinne en sinsdele optree. Wat wel duidelik is, is dat enorme ontevredenheid (“Ten kan noght sal noght niet gaen”, r. 32) met “gewelt en groot geluit” (r. 30) uitgebars het. Die oproerige volk is aan die kant van “onsen Tromp” (r. 33) en is daarvan oortuig dat Nederland “volle pijn” (r. 35) sal verduur solank De Witt in beheer is (r. 34).

Dit is uit die geskiedenis bekend dat daar ’n volksoproer plaasgevind het waarin die Oranjegesindes die mag oorgeneem het, en dat dit daartoe gelei het dat prins Willem III in Julie in die amp van stadhouer herstel is. Hoewel die gedig dit nie vermeld nie, het ’n groep oproerige Oranjegesinde landsburgers (lede van die gewone volk) die twee De Witt-broers, Johan en Cornelis, op 20 Augustus 1672 wreed vermoor (’n verwysing na hierdie gebeurtenis is met betrekking tot die eerste gedig in hierdie afdeling bespreek).

Hierdie fles met sy portret van Willem III en die gedigte wat daarop verskyn, gedenk die Huis van Oranje op verskillende maniere. Die eerste gedig besing die leër se oorwinning oor Frankryk. Die tweede gedig besing die lof van die Oranjegesinde Cornelis Tromp, wat Engeland deur sy roemryke dade op see oorwin het. Kritiek word uitgespreek teen die anti-Oranjegesinde faksie in Nederland, wat in die gedigte in die De Witt-broers en De Ruyter beliggaam is. Dit toon dat die volk hom aan die kant van die Huis van Oranje skaar en dat almal – mense en moondhede – wat oorlog teen die koningshuis verklaar het, verslaan en vernietig is, en dat Nederland sy vryheid en onafhanklikheid behou het.

Nederland het Frankryk en Engeland se herhaalde pogings tot magsuitbreiding trouens nie net afgeweer nie, maar later, danksy die Huis van Oranje, sy mag oor Engeland uitgebrei. Prins Willem III, wie se moeder ’n Engelse prinses was, is in 1677 met sy niggie Mary Stuart (1692–1695), dogter van die Katolieke koning Jacobus II getroud. In 1688 het die Engelse Protestante Willem III se hulp teen die Katolieke ingeroep, en in die sogenaamde “Glorious Revolution” is Jacobus II van die troon verdryf. Stadhouer prins Willem III en sy vrou is in die daaropvolgende jaar tot koning en koningin van Engeland, Skotland en Ierland gekroon. Willem III het egter kinderloos gesterf, en is in Engeland deur sy skoonsuster opgevolg.

In Nederland het Willem III sy regte en besittings aan sy Friese neef, prins Johan Willem Friso (1687–1711) nagelaat, maar die erflating is deur die Pruisiese koning Frederik Willem I (’n kleinseun van die vierde stadhouer, prins Frederik Hendrik) betwis. Op pad na Den Haag om oor die erflating te onderhandel, verdrink Johan Willem Friso in “het Hollands Diep”.25 Sy weduwee slaag daarin om die Huis van Oranje-Nassau se aanspraak te handhaaf (Het Koninklijk Huis: Stadhouders 18e eeuw 2008) totdat haar seun, prins Willem IV, in 1747 die eerste stadhouer van alle provinsies van die Nederlandse Republiek kon word. Willem IV sterf egter net vier jaar later, maar aangesien die stadhouerskap van hierdie tyd af volgens erfopvolging in die manlike en vroulike lyn oorgedra is (Het Koninklijk Huis: Prins Willem IV (1711–1751) 2008) was dit vanselfsprekend dat sy seun Willem V hom sou opvolg sodra hy mondig was.26

4.2  Gedigte oor stadhouer prins Willem V (1748–1806) en sy regeringstyd

Toe stadhouer prins Willem IV in 1751 sterf, was sy seun, Willem V, drie jaar oud. Aangesien Willem V eers op sy agtiende verjaarsdag die stadhouerskap kon opneem, word Nederland vanaf Willem IV se dood in 1751 vyftien jaar lank deur regente regeer: eers deur sy moeder, Anna van Hannover, en na haar dood in 1759 deur Lodewijk Ernst, hertog van Brunswijk-Wolfenbüttel en waarnemende hoof van die leër.

Soos prins Willem III voor hom, het Willem V in sy regeringstyd met ’n politieke gekonkel en militêre stryd te kampe gehad. Anders as Willem III kon Willem V egter nie daarin slaag om as oorwinnaar uit die stryd te tree nie. In Nederland kry hy sterk teenkanting vanuit die geledere van ’n groep wat hulleself die Patriotte genoem het. In 1792 breek oorlog tussen die Franse revolusionêre republiek en die koalisie van Oostenryk, Pruise, Nederland en Engeland uit. Toe Franse magte Nederland in 1795 binneval, vlug Willem V met sy gesin na Engeland. Hy bring uiteindelik die laaste vyf jaar van sy lewe in ballingskap in Duitsland deur (Het Koninklijk Huis: Prins Willem V (1748–1806) 2008). Dié gebeure het ook ’n regstreekse invloed op die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitgeoefen. In 1795 verloor Nederland beheer oor die Kaap, herwin dit kortstondig in die Bataafse tyd (1803–6), en staan die Kaapkolonie dan finaal aan Brittanje af.

Ten spyte van bogenoemde gebeure was Willem V, en veral sy vrou, Wilhelmina van Pruise, uiters geliefd by die Nederlandse volk. Hierdie gewildheid blyk duidelik uit die groot aantal keramiekvoorwerpe wat tot Willem V se eer gemaak is. Die meeste van die keramiek wat die prins en sy vrou uitbeeld, dateer uit die jare 1785–1805, toe die Patriotte die oorhand gehad het, Willem V in ballingskap was en sy ondersteuners gehoop het op die herstel van die Huis van Oranje-Nassau se mag.

Die vroegste voorbeelde van gedenkkeramiek met ’n gedig wat na Willem V verwys, kom op minstens vyftien verskillende Britse roomware-borde27 en verskeie Delftse teëls voor. Die Paleis Het Loo in Apeldoorn besit ’n roomware-bord met hierdie gedig, ’n blomkrans en die datum 1785 daarop,28 terwyl die Delftse teëls, met Willem V se wapen daarop, in die Koninklijke Musea voor Kunst en Geschiedenis in Brussel bewaar word. Ofskoon die gedig wat op die verskillende borde en teëls voorkom se inhoud dieselfde bly, verskil die spelling telkens; trouens, op die teëls word daar selfs van die Franse spelling gebruik gemaak: couleur in plaas van kleur. Dit is moontlik dat hierdie teëls deur ’n Franse fabriek vervaardig is, hoewel die Franse weergawe moontlik ook verklaar kan word op grond van die feit dat heelparty Nederlanders in daardie tyd Frans gepraat het. Die gedig lui soos volg (hierdie weergawe, met dié spelling, is afkomstig van ’n bord in die Museum Buren & Oranje in die stad Buren):29

As die gedig binne die konteks van die konflik tussen die Huis van Oranje-Nassau en die Patriotte gelees word, val dit op dat ’n sterk pro-Oranje-standpunt ingeneem word. Die son, wat in die eerste reël genoem word, is ’n bekende simbool van die Huis van Oranje, en die gedig eindig met ’n eweneens bekende slagspreuk oor die Huis van Oranje: “Oranje boven!”.30 Die digter verklaar, te midde van ’n tyd van ernstige konflik met die Patriotte, dat die Huis van Oranje vir ewig en altyd sal voortbestaan (r. 1) omdat God ’n verbond met dié koningshuis opgerig het (r. 4). Ook hierdie gedig lê dus op bykans vanselfsprekende wyse ’n verband wat te kenne gee dat God die Huis van Oranje-Nassau beskerm.

