Amerikaanse sielkunde en die liberale ideaal
2003

  • 0

Akademiese publikasies soos die artikel “Political Conservatism as Motivated Social Cognition” deur die Amerikaanse sielkundiges John Jost, Jack Glaser, Arie Kruglanski en Frank Sulloway (2003) trek nie gewoonlik veel aandag by die algemene publiek nie. Hiervoor is akademiese tydskrifte te ontoeganklik vir nie-akademiese lesers - en selfs al sou sulke lesers toegang hê tot hierdie tydskrifte, is akademiese skryfstyle, veral in die eksperimentele sielkunde, dikwels nie juis ’n plesier om te lees nie. Gevolglik skryf sielkundiges oor die algemeen maar vir ’n klein gehoor van ander sielkundiges.

Toe die bogenoemde artikel egter vroeër vanjaar in die akademiese tydskrif Psychological Bulletin gepubliseer is, veroorsaak dit ’n klein politieke storm in die VSA. Te midde van ongekende publisiteit vir hierdie soort werk word die outeurs op verskeie fronte in omstredenheid gedompel: Republikeinse verteenwoordigers bevraagteken die ruim befondsing wat die projek van die National Science Foundation gekry het; die bevindinge van die studie word in koerantrubrieke, tydskrifartikels en op Internet-webblaaie bespreek, aangeprys en veroordeel; en, les bes, die skrywers kry selfs ’n paar persoonlike dreigemente van militante regsgesindes.

’n Mens kan met reg effens verwonderd vra: Waaroor die bohaai?

Wel, skynbaar alles oor ’n redelik onvleiende sielkundige beeld van konserwatisme en ’n paar los verwysings na president George W Bush.

In ’n artikel wat nie juis as dramatiese of kontroversiële leesstof beskryf kan word nie (vergelyk dit byvoorbeeld met die aanvalle op Amerikaanse konserwatisme en dieselfde president Bush deur Michael Moore in sy Stupid White Men!), bied die outeurs ’n bewonderenswaardig deeglike, maar relatief droë en onpolemiese oorsig van 50 jaar se internasionale navorsing oor konserwatisme. Hulle fokus spesifiek op die verband tussen konserwatisme (dit wil sê, individuele geneigdheid om polities konserwatief te wees) aan die een kant, en persoonlikheidstrekke, denkpatrone en emosionele style aan die ander kant. Op grond van ’n magdom data (insluitende ’n aantal studies wat oorspronklik in Suid-Afrika gedoen is), en met behulp van ’n statistiese meta-analise, integreer hulle die belangrikste resultate van hierdie studies in ’n ambisieuse teoretiese model.

Volgens hierdie model is daar wel ’n beduidende verband tussen ’n stel duidelik omskrewe sielkundige trekke en ’n geneigdheid om polities konserwatief te wees.

Hier is dit natuurlik belangrik om te vra: Wat, behalwe nou ’n stem vir die Republikeinse Party of steun vir selfs meer ekstreme regse groeperinge, beteken dit volgens hierdie outeurs om polities konserwatief te wees?

Die kernaspekte van politiese konserwatisme word gegee as weerstand teen verandering en aanvaarding van ongeregtiheid en ongelykheid. Hierby tel daar ’n aantal periferale meer inhoudelike kenmerke wat van konteks tot konteks mag verskil: steun vir die doodstraf, teenkanting teen aborsie, bekering tot outoritêre kerke, en onderskrywing van militaristiese waardes.

Die sielkundige profiel wat volgens die outeurs hiermee saamhang, is nie aantreklik nie: ’n dogmatiese en onbuigsame persoonlikheid; ’n onvermoë om onsekerheid en dubbelsinnigheid te hanteer; ’n onwilligheid om nuwe dinge te ervaar; ’n vrees vir bedreiging en verlies; en ’n lae self-esteem - om maar enkeles te noem. Met ander woorde, politiese konserwatisme vorm deel van ’n breër patroon van persoonlike rigiditeit en onaanpasbaarheid.

