Antoinette Kellermann oor Samsa-masjien

  • 0

Samsa-masjien tree in gesprek met Franz Kafka se Die Verwandlung. Die toneelstuk volg die stelselmatige insekwording van Gregor Samsa sr. Gregor (Gerben Kamper) is in sy sewentigs, ’n afgetrede biologie-onderwyser, en ‘n skoolhoof wat ook ‘n klavierstemmer in sy jongdae was. Hy ly aan demensie en as gevolg daarvan bly hy en sy vrou Josephine (Antoinette Kellerman) by hul dogter Grete (Ilana Cilliers) en haar man Tjaart (Ludwig Binge) in hul luukse, moderne huis in ’n woonbuurt soortgelyk aan Sandton.

 

Antoinette Kellerman (foto: Naomi Bruwer)

 

Antoinette Kellermann, wat 'n Kanna vir beste aktrise by die ABSA KKNK 2014 ontvang het, gesels met Naomi Meyer oor haar rol.

Hallo Antoinette, wie is jou karakter in die Samsa-masjien?

Ek is die hoofkarakter, Gregor Samsa (Gerben Kamper), se vrou. 'n Huwelik wat al 50 jaar duur. Ons woon by ons enigste oorlewende kind, Grete (Illana Cilliers), en haar man, Tjaart (Ludwig Binge).

As aktrise was jy al baie dinge, onder andere ‘n man. Hoe voel dit om ‘n insek te wees, of in elk geval deur insekte omring te word?

Josephine word nooit werklik 'n insek nie. Sy neem op 'n stadium 'n besluit, in solidariteit met Gregor, om voor te gee dat sy, soos hy, ook die insekte sien en betree doelbewus die wêreld waarin hy leef. Alhoewel sy nie noodwendig sy kopwêreld verstaan nie, ondergaan sy ook 'n metamorfose wat haar vry maak van 'n jare lange lewe van huisvrou en ma wees. (Baie eenvoudig gestel.)

Van metamorfoses gepraat, en omdat jy as aktrise so veelsydig is: Wat is die mees vreesaanjaende ruimtes wat jy oor die jare al moes betree? En is hierdie rol een van hulle? Of met watter ander woorde sou jy dit beskryf?

Die ruimte, fisies en geestelik, waarin hierdie stuk afspeel, is vreesaanjaend, maar daar is ook eindelose "mooi".

Hou jy van insekte, of watter emosie ontketen hulle in jou?

Ek hou nie van kakkerlakke, krieke en motte nie. Maar ek hou van reptiele.

Is jou rol fisiek uitdagend? Of watter eise het dit aan jou gestel?

Fisiek uitdagend? O ja! In alle opsigte.

Die teks van Samsa-masjien was die wenner van die ATKV-Woordveertjie vir drama.

Samsa-masjien open die 15de Januarie 2015 in die Baxterteater in Kaapstad. Lees nog besonderhede omtrent die vertonings hier.

Lees 'n onderhoud met Willem Anker oor Samsa-masjien.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top