In 1786 neem die Patriotte die stad Utrecht oor. In 1787 word prins Willem V deur die Pruise in sy posisie as stadhouer van die provinsie herstel. Dié gebeurtenis word met ’n groot hoeveelheid keramiekware gedenk. Een van die voorwerpe is ’n blou-en-wit bord, wat in Delft vervaardig is, met die gesig van Willem V, die afkorting PWD5 (vir “Prins Willem De 5de”) en die volgende gedig op die cavetto:32

De Prins herstelt, Vrij van gewelt, Geen blijder dag: Ik nimmer zag;33

Bostaande kwatryn, in paarrym maar met die versreëls langs mekaar geskryf, op hierdie Delftse bord in die versameling van die Paleis Het Loo in Apeldoorn, beeld (soos die voorafgaande gedig) ’n sterk pro-Oranje-gevoel uit: die spreker het nog nooit ’n blyer dag beleef as hierdie een, waarop die prins sonder geweld in sy pos as stadhouer van die provinsie Utrecht herstel is nie.

 

Die Paleis Het Loo besit ook ’n tweede bord wat hierdie gebeurtenis herdenk: ’n groot, blou-en-wit Delftse bord waarop hierdie gedig (in gesentreerde versreëls) verskyn:

In die slotreëls van dié gedig word daar, soos in die meeste van die gedigte wat op gedenk-keramiek verskyn, ’n verband tussen die Huis van Oranje en vryheid gelê; trouens, hierdie twee begrippe word feitlik as sinoniem gesien. Die onderliggende, ware rede vir die pro-Oranje-gevoel, wat gewoonlik nie eksplisiet gestel word nie, word hier wel eksplisiet in die laaste versreël verwoord: die Nederlandse volk se godsdiensvryheid is onaangetas. Vryheid, en veral godsdiensvryheid, is dus dié dinge waarmee die kunstenaars en digters wat die keramiekstukke gemaak het, die Huis van Oranje vereenselwig het. In hierdie tyd, wat voorafgegaan is deur ’n fel en dikwels gewelddadige stryd tussen die Protestante en die Katolieke, wat met die Hervorming in 1517 begin het, is albei gelowe in Nederland (anders as in baie ander lande) aanvaar, ofskoon die Huis van Oranje-Nassau Protestants was.36 In hierdie gedig word dit ook eksplisiet gestel dat die prins van Oranje se magte danksy sy huwelik (in 1786) met Wilhelmina van Pruise herstel is. Verstegnies is hierdie gedig interessant omdat dit die eerste van al die tot dusver bespreekte gedigte is wat nie van paarrym gebruik maak nie, maar waarvan slegs reëls 3 en 5 (en die voorlaaste woord in reël 8), en reëls 7 en 9 op mekaar rym.

In 1788 word ’n bord met ’n gesentreerde gedig en ’n geel randmotief uitgereik. Eksemplare van hierdie bord is in drie museums te sien: die Van Tilburg-museum aan die Universiteit van Pretoria, die Zeeuwse Museum in Middelburg, Nederland, en die Museum Buren & Oranje in Buren. Die borde is deur ’n Delftse fabriek vervaardig. Die gedig (met die datum 1788 onderaan) lui:

Hierdie lofgedig (wat, soos die voorafgaande, uit nege versreëls bestaan, maar dié keer met ’n kruisrymskema oor die laaste agt versreëls) besing die werke van God. Die digter dank God oorvloediglik vir sy wonderwerke wat Nederland uit groot nood verlos het; en op grond van die geskiedenis en die inhoud van die gedig kan hierdie “nood” niks anders wees nie as die feit dat Willem V sy stadhouerskap in die provinsie Utrecht verloor het. Die wonderwerk is dat God, terwyl niemand dit ’n jaar tevore (net voor die herstel van die stadhouerskap in 1787) sou gedink het nie, die Oranje-vors teruggebring en die Huis van Oranje se heerskappy herstel het. Die einde van die gedig lê klem op die slagspreuk van Oranje.38

Volgens Lunsingh Scheurleer (1994:97) is daar ook Engelse roomware-bordjies waarop albei die voorafgaande gedigte (sowel “Wat zijn Gods werke wonder groot” as “God Schonk Door Pruisens magt”) op één bord voorkom.

’n Vyfde gedig oor die herstel van Willem V se stadhouerskap verskyn op verskeie borde van Britse roomware saam met ’n afbeelding van Willem V en sy vrou, Wilhelmina van Pruise, se portrette aan weerskante van ’n kers. Die stuk onder bespreking behoort aan die Museum Simon van der Gijn in Dordrecht, en is seker die keramiekstuk waarvan die meeste eksemplare vervaardig is. Die gedig lui soos volg:

Soos genoem, handel ook hierdie gedig oor die stryd om beheer van Nederland wat die bondgenote “Pruise” en “Oranje” (dit wil sê die Huis van Oranje) teen die Patriotte gevoer het. Die afbeelding van die kers illustreer dat die lig (r. 1) ’n kersvlam is wat doodgeblaas (r. 5) (kan) word. Die twee afgebeelde portrette identifiseer die bloedverwant (“Nigt”,40 r. 2) van Pruise en die afstammeling (“Spruit”, r. 3) van Oranje as Wilhelmina van Pruise en prins Willem V van Oranje. Die oënskynlik eenvoudige vyfreëlige gediggie lewer egter meerdere interpretasiemoontlikhede op. Die eerste moontlikheid is dat die kers as simbool van die heerskappy van Willem V en sy vrou gebruik word, en dat die doodblaas van die kers (r. 4–5) op die oorwinning deur die Patriotte en, uiteindelik, die beëindiging van Willem V se stadhouerskap (en die gesag van die Huis van Oranje) in 1795 dui. Die tweede moontlikheid is dat die kers wat vir Willem en sy vrou gebrand word (soos in die Katolieke tradisie), kan beteken dat God se beskerming oor hulle afgebid word, omdat daar anti-Oranjegesindes is wat die lig van die Huis van Oranje wil uitdoof (r. 4–5). Die derde (en mins waarskynlike) moontlikheid, wat deur Lunsingh Scheurleer geopper word, is dat die spreker verklaar dat hy sy lig vir Oranje laat brand omdat hy Oranjegesind is (r. 1–3), en vervolgens (in r. 4­–5) maan dat enigiemand wat “dit nie wil sien nie” (nie daarvan hou nie, d.w.s. anti-Oranjegesind is) se lig doodgeblaas sal word. 