Sielkundig gesproke is sommige mense, volgens hierdie outeurs, dus meer geneig tot konserwatisme - op dieselfde manier as wat sommige, argumentshalwe, geneig is tot alkoholisme of depressie. (Dit beteken natuurlik egter nie dat almal met hierdie trekke sal ’n “kondisie” van politiese konserwatisme ontwikkel nie.)

Die vraag wat dus beantwoord moet word is: Wat gee aanleiding daartoe dat konserwatiewe persoonlikheidstrekke manifesteer in bepaalde politieke keuses, aktiwiteite en identiteite? In kort, die sneller hier is ’n sosiale konteks gekenmerk deur politieke onsekerhede, vrees en bedreiging - werklik of verbeeld. Onder hierdie soort omstandighede is die konserwatiewe individu meer geneig as sy of haar liberale teenhanger tot verskillende reaktiewe politieke denkwyses, waaronder steun vir dinge soos anti-immigrasie, segregasie, die doodstraf en militêre oplossings vir politieke probleme. Ook is hy of sy meer gewillig om politieke partye wat veranderinge teenstaan en sosiale ongelykhede onderskryf, te ondersteun. Diep-gesetelde persoonlikheidsbehoeftes, aangevuur deur die onsekerhede van die moderne wêreld, gee dus aanleiding tot die konserwatiewe politiek van ongelykheid en ongeregtigheid.

Al stel Jost en sy mede-outeurs dit onomwonde dat hulle die spesifieke waardes en ideale wat deur konserwatiewes nagestreef word, nie noodwendig as irrasioneel of verkeerd beskou nie, word hier tog ’n harde oordeel gevel oor die vermoë van konserwatiewes om die eise van ’n komplekse wêreld te hanteer. Dit is juis in hierdie konteks dat George W Bush as voorbeeld genoem word, en waarop baie Republikeine so heftig gereageer het. (Vir die rekord, ander name op die lys sluit in Hitler, Mussolini, Pinochet, Stalin, Kroesjtsjof en Castro. Dieselfde sielkundige profiel wat die konserwatisme van middel-Amerika kenmerk, is dus ook van toepassing op revolusionêre, of hulle nou regs- of linksgesind is - en miskien is hierdie geselskap juis wat Bush se ondersteuners so ontstel het!). Volgens hierdie model is Bush die toonbeeld van die konserwatiewe individu: hy is onversetlik en kragdadig, ongenuanseerd in sy denke en oordele, en onsensitief vir ongelykheid en ongeregtigheid - presies die dinge wat die wêreld ná 11 September 2001 ’n baie gevaarlike plek maak. ’n Mens sou seker kon byvoeg: veral as hierdie soort denke in tweestryd tree met die ewe dogmatiese en rigiede denkwyses van ekstremistiese terreurgroepe.

Sielkundige navorsing is egter nie waardevry nie, al wil die positivistiese navorsingstradisies van die Euro-Amerikaanse akademie graag die teendeel glo. Jost en sy medeskrywers verwoord hier, heel subtiel, ’n bepaalde moreel-politiese visie: wat ons komplekse wêreld, gekenmerk deur ’n veelheid van leefwyses en tradisies, veel eerder nodig het as konserwatiewes en geharde revolusionêre, is die genuanseerdheid, buigsaamheid en sin van geregtigheid eie aan die liberale individu. Dit is ’n individu wat die waarde van individualiteit bo gemeenskap plaas, wat kognitief en emosioneel genuanseerd is, en wat gretig is vir nuwe ervarings. ’n Mens sou seker kon byvoeg: iemand wat teen die doodstraf is, polities sekulêr is, multikulturele waardes handhaaf, en vir liberaal-demokratiese partye stem.

