Adriaan is reg; takt en goeie maniere is aan’t verdwyn. Die vergryp in hierdie verband wat my die meeste pla is die snouerige "ek is nie met jou tannie getroud nie" as iemand ’n lid van, sê maar die vorige generasie, ’oom’ noem. Hierdie aanspreekvorm is lank gevestig, veral onder die Afrikaner en die Moslemgemeenskap, en is vanweë goeie maniere en respek. Om iemand so af te jak wat jou bloot aanspreek is taktloos, gemeen en baie slegte maniere.
Nog ’n ongepoetste ding is ’n fooitjie van minder as 15%, al voel jy die kelner of kelnerin kon beter presteer het. Hy of sy is dalk nuut, of al oorwerk (behalwe nou natuurlik as die kelner self ongepoets is, byvoorbeeld wegloop terwyl jy nog besig is om te bestel).
’n Ander onhoflike ding is die gebrek aan burgersin wat deesdae al hoe meer kop uitsteek soos papiere uit ’n kar gooi, of twee parkeerplekke opneem deur skuins te parkeer, of in ’n in-of uitgang te staan en gesels, of parkeer in die straat, stadig op ’n oprit ry, aankarring in die regterbaan, die soort van ding.
Jan Rap