Selfs in die geval van die eerste interpretasie, wat die negatiefste lyk, maar moontlik net ’n historiese feit stel, is dit duidelik dat die spreker sy lojale trou aan die Huis van Oranje uitspreek: “Ik brand licht” (my beklemtoning en modernisering van die spelling) vir Willem V van Oranje en sy vrou Wilhelmina van Pruise. Die trou word ook ikonies vergestalt deurdat die solidariteitsverklaring met die Huis van Oranje (r. 1–3 – drie reëls) langer is as die teksgedeelte wat (ingevolge interpretasies 1 en 2) na die Huis van Oranje se magsverlies verwys (r. 4–5 – twee reëls). ’n Laaste opvallende aspek van die gedig is dat Wilhelmina van Pruise se naam vóór haar man s’n genoem word, wat haar gewildheid onder die Nederlandse volk bevestig. 

In die voorbeelde wat tot op hierdie stadium van die geskiedenis/chronologie aangehaal is, het die meeste van die keramiekvoorwerpe met gedigte op nie spesifiek die lede van die Huis van Oranje in hulle persoonlike hoedanigheid geloof nie, maar hoofsaaklik die dade wat hulle verrig het. Die keramiekstukke het gebeurtenisse gedenk wat veral met betrekking tot politiek en oorlog belangrik was. Hierdie verskynsel sou heel moontlik as ’n uiting van die vrees vir oorlog gesien kon word, soos duideliker sal blyk wanneer daar vervolgens na gedenkkeramiek uit ’n latere regeringstyd gekyk word.

Ná die tyd van prins Willem V is daar ’n droogte van ongeveer 130 jaar waartydens geen keramiekstukke met gedigte daarop gevind is nie. Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word. Die eerste rede is ekonomies: toe die Nederlandse Goue Eeu tot sy einde kom, moes baie van die maatskappye wat hierdie soort keramiek vervaardig het, noodgedwonge sluit. Prins Willem V se opvolgers, koning Willem I en koning Willem II, moes in hulle regeringstyd nog ’n stryd voer om Nederland as konstitusionele monargie te vestig. Dit was ook nie net die produksie van keramiekstukke met gedigte daarop wat afgeneem het nie; die produksie van alle soorte keramiekstukke het gedaal. Hoewel koning Willem III nie ’n baie gewilde koning was nie, kan sy mindere gewildheid nie as die enigste rede vir hierdie daling beskou word nie. Die vervaardiging van gedenkkeramiek het eers weer belangrik geword met Wilhelmina se geboorte in 1880 en haar troonbestyging in 1898 – en in die agtien jaar tussenin, toe Emma as regentes opgetree het.

4.3  Gedigte oor koningin Wilhelmina (1880–1962) en haar regeringstyd

Soos die tabel oor die Huis van Oranje-Nassau aandui, was prins Willem V se seun, koning Willem I, dié heerser wat die Nederlandse monargie amptelik in 1815 begin het. Ingevolge die gewone opvolgingshiërargie – van vader na (oudste) seun – is koning Willem I deur koning Willem II opgevolg, en Willem II deur sy seun, koning Willem III. Willem III se twee seuns, Willem en Alexander, by sy eerste vrou, is oorlede voor hulle hul vader, Willem III, kon opvolg. Toe Willem III se vrou ook te sterwe kom, trou hy ’n tweede keer – met Emma van Waldeck – en uit hierdie huwelik is ’n dogter, Wilhelmina, in 1880 gebore. Nadat Willem III in 1890 te sterwe kom, tree Emma tot 1898, met Wilhelmina se agtiende verjaardag, as regentes op: op 18 was sy volgens wet oud genoeg om koningin te word. As eerste koningin van Nederland lui Wilhelmina ’n era in waarin drie vorstinne (Wilhelmina, Juliana en Beatrix) vir die volle duur van die twintigste eeu opeenvolgend oor Nederland sou regeer. (Hierdie era sal tot ’n einde kom wanneer koningin Beatrix se oudste seun, Willem-Alexander, die huidige prins van Oranje, haar opvolg.)

4.3.1  Gedigte oor koningin Wilhelmina

In 1923 vier koningin Wilhelmina haar 25ste regeringsjubileum. Om hierdie gebeurtenis te vier gee die Petrus Regout-fabriek in Maastricht ’n gedenkbord uit met Wilhelmina se persoonlike wapen en ’n gedig in blou op wit daarop uitgebeeld. Die gedig lui:

Myn schilt ende betrouwen
Syt Ghy o Godt myn Heer
Op u soo wil ick bouwen
Verlaat my nimmermeer

Hierdie vier reëls is dadelik herkenbaar as ’n gebed waarin God se ewige hulp en bystand gevra word. Dit is egter nie ’n nuwe gedig nie, maar die eerste vier reëls van die “Wilhelmus” se sesde strofe. Hierdie gedig, met die oorspronklike titel “Een nieuw Christelick lied”, het tussen Oktober 1568 en 1571 ontstaan (Antonissen 1986:160). Ofskoon hierdie teks, wat uit vyftien agtreëlige strofes bestaan, soms anoniem gepubliseer word, word dit aan die Vlaamse edelman Philip van Marnix, heer van St. Aldegonde en sekretaris van Willem de Zwijger, toegeskryf (Waarom is het Geuze en geen Gueuze? 2008).

Dié teks, volgens opdrag “gemaeckt ter eeren des Doorluchtichsten Heeren, Heere Wilhelm Prince van Oraengien, Grave van Nassou, Patria Patriae, mijnen G. Forsten ende Heeren”, is dus gemaak net voordat prins Willem I – Willem de Zwijger, “Vader des Vaderlands” – in 1572 stadhouer geword het. Die bewoording wat die gedig se titel voorafgaan, skets die volgende historiese konteks: “Corts na dat Graef Lodewijc van Groeningen opghebroken, ende van Gemminghen verdreven was, is de Prince van Oraengiën na de Maze42 ghetoghen” (Antonissen 1986:160). Die gedig is ’n akrostigon: die beginletters van die openingsreël van elke strofe vorm die naam Willem van Nassou (met ’n v in plaas van ’n u, soos gebruiklik was). Die slotstrofe van die gedig (voorafgegaan deur die woord “Prince”, asof dit ’n toneelaanwysing in ’n drama is) is geskryf in die vorm van ’n geloofsbelydenis waarin die Prins van Oranje sy gehoorsaamheid en trou aan God (her)bevestig.

