Antwoord vir Jaco

  • 0

Dagsê Jaco

Ek antwoord op jou brief van 21 deser, gister, aan my.

Ek reken jy is min of meer in dieselfde kamp as Niekie van den Bergh so jy behoort goed te weet wie die ONS en die JULLE is waaroor jy nou so ontsteld is.  As jy nou mooi onthou, het ek vir Niekie aangehaal waar hy gesê het JULLE moet nou nie vir ONS kom sê dat ons julle mos gesê het nie.  Of het jy ook vir Niekie geskryf en gevra wat hy bedoel met die ONS en JULLE?

Ek het maar gereken met sy ONS (hy en almal in sy kamp) bedoel hy die ouens wat destyds blinkoog was oor die feit dat SA 'n swart regering moet kry en sy JULLE was die ouens wat destyds nié so blinkoog was oor die feit dat SA 'n swart regering moet kry nie.  Dit volg dus dat my ONS die ouens was wat nie so blinkoog was oor die feit dat SA 'n swart regering moet kry nie en my JULLE was dan die ouens wat wel blinkoog was dat SA 'n swart regering moet kry.  Ek hoop dit beantwoord jou eerste vraag.

Jy praat oor jou opsie 3.  Ek moet bieg, ek het dit nog nie gelees nie maar wel jou brief waarin jy gesê dat jy dit in 'n volgende brief gaan behandel (en ek was nie tjoepstil nie, daar ís mos 'n paar gedagtes rondgegooi in die kommentaar onderaan).  Ek belowe jou ek sal jou opsie 3 gaan opsoek en my kommentaar lewer maar vir eers net dit:  Outonome selfbesturende entiteite binne die land was presies wat die ou beleid was.  Om die waarheid te sê, die ou beleid het nog verder gegaan en hierdie entiteite sou heeltemal onafhanklik wees, net soos Swaziland en Lesotho reeds is, hulle kon selfs hulle eie weermagte gehad het.  Was dit nie die beleid wat julle gedurig so afgekraak het nie?

Jy vra of ek " ... werklik [glo] dat die Afrikaner vandag 'n minderheidsregering kon gehandhaaf het?"  In die eerste plek, dit is van die slaan-jy-nog-jou-vrou-tipe vrae; ek het nooit gesê die Afrikaner moet 'n minderheidsregering handhaaf nie.  Tweedens, daar is teenswoordig 'n minderheidsregering naamlik 'n Xhosaregering.  Daar is wel anderstaliges in die regering maar hulle is in wese maar Xhosalojaliste; daar is nie 'n manier wat die huidige regering al die swart groepe verteenwoordig nie en nog minder die bruin en wit groepe.  Derdens, die ou bedeling het meerderheidsregering voorgestaan, elke onafhanklike staat sou natuurlikerwys 'n meerderheidsregering gehad het.

Jy gooi verniet name soos HNP, KP en Nattes rond (FW de Klerk was in elk geval 'n Natte wat verklaar het daar sal chaos en ekonomiese verval wees as PFP-beleid aanvaar word).  Die bedinging deur FW-hulle was nie vir die NP nie, dit was vir die blanke groep van wie hulle die mandaat met 'n referendum gekry het.

Buitendien, wat die bedingingstafel betref, kom ek gee jou dieselfde analoog wat 'n inbeller destyds vir Max du Preez gegee het:  Jy kom in jou sitkamer en daar staan vier of vyf ouens wat besig is om jou beste bottel whisky uit te loot.  Jy teken beswaar aan maar hulle sê jy is welkom om ook 'n kaartjie te koop.  Die oomblik wat jy die kaartjie koop erken jy dat die bottel in effek nie joune is nie. 

Jy is oneerlik waar jy elke keer 'Afrikaanse' in hakies byvoeg, so al asof ek gesê het die Afrikaners het die land opgefok.  Laat ek dit nou duidelik vir jou sê, die 'liberales' (in aanhalingstekens want hulle is inderwaarheid dié verkramptes wat aan die neus gelei was en geval het vir die propaganda) het die land opgefok vir die wittes (wat Afrikaners en Engelse insluit), vir die bruines en vir die swartes, vir almal.  Buitendien, wat ookal beding was word bloot weggevee, die storie werk net nie soos die huidige toestand getuig.

Jou stelling dat die Afrikanerpartye nie meer bestaan nie is irrelevant want die partye was weliswaar oorwegend Afrikaans dog nie eksklusief Afrikaans nie.  Dit was partye met beleidsrigtings wat 'n oorhoofse swart regering teengestaan het.  Daar is jy nou self amper besig om 'n nuwe party te stig met jou opsies, so wat is jou pyn?

Jou vraag of Dan Roodt 'n god vir my is, is net so onsinnig; ek het nooit gesê die man is bo kritiek verhewe nie.  Buitendien, jy het hom nie kritiseer nie, jy het sy persoon aangeval en dis nie krieket nie.  Jy reken ek het Thomas se persoon aangeval? Om vir 'n ou te vra of sy geheue kort is, is nie ad hominem nie maar as jy reken dit is, is dit darem ordegroottes verwyder van om hom 'n 'onbenullige mannetjie' te noem. Terloops, ek wonder nog steeds hoekom jy Dan Roodt so haat; al wat ek kan dink is, onder andere, dat hy dit soos klokslag regkry om die wat in ontkenning lewe te ontbloot.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top