Prometheus ongebonde | School Columns

 
As ons moetie en bygeloof bo werklikheid stel

Die moetie wat die sangoma die stakende mynwerkers by Marikana gegee het, sou hulle sterk maak sodat selfs nie die koeëls van die polisie hulle sou kon seermaak nie. Hulle was onaantasbaar.

’n Vrou is naby trane op Cape Talk en Radio 702 tydens Africa Melane se program waarin ’n astroloog raad gee aan inbellers wat hul en hul geliefdes se toekoms wil probeer lees.

Net maar twee voorbeelde van die ystergreep wat pseudowetenskaplike denke op die Suid-Afrikaanse bevolking het. Die een word amptelik deur die staat in sy gesondheidsberoepswet erken as geldige “wetenskap” op dieselfde vlak as dié van medici wat lang jare op universiteit moet swoeg om siekes van hulp te kan wees; die ander is ’n vooraanstaande mediahuis wat in die 21ste eeu steeds glo dat irrasionele en onwetenskaplike denke, selfs al stel dit mense se sak, lewe en bestaan in gevaar, aanvaarbare en onskuldige “vermaak” is.

Het die media, as die belangrikste verspreider van inligting en kennis, nie ’n morele verpligting om onsin van gesonde verstand en bewese rasionele verklarings te skei nie?

Thomas Henry Huxley het as bioloog reeds in die 19de eeu gewaarsku dat die fondament van moraliteit is “to give up pretending to believe that for which there is no evidence, and repeating unintelligible propositions about this beyond the possibilities of knowledge”.


Thomas Henry Huxley


Die afgelope paar jaar het veral twee boeke hierdie morele verpligting uitgespel wat  die rasioneel denkende deel van die bevolking aanmaan om pseudowetenskaplike onwaarhede te verwerp en nie sommer maar net te aanvaar dat enige “waarheid” geldig kan wees à la die postmodernisme nie.

Die Britse wetenskaplikes Simon Singh, ’n fisikus, en Edzard Ernst, ’n mediese wetenskaplike, se Trick or treatment? Alternative medicine on trial en die multidissiplinêr-opgeleide wetenskaplike Massimo Pigliucci van City University in New York se Nonsense on stilts – How to tell science from, toon aan dat ’n lewenskeuse om liggelowig te wees allermins ’n keuse is wat nie skade veroorsaak nie.

Pigliucci skryf: “Accepting pseudoscientific untruths, or conversely rejecting scientific truths, has consequences for all of us, psychological, financial, and in terms of quality of life. Indeed … pseudoscience can literally kill people”, soos ons tereg by Marikana gesien het. Dit kan ook daagliks gesien word in die wyse waarop onkundige, dikwels desperate mense hul wend tot kwaksalwermiddels en astroloë om siektes te genees en finansiële probleme op te los.

Michael Shermer, die aartsbestryder van pseudowetenskaplike denke in die VSA, noem in sy belangrike boek Why people believe weird things – Pseudoscience, superstition, and other confusions of our time twaalf drogredenasies wat pseudowetenskaplikes gebruik om liggelowige mense te mislei:
 

Anekdotes maak ’n “wetenskap” nie noodwendig geldig nie.

Een van die kenmerke van pseudowetenskaplike advertensies soos dié deur die vervaardigers van die sogenaamde wondermiddel uit druiwepitte, Procydin, is om mense hul stories te laat vertel oor waarom die middel dan kwansuis sou werk. Maar die bewerings word nie aan wetenskaplike ondersoek onderwerp nie en neem nooit die plasebo-effek in ag nie. Geen enkele wetenskaplike bewys bestaan dat Procydin se aansprake op genesing of pynverligting waar is nie. Net so die balanseer-armbande wat Bruce Fordyce en Protea-krieketspelers adverteer. Dit is juis die gebruik van anekdotes wat jou onsinverklikker behoorlik in luide geskel moet laat afgaan.

Die gebruik van wetenskapsterminologie beteken nie dit is wetenskap nie.

Kwaksalwers en pseudowetenskaplikes gooi mense toe met wetenskaplike terme asof dit hul produkte en aansprake wetenskaplike geldigheid gee. Maar vra jy hulle om die portuurgeëvalueerde bewyse vir hul wetenskapnabootsende abrakadabra te bring, swyg hulle of wend hulle tot pseudowetenskaplike webwerwe, TV-programme en boeke wat saamgeflans is deur kwasi-akademici soos Deepak Chopra, Delores Krieger, Michael Guillen en ander onsinverkopers.

Die aanhoudende verkondiging van ’n stelling beteken nie dis waar nie.

Die Amerikaanse astrofisikus Carl Sagan waarsku oor vergesogte aansprake en die voorliefde van mense om iets te glo wat aanhoudend herhaal word: “Extraordinary claims require extraordinary evidence.” Dit bly nog die groot toets: Waar is die bewyse?