Die gedig staan dus duidelik in die tradisie van die mags- en godsdiensstryd tussen die Spaanse Katolieke onder koning Filips II en die Nederlandse Protestante (insluitende dié in die suidelike Nederlande, of die huidige Vlaandere), wat minagtend deur die Spanjaarde vir “geuzen” uitgeskel is. Die woord geus (wat “bedelaar” beteken) dateer terug na April 1566, toe 200 edelmanne te voet na die koninklike hof in Brussel gestap het om ’n versoekskrif met duisende handtekeninge aan landvoogdes Margaretha van Parma, die halfsuster van koning Filips II, te oorhandig om te vra vir laer belasting en groter godsdiensvryheid. Een van Margaretha se raadgewers, Charles, graaf van Berlaymont, sou in antwoord op haar verbasing omdat die edelliede nie te perd was nie, gesê het: “N’ayez pas peur Madame, ce ne sont que des Gueux” (“Moenie bang wees nie, Mevrou, dit is net bedelaars”) (Geuzennaam 2008; hierdie gegewens stem ooreen met De Vries 1889:1880–2, wat na die edelmanne as “verbonden Edelen” verwys en die spelling “Barlaymont” gebruik). Op 8 April het Hendrik van Brederode hierdie beledigende benaming met ’n heildronk tot eretitel verhef.43 Die benaming Geus het (soos die woord Boer, wat oorspronklik deur die Britte as ’n skeldnaam in die Anglo-Boereoorlog gebruik is) spoedig die status van ’n eretitel (veral onder Protestantse Nederlanders) verkry en is in die Nederlandse leksikon opgeneem. Die WNT (De Vries 1889) meld ook dat geus aanvanklik ’n soortnaam was, maar later ’n eienaam geword het.

Hierdie teks is sedert die Tagtigjarige Oorlog deur Protestante gesing as een van ’n groot korpus liedtekste wat later as geuseliedere bekend sou staan. Dit het mettertyd as die “Wilhelmus” bekend geword op grond van sy openingsreëls, “Wilhelmus van Nassouwe,/ ben ick van Duytschen bloet,/ Den Vaderlant getrouwe/ Blijf ick tot in den doet [“dood”]”. Hierdie lied is in 1932, in die regeringstyd van koningin Wilhelmina, tot nasionale Nederlandse lied (volkslied) verhef.

Die keuse van hierdie teks is in verskeie opsigte besonder interessant. In die eerste plek trek dit die historiese lyn van koningin Wilhelmina (die eerste vroulike Nederlandse vors) terug na Willem de Zwijger, die eerste prins en stadhouer van Oranje-Nassau. Dit wys dus op die lang, deurlopende geskiedenis van die Huis van Oranje-Nassau. In die tweede plek bevestig dit die band tussen die Huis van Oranje-Nassau en die Nederlandse staat. In die derde plek, en besonder betekenisvol, herbevestig hierdie teks (as geuselied) die Huis van Oranje-Nassau se godsdienstige verband, deur eeue heen, met die Protestants-Christelike geloof. Hierdie drieledige band tussen God, die Huis van Oranje en die Nederlandse staat spreek ook uit twee ander gedigte wat in hierdie artikel bespreek is, naamlik “Louwijs die trockt velt” (uit 1674, die oudste herdenkingsgedig uit die tyd van prins Willem III) en “Zoo lang als Zon en maan Zal Staan” (uit die tyd van prins Willem V) – ’n mens sou gevolglik kon argumenteer dat dit bykans as ’n topos (in verruimde betekenis) beskou kan word.

’n Ander bord uit Wilhelmina se regeringstydperk wat regstreeks op haar as individu betrekking het, is ’n blou-en-wit bord wat deur De Porceleyne Fles gemaak is. Hierdie bord is deel van De Porceleyne Fles se versameling by hulle fabriek in Delft, en volgens inligting in die maatskappy se argief is daar 710 eksemplare van hierdie bord gemaak.. Die bord is met blommotiewe versier, en bevat ook die naam "Koningin Wilhelmina” en die datum “1880 * 31 Aug * 1930”. Hierdie bord is dus op Wilhelmina se 50ste verjaarsdag uitgegee. In die middel van die bord staan die volgende gedig:

Een ieder roeme welgezind
Den onverbreekb’ren band,
Die Neerland en Oranje bindt,
Vorstin en Vaderland

Die ooreenkoms tussen die boodskap van hierdie kwatryn en die boodskap wat die vier reëls uit die “Wilhelmus” (hier bo bespreek) oordra, is opvallend: die onverbreekbare band tussen die staat en die vorstehuis, Nederland en die koningin, as verteenwoordiger van die Huis van Oranje, word beklemtoon (en die band met God word, op grond van die topos van "God–Huis van Oranje–Nederland" geïmpliseer).

Wilhelmina, wat Nederland as regerende vors deur die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog gelei het, het ongekende gewildheid geniet. Elf jaar nadat sy koningin geword het, is haar enigste kind en troonopvolger, Juliana, in 1909 gebore. Koningin Wilhelmina was steeds op die troon toe haar vier kleindogters tussen 1938 en 1947 gebore is. Sy abdikeer in 1948, ’n jaar na die geboorte van haar jongste kleindogter, ten gunste van haar dogter, koningin Juliana. Daar sal vervolgens ten slotte na twee gedigte oor twee van koningin Wilhelmina se kleindogters gekyk word.

4.3.2  ’n Gedig oor prinses Irene

Prinses Juliana se oudste kind en troonopvolger, prinses Beatrix, is in 1938 gebore (en het die troon in 1980 bestyg). Op 5 Augustus 1939 is prinses Juliana se tweede kind, Irene, gebore. Ter herdenking aan Irene se geboorte maak C.C. Enschede,45 ’n pottebakker oor wie daar niks bekend is nie, ’n blou-en-wit bord, versier met ’n ooievaar wat ’n kindjie bring, en met klokke al om die rand. Op die binnerand van die cavetto van die bord verskyn die volgende gedig, deur ’n onbekende digter, gesentreer en in hoofletters geskryf:

Weer klinkt de blijde maar, hier is de ooievaar
steeds hechter wordt hier door de band
die Oranje bindt aan volk en land

Die “klinkt” in reël 1 van dié anonieme gedig is meerduidig. In die eerste plek klink “Weer klinkt de blijde maar” soos ’n baie ou frase47 wat vertaal kan word as “Weer klink die blye tyding op”. In die tweede plek roep “klink” die gelui van die klokke, wat in die bord se randpatroon geskilder is, op. Dit dui waarskynlik op die Nederlandse tradisie om die kerkklokke te lui wanneer ’n kind in die Huis van Oranje gebore word. Die “hegter band” (r. 2) verwys na die feit dat die geboorte van ’n tweede kind die band tussen Nederland en die Huis van Oranje verstewig. Omdat daar vir die eerste keer in ’n baie lang tyd in die Huis van Oranje meer as een kind was wat die troon sou kon bestyg, was daar groot blydskap in Nederland. Die hooftema van die gedig is dus blydskap omdat die voortbestaan van die koningshuis deur ’n tweede kind versterk is.

