Avatar: 'n Mitologie vir ons tyd? Christo Lombaard reageer

  • 0

Wat mite kan: Christo Lombaard reageer op die artikel “Avatar: ’n Mitologie vir ons tyd” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Naas Ferreira.

Die verklaring vir mites is dat hulle verklaar. Mites – en hier nie die algemene gebruik van “mite” as, plus-minus, “leun” nie, maar die tegniese gebruik van “mite” as, breedweg, “betekenisgewende meta-narratief” – is op ’n manier soos wetenskaplike teorieë: hulle vat die stand van insig tans saam. Mites som op, naamlik die verklarings van hoe mense op ’n gegewe tyd dink sake ís. Hierdie samevatting word dan weer, in ’n tipe sirkelgang, die verwysingsraamwerk waarteen verdere vrae beantwoord word.

Die mite kan dus maniere van verstaan verklaar. As die antieke Egiptenare se verwysingsraamwerk is dat die farao’s gode is, verklaar dit hulle koninklike bloedskande: die heiligheidsmite maak ondertrouery met die burgery tot ’n tipe ontugwet. As die Babiloniese verstaanshorison is dat son, maan en sterre gode is, verklaar dit die opstropolis-retoriek van die priesterskrywer van Genesis 1 terwyl hy rondom 550 vC in Babilon ’n banneling is: Jahwe maak daardie “gode” met sommer ’n vlugtige woord. As die Grieks-Hellenistiese kultuurwêreld sonder meer aanvaar dat gode of godekinders tussen ons gebore word, en dat sulke geboortes deur wondertekens aangekondig word, maak die Nuwe-Testamentiese geboorteverhale van Jesus ánders sin: binne daardie raamwerk, “hier kóm ’n ding”, naamlik “hier kom ’n openbaring”.

Vry van sulke mites is ons, die laat-modernes, nie. In die rasionele aflegging van antieke mites – soos die goddelikheid van die owerheid, die bonatuurlike totstandkoming van natuurlike voorwerpe, of wondergeboortes – lewe die moderne mens nie nou mite-loos nie. Ons verplaas wel een soort mite deur ’n ander. Ons prewel selfs ons mantras daaroor, met die massamedia wat ’n paar goeie voorbeelde verskaf: dokumentêre televisieprogramme oor diere wat skaars kan gaan sonder die “ter wille van oorlewing”-spreuk; Oprah se “just believe in yourself; follow your dream” refleks-uitspraak; die daaglikse implisiete koerant-belydenis dat sport, politiek, ekonomie en bekendes se sekslewens fundamenteel wetenswaardig is. In breër kultuurkring word die postmodernisme se aanspraak dat daar geen vaste waarheid is nie vir postmoderniste juis dié vaste waarheidsuitspraak. Sulke mites dra ons deur alles van die ditjies en datjies van die dag tot die groot bestaansvrae. Só word alles verklaar. Ons mites lyk anders as dié van vervloeë dae, maar die gewoonte dat ons soms hulle gedateerde maniere van verstaan as naïef uitlag, wys juis hoe diep ons ingekoop is in die mites van ons tyd.

Ook maar mens...

Soos die antieke mites, is die moderne mites nie bo bevraagtekening verhewe nie. Wat ookal die gangbare mite is, dit kan nooit álles verklaar nie. Ook, soos wat die tyd aanloop en insigte verander, vra mense na nuwe maniere van dink: ’n nuwe mite vir ’n veranderde konteks. Die mite is dood; lank lewe die mite. In die Christendom se geskiedenis het hierdie stuwende soeke na grondbetekenis prosesse ingesluit soos die intense redaksionele (lees: retories-herinterpreterende) werk aan die Bybelse tekste tydens hulle ontstaansfases; later, die stryd om watter kanon waar sou geld; deurgaans, die kompetisie om betekenis uit die teks te haal / aan die teks te gee; somtyds, die aandrang om die Bybel te herskryf (byvoorbeeld aan die hand van ’n sekere idee oor Jesus, by Marcion rofweg 19 eeue gelede, of om relevant te wees vir Afrika, by Canaan Banana rofweg twee dekades gelede); selfs die aandrang om die Bybel as sinloos of, sterker, as skadelik te verwerp. Dit is, vreemd genoeg, in die strýd dat die mite se belang bevestig word. Oor onbelangrike sake word nie lank en kwaai gedebatteer nie. Die krag van die mite om breë verklarings te bied gaan, ironies, altyd saam met die onmag van die mite om enkelvoudige verklarings naatloos te bied. Mites bly daarom onder druk – intern, om beter te verwoord, en ekstern, weens kompetisie deur ander mites. Die mites met die grootste duursaamheid sluit ’n bepaalde buigsaamheid in. Die gedagtegang wat dikwels implisiet saamhang met soekes na nuwe mites, naamlik om ’n raamwerk te vind wat probleemloos oor ons bestaan heen kan sambreel, is ’n soeke na valse sekuriteit. Histories gesproke was daar nooit so ’n mite nie. Om na so iets te smag (om óf terug te verlang, óf nuut te wil ontdek), is romantiek sonder realisme.

