Titel: As die bokke nie wil cuddle nie
Skrywer: Marnus Hattingh
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624054047
Klik hier om As die bokke nie wil cuddle nie te koop by Kalahari.com.
Aan die een ent van die verhoudingstou staan die ware man. Hy het sy manlikheid, sy geskiedenis en waardes, alleentyd, tyd met die manne, oujongkêrel-geit om te beskerm. Aan die ander kant staan ’n dame. Laat gee hy te veel skiet, beland hy dalk gesig in die modder voor haar voete. Trek hy te skielik aan die tou, skrik hy haar dalk af en die voshaarnooi verdwyn teen die horison sonder ’n kus of ’n vredewuif. Weg. Vir ewig.
In As die bokke nie wil cuddle nie deur Marnus Hattingh, word die man se psige in die worstelstryd na die ewig ontwykende nimf blootgelê. Spesifiek die Afrikanerman in sy dertigs of veertigs wat net nog nie dié een by ’n braai (ja, altyd by ’n braai) kon ontmoet nie. En soos ons weet het alle Afrikaners rugby in hulle bloed. Regte manne.
In hierdie boek, gemik op vroue, om mans beter te verstaan, het alle gebeure in die hofmakery-proses sy metaforiese eweknie in laasgenoemde spel: ’n Vleuel wat weghardloop na ’n mislukte duikslag is die meisie wat net te vinnig afgesien het van ’n ou se man(n)ewales. Die kantlyn-teorie het te doen met waardes in die meisie se ouerhuis (mans moet self weet waar jy mag vat onder Ma-se-dak). Om ’n man in sy kwartgebied vas te pen dui op onverwagse vrae soos, “So, hou jy van kinders?” en dit nogal (hoe durf sy!) tydens die game. Ons sien die wêreld as verlenging van wat Saterdae op die veld gebeur.
Dan is daar natuurlik ook mans en hulle motors. Die hunkering na ’n blinker een as jou eie word flink gebloudruk op allerlei situasies wat die geslagte van mekaar vervreem. Byvoorbeeld die oorsese vakansie. Op bl 135 is ’n toneel wat jou laat kriewel/skater weens die kinematografiese moontlikhede wat daarin opgesluit lê (miskien ’n droommotief met dreungeluide?): “Vra sy jou vir ’n oorsese vakansie, en jy staan nog spreekwoordelik met die hand in die broeksak en rondloer na al die motors op die toonvloer, kan dit voel jy moet ’n besige snelweg te voet oorsteek.”
Maar elke man het ook sy ontvlugtingsplek, daar waar manne-idees uitgepluis word. Die troonkamer van manlikheid: Die braaivleisvuur. Telkens in die boek word daar teruggekeer na die verloop van sake langs die vuur van hoe ouens nou hierdie verhoudingsding sien. En natuurlik is Fanie ook daar. Die proefkonyn-protagonis wat net nie die kloutjie by die oor kan kry met vroumense nie. Hy is uit in die veld. Hy date nie noodwendig oor die geloofsgrens nie, maar gaan deur brutale toetse van manwees en vrouvang: Gaan hy okay wees met die “vet Indiese omie-beeldjie” wat ’n Suid-Amerikaanse nooi koester? Gaan hy eerder saam met ’n juffer die strykorkes by Kirstenbosch kyk of gaan hy Nuweland toe? Krale-winkeltjie besoek of bier drink saam met die manne? Fanie bespied as’t ware die veld vir alleen-spring bokkies, toets allerlei neerfeltegnieke en rapporteer dan uit die oorlogsone met kleurvlae vir vlakke van sukses. Meestal (soos ons ’n gestorwe held (wil!) sien), swaai hy ’n wit oorgeevlag: Die stryd is gewonne. Of ’n geskeurde een. Dié een het naels want ’n Dros-restaurant IS NIE ROMANTIES NIE!