Interessant genoeg, hierdie kenmerke is maar spekulasie: anders as die geval met konserwatisme, en in die gevorderde graad, outoritêre persoonlikhede, is die liberale oriëntasie en persoonlikheid nog nie gepsigologiseer nie. Daar is geen toetse (waarvan ek weet) wat jou ’n telling vir liberalisme gee nie. Geen spekulasie oor die oorsake daarvan nie - op dieselfde manier waarop die vraag na die oorsake vir heteroseksualiteit, byvoorbeeld, nooit gevra word nie. Die rede hiervoor is natuurlik dat die sielkunde hierdie oriëntasies as die norm veronderstel. Dit is welbekend dat die oorgrote meerderheid kennisaansprake in die sielkunde gegrond word op studies van middelklas, tersiêr-opgeleide wit Amerikaanse mans (die “Stupid White Men” waarvan Moore praat?).

Dat hulle teoretiese raamwerk nie waardevry is nie, is nie regtig ’n probleem nie. Die vraag is eerder of ons ons behoort te vereenselwig met die moreel-politiese visie wat die outeurs aan ons voorhou.

Hiervoor is dit belangrik om op ’n paar blindekolle in hulle navorsing te let:

 

  • Sielkundige verklarings vir sosiale vraagstukke, of dit nou rassisme, seksisme, of die onstabiliteit van die wêreld ná 11 September 2001 is, is geneig om individuele gebreke (of menslike “natuur”) as oorsake vir hierdie probleme aan te dui. Dit beteken gewoonlik dat sosiaal-politiese oorsaaklikhede deur sielkundiges onderbeklemtoon indien nie heeltemal geïgnoreer word nie. Deur die kondisie van die wêreld byvoorbeeld toe te skryf aan die persoonlikhede, denkwyses of obsessies van individue soos Bush en Bin Laden, kyk ons die meer grondliggende historiese en politieke redes vir morele en politieke krisisse mis.

     

  • Hierdie gelykstel van komplekse politieke en ideologiese tradisies aan onderliggende sielkundige oriëntasies is nie problematies net omdat dit, soos hier bo gesuggereer, die politiek individualiseer nie. Dit fouteer ook deur die Amerikaanse politieke landskap, die konserwatiewe Republikein teen die liberale Demokraat, tot ’n algemene politieke en sielkundige beginsel te veruniversaliseer. Die verskille tussen die ideologiese wêrelde van Bush, Hitler en Stalin word immers opgehef deur hierdie oënskynlik universele persoonlikheidsmodel.

     

  • Die implisiete onderskrywing van die liberalisme as ’n sielkundig meer funksionele of “gesonde” oriëntasie het twee beperkinge. Eerstens word liberale individue, wat self ook voordeel trek uit die politieke stelsels waarin hulle leef, vrygespreek van enige politieke verantwoordelikheid. Tweedens word vergeet dat liberalisme ’n komplekse ideologie is - een wat op verskillende maniere en in baie gedaantes, nie in die minste nie in die rol wat dit speel in meritokratiese klassestelsels, bydra tot die voortsetting van vorme van ongelykheid en onderdrukking. Baie van die teenkanting teen Amerikaanse globalisering is juis gemik teen die veruniversalisering van die sekulêre en liberaal-demokratiese instellings wat deur die outeurs aangeprys word.

    ’n Veel meer omvattende en sensitiewe perspektief op die verband tussen politieke ideologieë en individuele motivering, en op die verband tussen politieke ideologieë en die sielkunde as ’n dissipline, is nodig as wat deur hierdie outeurs geskets word. Die manier waarop ’n spesifiek Amerikaanse tradisie tot ’n universele model verhef word, laat ’n mens in elk geval ’n tikkie teoretiese imperialisme vermoed. En in die lig van wat ek hier bo gesê het, is dit nie ironies dat dit ons in die gedaante van die Amerikaanse liberalisme bereik nie?

    Verwysings

    Jost JT, J Glaser, AW Kruglanski & FJ Sulloway. 2003. Political conservatism as motivated social cognition. Psychological Bulletin, 129(3):339-375.

     

    Eerste publikasie op LitNet: 10 Desember 2003

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top