Die soeke na mites, om aan die hand daarvan breedweg sin van ons bestaan te maak, is dus nóg nuut, nóg eenvoudig; nóg onnodig, nóg ooit afgehandel. Heel natuurlik sal in ons tyd hierdie soeke ook met behulp van die massamedia geskied. Naas die meer tradisionele sinsoeke by orators en boeke, bied die klank-en-ligimpulse van ons elektroniese era ons ook synsimpulse: rolprente (byvoorbeeld) help ons betekenis máák, en vrede vind daarby. Of die rolprent Avatar, waaroor hierdie miniseminaar gaan, dít werklik doen, is egter sterk te bevraagteken. Wat hierdie film wel regkry, is om die verhouding tussen tegnologie en menswees te belig: hoe ’n lyf deur masjienerie op reis geneem kan word (à la astrale swerftogte, maar nou tegnologies gemedieer, soos voorheen in onder andere The Matrix of, anders, in Frankenstein); hoe kultuur as besigheid-met-mag in botsing kom met die natuur. Die ironie rondom Avatar – om voort te bou op wat baie resensente al uitgewys het – is dat soveel geld gespandeer is aan die tegnologie van hierdie rolprent, maar dat die storie dan so oud, voorspelbaar en vol clichés is. (Die knorpot Kolonel Quaritch-karakter stap byvoorbeeld grys slape, kou-sigaar en al net so uit die Spider-Man strokiesprente van die 1970s uit, waar hy Benedict Arnold geheet het.) Kon hulle nie maar ’n deel van die bedrag spandeer het om ook ’n goeie, nuwe storie geskryf te kry nie?

Aan die ander kant egter weer: dalk moet ’n mens dít juis sien as metafoor vir hoe tegnologie ons so verblind, oorbluf, oordonder dat die mens se gees daardeur verdof word. Hoe meer tegnologiese breinkrag, hoe minder estetiese breinkrag?1

Oor die algemeen moet ’n mite om drakrag te hê vir ’n substansiële aantal mense oor ’n substansiële tydperk aan sekere vereistes voldoen. Eerstens moet dit ’n geloofwaardige verklaringsraamwerk bied vir belangrike lewensvrae, op intellektuele vlak maar ook op fyner aanvoelingsvlakke, soos die emosionele. Tweedens moet dit ’n sekere elegansie besit (van die estetika van die Bybelverhale het die literêre kritikus Bloom 1994 byvoorbeeld heelwat gemaak) ten einde die menslike sin vir wat mooi is op implisiete wyse aan te raak. Derdens moet ’n mite teenstellings kan verdra, en selfs inherente weersprekinge kan verduur. Slagspreuke werk goed vir optogte en kroeggesprekke; die eggo’s van die moeilike lewensvrae rondom ons verswelg hulle egter.

Gemeet aan kriteria soos dié funksioneer Avatar opsigself nie as ’n mite nie. Die rolprent is wel ’n interessante aanbieding, wat wys waarby tegnologie die visuele vertelkuns van rolprente tans gebring het. Vir enige rolprent om egter op eie houtjie as nuwe mite te funksioneer, is waarskynlik te veel gevra. Selfs ’n hele genre, soos die wetenskapsfiksie-rolprent of die tans baie gewilde weerwolf-gier, kry dit hoogstens reg om nuwe gedagtemoontlikhede binne die breë samelewing los te wikkel. Rolprente kan ons daartoe lei om nuut of weer te dink. Om ’n volwaardige mite daar te stel, vra meer.

Bibliografie

Banana, CS 1993. The case for a new Bible, in: Mukonyora, I, Cox, JL & Verstraelen, FJ (eds) "Rewriting" the Bible: the real issues. Perspectives from within biblical and religious studies in Zimbabwe. Gweru: Mambo Press, 17-32.

Bloom, H 1994. The Western canon. The books and school of the ages. London: Papermac.

Dawkins, R 2006. The God delusion. London: The Bantam Press.

Ferreira, N 2010. Avatar: ’n Mitologie vir ons tyd. LitNet Akademies 7/3.

Le Roux, J 2009. 'n Geskiedenis van die eksegese, 03: God se nuwe sluit die oue radikaal uit.

Le Roux, J H 1997. Our historical heritage. Old Testament Essays 10/3, 401-423.

Lombaard, C 2009. Fleetingness and media-ted existence. From Kierkegaard on the newspaper to Broderick on the internet. Communicatio 35/1, 17-29.

Thiselton, A 1992. New horizons in hermeneutics. Grand Rapids: Zondervan Publishing House.

Eindnota

1 Soos alle volkwysheid (eintlik: volkswysgeit), is dié een ook net soms waar. Die grootste skilders in die kunsgeskiedenis het byvoorbeeld dikwels van nuwe tegnologie gebruik gemaak. So dien tegniek dan die gees. Aan die ander kant weer, soms vernietig tegnologie die mens se gees so dat dit selfs die Godsbeeld verduister, met twee Wêreldoorloë wat “beskaafde” Europa tegnologies verslind het as die klassieke, ontstellende voorbeeld.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top