Maar hoe moet ’n meisie te werk gaan om nou ’n man te vang of te beïndruk? Vroeg-vroeg word daar al raad gegee vanuit Kamp Man. By die braaivleisvuur moet jy jou storie ken en laat jou stories asseblief inpas by ons repertoire van onderwerpe. Mans stel slegs belang in die testosteroon-trilogie: rugby, politiek en die nuutste 4x4. Dames moet onder geen omstandighede begin filosofeer oor die Stormers se agterste driehoek nie. Hul onkunde kan ’n seemyl ver gesien word.
As ’n dame nou wil saampraat is die volgende advies vir haar (bl 16): “Dus, kry liewer iets neutraals, soos mense, die werk, die huis waar julle nou staan en kuier, watter fiets of draftekkies jy moet koop, of jou vorige wyntoer.”
So hoe moet ’n juffer dan lyk of aantrek om hom van sy braaivleisvuur af te laat opkyk en haar te sien vir wie sy werklik is? Daar is ’n paar pointers in hoofstuk 1:
- Ouens hou gewoonlik van meisies wat oulik en spontaan is maw funky.
- Ouens hou net soveel van interessante persoonlikhede as stywe toppies.
- Alle mans maak wawiele oor meisies met lang hare.
- Los jou kind by die huis.
- Wit hoëhakskoene by ’n denim is ’n afskrikmiddel.
- Kniehoë-stewels is in die kol.
Veronderstel jy kan ’n juffer spreekwoordelik na die afloop van ’n braai “grot toe sleep”. Hoe nou gemaak? Wat van julle idees oor kuns? Sy hou van Stef Bos en Swan Lake on Ice? Jy? Wel, sport is mos … kuns of iets? En wat van die troeteldier of die “groot projek” wat julle saam moet aanpak. En wat van ’n meisie wat net té vinnig die kooi as altaar wil inspan en jou slag vir onopgewarmde gode? En wat van die GROOT olifant wat die kuberruimte vol lê en sy daaglikse voeding en humor (olifante lag ook) kry deur die ongemaklike situasies geskep deur BBM, facebook, whatsapp, en whatever. Wyshede uit die Hattingh-kamp (bl 32) is dat jy iemand se ware facebook-identiteit slegs op hulle vriende se blaaie kan sien, “So kan jy sien die aster met die jeugdige profielfoto is inderdaad ’n fris ou tannie … ”
En die alewige gepoke en gelol en die trappe van irritasie … ek bedoel … van die situasie wat bepaal wanneer jy wat mag doen. Eers like dan BBM-invite? Of eers engelgesiggie dan poke? Of dan ’n friend invite? Die Kuber-flankeringsrangorde blyk meer ingewikkeld te wees as die visuele vertakkingsisteem in die evolusieleer. Maar ongelukkig kan jy nie agterbly nie. Daai duime moet vlytig bly om die ratte aan die gang te hou. “ … ’n man met vlytige vingers is altyd, wel, handig.”
Gepraat van gang. Daar is ’n ander tipe waarvan mans behoort te weet en vrouens moet weet dat mans daarvan … weet: Die drukgang. Die toonvoorbeeld is die fliek. “Kom ons gaan fliek”, vra jy met die hoop dat jy kan agteroor sit en kyk hoe James Bond die baddies (en die meisies) wiks. Sy aan die anderkant sal altyd voorstel sy wil na ’n kunsprent gaan kyk. ’n Franse rolprent, of Sweeds, maar altyd in ’n vreemde taal en met onderskrifte, en dit wys net op Saterdae in teaters waar die stoele gebreek is en die tannie wat die kaartjies verkoop se haardos pers is. Ai, meisie darem wat so snobisties kan wees. Nuweland maak nie so met mens nie. Let wel, indien jou metgesel ’n lae hals dra is die kunsfliek klopdisselboom. Ons mans darem.
