Afrikaans rock in Amsterdam én in Den Haag

  • 0

Dit was 13 tot 16 Junie weer tyd vir die Festival voor het Afrikaans in Nederland. Na die reuse-sukses daarvan in 2011 moes die wenresep herhaal word. Destyds was dit in Amsterdam. Nie net het die plek verskuif nie, maar die fees het ook inhoudelik uitgebrei met films, kabaret, kuns en ’n poësiekompetisie. Op die Donderdagaand was daar óók iets nuuts: ’n rock- en hiphopkonsert in Die Melkweg in Amsterdam - net om so bietjie die litte los te maak vir die fees die volgende paar dae. By die tremhalte Saterdagoggend raak ek aan die gesels met ’n groepie jongmense uit Zürich wat spesiaal vir die fees al die pad uit Switserland gekom het. Tydens Vrydagaand se opening herken ek die vorige keer se besoekers uit Londen. Hulle het teruggekom. Ek ontmoet ook besoekers uit Luxembourg en Duitsland. Dit lyk asof die fees se gewildheid onder Afrikaanse mense in lande rondom Nederland toeneem.

Die rockkonsert is gereël deur Carina Claassens. Claassens weet hoe werk die Nederlandse en Afrikaanse kulture en is in staat om dit sinvol te vermeng. Met die energie wat onder andere van Jack Parow, Van Coke Kartel, Bittereinder en Wambüseun af spat, het sy die Amsterdamse jongmense uitgedaag om met feesklere, blinkers in die hare en maskers voor die gesigte te kom saam jol. Nederlanders is nie skaam om te fancy-dress vir ’n party nie. As dit ook nog vir ’n goeie doel is, doen hulle dit graag. ’n Deel van elke kaartjie se verkoopprys is geskenk om MIV onder babatjies te voorkom. Dit was één van die nuwe aspekte van vanjaar se fees.

kykNET was as een van die hoofborge ook verantwoordelik vir ’n ander nuwe komponent by die fees: Afrikaanse films. Die vier films wat in Den Haag vertoon is, is Rooiland, Die Wonderwerker, Verraaiers en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom. Met Verraaiers kry die Nederlanders in die gehoor hulle porsie van die Afrikaanse Boereoorloggeskiedenis in. Geskiedenis is iets wat Nederlanders oor de algemeen verskriklik boei, miskien omdat hulle self so ’n lang en ryk geskiedenis het. Die Wonderwerker trek aandag met die uitbeelding van Eugène Marais se lewensgeskiedenis. Dit is ’n Afrikaanse skrywersnaam wat Nederlanders boei via David van Reybrouck se De plaag. Dié roman gaan oor die Belge se enigste Nobelpryswenner vir letterkunde, Maurice Maeterlinck, se belangstelling in Marais se Die siel van die Mier (1925). Maeterlinck het plagiaat gepleeg met The Soul of the White Ant (1937). Rooiland is ‘n eietydse tronkstorie wat die verhaal vertel van bende 26, 27 en 28 agter tralies.

Marita van der Vyver se Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, geregisseer deur Regardt van den Bergh,was die vierde film op die fees.

Marita van der Vyver van Die blou van onthou en Hanna hoekom-faam kuier vir die tweede maal by die Afrikaans-fees in Nederland.

“Marita, wie het die film-scenario geskryf en was daar enige vorm van samewerking destyds tussen julle?”

“Gustav Kühn was die teksskrywer vir die film. Hy het sy werk gedoen en dit aan my voorgelê om deur te lees. Ek het nie probleme daarmee gehad nie. Ek is eerder geneig om probleme te hê met ander besonderhede van die verwerking van my boeke na films, byvoorbeeld wáár tonele verfilm word. Daar was fondse om Hanna Hoekom te verfilm omdat dit vir skole voorgeskryf was.”

“Jy verwys na jou boeke wat verfilm word. Watter ander boek gaan ook verfilm word?”

Dis Koue Kos, Skat het as toneelstuk op die kunstefeeste in 2012 en 2013 baie goed gevaar. Alexa Strachan het die toneelverwerking gedoen en Elzabé Zietsman het die rol van Clara Brand vertolk. Die skrywer Deon Meyer waag sy hand deesdae ook aan filmproduksie. Hy wil van Dis Koue Kos, Skat ’n fliek maak. Ek is baie lus om die film-scenario self te probeer skryf. Maar ek is ook hier in Den Haag om oor my nuutste boek te gesels: Die blou van onthou (2012).

Anne van Veen en Karin Hougaard nadat hulle saam die verhoog aan die brand gesing het tydens die openingsaand op 14 Junie.

Karin Hougaard en Anne van Veen het saam op die openingsaand die verhoog aan die brand gesing. Van Veen is die dogter van die bekende Herman van Veen. Hulle is goeie vriende van Hougaard. Hougaard se kop het nog gedraai van die jet lag van Noord-Carolina af, waar sy deesdae bly. As ekspat het sy dadelik aanklank by al die Afrikaanse Europeane in die gehoor gevind. Die popnommertjie “Lui-lui telefoon” het op 18 jaar gesorg vir haar bekendheid in Suid-Afrika, al was dit nie haar persoonlike smaak nie.

“Karin, hoe sou jy jou oeuvre beskryf?”

“Ek is eintlik ’n balladeskrywer. My oeuvre is definitief die luisterlied of chanson. Ek was van die begin af baie Europees-georiënteerd. Op sestien was my deurbraak met ‘Mijn vlakke land' van Jacques Brel.”