4.3.3  ’n Gedig oor prinses Margriet

Die derde van prinses Juliana se vier dogters, Margriet, is op 19 Januarie 1943 gebore – nie in Nederland nie, maar in Ottowa, Kanada, waar Juliana tydens die Tweede Wêreldoorlog in ballingskap gewoon het. Ter viering van haar geboorte gee die Netherlands Aid Society ’n bord uit wat deur die fabriek Scammell's Lamberton in Trenton, New Jersey, in die Verenigde State van Amerika gemaak is. Hierdie bord is tot vandag toe nog een van die volopste Nederlandse gedenkstukke, met die grootste getal eksemplare ter wêreld in omloop. Die skilderwerk op die bord self bestaan uit afbeeldings van die kaarte van Nederland, Suriname en Indonesië: die moederland en die twee kolonies van Nederland, wat al drie deur die oorlog geraak is. In die middel van die bord, met gesentreerde versreëls, verskyn ’n gedig wat deur J.A. van Heurne geskryf is. Dit maak hierdie gedig die enigste (naas die “Wilhelmus van Nassouwe”) op gedenkaardewerk waarvan die digter bekend is. Dit lui soos volg:

Die “Oranje Kindje” verwys na prinses Margriet, wat in Kanada, “Zoo ver van Huis” (Nederland) gebore is. Die wens word uitgespreek dat God aan hierdie kindjie drie geskenke sal gee: ’n haan, wat met sy gekraai Nederland se oorwinning sal aankondig, die vaandel van die Huis van Oranje, wat weer sal wapper sodra Nederland sy vryheid van Duitsland teruggewen het, en twee klompe om weer op Nederlandse grond mee rond te loop. Wanneer dit gebeur, sal die Nederlandse volk juigend sy liefde aan Margriet betoon. Behalwe dat die twee klompe ’n bekende simbool van Nederland is, was dit ook die Netherlands Aid Society se kenteken. Oor hierdie vereniging (en oor die digter, Van Heurne) is daar egter geen ander besonderhede bekend nie. Die gedig spreek die duidelike wens uit dat Nederland en die Huis van Oranje weer vryheid sal smaak. Hierdie versugting na vryheid is amper sterker verwoord as die blydskap oor die nuwe prinsessie se geboorte. Die reeds aangetoonde drieledige band tussen Nederland en die koningshuis, die wil en beskerming van God, en vryheid word dus ook in hierdie gedig beklemtoon.

5.   Samevatting en gevolgtrekkings

’n Ontleding van die twaalf gedigte op Nederlandse keramiek wat die Nederlandse koningshuis gedenk, so ver bekend die enigste geleentheidsgedigte wat oor die afgelope 434 jaar op hierdie manier “uitgegee” is, bevestig dat al drie aannames wat aan die begin van hierdie beeldvormingsondersoek geformuleer is, waar is.

Aanname 1 was dat die gedigte die Huis van Oranje en die stadhouer/koninklike wat gehuldig word, in ’n positiewe lig sou stel. Dit is deurgaans die geval – al die gedigte is pro-Oranje, selfs in tye van krisis, toe die Huis van Oranje sy mag verloor het (byvoorbeeld in die tyd van prins Willem V). Onder daardie omstandighede vervul die gedigte ’n bemoedigende rol. Enersyds beklemtoon die gedigte die band tussen die Huis van Oranje en die spesifieke stadhouer/koninklike, met die klem wat meestal sterker op die Huis van Oranje as op die individuele vors in sy of haar persoonlike hoedanigheid val (selfs in die gedigte oor die geboorte van prinses Irene en prinses Margriet: al was hulle nie eerste aanspraakmakers op die troon nie, het hulle geboorte telkens ’n langer troonopvolgingslyn geskep). Andersyds speel die persoonlike gewildheid van die vors wel deeglik ’n rol as daar na gedenkkeramiek as globale verskynsel (d.w.s. na alle stukke, ook dié sonder gedigte) gekyk word: in die eerste plek is gedigte net oor die gewilde heersers geskryf, en in die tweede plek dui die hoeveelheid gedenkkeramiek wat in ’n vors se regeringstyd gemaak is (eerder as net die inhoud van ’n gedig), aan hoe gewild daardie vors in sy of haar persoonlike hoedanigheid was. Die gedenkkeramiek het immers ’n kommersiële kant ook gehad, deurdat die fabriek sy finansiële belegging in die maak van hierdie stukke uit die verkope moes verhaal.

Aanname 2 was dat die gedigte ’n sterk verband tussen die heerser en belangrike, hoofsaaklik roemryke, historiese gebeure uit sy/haar regeringstyd sou lê; en dat die verwysings na historiese feite akkuraat sal blyk te wees. Ook hierdie aanname is deur ’n noukeurige lees van die gedigte en nagaan van die historiese verwysings bevestig.49 Trouens, veral die gedigte uit die tyd van Willem III is oninterpreteerbaar sonder kennis van die historiese feite. Wat in hierdie verband ook interessant is, is dat belangrike, Oranjegesinde individue soos admiraal Tromp, wat roemryke dade verrig het, ook vereer word op grond van die rol wat hulle gespeel het om die toekoms van die Huis van Oranje te verseker. Terselfdertyd word diegene wat nie Oranjegesind was nie (soos De Witt), fel veroordeel en as skurke uitgebeeld. Talle van die gedigte beklemtoon spesifiek die historiese lyn van die Huis van Oranje, soos wanneer daar op ’n gedenkstuk vir koningin Wilhelmina uit die “Wilhelmus” aangehaal word. Deur op die lang geskiedenis van die Huis van Oranje te wys, word ook gesuggereer dat sy toekoms verseker is.

Aanname 3, dat die gedigte ’n Christelike, en spesifiek Protestantsgesinde inslag sou vertoon, is ook waar bewys. Meer nog: verskeie gedigte het getoon dat die vryheid om hulle eie geloof te beoefen, baie belangrik was vir die Nederlandse Protestante; en dat die drieledige band tussen God, die Huis van Oranje en die Protestantse deel van die Nederlandse volk as onverbreekbaar beskou is. Hierdie oortuiging strek van die oudste gedig (“Louwijs die trockt veld”, 1674) tot die jongste (oor prinses Margriet se geboorte, 1943). Trouens, as die “Wilhelmus” (op grond van die 1923-gedenkbord vir koningin Wilhelmina) bygereken word, gaan hierdie verbintenis terug na die ontstaan van die “Wilhelmus” (omstreeks 1568–71) en die eerste prins van Oranje, Willem de Zwijger.

Daar kan ook verdere afleidings op grond van die bestudeerde tekste gemaak word, soos dat aanvaar kan word dat die gedenkkeramiek wel die gevoel van die algemene publiek oordra. Die feit dat verreweg die meeste gedigte anoniem is, en die mening in die gedig dus nie aan ’n spesifieke persoon toegeskryf kan word nie, versterk hierdie indruk. Verder is dit ook duidelik dat hoewel die digter anoniem mag wees, die gedigte wyd bekend was: sommige gedigte is oor en oor op ’n groot aantal verskillende keramiekstukke gebruik.