Kettery is nie gelyk aan korrektheid nie.

Dikwels trek pseudowetenskaplikes die mantel van verontregtes, sieners, visionêre denkers aan terwyl hulle maak asof hulle, soos Alfred Wegener, die vader van die kontinentale-dryf-teorie, slagoffers van bekrompe wetenskaplike denke is wat nie die wonder van ontdekking kan raaksien nie. Maar die Wegeners wat ná hul dood as reg bewys word, is bitter skaars.

Pseudowetenskaplikes hoef nie hul aansprake te bewys nie.

Kwaksalwers, towenaars, profete en sieners gebruik gereeld die argument dat hul aansprake nie verkeerd bewys kan word nie of dat die bewyslas rus by die skeptici om hul aansprake verkeerd te bewys. Hieroor skryf Shermer: “The person making the extraordinary claim has the burden of proving to the experts and to the community at large that his or her belief has more validity than the one almost everyone else accepts.” Hy gee die voorbeeld van evolusiewetenskaplikes wat ’n halfeeu lank ná Darwin se dood moes bewys evolusie is waar, maar nou het die bewyslas geskuif na kreasioniste om aan te toon waarom evolusie nie geldige wetenskap is nie en waarom hul siening dat die Aarde net 6 000 jaar oud is, geglo moet word ondanks oorweldigende bewyse van ’n planeet van 4,57 miljard jaar.

Gerugte en die werklikheid is nie een en dieselfde ding nie.

Elvis Presley is dood, al glo baie mense, danksy gerugte, dat hy êrens op die planeet rondswerf en in een of ander kroeg gesien is. Kwaksalwers vind vrugbare teelaarde op gerugte dat dié of daardie persoon op water kan loop of uit die dood opgewek kan word of gaan opstaan. Dink maar aan die “profeet” David Francis wat op die Vrystaatse dorp Hertzogville die gestorwe Paul Meintjies in ’n lykshuis se koelkas laat bêre het omdat hy van God gehoor het Meintjies gaan op 29 Julie 2004 uit die dode opstaan.

Iets wat onverklaard is, is nie noodwendig onverklaarbaar nie.

Shermer stel die punt dat daar baie werklik onopgeloste raaisels in die heelal is, maar dat dit in orde is om te sê “Ons weet nie nou nie, maar sal hopelik eendag wel ’n verklaring vind.” Hy merk tereg op dat die probleem is dat baie mense dit meer aanvaarbaar vind om sekerheid te hê, selfs al is dit voortydig, as om met onopgeloste of onverklaarde raaisels te leef. Om daardie raaisels te verklaar, word dan na God of gode se “onverklaarbare raadsplan” verwys, soos Leon Rousseau die moeilik verklaarbare verskynsel van taalverwerwing by kinders in Die groot avontuur probeer oplos, of Gideon Joubert se pseudowetenskaplike godsverheerliking van wetenskaplike raaisels in die heelal in Die groot gedagte. Dat hierdie twee boeke belangrike boekpryse gewen het, sê iets oor die verdrietige algemene wetenskapskennis van die gemiddelde boekbeoordelaar in Suid-Afrika en die kragtige teenwoordigheid van pseudowetenskaplike denke selfs by hoogs opgeleide intellektuele.

Mislukkings word weggeredeneer en gerasionaliseer.

Dit is juis die krag van die wetenskap dat dit, anders as die pseudowetenskap, aanhou soek vir oplossings en nooit absolute waarhede aanvaar nie; dat dit teorieë toets en hertoets en wysig indien daar tot ander gevolgtrekkings gekom word, dikwels danksy beter tegnologie soos sterker teleskope en skerper mikroskope. Pseudowetenskap soek meestal nie verklarings nie, maar bied bloot onbewese aansprake as die waarheid aan.

Redenasies gebaseer op ’n ná-die-feite-mentaliteit is aan die orde van die dag.

Shermer noem hierdie neiging om insidente wat vinnig op mekaar volg, kousaal te verbind as ’n vorm van basiese bygelowigheid. Jou ma bel jou kort nadat julle oor haar gepraat het, daarom glo jy telepatie werk. In Latyn staan hierdie benadering bekend as post hoc, ergo propter hoc, vertaal as ná dié, daarom as gevolg van dié.

Toeval word as belangrik geag om die pad na die waarheid aan te toon.

Pseudowetenskaplikes en kwaksalwers is gek oor toeval. Hulle kan gerus die rystoets uitvoer en ’n handvol rys op die mat strooi. Die patrone van korrels rys wat naby mekaar in bondelagtige groepe voorkom en ander wat weer onafhanklik van mekaar uitgesprei lê, is bloot toevallig, al soek ons dikwels verklarings daarvoor as elke ryskorrel byvoorbeeld ’n kankergeval verteenwoordig. Gebeure wat in bondels voorkom, word as “misterieus” beskryf, die normale word met agterdog bejeën, en die voorspelbare dikwels as “pervers” beskryf, soos Michael Blastland en Andrew Dilnot die rystoets se verband met ons alledaagse waarneming van siektes so goed in The tiger that isn’t – seeing a world through numbers uiteensit.