“Waarom bly jy in Noord-Carolina? Permanent?”

“My partner is ’n akademikus in die besigheidswetenskappe en is genader vir ’n posisie aan ’n Amerikaanse universiteit. Ons het gedink dis ’n wonderlike geleentheid. Ons is sak en pak soontoe. Dis nou vier en ’n half jaar later. Of Amerika vir altyd gaan wees, kan ek nie sê nie, want vriende, familie en die geur van stowwerige somerreën op die Hoëveld bly ’n enorme trekpleister.”

Die jong Van Veen het trots vertel dat Elize Zorgman vir haar haar Afrikaanse uitspraak geleer het, maar toe sy op ’n stadium hip en skokkend “in your face” met al haar nuutverworwe woorde lostrek, het sommige ouer garde se oortjies behoorlik begin gloei. So uitbundig anargisties het hulle nog nie Afrikaans gehoor nie en daai skraal lyfie van Van Veen, wat van nekwerwel tot enkel kan tril en skud en uitdaag, is ongelooflik. Byna oorbluf het sommiges hardop gewonder toe hulle by die saal uitstap: Zorgman was darem seker nie verantwoordelik vir ál die Nederlandertjie se nuwe woorde nie?

Sommige van die “ou bekendes” uit 2011 was weer hier: Michael le Cordeur, Etienne van Heerden, Schalk Joubert, David Kramer, Gert Vlok Nel en ook Marita van der Vyver. Vlok Nel het sy nuwe CD, Onherroeplik, kom bekendstel. Le Cordeur het weer bygedra tot die ernstiger besprekingsdeel van die program met onder andere die onderwerp “Meertaligheid in die provinsie Wes-Kaap”.Die slotvraag uit die gehoor was iets waarmee ek ook dikwels gekonfronteer word: “Waarom word ik als Nederlander met vakantie in Zuid-Afrika niet in het Afrikaans bedienen, bijvoorbeeld bij een stalletje naast de weg? Ik wil Afrikaans spreken!”         

Alhoewel ek ’n groot bewonderaar en versamelaar van Radio Kalahari Orkes se CD’s is, was die klank sleg tydens hulle energieke vertoning. Die ses orkeslede se spel was oordonderend. Vir die Nederlanders in die gehoor was dit waarskynlik grotendeels onverstaanbaar. Dis jammer dat hulle tekste nie geprojekteer was nie. Dit het egter nie die Afrikaanssprekende deel van die gehoor gekeer om te klap en te wieg op maat van dié hillbillyagtige musiek nie. Die Afrikaanse humor in ’n naam soos Bradley Vaatjie Cooper agter dromme het tydens die bekendstelling van die orkeslede by die Nederlanders verby gegaan.

Dit geld ook vir Hannes Coetzee se “Mahala” met blikkitaar en lepel. ’n Vinnige steekproef onder Nederlanders Joris Cornelissen (organiseerder van die fees), Jaap Goedegebuure (emeritus professor) en die sestienjarige Janneke Scheeres uit Drunen om uit te vind wat “mahala” beteken, het dit bevestig. Toegegee, dis miskien nog nie amptelik ’n Afrikaanse woord nie. Dit doen ook geen afbreuk aan die besonder hoë gehalte van hierdie jong fees nie.

Blikkitaarspeler Hannes Coetzee verstom baie Nederlandse mans met die materiaal van sy instrument waarop duidelik “Castrol” staan en met die klanke wat hy lepelgewys daaruit kan haal.  

Emo Adams het kabaret verteenwoordig. Dit is ’n ander nuwe aspek op die fees. Hy kan Michael Jackson en Elvis Presley perfek namaak, maar in sy eie styl doen hy “Die Oukraalliedjie” in ’n variasie van gospel en pop. Adams rap en swing met “Peace, and that’s the way we do it”. Vir Nederlanders is die Anglo-Saksiese tipe kabaret met musiek aansluitend by “stand-up comedian” verfrissend anders as hulle eie moralistiese, byna predikantagtige kabaret in gespreksvorm.

Emo Adams se ma kan trots op haar laaitie wees. Hy was 'n bondel goeie vermaak op die verhoog in Den Haag.

Vir die poësieliefhebber in Nederland wat moes kies tussen die Festival voor het Afrikaans en Poetry International en half langtand eersgenoemde gekies het, het Antjie Krog ruim beloon. Haar voorlesings in Al wat kind is uit Kleur kom nooit alleen nie en Verweerskrif was fenomenaal. By nommer sewe uit dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu huil ek. Ek giggel saam met die jong meisies in die gehoor vir “Manifes van ’n Ouma”. Antjie Krog wórd Antjie Somers. Die gehoor is op hulle voete vir ’n staande applous. Dis bitter min dat mens so iets vir poësie kry.

En ’n staande ovasie is wat Joris Cornelissen, sy vergrote span uitstekende organiseerders en talle vrywilligers verdien. Hopelik maak hulle oor twee jaar weer so. Dit lyk asof die bywoningsgetalle gestyg het. Laat die ekspats uit Pole, Oostenryk en desnoods uit Kanada en Noord-Amerika Nederland toe kom vir hierdie fees der feeste.

Antjie Krog het die gehoor in die holte van haar hand gehad met haar ernstige én soms humoristiese voorleesprogram Al wat kind is.

Kyk na Imke van Heerden se feesfoto's

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top