Afrikaanse Wikipedia gewilder as LitNet

  • 0

'n Brokkie statistiek: Die Afrikaanse Wikipedia is byna twee keer so gewild soos LitNet.

Die soort statistiek loop natuurlik nie helder oordag op straat rond nie. 'n Skugter dier. Hy sluip nie eens op maanlose nagte rond nie. Maar as jy die Internet se verkeersontleders roerloos sit en dophou, dan sal jy hom wel mettertyd bespeur.

Die eerste helfte van die brokkie, is op Wikipedia se amptelike statistiekblad versteek, en toon aan dat die Afrikaanse weergawe gemiddeld 120 000 bladtrekke per dag ontvang [1]. Die ander helfte is bietjie moeiliker om met sekerheid te bekom. Maar gee LitNet die voordeel van die twyfel en neem 'n vleiende raming, dan sit hy met so 70 000 bladtrekke per dag [2].

Dit verbaas my. Die Afrikaanse Wikipedia is 'n armmansprojek: 'n klein groepie onvergoede slawe skryf die artikels in hulle vrye tyd. Soos ’n stokperdjie, sou mens kon sê. Ek skat die meerderheid Afrikaanse internetgebruikers het nog nie eers van die Afrikaanse Wikipedia gehoor het nie. Of miskien het hulle, want hy word heel deeglik gebruik.

Maar dat hy nog bietjie wankelrig op sy pote staan, is al te duidelik. Neem nou maar die artikel waarin die publiek aan die vreemde konsep van 'letterkunde' blootgestel word. Bondigheid in oorvloed. Hoeveel woude sou ons nie gespaar het as alle diskoerse oor letterkunde ook tot drie sinne beperk was nie? Om nie van die 'Afrikaanse letterkunde'-artikel te praat nie. Hierdie breedvoerige verhandeling oor Kaaps-Hollandse geskrifte eindig skielik in 1875. Die skrywer van die artikel het vermoedelik op hierdie punt onder sy eie stortvloed woorde beswyk, en saam daarmee het Afrikaanse letterkunde 'n vroegtydige dood gesterf.

Maar ten spyte van sy tekortkominge, is die Afrikaanse Wikipedia heel lewendig. Hy is nuttig, hy word gebruik, hy groei, maar hy benodig hulp om in 'n volwaardige ensiklopedie te ontwikkel. Die huidige bydraers, soos ek, sal verheug wees as mense met meer kennis ook bietjie kan kom hand bysit.

1 - http://stats.wikimedia.org/EN/SummaryAF.htm
2 - http://www.statscrop.com/www/litnet.co.za

Hugo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top