Bazoo sê: "Hou my dop" (by die US Woordfees)

  • 1

Bazoo is die kindertydskrif wat mens al meer gereeld op die winkelrakke sien opduik. Naomi Meyer het vir Renie Nel, die redakteur van die tydskrif, gevra oor die vriendelike skilpad wat nou ook kinders by die US Woordfees gaan kom vermaak (en hulle terselfdertyd belangrike dinge leer).

Hallo Renie, ek sien die naam Bazoo met die kenmerkende skilpadjie nou al hoe meer gereeld opduik. Vertel my asseblief die agtergrond van hoe die tydskrif begin het.

Bazoo het ontstaan uit die soeke van twee ma’s na Afrikaanse aktiwiteiteboekies vir hulle kleuters. Hulle kon nie so iets in die winkels kry nie en het ons genader met die idee van ’n aktiwiteiteboekie vir voorskoolse kinders. Met die gepaardgaande leeskrisis onder laerskoolkinders besluit ons toe om oorspronklike Afrikaanse stories en aktiwiteite in tydskrif-formaat uit te gee met die doel om ’n liefde vir lees onder kleuters te help kweek.

Verlede jaar het ons hierdie inligtingstuk oor Bazoo op LitNet geplaas:. Hoe lank bestaan Bazoo al en op watter mark is dit gemik?

Bazoo se eerste uitgawe is gepubliseer in Maart 2009 en ons 24ste uitgawe is tans in Spar en Pick n Pay-winkels landwyd te koop. Die inhoud van Bazoo is gekoppel aan die graad R-kurrikulum en die stories en aktiwiteite is gemik op 4- tot 7-jariges. Bazoo skep kwaliteit-tyd wat ouers met hulle kleuters kan spandeer deur die stories vir hulle voor te lees en te help met die aktiwiteite. Dit is ook ’n fantastiese hulpbron vir grondslagfase-onderwysers!

Wat kan ouers en kinders verwag om in die tydskrif aan te tref?

Vet pret in Afrikaans! Daar is splinternuwe Afrikaanse stories in elke uitgawe en dit skep die konteks vir die aktiwiteite wat noodsaaklike vaardighede in die voorskoolse fase aanspreek. Bazoo is dus ’’n “werkboekie” in die sin dat die meeste bladsye in die tydskrif aktiwiteite bevat wat kinders in die boekie self kan doen. Elke uitgawe het ook ’n interessante artikel vir Mamma en Pappa oor jou kleuter se gesonde ontwikkeling, ’n bak-en-brou-aktiwiteit, buitespeel-idees of ’n “oefen saam met Bazoo”-bladsy!

Bazoo en die Plaashaas is op 2 Maart by die PJ Oliver-kunssentrum te sien as deel van die Koowee-fees van vanjaar se US Woordfees. Watter ouderdomme kinders moet kom kyk? En wat gaan Bazoo en die plaashaas maak?

Bazoo se nuutste poppekasvertoning is groot sports! Pom die plaashaas verdwaal … en hy beland in Fynbosbuurt op Tafelberg, waar Bazoo en sy vriende woon. Die plaashaas word verkeerdelik aangesien vir die paashaas en dit sorg vir groot hasie-konsternasie! Wonderlike vermaak vir kinders vanaf 3 tot 8 jaar en ouers sal dit ook baie geniet!

Die vertoning is Saterdag 2 Maart om 09:00 by die PJ Olivier-kunssentrum in Blomstraat, Stellenbosch.

Toer Bazoo die land vol? Was julle al by ander feeste? En wat het julle in gedagte vir die toekoms?

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat Bazoo by die US Woordfees betrokke is. Bazoo gaan ook vanjaar vir die eerste keer by die KKNK te sien wees as deel van Spektrum Kinderteater se geselskap! Ons wil ook graag ons betrokkenheid by skole en opvoedkundige instansies uitbrei: Bazoo-tydskrifte word in onderwyseropleiding gebruik as ’n hulpbron vir onderwysers in die grondslagfase. Ons het drie uitgawes in Engels en IsiXhosa beskikbaar, saam met ’n Groot Bazoo Werkboek (A3) wat ook in hierdie drie tale beskikbaar is. Bazoo beplan ’n landswye toer vroeg in 2014, waar hy veral deur die platteland wil reis om sodoende by al sy intekenaar-maatjies regoor die land uit te kom en om hopelik baie nuwe maatjies langs die pad te maak!

Bazoo sê: “Hou my dop!”

 

Bazoo en die Plaashaas

2 Maart 09:00 | PJ Olivier | 50min | R40

 

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Karlien Conradie

    Hierdie skepping in Afrikaans vir kleuters is voorwaar besonders! Renie Nel en haar span kan werklik trots wees. Bazoo is nie slegs prettig en boonop leersaam nie, maar bevat ook iets wat herinner aan ouma se beskuit, warm kaggels, honde op 'n blokkieskombers en tuine met boomhuise ... noem dit dan maar goeie ou kindersentiment. Die heilsame egtheid en onopgesmuktheid van hierdie publikasie maak dit 'n besliste treffer op enige boekrak!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top