Verskeie aspekte van hierdie gedigte op gedenkkeramiek is egter steeds onaangeraak en/of onbekend. Daar is van meet af aan gesê dat die gedigte nie as literêre tekste beoordeel sou word nie. Tog val enkele eienskappe op, soos dat die gedigte oor prins Willem III se inhoud patroonmatig opgebou is: ’n historiese skets lei die gedig in, en daarna volg ’n eerbetoon aan die stadhouer as verteenwoordiger van die Huis van Oranje. Dit val ook op dat daar van tradisionele eindrymskemas gebruik gemaak is, veral van die ietwat dreunerige paarrymskema. Verskillende verklarings kan hiervoor gegee word: eerstens dat die digters ’n tradisionele siening van die digkuns gehad het; tweedens dat die makers van die tekste nie bedrewe digters was nie (want paarrym is die “maklikste” rymskema om te gebruik); derdens dat die digters ook mense wat nie literêr geskoold was nie, met die gedigte wou bereik. Verskeie ekonomiese faktore dui daarop dat die gedenkstukke waarskynlik vir die middelklas en die rykes bedoel was: in die eerste plek is die borde, veral in die tyd van prins Willem III, vir versiering gemaak en nie as gebruiksartikels nie. In die tweede plek was die oplaag beperk, en in die derde plek was die stukke nie goedkoop nie. Die Wilhelmina-bord van 1930 (Figuur 9) is die enigste van die twaalf stukke wat hier bespreek is waarvan die verkoopsyfers bekend is: daar is 710 van hierdie borde teen 12,50 gulden stuk verkoop. Die kopers het dus waarskynlik eerder tot die meer vermoënde middel- en hoër klas behoort as tot die laer ekonomiese klas; en die keramiekstukke was waarskynlik op hulle afgestem. Dit sluit natuurlik nie die moontlikheid uit dat die sentiment wat op die stukke uitgebeeld is, deur ’n groot groep Nederlanders (insluitende mense uit die laer sosio-ekonomiese klas) gedeel is nie.

Die talle spellingvariante, die weglating van die slot -n van die infinitief (’n uitspraakverskynsel), die aanmekaarskryf van die lidwoord en die daaropvolgende substantief, die onsistematiese gebruik van hoof- en kleinletters en gebrek aan (of onlogiese) interpunksie verlei die leser ook om aan te neem dat die digters waarskynlik betreklik ongesofistikeerd moes gewees het. Daar moet egter onthou word dat die meeste van die gedigte geskryf is voordat die Nederlandse spelling by wyse van spelreëls gestandaardiseer is. Dit is waarskynlik ook moontlik dat die skilder die skryffoute tydens die kopiëringsproses kon gemaak het. Wat méér interessant is, is dat daar ook in die twintigste-eeuse gedigte “spelfoute” en onsistematiese hooflettergebruik voorkom en dat dit, saam met die teruggegryp na sekere “ou” woorde soos maar (mare) en verkondt, wat deur Van Dale as argaïsmes aangegee word, die indruk van ’n “ou” gedig skep, wat aansluiting by die lang tradisie van gedenkgedigte vind.

In breër verband is daar aan die produksiekant talle onbeantwoorde vrae: Hoe het die gebruik van gedigtekste op gedenkkeramiek by die fabrieke ontstaan? En hoe het die fabrieke aan die tekste en/of aan die digters gekom? Die ekonomiese aspekte van die gedenkkeramiek is glad nie in hierdie artikel bespreek nie. Het tye van ekonomiese swaarkry byvoorbeeld die produksie van gedenkkeramiek beïnvloed? En ofskoon gedigte slegs met tussenposes op gedenkkeramiek gebruik is, het daar sedert 1943 geen gedigte op gedenkkeramiek verskyn nie, alhoewel keramiekstukke wat die koningshuis gedenk, nog steeds gemaak word. Beteken dit dat die Nederlandse volk anders oor die koningshuis dink as vantevore? Of speel die sekularisering van die Nederlandse samelewing moontlik ’n rol (gegewe die sterk godsdienstige ondertoon van die bespreekte gedigte)?

Verdere ondersoek sal moontlik antwoorde op bostaande vrae oplewer. In hierdie stadium kan gekonstateer word dat die navorsing wat tot dusver oor hierdie tekste op gedenkkeramiek gedoen is, ’n beeld na vore bring van die Nederlandse volk as troue ondersteuners van die Huis van Oranje oor ’n periode van eeue heen; van ’n onlosmaaklike verband tussen die volk en die koningshuis en tussen die koningshuis en die Protestants-Christelike geloof; en van ’n volk vir wie staatkundige en godsdiensvryheid ononderhandelbaar was. 

Bibliografie

Antonissen, Rob. 1986. Digkuns van die Nederlande 1100–1970. Deel I. Tweede uitgawe, vyfde druk. Stellenbosch en Grahamstad: Universiteitsuitgewers en -drukkers.

Cruyskamp, C. 1976. Van Dale Groot Woordenboek der Nederlandse taal, Deel II, O–Z. Tiende, geheel opnuut bewerkte en heelwat vermeerderde druk. ’S-Gravenhage: Martinus Nijhoff.

De Kruif, José, Marijke Meijer Drees en Jeroen Salman (reds.). 2006. Het lange leven van het pamflet. Boekhistorische, iconografische, literaire en politieke aspecten van pamfletten. Hilversum: Verloren.

Den Boeft, Jan e.a. (reds.). 1994. Denken over dichten: dertig eeuwen poëticale reflectie. Amsterdam: Amsterdam University Press.

Den Boon, Ton en Dirk Geeraerts (hoofreds.). 2005. Van Dale Groot Woordenboek van de Nederlandse taal. Versie 14.0 [elektronies op CD]. Utrecht/Antwerpen: Van Dale Lexicografie bv.

De Vreese, W.L. en Boekenoogen, G.J. (bewerkers). 1910. Woordenboek der Nederlandse Taal, Deel 11. ’s-Gravenhage & Leiden: Martinus Nijhoff.

De Vries, M. e.a. (bewerkers). 1889. Woordenboek der Nederlandse Taal, Deel 4. ’s-Gravenhage & Leiden: Martinus Nijhoff & A.W. Sijthoff.

Familie Ronda-versameling. Bord 1923, 25ste regeringsherdenking van Koningin Wilhelmina (Figuur 8).

Geuzennaam. 2008. http://nl.wikipedia.org/wiki/Geuzennaam (15 Maart 2008 geraadpleeg).

Het Koninklijk Huis: Oranje en Nassau. 2008. http://www.koninklijkhuis.nl/content.jsp?objectid=4489 (16 Februarie 2008 geraadpleeg).

Het Koninklijk Huis: Prins Willem IV (1711–1751). 2008. http://www.koninklijkhuis.nl/content.jsp?objectid=4500 (16 Februarie 2008 geraadpleeg).

Het Koninklijk Huis: Prins Willem V (1748–1806). 2008. http://www.koninklijkhuis.nl/content.jsp?objectid=4501 (26 Februarie 2008 geraadpleeg).

Het Koninklijk Huis: Stadhouders 18e eeuw. 2008. http://www.koninklijkhuis.nl/content.jsp?objectid=4499 (16 Februarie 2008 geraadpleeg).

Hollandsch Diep. 2008. http://nl.wikipedia.org/wiki/Hollands_Diep_(water) (10 Maart 2008 geraadpleeg).

Japikse, N. 1937. De geschiedenis van het Huis van Oranje-Nassau. Volume I.  Den Haag: Zuid-Hollandsche Uitgeversmaatschappij.

Jensen, Lotte. 2005. Between text and context: an interpretation of three patriotic plays by A.P. Muller-Westerman. In Shannon, Thomas en Johan Snapper (reds.). 2005.

Liedboek van die Kerk. 2001. Wellington: NG Kerk-uitgewers.

Lunsingh Scheurleer, D.F. 1994. Oranje op aardewerk van Willem de Zwijger tot Koningin Beatrix. Lochem: Uitgeversmaatschappij Antiek Lochem.

Meijer, Maaike. 1996. In tekst gevat. Inleiding tot een kritiek van representatie. Amsterdam: Amsterdam University Press.