Verteenwoordiging word geïgnoreer.

Ons lees tekens in gebeure wat geen verband met mekaar het nie en glo Aristoteles se uitspraak: “Die som van die toevallighede is gelyk aan sekerheid.” Maar soos Shermer aantoon, vergeet pseudowetenskaplike denke die meeste van die onbelangrike toevallighede en onthou net die betekenisvolles. “Our tendency to remember hits and ignore misses is the bread and butter of the psychics (lees Marietta Theunissen, John Edward, Nostradamus en Siener van Rensburg) prophets, and soothsayers who make hundreds of predictions each January 1. First they increase the probability of a hit by predicting mostly generalised sure bets like ‘There will be a major earthquake in southern California’ or ‘I see trouble for the Royal Family.’ Then, next January, they publish their hits and ignore the misses, and hope no one bothers to keep track.”

Die jaar van die groot uitwissing sou 2012 wees, volgens profete van verdoemenis, danksy ’n argaïese Maja-kalender. En in hul hordes is hierdie onsin as die waarheid verkondig. Maar soos die fisikus Robert Park in Voodoo science – The road from foolishness to fraud skryf, is die boodskap wat die publiek met hul moet saamdra, dat dit nie die sieners en sogenaamde waarsêers is (en voeg maar astroloë by, al glo Cape Talk, Talk Radio 702 en Radio Jacaranda dit) wat in die toekoms kan inkyk nie, maar die wetenskaplikes.

Comments 8 Reaksies | 8 Comments
Delete Comment
avatar
Brianvds
2012-12-07 @16:20
Die kwaksalwers was maar nog altyd met ons. Wat my bekommer is dat heelwat hoofstroom-navorsing besig is om in dieselfde twakkerasies in the verval. Die farmaseutiese industrie is dikwels veel meer daarop uit om geld te maak as om medisyne te maak.
 
'n Goeie boek in dié verband is Ben Goldacre se "Bad science." Goldacre het ook 'n heel interessante blog oor hierdie kwessies hier.
 
Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-12-08 @23:34
George ek stem saam met jou vraag oor die media, die implikasie dat hulle 'n morele plig het om nie onsin te verkoop nie.  En kyk hoe hulle ons toe gefaal het nè ... hier sit ons nou in 'n mislukte staat omdat die media 'n klomp twakkerasies in die mense se koppe gepomp het.

Wat die res van jou artikel betref weet ek darem nie; twee van my ooms het al 'n spook gesien en ek weet vir 'n feit hulle sal nie vir my lieg nie.  My een swaer sê vir my daar is nie so-iets soos spoke nie maar al hoekom hy so sê is omdat hy nog nie een gesien het nie.  Ek sukkel om dit in sy kop te kry dat gebrek aan bewys nie bewys van gebrek is nie.
Delete Comment
avatar
CM
2012-12-30 @10:10
Rasionele denke is so raar dat dit as abnormaal beskou word.
Delete Comment
avatar
CM
2012-12-30 @14:32
Dit is vreemd dat rasionele denke ook nie aktief op skole en universiteite bevorder word  nie.  Het hulle nie ook ’n morele verpligting nie?
Delete Comment
avatar
francois
2013-01-04 @17:41

Jaarliks sterf miljoene mense in hospitale, omdat hulle aan die wetenskap 'glo' ... Jy kan nie jou karma klop nie.

In vandag se lewe is die grootste enkele oorsaak van dood, siekte en ellende juis die wetenskap ...

Delete Comment
avatar
Brianvds
2013-01-07 @13:33

Francois skryf: 

"In vandag se lewe is die grootste enkele oorsaak van dood, siekte en ellende juis die wetenskap ..."

Ek sou nogal graag wou sien hoe jy hierdie stelling motiveer... :-)

Delete Comment
avatar
FDP
2013-01-08 @21:46

“to give up pretending to believe that for which there is no evidence, and repeating unintelligible propositions about this beyond the possibilities of knowledge”.

Hierdie moet toegepas word op meer as net gesondheid en sielkunde, maar ook op spiritualiteit en ons alledaagse lewe. Te veel mense glo te veel snert, en sodra ’n mens dit aan hul uitwys, word jy gedemoniseer as ’n goddelose. Ons is lankal verby die punt waar ons gebeurtenisse kan baseer op ouvroustories.

Delete Comment
avatar
CM
2013-01-13 @10:18

’n Tragedie van menswees:

In staat tot die pragtigste werke en die hoogste heerlikhede,  bly ’n eerlose verslawing aan sinlose bedenksels die ideaal.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address