Gestel jy maak dit deur die fliek-“drukgang” is daar die moontlikheid dat sy jou kan nooi vir ’n ete. Die situasie wat almal ken maar nie kan verwoord nie. Die subtiele dans van die eerste ete. ’n Sespak bier en ’n pizza is vir alle mans mos ’n sewegang maaltyd. As gevolg van die oormaat waarin dit sedert puberteit verorber is het ons die vermoë verleer om enigiets meer gesofistikeerd te geniet. Vrouens kook met afdraaipaadjies: eiervrug met bedruipte pampoenskywe, die hoender sal jy nie herken nie, en rooi souse het dieselfde GPS-koördinate as jou wit hemp. Mans mag ook nie vol fiemies wees nie want dit is vir ouens wat in oopdak Volksie-Kewers ry (sic) (en in seepunt bly).
Nou waar lê die grondslag van die behoefte om so toutrekkerig deur die vormingstydperk van die verhouding te gaan? Kan almal nie maar net lekker vry en gesels en Nuweland toe gaan en kraletjies koop nie? Hattingh gee insae aan die hand van twee oorwegend landelike metafore. Die trein en die silo. ’n Vrou sien die hele verhoudingsding as ’n lang slanke trein. Die kys is een wa, die vry ’n ander een, ’n bakleiery is dalk ’n wa heel agter êrens. Elke stoornis wat ’n wa sou opdoen het gevolge elders. Raak jy dalk aan die baklei in ’n krale winkeltjie het dit bes moontlik ’n nadelige uitwerking op vanaand se gevroetel sewe-en-twintig kompartemente verder. Mans dink in silo’s. As jy stry hier, ’n kunsfliek daar moet kyk kan jy steeds met oorgawe kotiljons asof niks fout is nie. Alhoewel die tamaai torings geografies verbind is kan hulle apart funksioneer.
In een van hierdie silo’s tref ons ook die sogenaamde Mangrot aan. ’n Donker kamer iewers met ’n paar rugbyvlae en teen die ingangsdeur in neon ligte: MY Tyd. Hier herlaai mans hulle emosionele batterye vir ’n paar uur ’n week of ’n rukkie per dag. Moenie pla nie, dames. Moet ook nie probeer vestaan nie. Hattingh gee goeie raad: “Gaan was wasgoed. Drink tee by ’n vriendin, of gaan bel jou ma (…) of maak ’n plakboek van Brad Pitt.”
So is mans ja, rugby liefhebbende, motormal, James Bond-manne. Die toutrek ding is bloot om ons te laat geld in ’n tyd wat ware man-wees bevraagteken word. Waar gee jy skiet? Wanner klou jy harder? Dit is alles raaisels wat Hattingh in As die bokke nie wil cuddle nie, aanspreek in man-styl sodat vrouens ’n beter kykie kan kry in die psige van hoe “ons” werk.
Die spilpunt van die boek word egter gevind op bl. 188. Slegs ’n fantastiese vrou sal die tekens reg lees. Jy is in jou Grot. Voor die TV. Die week was rof. Sy wou met die Van der Merwes gaan uiteet maar jy is moeg. Sy verstaan dit. Jy kyk die game. Strategies, sonder pla verskyn ’n bier en ’n remote op die tafeltjie langs jou.
Sowaar! Dit is hoe manwees in die hemel gaan lyk.
Kommentaar
Ek onthou toe Hattingh enkele jare gelede in sy motorrubriek 'n lansie vir suiwere Afrikaans, oftewel Standaardafrikaans, gebreek het. Sy skryfwerk was toe 'n toonbeeld van goeie Afrikaans. Dit is dus iets wat hy kan doen. Ek het hom daarvoor geloof. Sedertdien vind hy aansluiting by diegene wat dink dat dit pret is om Afrikaans met onnodige Engelse woorde te besoedel. Selfs die boektitel weerspieel dit. Toe ek die boekaankondiging die eerste keer sien, het ek vir hom geskryf dat ek uit beginsel nie 'n Afrikaanse boek met onnodige Engels in die titel koop nie. Dit is waarom ek ook nie Jannie Mouton se boek gekoop het nie. Ek hoop die uitgewer kom tot besinning.
Johannes Comestor