Meijer Drees, Marijke. 1997. Andere landen, andere mensen. De beeldvorming van Holland versus Spanje en Engeland omstreeks 1650. Den Haag: Sdu.

Meijer Drees, Marijke en Els Stronks (reds.). 2002. Wat wonders, wat nieuws! De zeventiende eeuw in pamfletten. Amsterdam: Athenaeum–Polak & Van Gennep.

Museum Buren & Oranje-versameling. Bord 1785, Willem V (Figuur 3).

Nederlands Woordenboek. 2008. http://blackorwhite.nl/Nlwoordenboek/
index.php?a=list&d=1&p=2&strict=1&w1=J
(26 Februarie 2008 geraadpleeg).

Shannon, Thomas en Johan Snapper (reds.). 2005. Proceedings of the Berkeley Conference on Dutch Literature 2005. http://www.home.planet.nl/~jense003/threeplays.pdf (3 Maart 2008 geraadpleeg).

Tanap. 2008. http://www.tanap.net_glossary_Kaap
DeGoedeHoop/content.cfm?ID=437
(26 Februarie 2008 geraadpleeg).

Van Erkel, J. (bemarkingshoof, De Porceleyne Fles, Delft). Persoonlike korrespondensie: 10 Oktober 2006.

Van Gybland Oosterhoff-versameling, Aanwinsnommer: 2008.01.07.00008. Onbekende tydskrifartikel, 1910 (Figuur 1).

Van Gybland Oosterhoff-versameling, Aanwinsnommer: 218069. Bord 1943, Geboorte van Prinses Margriet (Figuur 11).

Van Gybland Oosterhoff-versameling, Aanwinsnommer: 218140. Bord 1930, Vyftigste verjaarsdag van Koningin Wilhelmina (Figuur 9).

Van Gybland Oosterhoff-versameling, Aanwinsnommer: 218073. Bord 1939, Geboorte van Prinses Irene (Figuur 10).

Van Tilburg-museumversameling, Aanwinsnommer: 293363. Bord 1788, Willem V (Figuur 6).

Waarom is het Geuze en geen Gueuze? 2008. Elektroniese artikel oor die gelyknamige Belgiese bier. http://home.scarlet.be/pajottenland/pajot/bier/schrijfwijze.htm (15 Maart 2008 geraadpleeg).

Willem van Oranje. 2008. http://nl.wikipedia.org/wiki/Willem_van_Oranje (15 Februarie 2008 geraadpleeg).

Willem van Oranje: Jeugd (1533–1555). 2008. http://nl.wikipedia.org/wiki/Willem_van_Oranje (15 Februarie 2008 geraadpleeg).



Eindnotas

1 Gedenkkeramiek kom in Nederland, Brittanje, Amerika en ook Suid-Afrika voor (soos die roomkleurige bak met bruin afbeeldings van die Voortrekkermonument en Trekkerstonele wat met die 100-jarige herdenking van die Groot Trek uitgegee is).

2 Oor die afgelope 3 000 jaar het (Westerse) opvattings oor wat “goeie poësie” is, voortdurend verander. Hierdie opvattings word in poëtikale geskrifte, literêre strominge en die kanon weerspieël. Uit Horatius (65–8 v.C.) se vertaalde stelling: “Men vraagt zo vaak: wat maakt nu goede poëzie? Talent? Techniek? In studie zonder aanleg en in een ongeschoold talent zie ik geen heil”, is dit duidelik dat hy talent én tegniek as onontbeerlik beskou het (Den Boeft e.a. 1994:39).

3 Van Gorp (1986:158) omskryf “gelegenheidsgedichten (poésie de circonstance)” as gedigte wat geskryf is na aanleiding van ’n belangrike gebeurtenis (geboorte, sterfte, herdenking, ens.), “waarbij de dichter (tenzij hij op bestelling werkt) betrokken is als persoon of als lid van een gemeenschap. Hoewel dergelijke lyriek ten gevolge van haar utilitair karakter vaak weinig literaire waarde heeft, kan een gelegenheidsgedicht waarin de gebeurtenis in kwestie voldoende verdiept wordt, een grote poëtische kracht bezitten.” As voorbeelde van geleentheidsgedigte wat uit die Antieke Tyd dateer, noem hy die epitaaf (wat destyds bedoel was om op ’n grafsteen aangebring te word) en die epitalaam (wat as bruilofslied vir die jong getroudes gesing is).

4 Nadat die artikel reeds voltooi is, is ’n dertiende gedig gevind. Dit verskyn op ’n stuk gedenkkeramiek wat koningin Wilhelmina huldig. Die stuk behoort tot die Van Gybland Oosterhoff-versameling.

5 Hy het ’n rol gespeel in die opvoeding van keiser Karel V, wat op sý beurt ’n belangrike rol in die lewe van prins Willem I sou speel.

6 Hy neem ook die lyfspreuk "Je maintiendrai" (Ik zal handhaven) oor. Aan die einde van sy lewe brei Prins Willem I hierdie lyfspreuk uit tot: "Je maintiendrai l'honneur, la foy, la loi de Dieu, du Roy, de mes amis et moy" (Ik zal de eer, het geloof en de wet van God, van de koning, van mijn vrienden en mij handhaven) (Willem van Oranje 2008).

7 stadhouder (eert. en thans in bijz. toepassing stedehouder, zie ald), m. -s­, plaatsvervanger; in ‘t bijz. (hist.): 1. (veroud) plaatsvervanger van een vorst; –2. iemand die in de plaats van een vorst een deel (land, gewest) van diens rijk bestuurt; inz. Oudt. In Nederland, landvoogd van een provincie ten tijde der graven; (later, na 1581) hoofd van het uitvoerend gezag in een gewest, bekleed met zeer veel rechten, meestal hoofd van het leger en de vloot: ten tijde van de Republiek waren de stadhouders volgens de meest verbreide opvatting dienaren van de Staten, maar vele attributen van de landsheer waren op hen overgegaan; Willem V was de laatste stadhouder; –3. stadhouder van de lenen, voorzitter van een leenhof (Kruyskamp 1976:2324–2325).

8 Dit is ’n kwessie van historiese interpretasie; daar is meningsverskil onder historici oor hierdie saak.

9 Hierdie benaming dui daarop dat die amp van stadhouer van nou af in die direkte afstammingslyn oorgeërf word.

10 Die term hipotese word nie gebruik nie, aangesien dit nie moontlik is om die hipotese(s) empiries te bewys nie.

11 Foto uit onbekende tydskrifartikel in die Van Gybland Oosterhoff-versameling, aanwinsnommer: 2008.01.07.00008.

12 Titel wat gewoonlik aan die Britse koning se oudste dogter gegee word. Die titel is nie oorerflik nie en kan nie deur meer as een persoon gelyktydig beklee word nie.

13 raadpensionaris [het accent wisselt], m. (-sen), (hist.) 1. titel van een voornaam ambtenaar in vele Nederlandse steden van die 16de tot de 18de e., die de stadsregering als raadsman diende en de afgevaardigden van de vroedschap naar de Statenvergadering vergezelde; –2. titel van de voornaamste bestuursambtenaar in Holland en West-Friesland tijdens de Republiek: de raadpensionaris was o.m. belast met het voeren van de correspondentie namens de Staten en kon ook in verschillende andere opzichten als hun gevolmachtigde optreden; –3. in de grondwet van 1805 titel van de persoon die belast was met de uitoefening van de uitvoerende macht in de Bataafse Republiek (Kruyskamp 1976:1970).

14 Meer navorsing sal toon of die teks, of ten minste die frase “Heer der here”, reeds ses jaar vroeër, in 1674 (die datum van die gedig), in Nederland in gebruik was.

15 Foto uit Lunsingh Scheurleer 1994:46.

16 verlanden: om die land te verlaat – betekenis aangedui in die eerste uitgawe (1864) van Van Dale.

17 Ofskoon die gedig tipografies in nege reëls weergegee is, is dit op grond van die rymskema duidelik dat “Landen vrij” waarskynlik in ’n negende reël oorloop omdat daar te min plek was om die hele slotreël in één reël op die fles te kon skryf.

18[L]anden verwys na die provinsies van die Nederlandse Republiek.

19 Onverskrokke

20 Hier (met die invoeging van ’n wit reël aangedui) word die gedig tipografies in twee verdeel. Die voorafgaande teks staan links van die portret, die res van die teks regs daarvan.

21 Neptunus is die Romeinse god van die see.

22 Dis ’n verwysing na 1 Samuel 18:7, wat beskryf hoe Dawid as held vereer is nadat hy die reus Goliat verslaan het. Die vroue het gedans en gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!”

23 Die woord mof is ’n skeldnaam vir ’n Duitser.

24 Dit is nogal ironies dat Cornelis Tromp in 1676, net ’n jaar nadat dié gedig geskryf is, die Deense admiraal-generaal, dit wil sê hoof van die Deense vloot, geword het.

25 Het Hollands Diep is die naam van ’n baie breë rivierarm suid van Rotterdam in Nederland. Vanuit die ooste vloei die Maasrivier (in die suide) en die Waalrivier (ten noorde) wes na die Noordsee. Waar die Amer en die Nieuwe-Merwede (’n sytak van die Waal) by Lage Zwaluwe saamvloei, begin die Hollands Diep, wat verder na die weste toe vertak in die Haringvliet (wat noord van die landstreek Overflakkee verby vloei) en die Volkerak (wat suid daarvan verby vloei). (Kyk ook Hollandsch Diep 2008.)

26 Willem V sou egter die laaste stadhouer wees, dus het die erfopvolgingsbeleid in die praktyk slegs vir hom gegeld.

27 Keramiek wat in die bakproses, en nie weens glasuur nie, wit word (kyk Terminologie, afdeling 2).

28 Dit is die enigste van die vyftien borde waarop ’n datum voorkom.

29 Die tipografie op hierdie en ander gedenkstukke is dikwels idiosinkraties, veral wat die gebruik van kleinletters (bv. “god”) en sierletters wat soos hoofletters lyk, betref. Die outeurs het eie diskresie gebruik in die oorskryf van die gedigtekste en dit, waar moontlik, volgens die gebruiklike skryfwyse weergegee. In latere tekste wat volledig in hoofletters weergegee is, is die transkripsie in hoof- en kleinletters gedoen. Sentrering van versreëls is ook nie behou nie; in die transkripsie is die versreëls telkens links belyn.

30 Die ander bekende slagspreuk is “Vivat Oranje”, oftewel “Lank leef Oranje!”.

31 Foto geneem deur G.C. de Kamper in die Museum Buren & Oranje in die stad Buren.

32 Die cavetto van ’n bord is dié gedeelte waar die bord buig, met ander woorde die gedeelte tussen die binneste plat deel en die buitenste rand van die bord.

33 Die gedig eindig inderdaad met ’n kommapunt. Dit is onbekend of hierdie reëls dalk uit ’n langer gedig kom.

34 Foto uit Lunsingh Scheurleer (1994:95)

35 Foto uit Lunsingh Scheurleer (1994:96)

36 Die Katolieke is egter nie as “gelykwaardige” burgers beskou nie en het nie dieselfde regte as die Protestante geniet nie. Hulle kon byvoorbeeld nie belangrike poste beklee nie, en ofskoon hulle wel toegelaat is om kerkdienste te hou, is hulle kerke verbeurd verklaar en aan die Nederlandse Hervormde Kerk gegee. Die nonneklooster in Rapenburg moes byvoorbeeld deur die nonne ontruim word, en die nuwe Universiteit van Leiden is daarin gehuisves. Ofskoon die Katolieke se posisie in die Napoleontiese tyd verbeter het, moes prinses Irene in die twintigste eeu van haar aanspraak op die Nederlandse troon afstand doen omdat sy met ’n Katoliek getrou het.

37 Foto geneem deur G.C. de Kamper in die Van Tilburg-museum aan die Universiteit van Pretoria.

38 Oranje Boven, vivat Oranje

39 Foto geneem deur G.C. de Kamper by Museum Simon van der Gijn in Dordrecht

40 Kyk Den Boon en Geeraerts 2005: “nicht (geen afbreking) / de (v.); -en / (1220–1240 ‘kleindochter, nicht, bloedverwante’) ~ Lat. neptis (kleindochter), v. vorm naast neef, met overgang van ft >cht”.

41 Foto geneem deur G.C. de Kamper in die private versameling van die familie Ronda in Roden, Groningen.

42 Die rivier Maas

43 Volgens Van Dale dateer die woord geus uit 1599, maar die woordeboek verwys eweneens na genoemde versoekskrif (Den Boon en Geeraerts 2005).

44 Foto geneem deur G.C. de Kamper in die Van Gybland Oosterhoff-versameling, Universiteit van Pretoria.

45 Hierdie inligting is ingewin uit persoonlike korrespondensie met me. J. van Erkel (kyk Bibliografie).

46 Foto geneem deur G.C. de Kamper in die Van Gybland Oosterhoff-versameling, Universiteit van Pretoria.

47 Die woord mare of maar het sy oorsprong in 1200, uit Ou Iers en Ou Russies, en word in Van Dale (Den Boon en Geeraerts 2005) as argaïes geëtiketteer.

48 Foto geneem deur G.C. de Kamper in die Van Gybland Oosterhoff-versameling, Universiteit van Pretoria.

49 Die eerste ars poetica wat in die Nederlandse volkstaal geskryf is, was dié van Antwerpse “scepenclerc” Jan van Boendale, en is vervat in Der leken spieghel, wat Van Boendale tussen 1325 en 1333 geskryf het (Den Boeft e.a. 1994:65). Een van die drie belangrikste vereistes wat hy aan ’n gedig gestel het, was dat dit waar moes wees, en dat spesifiek die geskiedenis, die kerk en die heiliges altyd eerlik uitgebeeld moes word. Die eis dat die digter hom by die waarheid moes hou, was ook een van die grondbeginsels van die Antieke Griekse poëtika.

* Die outeurs betuig graag hulle dank vir die finansiële steun wat die Nederlandse Taalunie, via die Noordelike Kennisnetwerk vir Neerlandistiek, vir hierdie navorsing bewillig het.



Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address